In memoriam: Albert Nolan

  • 6

Foto: Aangepaste skermgreep van YouTube (SABC News)

Toe Albert Nolan as 88-jarige op 17 Oktober in sy slaap in Benoni sterf, verloor die wêreldgemeenskap en die kerklike toneel een van die invloedrykste Suid-Afrikaanse teoloë van die 20ste eeu. Hy word bekend oor die wêreld heen vir sy boeke oor die aardse Jesus en sy spiritualiteit. Hy het groot bekendheid verwerf met sy trefferboek Jesus before Christianity wat in 1976 verskyn het en met sy latere werk oor die spiritualiteit van Jesus (Jesus today. A spirituality of radical freedom). Maar hy was veral ook bekend vir sy passievolle verset as teoloog en kerklike teen ’n samelewingsisteem wat vir mense ontsaglike lyding veroorsaak het. Sy lewe was by uitstek ’n lewe wat die transformatiewe krag van godsdiens uitgeleef het.

..........
Maar hy was veral ook bekend vir sy passievolle verset as teoloog en kerklike teen ’n samelewingsisteem wat vir mense ontsaglike lyding veroorsaak het. Sy lewe was by uitstek ’n lewe wat die transformatiewe krag van godsdiens uitgeleef het.
..........

Bybelkenner

Nolan se godsdienstige werk het ’n baie sterk Bybelse karakter gehad. Hy was ’n kenner van die Bybelwetenskap, al het hy verkies om veral met die gewone kerkvolk te kommunikeer eerder as om net akademies besig te wees. Hy het sy uitsprake oor godsdienstige, sosiale en politieke sake altyd met deeglike analise van die Bybel begrond.

Hy was ’n gebore Kapenaar wat teologies opgelei is in sy Dominikaanse orde in Stellenbosch, waar hy later self die opleiding van nuwelinge oorgeneem het met spesiale aandag aan Bybelse tekste. As jeugkapelaan het hy in dié tyd veral saam met jongmense oor die figuur van Jesus gesprekke gevoer waarin die jongmense die uitbuiting en diskriminasie in hul eie lewenskonteks verwoord en ontleed het in die lig van Jesus se boodskap.

Veral veelseggend is hoe hy sleutelmotiewe in die Bybel direk tot die krisis van die apartheidstyd kon laat spreek. Hy het byvoorbeeld veel waarde geheg aan die prominente Bybelse beeld van God as die bevryder wat vol ontferming uitreik na mense om hulle van verdrukking te bevry. In die Ou Testament was die bevryding uit Egipte immers net so ’n belangrike heilsfeit as die kruis in die Nuwe Testament.

Nolan was besonder direk en uitgesproke oor hierdie sentrale Bybelse motief. Niks moes die impak daarvan afswak nie. God se bevryding van die onderdruktes kom sonder ’n greintjie van kompromie. God probeer nie om die Egiptiese magshebbers te paai nie. Daar is nie ’n “bemiddeling” tussen Farao en Moses nie. Daar is ook nie twee kante van ’n saak wat die magsvergrype teen die onderdruktes betref nie. Die uitkoms van God se ingrype ter wille van die armes bring vir hulle volledige vryheid. Die bevryding bestaan ten slotte in ’n menswaardige bestaan in volkome vryheid in die paradysagtige beloofde land vol melk en heuning. God se redding is dus holisties – dit raak die volledige en totale bestaan van mense. Die bevryding is so sentraal in sy denke dat daar inderdaad dikwels na Nolan se spiritualiteit as ’n spiritualiteit van vryheid verwys word.

Die figuur van Jesus het ’n belangrike rol in Nolan se lewe gespeel. Uit sy bediening sou in 1976 uiteindelik die publikasie van een van sy reeds genoemde beroemde boeke oor Jesus ontstaan. Die boek sou binne ’n kort tyd aandag oor die wêreld heen trek. Nolan gee aan die boek die veelseggende titel Jesus before Christianity. Ten minste 150 000 kopieë is verkoop en dit is in nege tale vertaal. Tot vandag toe word dit dikwels in akademiese navorsing aangehaal en word dit nog aan van die wêreld se voorste universiteite bestudeer. Omdat dit nog steeds gewild is, het Nolan dit in 2006 verwerk en is dit onlangs met ’n inleiding heruitgegee.

