Die parlement het op 22 Mei finaal verdaag, en so ontbind die sesde parlement na vyf jaar met 27 wetsontwerpe onafgehandel en 39 wette steeds op die President se tafel vir finale ondertekening. Dit was vyf jaar wat die COVID-19-tydperk ingesluit het en ook die afbrand van die Nasionale Vergadering-gebou en Ou Raadsaal. In die afsluitingsweke het Ramaphosa egter wel kans gesien om die wet wat handel oor die Nasionale Gesondheidsversekering asook die omstrede Bela-wet te onderteken, met waarskynlik politieke voordeel in gedagte. ’n Derde belangriker wet wat ook afgehandel is, maar wat minder aandag getrek het, was die wet wat finaal die ontbinding van Eskom daarstel, maar met meer as 60 dae sonder beurtkrag, reg voor die verkiesing, is dit maar stil-stil gedoen! Die politieke geraas op die paviljoen is tans oorverdowend, en mens wonder of die politieke partye wat in hulle bane en aflosse hardloop, die ondersteuners duidelik kan hoor!
In die vorige artikel is die meeste aandag gegee aan die aanloop tot die verkiesing, maar in hierdie opstel gaan meer gefokus word op die politieke wedloop in die pylvak. Deel van die artikel was ’n aantal langtafelgesprekke oor die komende verkiesing waarin belangrike vrae gevra is en insigte gedeel is uit die landbou, die finansiële wêreld, die mediese wêreld, die ekonomie en ’n besoek aan KwaZulu-Natal (KZN). Dit is op hierdie stadium duidelik dat gebeure in KZN bepalend gaan wees vir die uitkoms van die verkiesing op 29 Mei 2024. Dit is die tweede grootste provinsie in terme van die populasie met ongeveer 12,4 miljoen inwoners, en daarvan het 5,7 miljoen vir die verkiesing geregistreer. KZN het die Oos-Kaap verbygesteek as die provinsie met die meeste ANC-ondersteuners en -takke, maar dit was die skokaankondiging van Jacob Zuma dat hy die gesig van die nuutgestigte uMkhonto weSizwe- (MK-) party sal wees wat die uitkoms van die verkiesing op sy kop gedraai het.
Wie is in die binnebaan?
Dit ly geen twyfel nie dat die regerende ANC in die binnebaan is om die verkiesing te wen, veral omdat regerings wat aan verkiesings deelneem om herverkies te word, oor ongelooflike indirekte voordeel beskik. Om die ou gesegde in Afrikaans te vertaal: Dit is net die regering wat die lakens kan uitdeel! Tans word verskeie van hierdie indirekte voordele op daaglikse basis gesien, en dit sluit in die teken van belangrike maar omstrede wette, en die deurlopende kragsituasie, ongeag wat die koste ná die verkiesing gaan wees. Indirekte voordeel sluit ook groot en sigbare projekte in wat deur provinsies gedoen word om die lewering van dienste te demonstreer. Ten spyte van hierdie binnebaanvoordeel voer die ANC ’n politieke stryd van binne en van buite. Faktore soos staatskaping, ’n kultuur van korrupsie, geen sigbare konsekwensies vir die politieke booswigte nie en ’n groeiende vertrouensbreuk met ’n groot aantal kiesers, kos die ANC steun.
Die toetrede van die MK-party onder leiding van Jacob Zuma was vir die ANC ook ’n groot skok, en tans wil dit voorkom asof MK beide ’n spelbreker in KZN kan wees en ook ’n politieke pretbederwer op nasionale vlak. Die ANC beskik egter oor ’n enorme logistieke en netwerkkapasiteit en dit word die afgelope drie weke voor die verkiesing op daaglikse basis ingespan. Dit sluit die ondersteuning van Cosatu se arbeidstrukture in, asook die gebruik van erkende en vooraanstaande ANC-veterane soos Thabo Mbeki en andere. Die werking van die ANC se politieke spanne is daagliks sigbaar in KZN en in Gauteng, maar ook in die Wes-Kaap en Oos-Kaap.
