In ie gees van ie volk se stem!

  • 13

Op my Facebook wall word ‘n post gepost deur ‘n bornfree, dié een is maa nou eeste 23 jaa oud. Daai is ie ‘n veskoning om net dom te wies ie. Sy laai ‘n foto op van ie “ou” Suid-Afrikaanse vlag. Djy wiet, die een wat my laat dink aan vele dinge, soes daai song “Trans-Karoo, bring haa huistoe” en apartheid-Suid-Afrika. Sy beskryf toe die foto en sê dat as “djy” nog die Afrikaanse deel van ie volkslied sing, dan is “djy” ‘n “Agent” van ie nuwe Suid-Afrika.

Ek gloe stellig baie mense vestaan wat ‘n “agent” is, in die konteks van apartheid-Suid Afrika. Dié is my undestanding. Agents is iemand (of mense) wie teen die resistance gewerk het, maak nou nie saak in watte kamp daai pesoon(e) was ie. Dié wie pretend het om vi een kant te speel, but dan actually net pretend het soedat die kant vi wie daai pesoon actually speel, kon wen.

But wag gou ‘n bietjie. Stop gou net hie. Djy kan ie iemand ‘n agent noem ommat hulle in hulle moedertaal sing ie! Of hoe? Hoe kry djy it reg om mee as agt miljoen mense in Suid-Afrika agents te noem? Wie gie jou daai reg? Was die volkslied nie saamgesit om die nuwe Suid-Afrika te beskryf of om ôs amal saam te trek ie? Volgens my was die volkslied gecompile om ôs amal daai kans te gie om deel te voel van hierie nasie. Want om trots te wies oo iets maak mos ‘n moviese difference, reg?

‘n Paar rubrieke geliede (4 Julie) het ek hie op LitNet geskryf oo my taal, die Afrikaans van ie Kaap, in “Verskoon my taalgebruik”. Baie het my aangespoor om te skryf en trots te wies op my taal. Dan was daa die paa wat gevoel et dat my taal, of my Afrikaaps, niks anners as ‘n mixture van Afrikaans en Engels is ie. Dit was heel interessant om te sien hoe my taalgebruik, my heenkome, my history, uit mekaar uit geruk was deu ‘n paa mense se persepsies oo wat reg en wat vekeerd is, volgens taalgebruik. Ek was nou well nie in plain sight ‘n traitor of ‘n agent genoem nie, but die bitte smaak van ie woorde het my wel laat wiet waa my plek is, according to Jan Rap en sy maat.

‘n Wiek na “Verskoon my taalgebruik” live gegan het, het ek die Facebook-oorlog geveg. Nou ek is ie die tipe mens wat sê, of brek, dat my best friend black is ie, wan daai matter ie vi ôs twie nie. Ek gloe nie in die ideologies van rasse nie. Dit mag miskien ‘n contradiction wies, wan ek skryf dan reeds om my kallid-wies te reclaim. Soe wat is ‘n mens sonne contradictions. Miskien moet ek sê, ek gloe nie in ras ideologies wat gebou word om ôs, as Suid-Afrikaners, uit mekaa te hou nie. Van natuur sal ôs mos nou die soort kry wat gloe dat rasse, en whatever ‘n “ras” vorm, handhaaf moet word. Reg genoeg, elke een het ‘n opinie van haa of sy eie, but as daai opinie division hoeg hou, dan wat is ie punt? Ôs is mos hie om op te bou, nie af te briek ie, of hoe?