Met kennis van belangrike Bybelnavorsing beskryf hy die aardse lewe van Jesus in Palestina voordat Jesus later, na sy dood, deur die kerk met allerhande eretitels bely is, maar ook so vergeestelik is dat sy aardse lewe nie altyd in die oog was nie. In sy aardse bestaan was Jesus volgens Nolan intens bewus van sy intieme band met God. Dit is waarom Jesus in die Evangelies vir God aanspreek as Abba – die Aramese woord vir Vader. Jesus self leef origens ook intens mee met die lyding van die “armes”. Hy ontferm hom oor hulle. Die bevryding van die armes van onderdrukkende strukture is daarom die belangrikste boodskap wat die kerk kan bring.  

Nolan plaas Jesus se boodskap ook in ’n baie ruim konteks. Jesus is nie net ’n redder van siele nie. Wanneer Nolan oor Jesus nadink in terme van die huidige tyd, skryf hy dat Jesus se boodskap van hoop en ontferming mense wil aanspoor om die vernietiging van die wêreld aktief te bestry, om geweld af te sweer, om ongelykhede tussen mense af te breek, om magsvergrype te ontmasker, en om die roekelose materialisme, die verafgoding van Mammon en die verontmensliking van die swakkeres te bekamp. Dit alles beteken dat God se ontferming oor die armes nie blote sentimentele jammerte is nie. Dit is ’n ontferming wat aanspoor om bestaande diskriminerende sisteme te verander. Die waardigheid en gelykheid van alle mense moet sigbaar gevind word in die hervorming van die samelewingstrukture waarin hulle vasgevang is en uitgebuit word. Godsdiens verander lewens.

..........
Wat hy van God se ontfermende redding ervaar en glo, was vir hom ook wat gebeur in die verhoudings van mense onderling. Dit gaan om ’n ontfermende soeke na ’n menswaardige bestaan vir alle mense.
..........

Geloof en praktyk

Hierdie beeld van God as Redder en van Jesus as die Ontfermer was vir Nolan meer as net ’n geloofsoortuiging waaraan hy by geleentheid vasgehou het. Dit het sy lewe in vele opsigte radikaal  bepaal deurdat hy sy eie veiligheid op die spel geplaas het in die stryd vir ’n regverdige samelewing. Wat hy as sentrale geloofstuk geglo het, het in sy lewe konkreet beslag gekry.

Dit is opvallend hoe hy op dié manier godsdiens met die praktyk wou verbind. Daar is vir hom ’n noodsaaklike, onlosmaaklike verband tussen die twee. Maar hy het dit ook as die model vir bevryde mense se verhoudinge voorgehou. Wat hy van God se ontfermende redding ervaar en glo, was vir hom ook wat gebeur in die verhoudings van mense onderling. Dit gaan om ’n ontfermende soeke na ’n menswaardige bestaan vir alle mense.

Nolan se lewe is ’n lewende voorbeeld van hoe ’n oeroue spanning tussen geloofsteorie en lewenspraktyk oorkom word. Dikwels was dit in die kerkgeskiedenis ’n kwelling dat mooi geloofspraatjies op niks uitgeloop het nie of weinig aan mense se lot verander het. Wat nou besonder boei, is dat Nolan se teologie bewustelik ’n metode ontwerp wat ’n direkte antwoord op hierdie kommer is en wat van die begin af daarop ingestel was om die Evangelie ten nouste met die praktyk te laat bind.