Die geraamde steun van die ANC soos gemeet deur verskeie meningsopnames lê tussen 40% en 46% van die kieserskorps, maar die ANC het oor ’n aantal verkiesings gewys dat hy sy steun reg voor ’n verkiesing op verskillende maniere sterk kan mobiliseer. In die verlede kon maklik gewys word op ongeveer 30% van sy steun uit die platteland en dan ongeveer 10% van sy steun bloot as premie op die ANC as regering. Hierdie twee aannames word egter in 2024 onder groot druk geplaas deur die opkoms van MK, veral in KZN, asook swak dienslewering en sigbaar verswakte regering. Die ANC se grootste uitdaging is egter die groot stede en metropole, wat tans ongeveer 67% van die bevolking huisves. In stedelike Suid-Afrika sal die ANC minstens 20–25% van sy steun moet mobiliseer om steeds die regering te bly. My verwagting is dat die ANC sy posisie gaan verloor as die dominante party in die Suid-Afrikaanse politiek na 30 jaar en sal terugsak na wat as ’n pre-dominante party beskou sal kan word. Met ander woorde steeds die grootste party, maar nie meer die oorheersende party nie, en steeds die regering, met ongeveer 48% van die nasionale steun. In hierdie proses kan die ANC direkte beheer oor beide Gauteng en KZN se provinsiale administrasies verloor.
Het die DA ’n politieke plafon bereik?
Beide die ANC en die DA het oor die afgelope vyf jaar leiers verloor en faksies het weggebreek en nuwe partye gevorm, soos Bosa en ActionSA. Die DA het egter saam met ander partye ’n belangrike stap gedoen om ’n voorverkiesingsalliansie te vorm met 11 ander partye om sodoende ’n kompeterende alliansie te vorm. Die verlies aan leiers soos Mmusi Maimane en Herman Mashaba en die oninspirerende leierskap van John Steenhuisen kos die DA egter steun. Alhoewel die konflik in Gaza nie ’n betekenisvolle rol in die 2024-verkiesing gespeel het nie, is dit beslis in die Wes-Kaap onder veral Moslemgesinde bruin kiesers ’n faktor, en die DA se posisie met betrekking tot die konflik en Israel mag die DA stemme kos. Die sterk opkoms van die Patriotic Alliance in die Wes-Kaap maak ’n gemaklike oorwinning vir die DA in die Wes-Kaap ’n bietjie meer gekompliseerd. Meningsopnames wys dat die DA se steun oor die laaste vyf jaar konstant rondom 20% gebly het, en dit is ook my verwagting dat die DA hierdie steunvlak in die verkiesing sal bereik, en dit is nie uitgesluit dat sy steun selfs to 22% sal kan styg met ANC-swakheid in die agtergrond nie.
Kan die EFF sy derde plek behou?
Die MK-party het nie net die ANC se kaarte kom omkrap nie, maar duidelik ook steun weggeneem van die EFF in die sin dat ontgogelde ANC-lede wat ’n tuiste in die EFF gaan soek het, dit nou weer binne die MK-party gekry het. EFF-steun het die laaste vyf jaar van 10% na 12% gestyg en het in sommige opnames in 2023 selfs tot ’n verbasende 17% gestyg. Met die koms van MK en die opnames wat sedert Februarie 2024 gedoen is, het die EFF se steun teruggesak na 10% en in sommige gebiede na so laag as 6% van die steun gedaal. Dit geld veral in gebiede soos KZN. Daar bestaan ’n baie groot kans dat die EFF in die verkiesing op 29 Mei kan terugsak na die vierde grootste party in die Suid-Afrikaanse politiek, en dit kan ’n betekenisvolle uitwerking hê op leierskapsposisies in die EFF, want verloor moet êrens ’n lêplek kry.
Is die MK-party ’n spelbreker of ’n pretbederwer?
Die MK-party is gelyktydig ’n aantal politieke verskynsels. Dit is Jacob Zuma se politieke weerwraak op die Ramaphosa-gesindes in die ANC; dit is Zuma se ongebreidelde uitbuiting van Zoeloe-nasionalisme en Zoeloe-tradisies in die vakuum wat gelaat is na Buthelezi se dood; dit inhibeer die EFF se links-fascistiese retoriek en dit verhoed verdere afskilfering van ANC-lede na die EFF. Dit het ’n duidelike impak op IVP-georiënteerde tradisionele leierskap, en dit bied ’n nuwe tuiste aan ANC-lede wat toenemend vervreemd geraak het van die dominante party, deels as gevolg van ’n gebrek aan Zoeloe-leiers in die hoogste ANC-leierskapsposisies. Jacob Zuma is die sentrale figuur in die MK-verskynsel, en daarin lê die party se energie, maar ook sy ondergang. Cope het in 2009 ’n baie goeie begin gehad, maar leierskapsverskille het die party ’n vinnige dood laat sterf en dit laat mens wonder of die MK-party, wat gemaklik tussen 8% en 10% van die nasionale steun kan kry, nie net ’n tref-en-trap-party is nie.
Hoe dit ook al sy, MK het die hooftema van die 2024-verkiesing geword, en daar is reeds gesprekke aan die gang in KZN tussen MK en die IVP om dalk saam ’n provinsiale regering te vorm, wat vir die ANC ’n groot knou sal wees. Die EFF word nie as ’n koalisievennoot oorweeg nie.
