Donderdag 10 Oktober 2019 was iets by Beeld nie lekker nie.
Eers was daar die relletjie oor die lamppaalbiljet waarmee dié koerant voornemende lesers tot 'n koop probeer oorhaal het: “Gays kos NGK al R3m.”
Die reaksie uit die geledere van wie Loftus Marais in Rapport (13 Oktober 2019) as die “Afrikanermof” tipeer, was alte voorspelbaar. Handsakke is van kwispel tot wildswaai verstel en glitter is die wêreld vol gestrooi.
Die argument was egter eenvoudig. 'n Stelling soos dié op die lamppaal prismeer die nuusstorie deur 'n bepaalde lens: die Afrikanermof en – om weer vir Marais te eggo – die “hardekoejawel-lesbiër” word die blaam gegee vir die koste wat die NG Kerk in sy litigasie oor die sogenaamde gaykwessie opgeloop het. Dit als in 'n poging om Beeld se regsgesinde trefpubliek te probeer tevrede stel.
Saterdag verskyn daar toe 'n verduideliking in die koerant. Dit skop só af: “’n Plakkaat van Beeld Donderdag (10 Oktober) het gelui: ‘Gays kos NKG al R3 m.’ Dit was na aanleiding van ’n berig oor die NG Kerk se hofkoste oor die gay-kwessie. Dit is onder die koerant se aandag gebring dat die indruk geskep word dat gays die oorsaak van die koste is en so op ’n negatiewe manier.
“Beeld gee gelyk dat die plakkaat nie ’n korrekte verwysing na die berig en feitestel oor die oorsaak van die hofkoste is nie.
“Die plakkaat word dus formeel onttrek. Hiermee ook ’n opregte verskoning oor aanstoot wat met die plakkaat veroorsaak is.”
Die angel lê in daardie derde sin: “Dit is onder die koerant se aandag gebring dat die indruk geskep word dat gays die oorsaak van die koste is en so op ’n negatiewe manier.”
Wat vir 'n ding gaan hier aan? Die redakteur van Beeld is 'n gesoute taalman. As hy iets skrywe wat hy weet onder die priemende oë van die pienkpatrollie gaan kom, moet 'n mens aanneem dis met sorg en groot moeite uitgebeitel.
Twee keer onmiddellik langs mekaar – soos Aspoestertjie se lelike susters wat die driebeenresies hardloop – verskyn die lydende, eerder as die bedrywende, vorm van die werkwoord.
Eers: “Dit is onder die koerant se aandag gebring …” Wie het dit onder die koerant se aandag gebring? Het die koerant dan nie self 'n klein falanks siele wat daagliks die effek bepieker wat woorde en taal en segswyses op die leespubliek het nie?
Is die plakkaat lukraak voortgebring? Had dit sommer net só 'n bloedlose, onskuldige geboorte? Kaplaks.
Of het koerantmense met ondervinding en kundigheid om 'n tafel gesit en besluit hierdie snoer woordpêrels gaan die nodige doen?
Ons sal nooit weet nie, want by Beeld het die manhaftigheid ontbreek om lesers in die redaksie se vertroue te neem.
Lesers moet met piesangs tevrede wees en aanvaar dat Beeld nooit as te nimmer sou kon voorspel het dat die plakkaat se woorde nekke rooi sou maak nie.
En dan: “[D]at die indruk geskep word dat gays die oorsaak van die koste is en so op ’n negatiewe manier.”
Weer eens sien die student van die grammatika hoe vernuftig die lydende vorm gebruik kan word om die spreker – of hier: die verskoningvraer – van die daad te distansieer.
Nee, dis gewis nie Beeld wat daardie wanbeeld geskep het nie. Dis Aspoestertjie of die Tandemuis of Hompie Kedompie wat so stout was. Wat 'n minderheidsgroep – wat binnekort in Uganda die doodstraf sal kry net omdat hulle is wie hulle is – opnuut met taal gemarginaliseer en geviktimiseer het.
Dan eers is Beeld mans genoeg om die bedrywende modus te gebruik. En hoe grootmoedig is dit nie van Beeld nie: die koerant “gee [die geraasmakers] gelyk …” Met ander woorde: die koerant maak 'n toegewing – iets wat die kleur van traagheid en as-ons-dan-nou-moet dra.
Hierop volg 'n stelling wat in al sy indirektheid – en sonder enige begronding in die voorafgaande sinne – klink asof dit deur toe tande en persgeperste lippe gemaak is: “Hiermee ook ’n opregte verskoning oor aanstoot wat met die plakkaat veroorsaak is.”
Nie “Beeld is opreg jammer” nie. Nee: Hierby aangeheg ons “opregte [masjienvervaardigde] verskoning” (al het ons geen feite uiteengesit oor die ontstaan van die plakkaat om die koerant se opregtheid te toon nie) oor “aanstoot wat … veroorsaak is”.
Wéér die lydende vorm. Onopregtheid se beiaardier.
“Mamma, Boeta hét jammer gesê. Hard en met spoeg. Maar toe sê hy: ‘Fokof nou …’”
*
Ook verlede Donderdag, toe die nou berugte biljet op lamppale gepryk het, is 'n groot grafsteen in die middel van Beeld se meningsblaaie aan 'n rubriek deur Willie Spies gewy. Die titel? “Aitsa is protes én nuwe begin.”