Hierin volg Nolan ’n belangrike nuwe teologiese tendens in sy tyd. Daar was naamlik ’n ommekeer in die teologiese wêreld vanaf die middel van die vorige eeu, veral in nie-Westerse lande. Teoloë in gekoloniseerde lande was toenemend gefrustreer deur wat hulle as ’n bloedlose (soms selfs koelbloedige) teologie beskou het wat kragteloos was in die lig van die miserabele situasie van mense en nie die onreg in sulke mense se bestaan kon of wou beveg nie. Dit was vir hulle selfs asof die kerk te dikwels voorheen bewustelik of onbewustelik verby die enorme leed en onreg van mense geleef het. Die kerk moet die alledaagse bestaan van mense leer ken. Die kerk se profetiese taak vra konfrontasie met alle onreg. Daarom kan die kerk nie ’n naloper van maghebbers wees deur bestaande strukture goed te praat en geen verskil te maak aan die erbarmlike lot van baie gemeenskappe wat in armoede en verdrukking aan meedoënlose maghebbers uitgelewer is nie.

Nolan het dus in sy omgang met die Bybel steeds weer gevra na wat die Bybel doen vir mense in hul konkrete bestaan. Dit was vir hom belangrik om na te dink oor die verskil wat die Bybel in mense se lewens maak.

..........
Daar was dus in sy agtergrond ’n teologie wat ingestel was op mense se lot en hul behoeftes, en dit is met intellektuele integriteit en nadenke gedoen.
..........

Dominikaan

So ’n besorgdheid oor die impak van geloof op die samelewing val nie sommer uit die lug nie. In ’n sekere sin is dit ’n uitloper van Nolan se godsdienstige tradisie. Hy was deel van die Dominikaanse Orde (in 1216 gevestig) wat oor eeue heen gefokus het op geloof, op die konkrete praktyk van gebed en veral op die kommunikasie van hul oortuigings in prediking. Prediking moes sigbaar in woord, maar ook in werk word. Hulle was ook bekend as die Orde van Predikers (O.P.) en het hul nie, soos sommige ander ordes, in kloosters onttrek nie. Hulle het onder gewone mense gewerk om veral opvoeding en intellektuele vorming te bevorder. Hierin het hulle ’n groot invloed op die kerk uitgeoefen, met vier pouse en vele bekende teoloë, soos Thomas Aquinas en Katarina van Siena, wat uit hulle geledere gekom het. Hulle praktiese uitlewing van hul geestelike oortuigings het ook Nolan se lewe en werk gekenmerk. Daar was dus in sy agtergrond ’n teologie wat ingestel was op mense se lot en hul behoeftes, en dit is met intellektuele integriteit en nadenke gedoen.

Nolan se skryfwerk weerspieël hierdie nuwe ontwikkeling. Vir hom kan ’n mens die Bybel effektief beleef eers nadat ’n mens jou eie konteks deeglik ontleed het deur te kyk hoe en in watter tyd en omgewing jy leef. Eers in ’n tweede stap moet ’n mens dan daarna hierdie konteks krities bedink in die lig van die Bybel. Anders as in die tradisioneel Westerse benadering word die Bybel nie eers “bestudeer” en dan op een of ander los manier op die gewone lewe “toegepas” nie. As die Bybelleser die twee stappe van analise en Bybelse ondersoek gevolg het, volg dan die daadwerklike optrede en aksie. Kritiese nadenke moet afgerond word deur aktiewe betrokkenheid en by die vind van oplossings.

Nie net word geloof en praktyk dus intiem verbind nie. Mens sou selfs kon praat van ’n noue eenheid van die praktyk (as vertrekpunt) met geloof. Nogal ’n ommekeer. Deur die drie stappe word mens ingetrek in die transformerende krag van die Bybelse evangelie.

Nolan skryf byvoorbeeld in 1994 oor die Kairos-dokument wat soveel opspraak verwek het oor sy verwerping van apartheid, dat dit ’n dokument was wat dinamies en dramaties kontekstueel was. Dit is ’n dokument, vertel hy, wat direk deur die brande in die townships gevorm is. Mense wat nie die onderdrukking, die verdrukking, die lyding en die stryd van die townshipmense beleef het nie, kon nie die geloofsvrae verstaan waarmee die inwoners geworstel het nie, nog minder die antwoorde wat hulle gevind het. Die Kairos-dokument, sê hy, was nie beplan nie. Dit het spontaan ontstaan waar mense oor hul eie lewenservaring nagedink het, by intense byeenkomste oor hul daaglikse ervarings gepraat het, die evangelie bedink het en daarvolgens optrede beplan het. Dit is uit hierdie eksistensiële situasie dat die Kairos-dokument ontstaan het. Dit was dus nie die intellektuele vrug van ’n besorgde teoloog se spekulasie nie, maar eerder die hartskreet van ’n kerk in die aangesig van mensonterende onreg.

