Ian Wessels (14 April 1960 tot 19 April 2021), in memoriam

  • 3

Ian Van Zyl Wessels is in Caledon gebore, maar het – in sy eie woorde – na net twee maande besef hy en klein dorpies is nie maats nie en getrek. Nog ’n klein dorpie of twee het gevolg voordat die gesin hulle in die Paarl gevestig het.

Na matriek aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl het Ian ’n BA LLB aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Die grade het (volgens sy webwerf) heelwat meer moeite geverg as die matrieksertifikaat, hoofsaaklik “weens ’n oormag versoekings wat besonder oorredend en/of sexy was”.

Ongelukkig vir ’n hele klompie misdadigers word hy toe staatsaanklaer, en aangesien hy met ’n staatsdiensbeurs studeer het, moes hy die beurs terugwerk.

Die besluit waar hy volk en vaderland uiteindelik sou dien as aanklaer is darem nie heeltemal sonder sy insette geneem nie. Toe die manne in die grys pakke wou weet waar hy graag geplaas wil word, het die troep wat destyds in Pretoria diensplig gedoen het, ewe grootmeneer geantwoord dat hy graag wou teruggaan Kaap toe.

Nou ja, so gevra, so gedaan.

Aan die begin van die volgende jaar bevind Ian hom toe in Colesberg – dit was mos, volgens die owerhede, in die Kaap (-provinsie). Mettertyd het hy darem ’n oorplasing nader aan die see gekry, en oor sy tyd as aanklaer in Oos-Londen en omstreke het hy baie staaltjies gehad waaroor hy onder andere in sy boek Loslippig geskryf het.

Na ’n ruk as aanklaer in Stellenbosch, skryf hy, was hy taamlik moeg vir die kriminele – “die misdadigers, nie die prokureurs nie!” Hy bedank terstond en word regsadviseur by ’n versekeringsmaatskappy, waar hy later ook ’n halfhartige poging aangewend het om polisse te verkoop. Hy het altyd na hierdie tyd verwys as sy maerste maande ooit, want die man wat so ’n gladde mond op radio gehad het, was nie ’n wafferse verkoopsman nie.

Op ’n dag vra ’n kennis hom om haar te vergesel na Radio Helderberg in Somerset-Wes vir ’n onderhoud. Ian tou agterna die ateljee in, en slaan summier ’n werk as omroeper los met ’n gevatte opmerking wat hy oor ’n liedjie gemaak het tydens die uitsending.

Die res is radiogeskiedenis.

Van Radio Helderberg, waar hy kort voor lank deel van die bestuurspan was, is Ian na OFM, waar hy vir vyf jaar as program- en produksiebestuurder en later kreatiewe hoof gewerk het. In 2009 word hy deel van die RSG-span as aanbieder van Loslip, die inbelprogram wat hy tot in 2016 aangebied het.

"Hy was baie lief vir goeie rooiwyn en lekker eet." (Foto: Verskaf)

Ian se diep stem, spitsvondigheid en hartlike lag het gou van hom ’n gunsteling onder RSG-luisteraars gemaak, maar soos enige omroeper jou kan vertel, bly die haatpos nooit agterweë nie. Wat Ian egter van baie ander omroepers onderskei het, was die spitsvondigheid waarmee hy nare SMS’e hanteer het. Ek het hom selde sy humeur vir ’n luisteraar hoor verloor – hy sou na die tyd gal afgaan teenoor wie ook al naby was, maar op die lug was hy koel en kalm. So het ene Martie haar daarin verlustig om vir Ian nare SMS’e te stuur. Om so iemand te ignoreer is nie altyd moontlik nie, want tydens ’n regstreekse uitsending moet die omroeper nie net die SMS-skerm dophou nie, maar ook knoppies druk, praat en advertensies inspeel. So lees Ian toe wel Martie se SMS hardop (of dalk het hy dit met opset gedoen) waarin sy die hoop uitspreek dat die vliegtuig val wanneer hy die volgende dag Kaap toe vlieg vir ’n vertoning.

Ian het – without missing a beat – vir Martie bedank vir haar wense, maar haar daarop gewys dat sy medepassasiers waarskynlik nie die vallery sou geniet nie.

