In memoriam: Gabriël (Gawie) Fagan (1925–2020)

  • 1
  • Huldeblyk deur Amanda Botha; foto-erkenning vir die foto’s: Helena le Roux

Klasmaats by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad is. Op die foto is die kunstenaar Ferrie Binge-Coetzee (links) en regs van Gawie Fagan, Geraldine de Villiers van Somerset-Wes. Ferrie is reeds oorlede.

Sondagaand 13 September teken ek onwillig aan as sterfdag van Gawie Fagan, want dit was asof die skraal man met die vonkel in sy blou oë, sy hartlike drukkies en grootheid van gees net altyd daar sal wees. In ’n kleiner wordende vriendskapkring – en beroepskring – is sy afwesigheid ondenkbaar. Ek besef nou die rede daarvoor: Sy aansteeklike passie vir die lewe en alles waarmee hy hom besig gehou het, was suiwer en opreg – werklik énig in sy soort. ’n Mensch van waarde.

Om terug te kyk op Fagan se roemryke loopbaan as argitek, is om opnuut sy unieke bydrae te waardeer waarmee hy die Suid-Afrikaanse kultuurlewe op verskeie fronte gevoed het. Hy het vernuwing gebring en waardering vir die historiese erfenis geïnspireer. In sy argitektoniese skeppings het hy te alle tye vir homself die hoogste etiese norme gestel. Etiek en integriteit was vir hom ononderhandelbaar. Sy werk is ’n viering van sy skeppende gees en ’n getuienis van sy menswees. Hy was beskroomd en nederig, maar ’n reus op sy gebied.

Met bykans 200 restourasies van historiese geboue en ’n indrukkende lys van moderne ontwerpe was hy steeds aktief in sy negentigerjare omdat hy vernuwend kon dink en met ’n onuitblusbare besielende ywer steeds gestalte kon gee aan nuwe konsepte. Wat van hom ’n argitek van uitnemendheid maak, was sy toegewyde aandag aan sy vakgebied, sy artistieke en estetiese bewustheid en onbetwiste integriteit. Ondanks sy lang prestasielys, wat verskeie internasionale erkennings en eredoktorate insluit, het hy ’n nederige man gebly wat daarop ingestel was om ’n bydrae van waarde te lewer.

Sy loopbaan het in 1952 begin as residentargitek vir Volkskas om landwyd hul geboue te onderhou. In hierdie tyd het hy sowat 40 kleiner banke in plattelandse gebiede opgerig wat toe reeds getuig het van sy besonderse aanvoeling vir ons argitektoniese erfenis. Die nuwe geboue was ’n wegbreek van die stereotiepe bankgeboue van die tyd met ’n nuwe beskeie styl wat harmonies aangesluit het by die plattelandse omgewing.

Renaissance-man wat hy was, was Fagan se aandag altyd breed ingestel. Om die bankwerk by te hou, het hy ’n Piper Tripacer-vliegtuig aangekoop en self gevlieg. In sy eie vliegtuig kon hy in die verste uithoeke van die land baie plaaswerwe en dorpies met hul eiesoortige geboue raaksien. Hy het die stuurstang tussen sy bene vasgeknyp en met sy groot swaar kamera uit die oop venster van die kajuit aarde toe gemik.

Die Fagans met die Kovensky-egpaar. Hulle is versamelaars van Gawie se foto's.

Uiteindelik het hierdie avonture gelei tot ’n publikasie, Brakdak (2008), oor platdakke in die Karoo, handgemaak van brakgrond voor sinkplate gebruik is. Dit is ’n onskatbare toevoeging tot ons argitektoniese erfenis. Die fotografie self is uitmuntende kuns. ’n Eenvoudige, verlore skoonheid word evokatief opgeroep in die verlatenheid van die omgewing in die klein dorpies waarin van die huisies geleë is. Fagan is in hierdie verband ’n waardige opvolger van die beroemde Kaapse fotograaf Arthur Elliot.

In 1964 open Fagan sy Kaapse praktyk met sy eerste groot opdrag: om die historiese plaasopstal La Dauphine in Franschhoek te restoureer, wat aan hom sy eerste van vele toekennings van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Argitekte besorg het. Daarna sou hy Tulbagh se Kerkstraat en Drostdy ná die verwoestende aardbewing van 1969 na sy eertydse glorie herstel, en volg opdragte om Tuynhuys, die presidensiële hoofkantoor in Kaapstad, en die Kasteel te restoureer. Die werk aan die Kasteel het 32 jaar in beslag geneem.

Met sy restourasieprojekte het Fagan ’n enorme bydrae gelewer om talle Kaaps-Hollandse historiese opstalle na hul eertydse glorie te neem en so ’n argitektoniese kultuurbate te vestig wat internasionaal erken word en ’n blywende belangstelling onder toeriste en plaaslike en internasionale argitekte is. Wat in hierdie werk tref, met sy vrou, Gwen, as vennoot, is die grondige navorsing wat altyd die onderbou van die werk vorm, en dat hulle hierdie navorsing volledig aangeteken het vir verdere navorsing en verwysing.

Fagan se betrokkenheid by ons historiese erfenis het hom nie weerhou om ’n groot aantal indrukwekkende moderne geboue op te rig nie. Juis dié ervaring het hom geïnspireer om in sy eietydse ontwerpe aandag te gee aan eenvoudige strukture, die gebruik van plaaslike materiaal en ’n aanvoeling vir die ruimtelike konteks waarin die gebou opgerig word. Kenmerkend van sy styl is ’n speelsheid in detail en plastisiteit in vorm.