’n Fundamentele kenmerk van Nolan se werk is dat hy nie die Bybelse boodskap wil verarm tot blote trooswoorde oor ’n saligheid in ’n hemel wat ná mense se lot op aarde sal kom nie. Deur die beloftes is hulle gesus om met hulle slegte lot en die diskriminasie teen hulle saam te leef. Net soos Jesus se boodskap die diskriminerende strukture van sy tyd uitgedaag het, so moet die kerk daadwerklik die samelewing se uitbuiting van minderhede beveg. Dit beteken dat die kerk moet verstaan watter samelewingstrukture en sosiale sake veroorsaak dat mense arm is en verdruk word. Die sistemiese denke is wesenlik in Nolan se benadering. Dit is trouens ’n benadering wat dikwels die teologiese diskoers in die afgelope driekwarteeu gekenmerk het.

.........
Hierdie versoek van Nolan wys sy nederigheid, maar ook sy sobere lewenstyl wat duidelik gespreek het van ’n volkome gebrek aan belangstelling vir uiterlikhede en magsposisies. Sy bande en solidariteit met ander het vir hom sterker geweeg.
..........

Erkenning en eerbewyse

Nolan is dikwels met besondere toekennings vereer vir sy skrywes en vir sy stryd om geregtigheid en vir ’n samelewing waarin almal menswaardig en gelyk is. Vroeg in sy lewe reeds was hy egter min geïnteresseerd in titels en uiterlikhede: Hy het byvoorbeeld sy proefskrif in 1963 voltooi, maar omdat hy nie onnodig geld wou spandeer om dit ten duurste te laat druk nie, soos deur die universiteit vereis, is die graad nooit amptelik aan hom toegeken nie.

Dit was sekerlik ’n enorme eer toe Nolan in 1983 in die prestige- en invloedryke pos van Meester van die Dominikaanse Orde oor die vier wêreldwye provinsies aangestel is. Onvoorstelbaar was sy reaksie toe hy vra om van die posisie verskoon te word omdat hy eerder in Suid-Afrika wou bly.

Hierdie versoek van Nolan wys sy nederigheid, maar ook sy sobere lewenstyl wat duidelik gespreek het van ’n volkome gebrek aan belangstelling vir uiterlikhede en magsposisies. Sy bande en solidariteit met ander het vir hom sterker geweeg.

Ander eerbewyse, voorregte en leiersposisies het gevolg. Hy is drie keer gekies as leier van die Dominikaanse orde in Suid-Afrika, elke keer vir ’n termyn van vier jaar. Tydens die eerste jare kon hy as ’n voordeel van hierdie posisie in die ampswoning, ’n pastorie in die uitgesoekte buurt van Houghton, gaan woon. Onbeïndruk daardmee, verkoop Nolan eerder die plek en verkry ’n eenvoudige, vervalle huis in ’n werkersklasbuurt in Johannesburg. Om alles te kroon het Nolan self ook in die huis gaan bly in ’n arm omgewing waar mense van verskeie rasse gewoon het.  Hier kon sy ordelede in gemeenskap met mekaar ’n lewe van eenvoud voer. (Daar word vertel dat die eiendomsagent besonder in sy noppies was om ontslae te raak van die vervalle gebou wat niemand wou koop nie.)

Die Switserse Universiteit in Freiburg wou in 1990 ’n eredoktersgraad aan hom toeken, maar ironies genoeg is dit deur sy eie orde gekeer. Geen rede is vir die orde se teenkanting gegee nie, maar daar word gespekuleer dat die leiers waarskynlik gevoel het dat die inhoud daarvan te veel van ’n risiko was. Selfs in die binnekring van sy geloofsgemeenskap was daar dus teenkanting en vrae oor sy werk. Nietemin was hy al so bekend dat hy in dié tyd wel van Regis College in Toronto ’n eredoktersgraad ontvang.

