Il Paradiso, canto XXXIII ’n meesterstuk

  • 0

Nêrens in Dante se poësie tref ons iets so manjifiek aan as in die laaste canto nie. Hier besef die leser wat hy met canto (gesang) bedoel. Op die kruin van sy gedig beskryf hy sy ervaringe met so ’n diepgewortelde sekerheid, in so ’n toonaard en so verhewe en tegelykertyd kosmies en intens persoonlik dat dit die leser meesleur (Vos 2018:50).

Die hoogtepunt van Il Paradiso is canto XXXIII. Die komposisie, retoriese, poëtiese tegnieke, rympatrone, metafoor- en verbeeldingrykheid, enjambemente wat soos bergwater vloei, mimesis, ritme en kadens is verbluffend (Freccero, 1986:205–71; Barolina 1992:251–6; Vos 2018:50).

Ten einde die meesterstuk van Dante te waardeer, moet daar op sy komposisie van die canto’s gelet word. Die verwysing van Dante na die “maanvlekke” kom in Paradiso II, 49–148 voor. Dit bevat presies 100 reëls. Dit dui alles op Dante se fyn komposisie.

canto XXXIII se komposisie sien soos volg daaruit:

Prelude: reëls 1–45.

Eerste beweging: reëls 46–75.

Tweede beweging: reëls 76–105.

Derde beweging: reëls 106–135.

Finale: reëls 136–145.

Die finale (reëls 136–145) kan van reëls 136–144 met reël 145 as slotreël verdeel word. Die eerste, tweede, derde bewegings en die finale bevat 100 reëls.

Met die drie bewegings in die diskoers reik Dante na die gedig se klimaks. Elkeen van die bewegings vorm die drie tekstuele boublokke waarmee die digter die teks laat voortstu. Hierdie drie boublokke is: kort momente van die plot waar Dante in aksie is of iets met hom gebeur. Dit word in die verlede tyd aangedui. Vervolgens is daar die metapoëtiese bewerings oor die ontoereikendheid van die digter se taak. Daarna wend Dante hom biddend tot die “Opperste Lig” (reël 67) en die “Ewige Lig” (reël 124).

Die eerste reëls van die canto, “Vergine madre, figlia del tuo figlio”, is ’n beliggaming van die paradokse wat ’n kenmerk van Dante se Paradiso is. Die gebed word deur Bernardus van Clairvaux verwoord. Hierdie gebed onderbreek Dante se beweging na die visioen van die Ewige Lig wat die heelal saamvoeg. Die gebed aan Maria bestryk die eerste 45 reëls van die canto (prelude). Bernardus se gebed is in die teenwoordige tyd (1–39) en die slot van die gebed in die narratiewe verlede tyd (40–45). Die gebed eindig met reël 39.

Die twee tersines (40–45) vorm ’n oorgang na die plot wat met reël 46 begin. Dit is die aanvang van die eerste beweging. Dante is nou naby aan die vervulling van sy begeerte (46–48):

E io ch’al fine di tutt’i disii
appropinquava, sì com’io dovea,
l’ardor del desiderio in me finii.

En ek, wat al nader gekom het aan die oog
van al my verlangens, het die vuur van my begeerte tot sy allerhoogste graad verhoog.

Hierna volg die “vertelling” van Dante se verwondering. Die narratiefstruktuur berus op ’n fyn literêre komposisie.

Dante se vertelling begin met dit wat in die verlede gebeur het. Daarna beskryf hy hoe hy sy verlange tot die uiterste beproef het (48). Vervolgens beskryf Dante hoe hy opwaarts gekyk het en sy sig al meer en meer in die straal van die Verhewe Lig ingedring het (52–54).

Selfs in hierdie betreklik eenvoudige en liniêre vertelling is die vlotheid wat tiperend van hierdie canto is, opvallend. Dante wend die tegniek van skakeling aan. Hy verbind die kontras, “ma” (maar), met die vae bywoord “già” (reeds) in reëls 50–51. In die gedig se slot keer die verbinding terug (143). In reëls 50–51 gee Bernardus aan Dante die teken om op te kyk:

; ma io era
già per me stesso tal qual ei volea:

maar ek
was reeds besig om my aandag aan sy wense te bestee:

Hierna volg die teenwoordige tyd (55–57). Die digter deel die leser mee dat sy visioen veel groter was as wat hy met sy taal kan omskryf:

Hierna was my uitsig groter as ons woordvloed,
dit is net ontoereikend by so 'n gesig,
en elke herinnering faal by so 'n oorvloed.

Met drie pragtige en treffende vergelykings vertel die digter van sy wins en verlies (64–66):

Così la neve al sol si disigilla;
così al vento ne le foglie levi
si perdea la sentenza di Sibilla.

