In memoriam | Cormac McCarthy (1933–2023)

  • 0

Boekomslae: All the pretty horses, The road en Cities of the plain deur Cormac McCarthy (Picador)

Die eerste boek van die gevierde Cormac McCarthy wat ek gelees het, was op ’n lang vlug van Perth na Johannesburg: All the pretty horses, met ’n voorblad vol perde, wat my aan ’n jeugboek laat dink het. Daar was elemente van ’n jeugboek, maar die inhoud was by tye ’n skok. ’n Seun en sy perd, Mexikane op sy spoor. Daar is tonele van aanhoudings en marteling. Die boek is boeiend en selfs skokkend.

Daarna het ek al sy boeke verslind. Sy styl is gestroop, sonder tierlantyne en kenmerkend realisties. Die lewe is hard, wreed en onregverdig. Daar is selde tweede kanse. Blood meridian is ’n epiese boek oor ’n regter en sy bende wat boewe jag en geregtigheid uitdeel. Hy is ’n soort hangregter wat in poëtiese taal praat.

’n Tipe soos die regter is die bisarre moordenaar, Anton Chigurh, in No country for old men, wat gewetenloos mense uitwis met ’n staalpypgeweer wat bedoel is om vee van die kant te maak. Ook hy deel dood en “wyshede” uit.

Cormac McCarthy, onlangs oorlede, is die mees bekroonde skrywer in Amerika. Sy werk sluit in die apokaliptiese The road, wat handel oor ’n pa en sy seun in ’n droewe toekomslandskap. Viggo Mortenson het die rol van die pa in ’n filmverwerking vertolk.

As jy jou nog nie in McCarthy se onherbergsame, wrede landskappe ingeleef het nie, het jy nog nie Amerika se grootste skrywer ervaar nie. 

Lees ook:

Gerrit Schoonhoven: Hofnar en filosoof

"Freeze this frame." Trauma and the art of remembering and forgetting

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top