Fagan was ’n veelkantige mens wat nie in ’n enkele definisie pas nie. Hy was iemand wat nie vir ’n uitdaging geskroom het nie en altyd met geesdrif en ywer nuwe projekte aangepak het. ’n Goeie voorbeeld is sy fotografiese bydrae tot sy vrou se nou ikoniese boek, Roses at the Cape of Good Hope. Hy het vindingryke oplossings gesoek om reg te laat geskied aan die fotografering van die botaniese aspekte van die rose. Selfs die stilering van binnenshuise rangskikkings het hom nie afgeskrik nie.

Die Fagans met die Kovensky-egpaar. Hulle is versamelaars van Gawie se foto's.

’n Hele reeks boeke oor hul argitektoniese produksie het in die afgelope jare verskyn wat hulle self geskryf en met foto’s geïllustreer en self uitgegee en versprei het. Sommige van die boeke is al herhaaldelik herdruk en geniet internasionale belangstelling. ’n Jaar gelede het hy ’n teks oor teoretiese aspekte van argitektuur vir publikasie voorberei wat nog moet verskyn.

Vir Fagan was daar net een manier om sy 90ste verjaarsdag en ses dekades van argitektoniese produksie te vier, en dit was deur te begin met die 19 verdieping hoë  BreëBloem-geboukompleks wat hy op sy eie perseel in Breëstraat wou oprig. Sy ontwerp is voorgelê en wag tans op goedkeuring van die Kaapstadse Stadsraad.

Sy onblusbare ewige jeug het hom ’n seilvaarder van faam gemaak en ’n entoesiastiese motorfietsryer. Sy gawe vir vriendskap het uiteenlopende mense in hul vriendekring byeengebring. Kunstenaars soos Erik Laubscher, Stanley Pinker, Claude Bouscherain en Marjorie Wallace was deel van hul vriendekring. Hy was ook ’n musikant en gereeld het hy nog op sy vleuelklavier gespeel wat deel is van sy argiteksateljee.

Geen uitdaging was vir die span Gawie en Gwen Fagan ooit te groot nie. Drie jaar gelede het hulle ’n biografie geskryf wat hul lewe oor die afgelope sewe dekades karteer. Gwen is die skrywer van Gwendoline’s Gawie, waarin sy ’n oorsig bied van haar beroemde man se prestasies as argitek op nasionale en internasionale vlak en hul kleurryke en avontuurlike lewe saam. Gawie het die teks in Engels vertaal en ook die grammatika versorg.

Aan bod kom een van die merkwaardigste verhale van ’n man wat op uitdagings en avontuur floreer het – en nog tot voor die COVID-19-inperking voltyds werksaam was in sy argitekspraktyk in Kaapstad.

Van aftree was daar by die Fagans nie sprake nie. Hulle was elke dag vroegoggend op kantoor en was die laastes wat huis toe gaan. Ek onthou hoe Gawie dikwels aan my gesê het dat alles vir hom ineengevloei het en hoe belangrik die bestuur en benutting van tyd en energie is. Na sy 90ste jaar het hy vir almal wat wou weet wanneer hy uitspan, ’n antwoord gehad: “Ons het nog baie werk om te doen. Ons mik vir 100,” het hy gesê met ’n vonkel in die oog.

Gwendoline’s Gawie is ’n opvolg op Nauti’s Gwendoline waarin Gwen vertel het van haar kinder- en jeuglewe op Swartlandse plase en later op Stellenbosch. Haar ma, Nauti, was ’n sangeres, en soos sy deur haar dogter beskryf word, waarskynlik Afrikaans se eerste Boheem.

Gwen en Gawie Fagan

Jy staan verwonderd oor wat die Fagans in hul leeftyd ingepas het en hoe hulle steeds ruimte gevind het om nuwe uitdagings te aanvaar. Gwen was ’n mediese praktisyn en het later met die toenemende werk wat haar man gekry het om historiese geboue te restoureer, veral met die opbou ná die verwoestende aardbewing van die historiese kern van Tulbagh, as navorser by haar man se praktyk aangesluit. As 71-jarige verwerf sy ’n doktorsgraad in landelike argitektuur. As kenner van rose het sy uit eie reg wêreldaansien verwerf.

Gawie, ’n man van vele seisoene, se avonture (en dit net breedweg om enkeles te noem) sluit in ’n boerdery, die bou van sy eie vliegtuig, die bou van sy eie boot en ook die feit dat hy as 80-jarige die Rio-wedvaart in sy klas gewen het. Daarby was hy ’n entoesiastiese motorfietsryer (met Gwen as passasier) en ’n voortreflike fotograaf.

Met die hulp van Gawie se gesin is hulle huis, Die Es, in 1965 in Kampsbaai gebou. Vandag word die huis gereken onder die “top-20 moderne kanonieke huise in die wêreld”.

Wat uit hierdie vertelling straal, is die vermoë om in verwondering en in hoop te bly leef. Dit is ook ’n merkwaardige liefdesverhaal wat bewys dat wedersydse toewyding alles moontlik maak. Bo alles is Gwendoline’s Gawie ’n inspirerende en fassinerende verslag van Gawie se loopbaan as argitek waarvan die stempel op nuwe en historiese geboue dwarsoor die land afgedruk is.

  • Gwendoline’s Gawie deur Gwen Fagan, ’n selfpublikasie deur Breestraat Publikasies, kan regstreeks van hulle bestel word.

 

Gwen en Gawie Fagan

Gawie Fagan gee raad oor grensmuur by Welgemeend

Voorbeelde van Gawie Fagan se werk as fotograaf:

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Jennifer Bezuidenhout

    Could this be translated to English for my friends and family abroad. Many thanks.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top