
Marida Fitzpatrick (Foto: Annemarie Wichman)
...
Ek wil hierdie drukname verder vestig en uitbou sodat alle Afrikaanse skrywers en lesers weet hulle het ’n natuurlike tuiste by die Lapa-Pikkewyne.
...
Marida Fitzpatrick het onlangs oorgeneem as fiksie-uitgewer by Penguin Random House South Africa. Izak de Vries wou hoor hoe sy oor haar nuwe rol dink.
In Februarie 2018 het jy by Lapa Uitgewers aangesluit as ’n uitgewer van niefiksie. Dis al vyf jaar sedert jy jou kantoordeur by die media toegetrek het. Wat is die grootste verskille tussen die uitgewerswese en die koerante?
Die heel grootste verskil is die tempo en ritme. By ’n nuusorganisasie werk jy daagliks met soms uurlikse spertye om ’n berig so gou moontlik uit te kry. By ’n uitgewery werk jy dikwels met tydlyne van ’n jaar of langer vir ’n boek. Ek moes dus geduld aanleer en ook om baie meer en baie verder vooruit te beplan!
Jy was betrokke by Lapa, wat ’n kleinerige maatskappy was. En toe word Lapa deur Penguin Random House South Africa gekoop. Het dit nuwe deure oopgemaak, of hoe het jy die verandering ervaar?
Ons het die druknaam Lapa behou vir al die boeke wat destyds onder Lapa uitgegee is en steeds uitgegee word. Die enigste verskil is dat Lapa nou onder ’n ander korporatiewe sambreel val. Waar die ATKV ons in die verlede besit het, besit Penguin Random House Suid-Afrika ons nou. Dit het egter nie Lapa se handelsmerk as gevestigde Afrikaanse druknaam verander nie. Ons bly die voorkeurtuiste vir Afrikaanse skrywers en lesers. En saam met Penguin Random House se Afrikaanse lys is ons die grootste Afrikaanse uitgewery in die land.
As toenmalige joernalis was niefiksie ’n byna logiese tree na die uitgewersbedryf, maar intussen het jy ’n M gedoen in kreatiewe skryfwerk en jou roman Mara het in April verlede jaar verskyn. Wat was jou grootste motivering om van niefiksie oor te skuif na fiksie?
Toe die pos oopgaan, het dit bloot vir my na ’n lekker nuwe uitdaging gelyk. Ek was nog altyd baie lief vir fiksie – vir die lees en die skryf daarvan en nou gee hierdie pos my die geleentheid om dit ook uit te gee. Ek geniet dit baie om agter die skerms met fiksie te werk.
Dis nie ’n geheim nie dat talle fiksieskrywers dit moeilik vind om uitgewer én skrywer te wees. Wat is jou gedagtes hieroor?
Ek beskou nie regtig myself as ’n skrywer nie. Ek is eerder ’n leser en uitgewer wat al my hand hier en daar aan skryf gewaag het. Ek maak ook geen geheim daarvan dat skryf vir my loutere hel is nie! Dit is dus vir my heerlik om eerder ander skrywers se boeke die lig te laat sien as om my eie te probeer skryf. Ek voorsien glad nie dat ek weer ’n boek sal skryf terwyl ek self fiksie uitgee nie.
Jy het groot skoene om vol te staan. Kan jou skrywers enige nuwe idees van jou verwag?
Met die samesmelting tussen Lapa en Penguin Random House Suid-Afrika het ons die geleentheid gekry om die beste van hierdie twee wêrelde saam te voeg. Ek wil voortbou op die sukses en nalatenskap van beide Lapa en Penguin Random House se fiksie-handelsmerke. Daar is verskeie bekende en geliefde drukname binne hierdie handelsmerke wat elkeen ’n tuiste vir spesifieke boeke en skrywers bied – van topverkopers en ontspanningsfiksie tot pryswenners en literêre boeke. Ek wil hierdie drukname verder vestig en uitbou sodat alle Afrikaanse skrywers en lesers weet hulle het ’n natuurlike tuiste by die Lapa-Pikkewyne.
Lig so ’n bietjie die sluier oor boeke wat binnekort gaan verskyn?
Ons is baie opgewonde oor Chanette Paul se volgende boek wat in die tweede helfte van die jaar gaan verskyn. Dis ’n heerlike spanningsverhaal wat juis in die wêreld van boeke en skrywers afspeel. Ek vermoed lesers gaan absoluut verlief raak op hierdie boek se hoofkarakter.


Kommentaar
Dankie vir die artikel. Ek het verlede jaar fiksie aan LAPA voorgelê en kon nie verstaan toe ek onlangs ‘n e-pos ontvang het met die boodskap dat dit nou aan Penquin voorgelê moet word nie - met nuwe riglyne.