Ek onthou nou sommer ’n ander dag waarop hy so in volle vaart tydens ’n uitsending – en weer sonder om ’n oog te knip – die uwe tereggewys het omdat ek my nuuskierigheid nie kon bedwing nie en deur sy boodskapskerm gescroll het in die green room langs die ateljee. Ek was salig onbewus daarvan dat Ian se skerm en daardie skerm gesinkroniseer was, en so het hy natuurlik sy plek tussen al die SMS’e verloor.

Die uitsending het min of meer so verloop: “So en so het laat weet wat gaan nou met my boodskappe aan Illie LOS daardie skerm! Dis nou Ilse Salzwedel wat my boodskappe hier deurmekaar maak ...” en toe lees hy ongestoord voort. (Ek was stiller geskrik as ’n hoërskoolkind wat uitgevang word met ’n sigaret in die hand, maar Ian was min gepla en het later met groot smaak vir sy vrou vertel watse nonsens ek aangejaag het.)

Hy het sy kreatiwiteit uitgeleef met die skryf van radio-advertensies, en ook ’n kwalifikasie as Certified Professional Commercial Copywriter van die Radio Advertising Bureau in Los Angeles verwerf. Tot kort voor sy dood het hy nog advertensies geskryf vir radiostasies landswyd en in Namibië. In sy rol as stemkunstenaar was sy stem ook te hoor in radio-advertensies en korporatiewe video’s.

Hy het graag vertel dat die Hollywood-treffer The bucket list (2007) ’n keerpunt in sy lewe was. Hy wou nie eers wanneer die einde in sig was, skielik nog ’n klomp goed doen nie. Van toe af het Ian daadwerklik probeer om sy loopbaan- en ander drome waar te maak en die lewe werklik voluit te leef.

Een van sy eerste groot drome wat bewaarheid is, was ’n eie boek. In 2010 het Loslippig, sy bundel humoristiese persoonlike vertellings, verskyn. Later was hy ook die samesteller van twee RSG-bundels met humoristiese vertellings. Genade! Edelagbare: Humor en die hof het in 2016 verskyn, en Lag sonder grense in 2018.

Om ’n eenmankomedie op die planke te bring was nog ’n droom, en daarvoor het hy Margit Meyer-Rödenbeck van Dowwe Dolla-faam se professionele raad gevra. Die eindresultaat was sy vertoning Ek’s anoniem, wat hy landswyd en by verskeie kunstefeeste opgevoer het.

Na sewe jaar waarin hy (en luisteraars) vyf dae ’n week loslippig was op RSG, het Ian Loslip vaarwel toegeroep, maar steeds as kontinuïteitsaanbieder gewerk. Hy was ook verantwoordelik vir die weeklikse spesialisprogram Regsake waarin hy en die prokureur Igna Klynsmith luisteraars se regsvraagstukke probeer oplos het.

Dit was tyd vir iets nuuts, en daardie iets was Ian se Lagterapie-vertonings, wat hy deels as motiveringspraatjie en deels as komedie benader het. In ’n onderhoud met AJ Opperman (10 November 2016, Netwerk24) het Ian vertel dat hy nie meer seker was of mens Afrikaners nog plesierig kon noem nie. Uit die ongeveer 150 000 oproepe, e-posse en SMS’e wat hy jaarliks by Loslip gekry het, het dit al hoe duideliker geword dat Suid-Afrikaners besig was om baie neerslagtig te raak. “Net party van die luisteraars was hoopvol. Dit is hoekom ek besluit het om met motiveringspraatjies te begin.”

Sy motiveringspraatjies is nie net uit sy duim gesuig nie – Ian was ’n gekwalifiseerde lewensafrigter met ’n intense belangstelling in die mensdom. Die Lagterapie-vertonings het hom na alle uithoeke van Suid-Afrika geneem, en hy het ook gereeld by die Innibos-kunstefees en die KKNK opgetree.

Hy is laat in 2019 met pankreaskanker gediagnoseer, maar het verkies om die nuus stil te hou. Hy het voortgegaan met sy vertonings en ook met sy werk by RSG. Baie van sy naaste vriende het nie geweet van die skokdiagnose voordat hy ’n merkbare klomp gewig verloor het nie, en selfs toe was hý die een wat óns dikwels moed ingepraat het.

