My aanvanklike indrukke van Gerrit Schoonhoven was waarskynlik verbasing: Wie is dié snaakse man? Is hy ’n grapjas of ’n intellektueel?
Dit blyk hy was beide. Een ontmoeting was genoeg om hom altyd te onthou.
Tog kon ek hom in geen netjiese boksie pas of ’n etiket op sy plooibare persoonlikheid plak nie. Met ’n mate van sekerheid kan ek sê: Gerrit Schoonhoven was by uitstek en allereers ’n kunstenaar. ’n Teatermens. Teatraal maar nooit histrionies nie, spitsvondig sonder geniepsigheid, immer empaties vir die sensitiwiteite van ander. ’n Mensekenner en eietydse filosoof. Intuïtief in elke vesel van sy wese.
Sy agtergrond as akteur het hom as regisseur geliefd gemaak by akteurs. Hy was daardie seldsame verskynsel: ’n visionêre “actor’s director” wat eerder sagkens rig as voorskryf, fyn ingestel op die akteur se struikelblokke. “Wees briljant,” was sy gul aanmoediging.
In 1977 was ek en Gerrit eerstejaars aan die Universiteit van Pretoria en in dieselfde manskoshuis, Maroela. Deel van ons oriëntering was dat die groentjies moes deelneem aan ’n eerstejaarskonsert in die Aula, waar ons gekke van onsself moes maak. Ek het verskyn as Dr Frankenfurter uit The Rocky Horror Picture Show, met sensuele swart lippe op my rug getatoeëer, terwyl Gerrit in ’n stywe wit rok en plat skoene die volmaakte nabootsing van Matrone in Dokter Dokter was. Die gehoor was uitgelate oor die stuitigheid.
Ons het mekaar daarna gereeld op die kampus raakgeloop en tóé al ’n passie gedeel vir die ongewone. Sowat ’n dekade later het hy die regie van my debuutdrama vir die beroepsverhoog behartig: Huise vol uile, met Antoinette Kellerman en Marthinus Basson. Ek het Kaap toe gevlieg om die stuk se openingsaand in die destydse Nico Malan-teater by te woon. Die eindproduk het my uitgeboul. Gerrit het saam met die spelers die teks geslyp, karakters uitgebou en temas versterk. Vir my was dit ’n meesterklas in fokus en impak en motivering, lesse wat ek lewenslank kon toepas.
In 2009 het ek hom genader om die regie van my komiese drama Opentoe vir die Woordpoortfees in die Aula te doen. Twee hansworse, vertolk deur Jimmy Borthwick en André Stolz, maak amok in ’n biblioteek, versnipper boeke en stel hul eie lewensboek daaruit saam.
Gerrit was altyd tuis in die teater van die absurde. Hy het immers gespeel in Samuel Beckett se Endgame by die Markteater as gevangene in ’n asblik. Hartseer narre, die omruilbaarheid van komedie en tragedie, die lewe in wanbalans – dit was sy spesialiteit.
Toe die bedrewe spelers op die openingsaand van Opentoe byna onvermydelik in ’n sirkel of loop van herhalende dialoog verdwaal, heen en weer in die teks begin spring, vervaard van die verhoog af hol om in die teks te gaan kyk, het Gerrit net skouers opgehaal. Die gehoor was nooit mooi seker of dit so bedoel was of nie.
Almal wat Gerrit goed geken het, weet hy was diepsinnig en ernstig, ’n leser wat stapels boeke vir literêre wedstryde kon deurploeg, Maar daar was gewis vele aspekte van die vreeslose hofnar in Gerrit, die satiriese spreker van die ongemaklike waarhede, ’n meester van ironie, ’n deurpriemer van die menslike psige.
Brumilda van Rensburg verwoord die ervarings van vele akteurs onder sy spelleiding: “Gerrit was my geniale regisseur in die TV-reeks Hartland. en met Deon Opperman se fenomenale teks in die hand het hy my ’n ATKVeertjie laat wen. Ek het twee monoloë gehad – elk sou in een opname geskiet word met ’n bewegende kamera wat van wye tot ’n nabyskoot gaan.
“Met sy mooi bulderstem wat roep ’Be brilliant!’ kon ons dit regkry in ’n enkele opname. Op Binnelanders vir drie jaar lank het hy met sy liefde en medemenslikheid my vriend geword, ’Hoe gaan dit met jou?' het hy gevra en diep in jou siel gekyk en jy het geweet hy gee om. Wat ’n groot gees was hy. Ek gaan hom mis.”
Mitzi Booysen, hoofskrywer en vervaardiger van Binnelanders, onthou nie haar eerste ontmoeting met Gerrit nie: “Ek is geskok dat ek nie dié spesiale oomblik kan herroep nie. Hy was deel van my professionele lewe vir so lank dat ek nie ’n tyd sonder hom kan onthou nie. Sedert ek van sy heengaan Dinsdag gehoor het, het ek soveel oproepe van oudkollegas ontvang wat almal net nodig gehad het om oor hom te praat, om uitdrukking te gee aan wat hy vir hulle beteken het en hoe hy hulle lewens geraak en verander het. Ek wonder of hy geweet het hoe geliefd hy was.
“Vir my was Gerrit altyd die persoon wat ek in stil hoekies van ateljees gevind het wanneer die realiteit van die sepiefabriek ondraaglik geraak het. Hy was iemand wat altyd die behoefte verstaan en gedeel het om meer te doen, om meer skeppend en gewend te wees. Ons het onsself vermaak met drome van die toneelstuk of fliek wat ons eendag saam wou maak, en noudat dit te laat is om ooit te realiseer, vind ek dat sy nalatenskap soveel ryker is as wat enige stuk werk sou kon wees. My hart gaan uit na sy ’liefie’, Marius Meyer, en ek betuig my dank vir die uitsonderlike sorg en ondersteuning wat hy Gerrit dwarsdeur hul lewe saam gegee het, veral gedurende die laaste paar maande. Rus sag, Gerrit. Sien jou aan die ander kant.”