Later, in 2003, sou hy ook die Orde van Luthuli (Silwer) van die staat ontvang vir sy stryd om menseregte en ’n demokrasie.

Nolan se orde het wel ook later vir hom besondere erkenning gegee toe hulle hom in 2008 tot Meester in die Heilige Teologie bevorder het.

Albert Nolan se lewe was merkwaardig juis omdat hy nie belang gestel het in eerbewyse nie en nie betower is deur magsposisies nie. Sy deelname in die stryd om ’n regverdige bestaan vir alle mense is veral gedryf deur sy besondere verstaan van die gelykheid, menswaardigheid en gemeenskap van alle mense. Syne was ’n geloof gekenmerk deur egte nederigheid, ’n sobere lewenstyl en ’n lewe van gebed.

..........
Nolan se bydrae tot die versetbeweging is een van die kristalhelder ligpunte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse kerklike en teologiese diskoers.
...........

Nolan en die bevrydingstryd

Nolan was nie baie bekend of bemind in die Afrikaanse kerklike wêreld nie. Hy was wel een van die paar dapper kerkleiers wat die apartheidsisteem op ’n vreeslose, profetiese manier uitgedaag het, en dit ten koste van sy eie veiligheid. Sy politieke betrokkenheid het hom die venyn van vele kerkmense op die hals gehaal.

Destydse kerklike en politieke maghebbers het Nolan as ’n gevaarlike oproermaker verdag gemaak. Tydens die landwye opstande en die gevaarlike noodtoestand van 1985–1986 het hy byvoorbeeld ’n leidende aandeel gehad het aan die Kairos-dokument, ’n opsienbarende teologiese protesskrif wat apartheid en die kerklike ondersteuning daarvan radikaal verwerp en as onbybels beskryf het. Boonop het die dokument vlymskerp ’n “staatsteologie” uitgespel wat kerke se stille of openlike ondersteuning van die apartheidsideologie gedryf het. So ’n kritiek het duidelik nie in die status quo-geledere se klere gaan sit nie en het vir hulle in daardie hoogs oproerige tye na verraad geklink.

Ten spyte van die verdagmaking deur sulke groepe was Nolan ’n besonder invloedryke persoon. Sy bydrae was veral teologies deur sy wyd gelese boeke met hul Bybelse en teologiese inhoud. In die gevaarlike, turbulente tye van die landwye opstande was Nolan, soos Beyers Naudé, ook daadwerklik betrokke by binnelandse hulp en ondersteuning aan die ondergrondse versetbeweging. Hy het in latere tye nooit daaroor geroem nie. Sy waardevolle bydrae tot die vryheidstryd het byvoorbeeld eers onlangs, ná sy dood, bekend geraak toe ’n mede-aktivis onthul dat hy ’n ondergrondse stryder was wat ’n aktiewe rol in die bevrydingsbewegings gespeel het deur stryders veilige skuiling te gee, deur kontakte te lê en boodskappe oor te dra.

Sy onverskrokkenheid blyk daaruit dat hy hierdie hulp verleen het toe stryders met dodelike geweld deur die berugte veiligheidpolisie vervolg is en hulp aan hulle as landsverraad beskou is. Hy het onder andere gehelp om fondse van Swede vir geweldlose verset teen apartheid onder die bevrydingsbeweging te versprei. Hy moes op ’n stadium letterlik op die vlug slaan voor die veiligheidspolisie wat hom gesoek het om hom, soos so baie ander gemeenskapsleiers, sonder verhoor op te sluit.

Vanaf 1981 het sy invloed verder toegeneem deur sy leiding van die gemaledyde Instituut vir Kontekstuele Teologie wat vreesloos hul aktivisme uitgeleef het ten spyte van genadelose kritiek en vervolging.

