In memoriam: Arnold S de Beer

  • 2

Foto van Arrie de Beer: verskaf

“De Beer, A.S.” Enige student wat al in die breë veld van kommunikasiewetenskap in Suid-Afrika ’n behoorlike literatuuroorsig aangepak het, sou daardie inskrywing op verskeie plekke in hul bronnelys moes aanbring. Want Arnold S (Arrie) de Beer, wat vandeesweek in die ouderdom van 79 op Stellenbosch gesterf het, was sinoniem met die vakgebied. As een van die grondleggers in Suid-Afrika van die akademiese studie van wat voorheen as massakommunikasie bekendgestaan het, met veral ’n fokus op die studie van die joernalistiek, het De Beer talle gesaghebbende publikasies die lig laat sien wat daartoe bygedra het om die dissipline in Suid-Afrika te vestig. Hieronder tel sy vroeë boeke Nuuswaardes en nuuswaardigheid (1977) en Joernalistiek vandag (1982) sowel as sy PhD (1981) wat joernalistiek as ’n volwaardige navorsingsgebied – eerder as bloot praktykgerigte vaardigheidsonderrig –  in die land help afbaken het. In die negentigerjare is sy handboeke Mass media – for the nineties en Mass media – towards the millennium wyd gebruik deur studente en navorsers wat begin sin maak het van die snelle uitbreiding van die elektroniese media. Daarmee saam het ’n verskuiwing in sy fokus na die studie van Suid-Afrikaanse media binne ’n geglobaliseerde konteks plaasgevind, wat veral gestalte gekry het in twee uitgawes van Global journalism: Topical issues in samewerking met die Amerikaanse outeur John C Merrill. Daarnaas getuig talle boekhoofstukke en tydskrifartikels in plaaslike en internasionale publikasies van sy statuur as navorser.

.......

Maar ’n dalk nog belangriker nalatenskap as sy talle publikasies is die bydraes wat De Beer op professionele en organisatoriese vlak gelewer het tot die uitbou van die vakgebied in Suid-Afrika en die skep van ’n Suid-Afrikaanse teenwoordigheid op talle internasionale verhoë.

.........

Maar ’n dalk nog belangriker nalatenskap as sy talle publikasies is die bydraes wat De Beer op professionele en organisatoriese vlak gelewer het tot die uitbou van die vakgebied in Suid-Afrika en die skep van ’n Suid-Afrikaanse teenwoordigheid op talle internasionale verhoë. In Suid-Afrika was hy ’n stigterslid van die vakvereniging Sacomm in die jare sewentig, ’n rol waarvoor hy later vereer is deur die toekenning van erelidmaatskap. Hy was ook die stigtersredakteur van die vaktydskrif Ecquid Novi (wat tans, in sy 40ste bestaansjaar, bekendstaan as African Journalism Studies). Dit was vir hom ’n bron van groot trots om (byna in ongeloof) te sien hoe die tydskrif wat, in sy woorde, “by [my] kombuistafel aanmekaargesit is”, gegroei het tot een wat tans deur die internasionale uitgewer Routledge / Taylor & Francis gepubliseer word en in internasionale indekse ingesluit is.      

De Beer se bydrae tot die gebied van die joernalistiek en kommunikasiekunde het ook verder gestrek as die akademiese wêreld. As voormalige joernalis (hy het sy loopbaan by Die Burger en Die Transvaler begin) het hy die joernalistieke praktyk en die akademiese bestudering daarvan as oorvleuelende eerder as afsonderlike sfere beskou. Tekenend hiervan was die insluiting van verskeie nuuskantore op die verspreidingslys van Ecquid Novi, en die frustrasie wat hy telkens uitgespreek het dat joernaliste nie dikwels akademiese publikasies lees nie. Hy was ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) en was aan die stuur van ’n belangrike vaardigheidsoudit van joernaliste wat in 2002 in opdrag van die organisasie gedoen is. Hy het ook voorheen op die Appèlkomitee van die Suid-Afrikaanse Persombud gedien en was ’n lid van die raad van die destydse SAUK.