Die teatervervaardiger Giep van Zyl was saam met Gerrit op skool. “Ek was in standerd ses toe hy in matriek aan Gimnasium Hoërskool in Potchefstroom was,” onthou Giep. “Almal het van hom geweet, die matrikulant met die matraskop wat uitblink in toneel. Baie talentvol. Hy was ’n Dux-leerling, dirigent en betrokke by groentjiekonserte.
“In 1998 het ons saamgewerk aan Ons spore loop ver. Sy skeppende regie van die versameling sketse was grensverskuiwend. Hy was briljant, sy tyd vooruit. Sy wacky sin vir humor was altyd ’n bietjie af. Iets wat hom geamuseer het, was dat sy oupa ’n haarkapper was. Schoonhoven beteken mos ’n skoongeskeerde kop. Maar Gerrit se hare was altyd wild en woes.”
Die akteur en regisseur André Stolz het Gerrit leer ken met netjiese kort hare: “Dit was in die weermag in 1983. Die College for Educational Technology, die SAW se propagandamasjien. Ongelukkige jare. En ek was dankbaar dat hy by ons afdeling as dienspligtige aangesluit het. Dankbaar vir iemand met menslikheid. ’n Sterk sin vir humor. ’n Denker. Ek het hom onmiddellik gerespekteer.
“Die laaste keer wat ek hom gesien het, was Februarie vanjaar. ’n Werkswinkel vir drama-onderwysers. Ek het gepraat oor stemgebruik, Gerrit oor regie. Hy het uit die vuis gepraat. Amper niks oor homself en sy loopbaan as regisseur nie. Eerder oor menslike verhoudings, goeie kommunikasie en liefde. Deurspek met respek. Deernis. Entoesiasme. Na afloop van die werkswinkel sê Gerrit vir my: ’Ek het so baie by jou geleer vandag.’ Gerrit? By my?
“Ek het net een keer as akteur saam hom gewerk, in Opentoe. En toe sien ek uit om met hom skouers te skuur by Binnelanders. Dit het nooit gebeur nie. Ek bewonder jou, Gerrit. Van die army af. Piekniek by Dingaan. En soveel ander produksies. Ons gaan jou verskriklik mis. Jou sagtheid. Jou passie. Jou liefde.”
Deon Coetzee onthou Gerrit se “fantastiese tydsberekening” as akteur in die sepie Villa Rosa, en sy toegeeflike regie by Binnelanders, waar hy elke akteur se geite kon deurkyk. “Dit was altyd ’n plesier om saam met hom te werk. Hy het jou veilig laat voel. Hy het altyd tyd gemaak vir ’n vinnige geselsie.”
Kaz McFadden en Lara Lourens, akteurs en lektore van Pali Toneelskool in Pretoria, wat vir Gerrit in Ryk Neethling se oorlogdrama Sing jy van bomme gespeel het, beskou hom as ’n mentor: “Om met Gerrit Schoonhoven te werk is altyd 'n proses en ’n ontdekkingstog. Hy werk nie met karakters nie. Hy werk met mense. Hy leer jou ken, en jy leer hom ken. Hy was 'n mens. Nee. Hy was 'n ’fokken mens’. Die kragwoord is belangrik, dit is intens, soos hy was. Sonder frille. Hy was nie bang om ’sorry broer’ te sê nie en ’dankie broer’ was gereeld op sy lippe. Dit was altyd asof hy in 'n vertrek verskyn – hy het nie bloot ingestap nie. Ons het opgesien na hom, ons het veilig gevoel by hom. Dit was 'n voorreg om hom te leer ken.”
Die rolverdelingsregisseur Susan Rossouw kan Gerrit se gesegdes nie vergeet nie: “Die lewe is kort, suster. Jy kan net sowel briljant wees!”
“En sy verjaarsdagboodskap aan almal het my altyd laat skaterlag: ’Mag jy leef tot jy vrek!’ Hy was ’n vrygewige, kreatiewe, eksentrieke en eerlike mens wat so baie mense geïnspireer het om met trots in hulle eie skoene te staan. Sy hare was wonderlik en wild en sy oë het vir jou tot in jou siel gekyk.”
Gerrit-dinge wat vassteek: die baard, die bril, die boskaas. Die ondeunde grys oë wat niks miskyk nie. Die Cheshire cat-grynslag en hees lagstem. Die groot gebare. Deernis deurweek met aweregse humor. Altyd skreiend eerlik, pront, maar op so ’n eerbiedige manier dat niemand aanstoot kon neem nie. Groter as die werklikheid, maar sonder ego en totaal opreg. ’n Salwende teenwoordigheid. Die onmiskenbare geestelike dimensie in sy werk.
Dit laat my dink aan iets wat die mediese-dokter-karakter Patch Adams kwytgeraak het: “Die rol van die dokter en die hanswors is een en dieselfde – dit is om op te hef en lyding te verlig.”
Kommentaar
Schalk wat 'n lieflike skrywe! Dankie.
Wat Gerrit met 'Piekniek by Dingaan' verrig het kon net hy regkry. Sy beginselvastheid, eerlikheid as mens en kunstenaar het respek by ons almal ingeboesem. Hy het geweet wat en waarom die werk op die planke moes kom en ek eer hom daarvoor. Dankie, Schalk vir jou huldeblyk!