In memoriam: Cecile Cilliers (1933–2018)

  • 1

Cecile gee ’n stout laggie, kry die handvastel op haar kierie en wil van die verhoog afstap. Sy vorder geen tree vooruit nie. Sy word toegestroom deur mense wat haar wil groet, gelukwens, en onthou-jy-nog-stories wil vertel.

Dit was in Maart 2018 by die US Woordfees. Haar bundel kortverhale met die lang en verleidelike titel Die ou vrou en die priester is bekendgestel. Sy lag en groet. Vertel ’n stout grappie. Teken boeke tot alles uitverkoop is en gaan sit toe met ’n glasie rooiwyn. Groet nog mense wat kom vertel hoe hulle van die boek gehou het.

Daarna sou sy deur die land toer, boeke teken — ’n bundel kortverhale wat bekendgestel is toe sy ’n opgewekte jong 84 was.

Uitgehou met daardie wye glimlag, vrolike laggie. En ’n paar weke na haar 85ste verjaardag is sy weg. Of dood, sou sy sê, want immers het Cecile nie van die ware betekenis van woorde weggeskram nie.

Hoekom was Cecile spesiaal? Omdat sy so absoluut mens was. Van haar intellektuele werk tot haar welsynswerk, tot haar geestelike werk, was sy merkwaardig. En sy het van kos en van onthaal gehou. Altyd tyd gevind vir ’n kuiertjie.

’n Doktorsgraad oor NP van Wyk Louw, ’n gewilde poësievoorleser wat tydens die verhoor van Breyten Breytenbach op terreuraanklag, van sy poësie voorgelees het as getuie vir die verdediging. Sy het in die direksie van die Studietrust ywerig gewerk daaraan om aan lede van al die rasse geleentheid te gee om beurse te verwerf.

Haar lewe met John, ’n geoloog en ’n ewe gesellige storieverteller, was sy met ’n baie besige gesin ’n trekpeister vir ’n wye verskeidenheid mense. Onder die yslike boom in haar “jaart” in Linden, Johannesburg, het sy en John ’n lewendige, kritiese, teenstrydige, meningsgemeenskap onthaal. In haar kombuis het sy met snipperskêr in die hand nog verder argumente gehoor, gelag en soms toegegee, soms glad nie.      

Benewens haar intellektuele en sosiale lewe was haar geestelike lewe diep, sodanig dat sy in die NG Kerk en ook in verskeie kerklike instellings ’n belangrike rol speel het.

Jong predikante het kom kers opsteek wanneer probleme met die hiërargie opduik. Cecile het die hiërargie self betree. En sy is ook onder meer in die algemene sinode tot selfs ondervoorsitter gekies. Ook in die NG Vrouediens, sowel as in opvoedkundige instellings, het sy ’n rol gespeel. Sy was ook ’n baie gewilde spreker, met selfs in ’n amper-stout grappie in die donkerpakvergaderings van die sinode.

Sy was, gedagtig aan Sir Thomas Moore, “a woman for all seasons”.

Cecile het vir baie Afrikaanse vroue in die Johannesburgse gemeenskap ’n deur oopgemaak tot ontmoetings met swart vroue, om dan betrokke te raak by sosiale probleme. Bridget Oppenheimer en Cecile het Women for Peace, Vroue vir Vrede gestig; ongenadig baie tyd bestee aan projekte en ontmoetings met swart vroue onder die glad-nie-beïndruk-owerheid van daardie sewentigerjare nie.

Haar skryfwerk het van ’n lewe met die hedendaagse vertel. Veral ook het haar liefde en fyn kennis van die taal (ook haar renons in swak taalgebruik en spelling) lesers geboei. Sy het baie na haar kinders Amalie, Jan en Abraham in Amerika, Engeland en Australië gereis. Verlei deur haar liefde vir kuns, mense en ook ander tale kon sy onderhoudend skryf oor die ervarings. Sy het wyd geskryf, kinderverhale, artikels en manuskripte. “Waar kry jy nog tyd vir skryf?” is sy een keer gevra. “Wanneer ek sit,” was haar antwoord.

Cecile Cilliers, gebore Pretorius, het ongetwyfeld ’n rol gespeel in die sosiaal-politieke lewe waar sy, onbesonge, in die bres getree het vir ons bewuswording van en interaksie met ons landgenote. Dikwels het sy ook herberg gegee vir swartmense in nood. Bowenal was haar respek vir die lyding van armes, onderdruktes ’n teken van haar lewe.

Sou ’n mens nou vir haar wou sê: ou Siela, jy het darem wragtie jou kant gebring as Afrikanervrou. En sou sy antwoord: maar het ons nie in wonderlike tye beleef nie, sommer met die Ingelse ook.

En weer met ’n aansteeklike laggie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top