Titel: iewers vlieg daar fairy dust
Skrywer: Marisa Haasbroek
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799366624
Koop iewers vlieg daar fairy dust by Kalahari.com.
Jare gelede het ’n kortverhaal in Sarie my opgeval. “Erik se T-hemp” was een van daardie skryfsels wat ’n mens net bybly. Oor die eerlikheid van die storie; omdat dit net so anders was; oor die gemaklike skryfstyl en die mooiheid in die eenvoud van die storie. Dis eers ná die lees van die jeugboek iewers vlieg daar fairy dust dat ek besef het dié besondere kortverhaal destyds was ook uit die pen van Marisa Haasbroek. En dit verbaas my nie, want dié vrou kán maar skryf.
Haasbroek het aanvanklik romantiese verhale vir volwasse lesers onder die skuilnaam Rykie Roux geskryf. iewers vlieg daar fairy dust is haar eerste jeugboek en haar eerste boek onder haar eie naam. Die boek word deur Lapa Uitgewers as jeugfiksie/oorgangsliteratuur bemark – dus geskik vir ouer hoërskoolleerders. Dis ’n bitter moeilike mark om voor te skryf, veral in Afrikaans, omdat dié boeke moet meeding teen groot kanonne soos The Hunger Games (Suzanne Collins), die Spud-reeks (John van de Ruit) en The fault in our stars (John Green) – om maar net drie te noem.
Aan die Afrikaanse kant staan iewers vlieg daar fairy dust egter sy skoene stewig vol in dié genre. Ook volwassenes wat hou van ’n romantiese storie met iets om die lyf, sal dit beslis geniet, en ek gaan terstond ook met ’n lekker hart my resensiekopie onder my 12-jarige leesgierige dogter se kussing sit.
iewers vlieg is ’n Aspoestertjie-storie met sterk romantiese ondertone. Die uitbeelding van armoede en maatskaplike omstandighede in ’n krotbuurt, en die gepaardgaande vernedering daarvan, is treffend en klaarblyklik goed nagevors. Voor in die boek bedank die skrywer die mense van Kleinfontein se woonwapark, wat die storie geïnspireer het. (Kleinfontein is ’n Afrikanerkultuurnedersetting naby Pretoria.)
In die boek leer die leser vir Elmien ken. Sy steek ’n gehawende ou dokterstas onder haar bed weg, neem haar skoolwerk ernstig op, “verpleeg” mense wat nie geld het om dokter toe te gaan nie, en werk in haar vrye tyd in ’n videowinkel. “Huis” is vir haar ’n Wendyhuis wat sy met haar twee agterbakse niggies en haar ouma in ’n wit plakkerskamp deel. Dis ’n plek vir verarmde Afrikaners wat afhanklik is van kerke, maatskaplike werkers en mense soos Mevrou, die rykmansvrou met die spoggerige voertuig en die dunlip-glimlag. Dis ’n plek van gedeelde ablusieblokke, son-geisers en vatterige ou mans; ’n plek vir “deernisgevalle” – nie vir tieners soos Elmien wat goeie punte kry en daarvan droom om eendag ’n dokter te word nie.
Dis hier, op Hoewe 717 (of sommer Plot 717, soos die inwoners dit noem), waar Elmien vir Ruan ontmoet – ’n tienerseun wat, net soos sy, groot drome oor ’n wêreld buite die plakkerskamp droom.
Ten spyte van die armoede-tema is iewers vlieg daar fairy dust ’n goedvoel-boek, verpak in ’n pragtige bandontwerp. Die karakters kruip onder ’n mens se vel in – selfs die twee ou mislike niggies. ’n Siniese leser sal dalk meen die fairy dust word darem op party plekke net té kwistig aangewend, soos in die manier waarop die “toordokter” Elmien se versnipperde balrok blitsig in ’n droomskepping omskep, in Ruan se brief waarin hy alles oor sy verlede vertel én ontleed, en selfs in die voorspelbaarheid van sekere kinkels in die sprokie. Maar dan weer: Hoekom nie? Ons almal weet tog drome kan waar word. En soms is dit lekker om deur iemand anders se oë te sien hoe dit gebeur.
Die boek herinner nogal aan Derick van der Walt se Lien se Lankstaanskoene. En terwyl ’n mens nou dáár is: iewers vlieg daar fairy dust sal waarskynlik ook ’n heel kykbare fliek kan wees.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
Kommentaar
Ek lees graag en baie boeke, Afrikaans en Engels, maar ek kon die boek nie neersit nie! Wanneer ek besef daar gaan nou iets minder goed gebeur (in die verhaal), dan maak ek vir 'n rukkie die boek toe. Mmaar redeneer dan, Marisa sal nie oor te erge goed skryf nie en dan lees ek weer verder!
Hierdie resensie is heerlik geskryf! Dit maak my sommer lus om die boek vir my suster se 16-jarige te koop.
In die boek, Iewers vlieg daar fairy dust was ek soooooo kwaad toe ek hoor Almien het haar geld verloor op Lelanie wat ’n DStv wil koop! Dis so simpel dat Almien niks daaraan doen nie ek sal al lankal vir Lelanie aangeval het. Ek meen R30 000 na R200?
Die boek, Iewers vlieg daar fairydust was vir my die wonderlikste boek wat ek nog ooit gelees het. Hierdie liefdesverhaal leer jou ook dat as jy regtig hard werk is enigiets moontlik. Ek kon vir ure lank lees en ek hou nie eers regtig van lees nie!😊 Dit het my sommer laat warm raak ... 10 uit 10. Dankie vir die lekker boek!