Die stuk lees soos 'n mediaverklaring en handel oor 'n nuwe musiekprysaand wat in die lewe geroep is uit protes teen die Steve Hofmeyr-relletjie wat vanjaar se Ghoema-toekennings gekleur het.
In die eerste paragraaf vertel Spies, wat aan die voet van die stuk as die voorsitter van Pretoria FM beskryf word, wat vir die Aitsa-prysgeleentheid pa staan: “Woensdagaand vind die eerste Aitsa- Afrikaanse musiekprysuitdeling in die Moreletapark-ouditorium in Pretoria plaas. Dit gaan 'n grootse vertoning met 20 van die land se gewildste Afrikaanse kunstenaars wees.”
Spies verwys dan na l’affaire Ghoema, waar benoemings van die lied “Die land” onder druk van die borg teruggetrek is.
Hierna haal Spies uit die lirieke van daardie liedjie aan wat, volgens hom, deur “‘n begaafde jong liedjieskrywer uit Namibië” gepen is:
Waar gaan jy speel met jou maatjies?
Waar gaan jou spore toe waai? [sic]
Waar gaan jy val, gaan jy opstaan en huil?
En waar gaan jy staar na die sonsak [sic] wat myle strek?
Wat los ons oor vir ons kinders?
Wat gaan ons eendag kan wys?
Wat is nog reg of verkeerd, wil ek weet?
Wat maak ons as jare se sweet te vergete gaan? [sic]
Ek los vir jou die son en die see en die land my kind
Belowe jy sal my aan die einde vind
My vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai vir jou
Ek belowe jou: Die land behoort aan jou.
Verontwaardig skryf Spies dan: “Die diskwalifisering van die lied was 'n onreg.” Die teendeel is egter waar: Dat 'n lied met sulke fasiele, rymdwangbeheerste en beeldlose lirieke naby 'n kortlys kom, is 'n onreg aan Afrikaans.
Maar, nee, Spies voer dit verder. Dieselfde liedjieskrywer het ook Demi Lee Moore se lied met die bespotlik-anglisistiese titel (en lirieke) “Mis, eet, slaap, herhaal” geskrywe. Watter poëtiese waarde het 'n liedjie immers wat oor 'n siklus van toilet toe gaan, eet, slaap en van voor af toilet toe gaan handel?
Spies stoom verder voort en vertel Beeld se teen hierdie tyd ademlose lesers: “Volgens die organiseerders van die geleentheid is die kaartjieverkope reeds heelwat meer as vir soortgelyke gesellighede.”
Die gesamentlike sug van verligting het die ganse Gauteng deurgesny.
Maar dat Beeld dié redenasielose reklamebiljet – ter bemarking van 'n verregse oempa-paartie en wat bespotlike lirieke as musiek-en-liriek-meesterwerke voorhou – op die prominentste plek op sy meningsblaaie dra, is gewoon te dik vir 'n riksdaalder.
*
Baie teen wil en dank getroue lesers hoop daar kom nie gou 'n herhaling van verlede Donderdag nie. Ons wil-wil boedel oorgee.
Kommentaar
Beeld is nie 'n koerant vir die regse spektrum nie. Inteendeel...
Feit is dat "Die Land" genommineer was en dat MTN sy borgskap onttrek het. Blykbaar was die lied toe aanvaarbaar en Demi was gehuldig as 'n kunstenaar met 'n blink toekoms.
Is hierdie nie maar net suur druiwe omdat Pretoria FM julle linksgesindes troef nie en kunstanaars, ongeag wie, wat, ens. almal gelyke geleenthede gun?
Wat 'n klomp haarklowery.
Lees iemand nog Beeld ?
Spyker op die kop ..... ons Netwerk24 media het irrelevant geraak. Hulle moet nou nes die Amerikaanse media cater vir die paar linkses en LGBTs wat nog koop en lees ....
" . . . .Beeld se regsgesinde trefpubliek . . ."?? So volop soos 'n eenhoring.
Selfbestuur maak liberale baie suur..
Ek wonder as Steve nie in die sanggroep was wat die uitkoms van die lied sou wees.
Storm in 'n teekoppie.
Liberale by Beeld veroorsaak storm in teekoppie. Siende ek nie Media 24 koop of lees nie, maak dit nie werklik saak nie of daar iets gebeur wat verkeerd is of nie. Wie gee nog om?
Gays behoort op alle vlakke gelyke regte te geniet. Maar ongelukkig, veral onder die swart kulture, HIER IN ONS LAND, is dit by verre nie die geval nie. Die NG-kerk doen baie om die weg te baan vir meer aanvaarding. Baie Afrikaners ook. Skrywers en dies meer.
Wie gee om? Ek sou wanbetaler van tiendes en offergawes gewees het, as ek in NG kerk was.
Oor Jean Meiring se styl as rubriekskrywer en resensent:
Vintage Veuve Clicquot!
Die skrywer kan die woordswaard laat flikker, maar hy kap in die lug rond. Hy's kwaad, suur en sinies. Die liberale tien gebooie lê swaar op sy hart, maar hy moet skynbaar nog leer dat sy aanslag die teendeel bewerk. Egte opponente kan terugkap en aantoon dat hulle nie so kommin en so verregs is soos hy gehoop het nie.
Ek boikot al lank Media 24 koerante en tydskrifte. Nie agv swak skryfstyl in Afrikaans nie, maar agv politieke korrektheid.
Deesdae het redakteurs en omroepers nie meer die gewig in die samelewing, wat hul hulself nog toe-eien nie.