Afdrukke verdwyn as die sonhand daaraan raak;
in die windroering vervliet die ritselende blare,
net so het Sibille se orakels ook weggeraak.

Hierdie skitterende vergelykings dra die “passione impressa” van Dante aan die leser oor. Vervolgens wend Dante hom tot die “Opperste Lig wat so ver verhewe is” met die versoek (68–75):

, skenk aan my geheue,
’n afdruksel van u volmaakte beeltenis.

Ek vra U: gee aan my woorde tog soveel krag
dat dit ’n geringe vonk van u glorie
mag nalaat aan die toekomstige nageslag;

want deur ’n vleugie hoop aan my herinnering
in al hierdie verse klankvol te laat eggo,
sal siele u grootheid majesteitlik besing.

Hiermee kom die eerste segment tot ’n einde.

Die tweede beweging strek van reël 76 tot reël 105. In dié gedeelte vind die leser ’n deel waar rymwoorde ’n onbetwisbare argeologie van die Commedia se tematiek bied. Bevrees dat hy verlore sou wees as hy sou wegkyk (smarrito, 77), is Dante dapper (ardito, 79) genoeg om die lig te weerstaan, en so sy reis te voltooi (81).

Onmiddellik, as die vereniging van die individuele een (io, mio, 81–82) met die Oneindige Een (God) nie op narratiewe vlak gehandhaaf kan word nie, beweeg die teks na ’n aangrypende tersine wanneer die digter diep ontroer is deur die Liefde (82–84):

Oh abbondante grazia ond’io presunsi
ficcar lo viso per la luce etterna,
tanto che la veduta vi consunsi!

En ek, wat al nader gekom het aan die oog
van al my verlangens, het die vuur van my
begeerte tot sy allerhoogste graad verhoog.

Die beweging handel oor ’n poging om te verklaar wat Dante in die Lig gesien het. Hier staan die leser voor die gedig se allergrootste metafoor van eenheid (85–90):

Nel suo profondo vidi che s'interna
legato con amore in un volume,
ciò che per l' úniverso si squaderna:

sustanze e accidenti e lor costume
quasi conflati insieme, per tal modo
che ciò ch'i' dico è un semplice lume.

Ek het gesien hoe diep in die oneindigheid
liefde van die los bladsye ’n boek maak,
oral in die ganse wêreld is dit verbreid;

substansies en kwaliteite en verbinding
asof saamgesmelt; op so ’n wyse dat dit wat
by my mond uitloop, saamvloei in skittering.

Die onuitspreekbare waarneming van die “forma universal” (91) kan eerder ervaar as begryp word. Dante het gereken dat hy die “forma universal” gesien het omdat hy vreugde ervaar het toe hy daarvan gepraat het (94–96):

; met die meedeel
daarvan voel ek hoe my vreugde opskerp.

Die een oomblik, “Un punto solo”, is vir Dante ’n groter wonder en verwondering as die 25 eeue wat verby is sedert Neptunus die skadu van die eerste skip, Jason se Argo, gesien het:

Un punto solo m’è maggior letargo
che venticinque secoli a la ’mpresa
che fé Nettuno ammirar l’ombra d’Argo.

Slegs een oomblik daarvan laat meer verwondering
as 25 eeue s’n oor die reis wat Neptunus verbluf het,
al was Argo se skuimvaart ook ’n weergalose verrassing.

Die tersine as plot waarin Dante aanhou stipkyk na die Goddelike lig lui soos volg (97–99):

So was my verstand, totaal meegesleur en gestig:
heeltemal onbeweeglik en doelgerig,
en al kragtiger hoe langer ek my op alles rig.

Hierdie tersine word gevolg deur ’n deel wat die gedig se laaste bydrae tot Dante se lang meditasie, omkering, begeerte en wil lewer. Die uitwerking van die kyk in daardie lig word in reëls 101–102 toegelig:

che volgersi da lei per altro aspetto
è impossibil che mai si consenta;

dat dit ondenkbaar is dat sy oë ooit
na ’n ander gesig sal kyk wat hom ontroer.

Die oorganklike adverbium “omai” begin die derde beweging deur te vertel dat die leser nou die einde van die reis bereik (106–108).

Omai sarà più corta mia favella,
pur a quel ch’io ricordo, che d’un fante
che bagni ancor la lingua a la mammella.

Ek vertel van wat ek sien sonder skroom,
al is my woorde gebrekkig in vergelyking
met ’n suigling in wie se mond moedersmelk stroom.  

Dante dig oor sy onvermoë om die stralende Gloed te beskryf (109–114).