Watter rolle speel die IVP en die VF Plus?
Die IVP en die VF Plus het baie gemeen, omdat hulle nie net politieke beleid voorhou nie, maar bepaald ook kulturele aspekte en kultuurtradisie.
En mikropartye en onafhanklike kandidate?
Die onafhanklike kandidate op die kieslyste (daar is ses) word saamgegroepeer met die mikropartye wat almal van 0,25% tot 1,0% van die steun op hulle gemonster het. Hulle grootste uitdaging sal wees om hulle vraagstukke of fokuspunte onder die groter partye se aandag te bring en om te poog om sitplek te kry in ’n groter koukus, omdat een mens alleen nie hond kan haaraf maak in die parlement nie.
Ter opsomming
Die verkiesing van 29 Mei 2024 beloof om ’n kantelpuntverkiesing te word waar die dominante party van 30 jaar sy posisie gaan verloor en bloot ’n predominante party gaan word. Die ANC sal steeds die regering bly, maar met verminderde steun en die verlies aan volledige beheer van Gauteng en KZN se provinsiale regerings. Die ander provinsies, te wete Noord-Kaap, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Oos-Kaap, kan beskou word as veilige ANC-provinsies. Dit is baie moeilik vir ’n party wat oor ’n periode van 30 jaar magsverhoudinge geïnternaliseer het, om die posisie te herstel in opvolgende verkiesings. Dit is gewoonlik ’n traumatiese afdraande wat ’n dekade of meer kan duur. Die DA sal vasklou aan sy 20% van die steun en sal waarskynlik ook daarin slaag om die Wes-Kaap se provinsiale regering te beheer. Daar is ’n groot kans dat die MK-party die EFF sal vervang as die party met die derde meeste stemme, maar MK herinner aan die bekende stelling uit The battle of Algiers (1968): “It is difficult to start a revolution, more difficult to sustain it. But it’s later when we’ve won, that the real difficulties will begin.”
Beide die IVP en die VF Plus gaan met betekenisvolle steun terugkeer na die parlement en belangrike rolle speel, want as ’n party 10 of meer lede in die parlement het, kan jy volledig aan komitees deelneem en jou stem laat hoor, soos wat beide partye die afgelope vyf jaar gedoen het. Die IVP lyk na ’n 4%-party, geknou deur MK, maar met stewige vertoning in KZN. Die VF Plus het in die 2019-verkiesing verbaas met 2,38% van die nasionale steun en ek dink ons sal hulle weer in daardie orde verkiesbaar sien. In die groep van partye sal daar nog ’n derde speler toetree, naamlik ActionSA, wat aan sy eerste nasionale verkiesing sal deelneem. Saam met die ACDP op 1% sal dié groepie partye so 10% van die parlement uitmaak.
Die kleiner partye, mikropartye en onafhanklike kandidate
Dit wil voorkom asof die ses onafhanklike kandidate, asook partye soos die PA, ACDP, UDM, ATM, Good, Cope, AIC, PAC en Aljama ongeveer 10% van die stemme op hulle gaan verenig. Hulle rol sal wees om veral by koukusse sittingsreg te kry om sake van belang te bespreek. Die ses onafhanklike kandidate is Zackie Achmat, Louis Liebenberg, Anele Mda, Lovemore N'dou, Ntakadzeni Phathela en Lehlohonolo Ramoba.
Theo Venter is professor in praktyk aan die Skool vir Openbare Bestuur, Bestuurspraktyke en Openbare Beleid aan die Kollege vir Besigheid en Ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg, en gedurende die 2024-verkiesing sal hy ook optree as verkiesingsanalis vir Netwerk24 by die OVK se Verkiesingsentrum.


Kommentaar
Interessante ontleding van MK se toetrede en hoe dit ander partye kan raak. Indien hulle 8-10% haal sal ek verbaas wees. Iedergeval, sal hulle ń tref-trap-party wees. Die res van Theo se voorspelling lyk in die kol.
Ek is altyd beïndruk met Theo se inskatting van sake en sy taalgebruik is uitstekend. Net een vragie, waarom sê jy aan die einde dat die regerende party na die verkiesing 'n "predominante" party kan word? Ek sou tog dink dis "postdominant", behalwe as jy vermoed dat oor 5 jaar ons in is vir 'n verrassing. Mens kan natuurlik redeneer dat die 'pre-' voorvoegsel in hierdie verband 'voorheen' bedoel, maar ek wonder of hierdie betekenis semanties deur die woordjie 'predominant' gedek word?