In Maart 2020, enkele dae voor die inperking begin het, het ek met hom ’n gesprek opgeneem vir my rooi rose-podsending waarin hy die nuus bekend gemaak het dat hy pankreaskanker het. En steeds was hy positief en vol grappies en gesonde selfspot – ons het baie gelag tydens die opname (gaan luister hier). Hy het meer as 50 kg verloor teen daardie tyd, en het byvoorbeeld droogweg opgemerk dat hy nou beslis “die ene ore” is.

Dwarsdeur sy behandeling het Ian geglo dat hy statistiek sou klop, en dat die mediese wetenskap en sy positiewe ingesteldheid sou sorg vir nog ’n hele klompie goeie jare. Merkwaardig genoeg het sy liggaam baie positief op chemoterapie reageer – selfs sy dokters was verras.

Al was hy hoe swak, was Ian tot omtrent drie weke voor sy dood steeds op sy pos agter die mikrofoon. (’n Week voor dit het ek hom die heel eerste keer hoor kla dat hy siek voel.) Wanneer kollegas gevra het hoekom hy hoegenaamd nog werk, het Ian altyd geantwoord dat luisteraars en sy werk hom inspireer. Vier dae voor sy dood het hy nog ’n laaste klompie Regsake-programme geredigeer en verpak – tot op die einde ’n absoluut toegewyde, professionele radioman en spanspeler.

Waarvoor sal mense Ian onthou? Ek sal hom onthou vir sy warm hart, gasvryheid, vrygewigheid en skerp brein, maar – soos die meeste mense – beslis ook vir sy sin vir humor. Gaan lees maar op sosiale media: Luisteraars verwys na sy mooi stem en sy sin vir humor.

Ons kollega Jody Hendricks slaan die spyker op die kop as hy vertel hoe dikwels Ian so hard gelag het vir die grappie wat hy besig was om te vertel dat die toehoorders vir hóm gelag het. Maar op die verhoog was dinge anders. Dan was humor ’n ernstige saak, met die gehoor se genot sy enigste mikpunt. Hy het hom daarin verkneukel as mense oral die lagtrane afvee.

Ons het menige aand om ’n etenstafel self die lagtrane afgevee oor sy stories. Hy kon ook heerlik vir homself lag. Met die skryf van hierdie huldeblyk het ek sommer weer hardop gelag oor twee van sy bekendste glipsies. Maar laat Ian self vertel. Ek haal graag uit Loslippig aan:

So doen ek eenkeer ’n Valentynskompetisie waarin die Huis van JC le Roux van hulle vonkelwyn weggee – ideaal vir ’n romantiese geleentheid. Die tongduiwel is blykbaar nie baie romanties nie, want net toe ek die klimaks van die kompetisie bereik en die wenner van die kompetisie aankondig, laat hy my tong vir ’n breukdeel van ’n sekonde op die “n” vashaak – net lank genoeg dat die betrokke letter heeltemal verdwyn terwyl die res van die woord perfek uitkom. Dit klink toe of die wyn op is. Niemand wil niks wen nie en dit kos my toe ’n regstelling-uitsaai dat daar inderdaad nog ruim voorraad beskikbaar is.

Later het ek agtergekom dat die glips niks met die tongduiwel se aptyt vir romanse te make gehad het nie. Hy het dit goedgedink om my met dieselfde kortsluiting te treiter toe ek die naam van ’n program moes noem. RSG Bevonk is ’n oulike program, maar darem nie in daardie kategorie van besondersheid nie!

Ek was self in die gehoor toe Ian die volgende storie vertel het, en die trane het gestroom soos die gehoor lag. Die storie se back story is dat Ian hom alte slim wou hou en sommer ’n paar idiome en spreekwoorde wou afstof om te sorg vir meer vermaaklike uitsendings.

Dit raak ’n opwindende speletjie en ek gee myself sommer ’n denkbeeldige high five!

Maar die tongduiwel hou egter nie van oormatige selfvertroue nie en gryp in. “En dan het daar ’n oortjie in my voël gefluit ...” sit ek my programvoorskou voort. Ek kan nie glo ek het dit gesê nie en gee vet om soveel moontlik afstand tussen my en die ongelukkige verspreking te kry. Dalk het niemand gehoor nie?

Pas klaar met die program slaak ek ’n sug van verligting, toe die telefoon lui. Dis ’n luisteraar wat sedig vra: “Wat is ’n oortjie?”

Dit, skryf Ian, het hom herinner dat radio nie sy maat is nie.

* Ian word oorleef deur sy vrou Liesel, sy ouers en ’n broer.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top