In sy aktivisme was hy bewus hoe nodig dit was dat die kerk as stryder vir geregtigheid betrokke moes wees in die verset teen onreg. Hy het saamgewerk met bekende leiers uit ander kerke in Suid-Afrika (onder andere Beyers Naudé in die NG Kerk and Frank Chikane in die AGS). Daardeur het hy veral sy ekumeniese gees en sy relativering van tradisionele grense getoon. Sy besondere aansien in die kerklike ekumene het verder toegeneem toe hy jare lank as die redakteur van die ekumeniese tydskrif, Challenge lidmate uit alle groeperinge oor die stryd vir ’n demokrasie ingelig gehou het.

Nolan se bydrae tot die versetbeweging is een van die kristalhelder ligpunte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse kerklike en teologiese diskoers. Hy was by uitstek iemand wat wys hoe sommige onverskrokke kerklikes apartheid teen groot persoonlike koste met woord en met daad teengestaan het terwyl die res van die kerklike gemeenskap dikwels óf geswyg het oor al die onreg óf stilweg en apaties meelopers daarvan geword het.

Indrukwekkend in al hierdie dinge was sy rype insig en onkreukbare integriteit. Maar hy is nóg groter in sy doodgewone lewe van eenvoud, sy nederigheid, sy solidariteit en gemeenskapsgevoel met almal, die gemarginaliseerdes inkluis. Dit is min, voorwaar, dat ’n mens ontferming so ferm en tog so onmiskenbaar duidelik in ’n lewe beliggaamd sien.

  • 6

Kommentaar

  • Marianne de Jong

    As student het ek jare gelede vir Vader Albert Nolan by die Katolieke Seminarie op Stellenbosch leer ken. Die eerbetoon by sy afsterwe is vir my baie treffend. Albert Nolan het indertyd Afrikaanssprekende vriende gehad en ek vemoed dat hy self Afrikaans kon praat.

  • Pieter G.R. de Villiers

    Jy moet reg wees, Marianne. Hy het sonder enige probleme sy studente by die Universiteit Stellenbosch klasse laat loop in die sewentigs toe alles daar nog "puur" Afrikaans was. Hulle was bv in my Nuwe Testament-lesings, en dit nogal in die tyd dat die Roomse Gevaar verhoudinge met Protestante gekompliseer het. Dit wys vir my sy wil om vir sy studente ’n gevorderde opleiding te gee, en ook sy ruim gees, wat grense oorskrei het. Sy studente het op ’n keer vir my kom vertel hoe hulle (en hy) verras was dat ek sy boek oor Jesus in my lesings behandel het. Toe was die boek pas gepubliseer. Dankie Marianne vir jou opmerking.

  • Pieter G.R. de Villiers

    Die "ander perspektief" waarna die eerste kommentaar verwys is ’n sprekende voorbeeld van die verdagmaking van die Kairos-dokument wat ek in die artikel noem. Dit is tragies dat daardie perspektief net nie in staat is om die mensonterende trauma wat mense onder apartheid beleef het, te peil nie. Dit is wesenlik belangrik om Nolan se beskrywing van die Kairos-dokument as gebore uit die vlamme van die townships te begryp – waarna ek ook in die artikel verwys. Sy gebruik van die beeld van "vlamme" is ’n sine qua non om die verset wat in die townships opgevlam het, te verstaan. Vandag nog, dekades later, beleef ons hoe mense deur daardie sisteem vermink is. Nolan sê uitdruklik en onomwonde in sy antwoord aan Kane-Berman dat die eksesse en geweld verkeerd was. Maar dit beteken nie dat die verset teen die sisteem as sinlose geweld afgemaak kan word nie.

  • Marianne de Jong

    Dis duidelik dat Albert Nolan nie politieke munt wou slaan nie en dat teologie, Christelikheid en - as ek bevoeg is om dit te noem - 'n ekumeniese ingesteldheid sy optrede gemotiveer het. Ek onthou uit daardie tyd dat enkele baie vooraanstaande Stellenbosse Afrikaners soms dienste by die St Nicholas-kerk bygewoon het ten spyte van die "Roomse gevaar". Dalk was dit die effek daarvan. Dankie vir die uitvoerige kommentaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top