Daa is soe ‘n paar dinge vekeerd met haa logic. En dié is ie die rubriek om haa opinie te ontleed nie, maa eerder om met my eie pyn te deal. Ek was rasend kwaad dat sy voel sy’t die reg om Afrikaans, en dié wat dit gebruik, op soe ‘n manier te attack. Ja, reg genoeg, die veliede van Afrikaans en apartheid was heel dodgy, but ôs is mos dan nou in ‘n postapartheid situasie. But net soes in ie veliede, word mee as agt miljoen mense se bestaan vedruk, because ek imagine toe sy die post opgesit het, het sy tien-teen-een nie gedink aan ie ama-kallid wie se taalgebruik sy beskuldig ie. Na ek haa aangespreek het oo haa “dommigheid”, het sy geapologise, maar in ie selle stem gestaan by haa punt. Hoe kan mens raas met ignorance? Ignorance maak mos sy of haa ore en oё toe. I mean, apartheid-Suid-Afrika se history is vol van ignorance, en oek ie veel het nou gechange ie. But het niemand haa vetel wat die punt was om vyf different tale in een volkslied te sit ie? I mean is it oek ie obvious ie?

Ek vestaan hoekom soe baie gekeer is tien Afrikaans. Ek kan vestaan hoekom die Afrikaanse deel in ie volkslied nog baie mense nostalgia gie, en baie mense wil laat weg haloep van it af. Daa is tye wat ek swak voel oo wat gebeer het. Ek bedoel, die selle way hoe ek nou voel, kan ek imagine is hoe die mense wie gedwing was om Afrikaans boe hulle moedertaal te gebruik, daai tyd gevoel et. Djy kan mos ie jou taal in my keelgat wil afdwing ie, verkrag is verkrag. Enige iets wat met druk gedoen word gaan ie baie produktief wies ie. But, hoe kan djy iets soes dit, die nasionale volkslied van Suid-Afrika post-‘94, uit konteks lies? Ek vestaan ie need om die vekeerd van ie past te wil reg maak, but hoe doen djy dit deur mee as agt miljoen mense in Suid-Afrika te sideline uit die nasionale volkslied uit, en oek uit die geskiedenis uit?

Nou ek was gebore in Suidwes-Afrika (van ‘n Suid-Afrikaanse ma en Suidwester-pa), but my liewe sover was geliewe in Suid-Afrika. Ek was hie in ie late ’80s toe die Casspirs nog ie kinnes rondgedjaag et. Ek was hie, in ’94, toe Mandela op ie Grand Parade was om sy “freedom” speech vi die mense te gie. Ek was hie, in ’95, en het saam met die Ladysmith Black Mambazo-groep en PJ Powers “The world in union” gesing by die Wêreldrugbybieke. Dit was hie wat ek as kind kom vestaan het van ie “whites only” publieke toilette. Dis hie in dié land wat ek my voo ouers kom vind ‘et, wie hulle was, hoe hulle beskryf word, en wat my deel is om hulle uit die veliede wee liewend te maak. But meer soe is dit in dié land wat ek die trots kom vestaan het wat gepaard gan met die sing van ie land se volkslied. Trots wat gepaard gaan met deel wies van ‘n land se vlag en ie volkslied.

Ek het hie kom vestaan hoe een song ‘n hele klomp mense van different backgrounds, van different cultures, van different rasse, bymekaar kan bring. Soes dit hoene vleis oo jou arms laat draf. Wan djy kan somme voel djy’s deel van iets groter. Die volkslied dra gewig, dit praat van ôse land, ôs sing dit ie net met ôs stemme nie, but daa is ‘n hartklop in daai woorde.

Nou ek gan ie maak soes ek alles kon gesing het van ie begin af ie. Ja, Trevor Noah het my lekke laat lag vi daai skaamte van nie al ie volkslied se woorde ken ie, but ek het oek saam gesing, al was die woorde nie reg ie. Ek het gesing, wan ek wou deel voel van ie land. En soe oek mee, was ie saam sing ie net van saam sing ie, maa ek was, en is oek nog steeds vedag, trots. Trots dat daa ‘n deel van my taal portray is in ie land se volkslied.