Ek kan nie beweer dat hierdie stralende Gloed
meer as ’n enkele voorkoms gehad het nie,
want Hy is soos Hy is, altyd volmaak en goed,

maar my sig het sterker geword terwyl ek kyk,
ek het sonder ophou getuur en gemerk
dat die enkele verskynsel verander, buite my bereik.

Binne die stralende beeld van die Verhewe Lig sien Dante drie sirkels. Die sirkels het drie kleure en een omvang; twee reflekteer mekaar soos reënboë en die derde is soos vuur in gelyke mate uitgeblaas deur die eerste twee (115–120).

In die onpeilbare helderglansende beeld
van die Verhewe Lig kon ek drie sirkels
sien van drie kleure en met een grootte bedeeld;

die eerste is in die tweede gereflekteer
soos Iris deur Iris, die derde was vuur
uitgeblaas onder die eerste twee se beheer.

In hierdie twee tersines kan Dante slegs beeldryk oor die Heilige Triniteit na woordbeelde soek.

Dante se vermoë om sy vertellyn te handhaaf skiet te kort. Daarom verwys hy na die bondigheid van sy vertelling (121–123):

Hoe ontoereikend is woorde om dit te beskryf
wat ek gesien het en aan my geheue geknoop is;
maar om dit weinig te noem, is om te oordryf.

In sy onvermoë wend Dante hom in ’n weergalose tersine tot die Drie-enige God, die Ewige Lig (124–126):

alleen Uself deurgrond, op Uself gerig,
Uself bemin, u glimlag en u liefde toon!

Dante staan verbyster voor die wonder van die inkarnasie. Christus het ons gelykenis (nostra effige) aangeneem en sy eie gemaak (131).

’n Engel se woorde streel
vir ’n oomblik veerlig in jou oor:
“Moeder Gods, moenie skrik nie.
Die Allerhoogste sal jou oorskadu,
God se Seun skop al in jou skoot.” (Vos 2017:218).

Dante kan God nie deurgrond nie, en hy wíl ook nie (133-135).

Soos die meetkundige met sy hele verstand
hom inspan om die sirkel se oppervlakte
te bereken, en ten spyte van alles versand.

Voor daardie finale paradoks en misterie, die “quella vista nova” (nuwe en vreemde wonder, 136) stamel Dante in verwondering (139–145):

Só ’n hoë vlug was vir my ontmoontlik,
maar my tastende verstand is onverwags getref
deur ’n ligstraal waardeur my doelwit geluk.

Hier ontbreek krag om dié misterie te oorweeg;
maar my begeerte en wil word reeds bestuur
soos ’n wiel wat egalig om ’n as beweeg
deur Liefde wat die son en die ander sterre aanvuur.

Hierdie slotsin (l’amor che move il sole e l’altre stelle / deur Liefde wat die son en die ander sterre aanvuur) staan in die teenwoordige tyd. Die Liefde (God) is grensloos en tydloos. Alles draai om die Liefde. Daarom beweeg die Liefde ook die “ander sterre”. Die Liefde se veelvoud kom sodoende tot uitdrukking. Die grootste van alles en almal bly die Liefde.

Paradiso XXXIII is die luisterryke hoogtepunt van die gedig. Die komposisietegnieke, poëtiese vernuf en vaardigheid laat die leser in verwondering. Dit is alles te wonderlik vir woorde.

 

Literatuur geraadpleeg

Barolina, Teodolinda. 1992. The Undivine Comedy. Detheologizing Dante. Princeton University Press: Princeton.

—. 2014. “Paradiso 33: Invisible Ink”. Commento Baroliniano. Digital Dante. Columbia University Libraries: New York.

Brouwer, Rob. 2002. De goddelijke komedie. Deel III: Paradiso. Primavera Pers: Leiden.

Durling, Robert M. 2013. The Divine Comedy of Dante Alighieri. Volume 3: Paradiso. Oxford University Press: New York.

Freccero, John. 1986. Dante. The Poetics of Conversion. Harvard University Press: Cambridge, Massachusetts en Londen.

Leonardi, Anna Maria Chiavacci. 1991. Dante Alighieri. Commedia. Paradiso. Meridiani. 1 edizione Mondadori, Milaan.

Sinclair, John D. 1991. The Divine Comedy. 3: Paradiso. Oxford University Press: USA.

Singleton, Charles. 1975. The Divine Comedy, Paradiso. Princeton University Press: Princeton.

Vos, Cas. 2017a. Maria van Nasaret. In Vos 2017b.

—. 2017b. Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. Lux Verbi: Kaapstad.  

—. 2018. Il Paradiso. Dante Alighieri. Naledi: Kaapstad.

 

  • Alle vertalings: Cas Vos
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top