Fast and (reasonably) furious!
Dis Vrydag, sonsak in die Kaap. Die kraaie gaap soos net in Januarie in die Moederstad. Dis die eerste naweek ná die skole begin het. Al wat leef en beef het besluit om op Kampsbaai, Clifton en Seepunt toe te sak. Die verkeer beweeg nie. Soos die minute verbytik en ons voertuig ’n halwe motorlengte op ’n slag aankruip, besef ek dat ons die vertoning gaan misloop. Dit neem ons 72 minute om die 7,9 km af te lê.
Ek bel die teater: Gee ons kaartjies vir iemand anders, maar moenie vir ons wag nie. Die gerusstellende stem verseker my dat vele mense laat is en hulle ’n paar minute laat gaan begin – kom net so gou julle kan.
Of ons wil tou opgooi of nie, daar is nie omdraaikans op die kuspad op pad na Kampsbaai nie en ons sit. Die motor se lugversorging is later nie meer voldoende nie en draai jy die ruite af, is die uitlaatgasse te erg.
Teen die tyd dat ons myle weg geparkeer het en uitasem en natgesweet by die teater inglip, is my sin vir humor sommer weg. Die huisligte is nog aan, daar is oop sitplekke in die uitverkoopte vertoning en ons sit by die deur. Ek haal diep asem, gaan was my gesig en kry vir ons drankies. Die lugverkoeling suis sussend. Die ligte doof toe ek gaan sit.
Alan kom uit op ’n piepklein plastiek-skopfietsie met ’n afleweringsmandjie agterop. Dis Checkers Thirty30, want jy weet, die rand het soveel waarde verloor, knipoog hy. Hy spot ook met die flitsende ligte van sy inleiding, waarvoor hy “die land se laaste elektrisiteit gebruik het”.
Ek voel hoe die stres uit my skouers syg. Die malle gejaag en verkeer van enkele minute vantevore skoon vergete. Dis sy 26ste produksie en die man is geolie, afgerond, selfversekerd. Hy staan in verwondering dat ’n gedeelte van die gehoor glad nie lag nie, dat sommige van sy lawwighede ernstig opgeneem word (“Jy dink ek maak ’n goeie punt, nè?”), dat een vrou die hele vertoning deur op haar foon bly tik – al vra hy haar of sy besef dis nie Netflix nie: Hy kan haar sien ...
........
Is dit nie juis hoekom Suid-Afrikaners altyd oorleef nie? Ons vermoë om oor alles te lag is dikwels ons redding.
........
Dan die verduideliking van ons regering en dienslewering: “Hulle kan nie eintlik Mr Delivery genoem word nie, dalk eerder Takealot of Loot?” Die gehoor skater. Is dit nie juis hoekom Suid-Afrikaners altyd oorleef nie? Ons vermoë om oor alles te lag is dikwels ons redding.
Daar is heelwat oorsese besoekers in die gehoor en party goed verduidelik hy baie mooi, soos wat die Ladies Mile-sirkel in Constantia behels – volgens hom die negende natuurlike wonder van Suid-Afrika, omdat daar dubbel meer ingange as uitgange is en een vrou al sedert Oktober 2022 sukkel om die sirkel te verlaat. Of hoe mense van “Constantia Vu-laaa-ge” praat as hulle vriende in ’n restaurant ontmoet. Hy spot met die verkeer waarin hy weet almal in die gehoor vasgevang was – hy self het in Lansdowne parkeer ... want soos almal weet, het ons net ses paaie in die hele Wes-Kaap wat al die miljoene mense moet gebruik.
Wanneer hy nie ’n uitbundige gelag hoor nie, kom dit blitsvinnig: “Nie al die grappies is vir vanaand se lag nie, jy kan ook môre lag” of “nie al die grappies is vir almal nie, sommige is net vir ’n paar gehoorlede” of “sommige van my grappies is regtig net vir my eie plesier”.
Tydens pouse kla iemand dat Alan se “ingeoefende goed nie sleg is nie, maar sy improvisasie is maar power” – ja, hy gee ons 20 minute pouse om te doen net wat ons wil. Verniet, gratis. As jy nie wil opstaan en die vars seelug buite gaan geniet met ’n drankie in jou hand nie, kan jy in die teater bly sit. “Die 20 minute sal na jou eBucks-rekening oorgeplaas word vir aankope van hoop en drome by jou naaste Spar.”
Ek kan nie meer verskil nie. Van sy ingeoefende goed het al in vorige vertonings in een of ander vorm oor die verhoog gedans. Dis sy improvisasies wat die gehoor laat skaterlag het – en daar hoef jy nie ’n Suid-Afrikaner te wees om die humor te begryp nie.
Sy kwinkslae het ’n heerlike aand verseker. Met die ruite af, die seelug in ons kuiwe terug op daardie selfde, toe doodstil, pad langs die see – ’n aangename begin tot ’n naweek.
Viva Alan!
Fast and (reasonably) furious!
Met: Alan Committie
Regie: Christopher Weare
Ontwerp: Niall Griffin
2 uur (min of meer), met 20 minute pouse
Theatre on The Bay
Tot 3 Februarie, daarna Pieter Toerien se Montecasino-teater van 7 Februarie tot 3 Maart 2024
Kaartjies deur Webtickets by: https://www.webtickets.co.za/v2/Search.aspx?search=Fast+and