And maybe, just maybe, het sy bedoel dat as djy net nog steeds die Afrikaanse deel sing, dan … But wie wil nou dit doen, as die hele lekkerkry dan lê in ie volkslied se remix. As ek dit reg het, is Suid-Afrika die enigste land wie soe ‘n unieke volkslied het, wat beskry wie en wat Suid-Afrika is. Imagine net gou hoe lekke kry djy as die anthem begin “Nkosi sikelel’ iAfrika ...” en as hy kom draai daa by die “ewige gebergtes, waa die kranse anwood gie …” en soe lekke uit fade op daai “... in South Africa our land”. Dis mos ‘n lekke warmte wat ‘n mens voel hie by jou linke borskas, daa by jou hart.

Miskien is daa soveel mee wat moet vestaan word wanneer iemand my ‘n agent noem wanne ek in my taal sing. Miskien moet ek ie soe kwaad raak ie, wan dis siekerlik ie haa skuld dat Afrikaans soe ‘n slegte naam oo die jare gekry het ie. Miskien moet ek maa net stil bly en wanne die nasionale volkslied gesing word, dan moet ek maa net saggies sing wanne it kom by “uit die blou ...”. Miskien is daa ‘n stukkie waarheid in haa woorde, because net die feit dat sy ‘n bornfree is, change mos ie haa ouers se veliede nie.

But wat van myne? Wat van die onreg wat gedoen was aan my ouers en voo ouers. Ôs moet soe ver trug stap om ôs veliede uit te gaan grawe, wan alles was weg geniem van ôs af. Miskien begin ek nou klink soes ‘n laaitie wat haa speelgoed uit ie kot uit gooi. But as dit nodig is vi my stem om gehoo te word, dan sal ek dit doen, tot die hele kot ie mee daa is ie.

Soe, in ie gies van ôse volkslied wil ek laastens sê, die enigste “agents” wat deel is van die nuwe Suid-Afrika is daai mense wat probee om vedere divisions te saai. En niee, ek sê nie dat dinge wat nog steeds vekeerd is moet ie reggemaak word ie. Wan dit moet. Maar as djy voel dat om jouself op te lig deur ieman annes se stem af te druk, jou biete maak, dan is djy deel van ie probleem.

Bou op, mense! Bou op! Soe imagine die nasionale volkslied in al haa glory getranslated in jou taal, wat-eve dit is. Laat ôs saam staan en saam sing teen al die “agents” wat ie wil deel wies van ‘n biete Suid-Afrika nie. Hie is my translation.

Jirre, seёn vi Afrika
Mag haa gies hoeg op styg
oo die veliede se stank,
Hoo haa gebede, asseblief
Jirre help vi’ ôs en
Jirre seёn vi ôs amal.

Jirre, seёn vi Afrika
Stier oorloё en anne slegte dinge moer in
Jirre, seёn asseblief ôse nasie,
wan ôs het net die een,
wat se naam is Suid-Afrika

Uit ôse bloue hiemel
en uit ôse diepe see,
oo ôse iewige gebergtes,
waa die voёls anwood gie

roep sy ôs amal om te kom,
om as een saam te staan,
oe lat ôs liewe en striewe vi haa Vryheid,
en ôs amal se Vryheid
wan die’s ôse land,
Suid-Afrika.

Op ie oudedom van 16 was ‘n Goodhope fm dj by ôs skool. Hy het met ‘n mic in ie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waavandaan hulle kom. Ôs almal het op ie netbal bane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra: “So who are you and where you from?” Heelwat op sy nerves. Ek it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”

Bly te kenne!

  • 13

Kommentaar

  • Avatar
    Christo Botha

    Man, wat jy nou hier praat, gee my hoenervleis. Sê jou sê want jy doen dit ongelooflik goed!

  • Ek is trots op ju Olivia j maak die Afrikaaps weer oop en niemand kan dit doen soos j nie mense probeer net die "Afrikaaps " engels gooi maar ek se ju j is die beste al se wie wat hule sal nie beter as j kan wees of raaki so Go Olivia Go ... Whooop Whooop ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top