’n Kenmerk van De Beer se loopbaan is die rol wat hy in talle internasionale netwerke gespeel het, en die wye erkenning wat hy wêreldwyd geniet het.  Reeds in 1979 het hy ’n meestersgraad aan die Baylor-universiteit in die VSA verwerf, en het dekades later steeds kontak met kollegas uit daardie tyd behou. Gedurende die jare van internasionale isolasie was hy van die eerste Suid-Afrikaanse navorsers in die vakgebied wat lidmaatskap van internasionale vakkundige organisasies soos die Association for Education in Journalism and Mass Communication (AEJMC) gehad het en ook ’n leidende rol daarin gespeel het. Op hierdie wyse het hy mettertyd ’n gerekende medewerker aan verskeie internasionale navorsingsprojekte geword, soos die Worlds of Journalism-netwerk gebaseer aan die Ludwig Maximilian Universiteit in München, Duitsland, waarvan hy tot onlangs nog die Afrika-koördineerder was – ’n rol waarop hy veral trots was in sy laaste jare.

.......

Hoewel hy internasionale aansien geniet het, was hy altyd onteenseglik verbind aan die Suid-Afrikaanse akademie, joernalistieke bedryf en Afrikaanse leefwêreld. 

........

Hoewel hy internasionale aansien geniet het, was hy altyd onteenseglik verbind aan die Suid-Afrikaanse akademie, joernalistieke bedryf en Afrikaanse leefwêreld. Hy het by tye ’n verwikkelde verhouding met die Afrikanerkultuur en -politiek gehad. Sy teoretiese raamwerk in die funksionalisme, en sy insluiting van konserwatiewe perspektiewe in Ecquid Novi het soms kritiek ontlok van sy kollegas aan Engelstalige universiteite wat in kritiese of kulturele-studies-benaderings geskool was, maar hy het deurgaans in gesprek gebly met diegene wat ander standpunte as hy gehuldig het. In die mees onlangse uitgawe van die tydskrif kyk een van dié gespreksgenote, Keyan Tomaselli, juis terug op die paradigmaskuiwe wat De Beer oor die jare gemaak het.  As lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die eerste ontvanger van dié organisasie se Stalsprys vir Joernalistiek, het De Beer hom deurgaans vir die bevordering van Afrikaans as vaktaal beywer. Soms sou hy, aan die einde van ’n lang konferensiedag van referate en besprekings, spottenderwys na Engels as sy “derde taal” verwys, of net effens tong-in-die-kies verwys na sy konserwatiewe bakermat as Dopper. Moontlik juis daarom het hy dit moeilik gevind om, terugskouend, te verstaan hoe Afrikaners apartheid kon regverdig in die naam van die Christelike geloof. Hy was een van die min Afrikaners uit joernalistieke geledere wat voor die Waarheid-en-versoeningskommissie gaan getuig het. In sy getuienis het hy gesê hy was van mening dat daar ’n “aanvaarding van individuele en kollektiewe verantwoordelikheid vir die menseregteskendings onder die ideologiese sluier van apartheid, in die naam van die Christelike geloof en die Afrikanerdom” moes wees, en het sy spyt uitgespreek dat hy stilgebly het oor apartheid “toe hy geweet het hy moes aktief daarteen in opstand gekom het”.  

Dit was egter as opvoeder, mentor, vriend en gespreksgenoot dat De Beer waarskynlik die grootste leemte sal laat. Toe sy skielike afsterwe rugbaar word, het huldeblyke ingestroom van voormalige studente aan die Universiteit van die Vrystaat, die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou Noordwes-Universiteit) en die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) waar hy dosent en departementshoof was, asook van studente en kollegas by die Universiteit Stellenbosch, waar hy tot sy dood buitengewone professor was. Sy aanmoediging van en belangstelling in die werk van nagraadse studente en junior kollegas was veral opvallend, en diegene wat die voorreg had om hom in daardie hoedanigheid te kon meemaak, sal kan getuig van die sprankel in sy oog wanneer hy uitvra oor iemand se tesis, boek of navorsingsprojek. Hy was nie slegs ’n aktiewe deelnemer aan die akademiese spel nie, maar ook ’n entoesiastiese en vrygewige ondersteuner. Mark Deuze, professor aan die Universiteit van Amsterdam, het hom by sy afsterwe beskryf as ’n “rasieleier” vir die vakgebied – ’n raak beskrywing van sy ywer om ander te sien slaag. Hoewel hy in die laaste paar jaar sy aktiewe betrokkenheid by projekte probeer afskaal het, het hy sy belangstelling in hulle nooit heeltemal laat vaar nie en sou hy telkens ’n e-pos stuur om navraag te doen oor hoe ’n bepaalde projek of publikasie vaar.

Op ’n persoonlike noot: Arrie de Beer is ook die persoon aan wie ek die meeste verskuldig is vir my vroeë ontwikkeling as akademikus. My oorgang van praktiserende joernalis na groentjiedosent by die Universiteit Stellenbosch het saamgeval met sy aankoms as besoekende professor aan die Departement Joernalistiek. Hy het my onder sy vleuel geneem en raad gegee oor hoe om referate te skryf en voor te dra, watter konferensies om by te woon en by watter tydskrifte om publikasies voor te lê. Ons het begin saamwerk aan artikels en hoofstukke, hy het my voorgestel aan internasionale kollegas, my uitgenooi om deel te word van die redaksie van sy vaktydskrif, Ecquid Novi, en mettertyd die leisels aan my oorgegee. Ons het verlede maand die 40ste jaargang van die tydskrif gevier met ’n spesiale uitgawe, waarin Arrie in ’n gesprek met my terugkyk oor sy loopbaan.

........

Soos dit ’n akademikus en joernalis betaam, was Arrie altyd nuuskierig eerder as hardkoppig oor ons teoretiese en soms politieke verskille, en al het ons mekaar dikwels goedig gespot, was daar nooit ’n gesprek met Arrie waaruit ek nie iets geleer het nie.

........

Soos dit ’n akademikus en joernalis betaam, was Arrie altyd nuuskierig eerder as hardkoppig oor ons teoretiese en soms politieke verskille, en al het ons mekaar dikwels goedig gespot, was daar nooit ’n gesprek met Arrie waaruit ek nie iets geleer het nie.   

Hy was tot aan die einde nog ’n mentor – in sy laaste e-pos etlike weke gelede het hy my nog aangemoedig om tydens my huidige sabbatsverlof in die VSA kontak op te neem met kollegas uit sy verlede en sy gesprekke met hulle voort te sit.

Ons het mekaar altyd half grappenderwys as “kollega” aangespreek, dalk omdat ons besef het dat die grense tussen ons professionele verhouding en vriendskap al lankal vervaag het. Maar hoewel die akademie so sentraal was in sy lewe, was dit nie die belangrikste element daarvan nie. Tydens al die konferensies wat ons saam bygewoon het, was daar altyd ’n oproep na “Ma”, sy geliefde vrou Nicolette, wie se dood in 2017 ’n diep gemis by hom gelaat het. En in ons gesprekke was daar gereeld ’n trotse verwysing na die prestasies van sy kinders Arnold, Adriana en Jan-Hendrik, en die oulikhede van sy kleinkinders.

Arrie de Beer se nalatenskap op die vakgebied sowel as sy invloed op die lewens en loopbane van vele mense regoor die wêreld sal nog lank na sy dood bly voortbestaan.

  • 2

Kommentaar

  • Ina Wolfaardt-Gräbe

    Arrie was inderdaad iemand wat sy kennis onbaatsugtig met andere gedeel het. As self betrokke by die redaksie van tydskrifte, kan ek met waardering terugdink aan sy insiggewende gesprekke oor die wêreld van akademiese publikasies in die algemeen; en sy ondersteuning van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe in die besonder.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top