I may destroy you: uitbeelding van verkragting onder die soeklig

  • 0

Ek het laas met Dallas elke week regop gesit en wag vir ’n nuwe episode van ’n TV-reeks om uit te kom. Tussen Larry Hagman en Patrick Duffy was daar elke week genoeg opwinding om my deur te trek na die volgende week.

Toegegee, televisie was nuut en ek was meer opgewonde oor die rooi telefoon as die onderduimshede in die oliebedryf.

En toe kom Michaela Coel se I may destroy you.

.........

Spoiler alert-waarskuwing: die einde van die reeks word weggegee.

..........

 

Dis grootliks gebaseer op Coel se eie ervaring. Sy skryf, sy is die direkteur, en sy is die ster van die TV-reeks. Coel speel Arabella, ’n jong opkomende swart skrywer in Londen. Arabella is briljant, maar meer as net ’n bietjie flaky. Sy dra ’n pienk pruik, sy’s flambojant, dramaties, ’n bok vir enige sports en glad nie skaam om dwelms te gebruik nie. In Italië, waar sy (sover haar agente weet) aan haar opkomende boek werk, raak sy inderwaarheid betrokke in ’n verhouding met ’n dwelmhandelaar.

Coel se skryfwerk sing; haar karakters is so lewensgetrou geskilder dat die kyker vergeet dis akteurs wat rolle speel. Arabella is, ondanks al haar ligsinnigheid, ’n karakter wat diep in die hart inkruip. Sy is weerloos, onseker, bereid om met haar demone te stoei, en sy is ’n goeie vriendin. Wanneer sy dus na ’n aand uit, waarvan sy niks onthou nie, agterkom dat sy verkrag was, lééf die kyker saam met haar deur die trauma, die probeer onthou, die besluit oor wie om te vertel.

Dis donker materiaal, maar Coel skryf daaroor met ’n skroeiende eerlikheid en insig, waarskynlik omdat dit regtig met haar gebeur het. En toe sy besluit om daaroor te skryf en met haar vriende praat, kom sy agter hoeveel verhale en permutasies van seksuele aanvalle daar is. Dis die sentrale tema van I may destroy you. Arabella word ge-roofie en verkrag. Later in die reeks het sy konsensuele seks met ’n man wat halfpad deur, sonder haar wete, sy kondoom verwyder. Haar gay vriend Kwame het seks met ’n man wat hy deur ’n toepassing ontmoet. Wat begin as konsensuele seks, word verkragting wanneer die ander man homself op Kwame afdwing. Haar vriendin Terry inisieer ’n threesome met twee mans wat sy dink vreemdelinge vir mekaar is, net om later uit te vind hulle ken mekaar en het haar met ’n geoefende roetine geflous. In sy trauma besluit Kwame dat hy nou seks met ’n vrou wil probeer. Nadat hy met Nilufer seks het, vind sy uit dat hy eintlik gay is en sy net deel van ’n eksperiment is.

Deur die reeks van 12 episodes ondersoek en toets Coel die grense van toestemming binne seksuele ontmoetings met ’n sensitiwiteit wat ek nog nie gesien het nie. Dieselfde sorgsaamheid het agter die skerms geskied. ’n Intimiteitsinstrukteur is aangestel om te verseker dat die akteurs tydens die naaktonele (en daar is baie) op respekvolle wyse behandel was. Ek verkies om dit as naaktonele eerder as sekstonele te beskryf, want die oorgrote meerderheid tonele is van verkragtings.

Showmax het elke week nuwe episodes vrygestel. Eerder as om te wag tot die hele reeks vrygestel is en dit dan in een sessie te binge, het ek weekliks die nuwe episode gekyk.

Toe kom die laaste episode.

Van toe af is ek in ’n konstante staat van ontsteltenis. Trump se Idi Amin-taktieke, Zuma se Zondo-drama, die EFF se Brackenfell-fiasko, als het weggeval.

In die voorlaaste episode herwin Arabella haar geheue. Sy onthou wie haar verkrag het. Die laaste episode het Coel geskryf as ’n tipe droomreeks waarin Arabella op verskillende maniere haar verkragter konfronteer.

En dis waar ’n uitstekende reeks ontspoor.

In een weergawe plaas Arabella haarself in ’n situasie waar sy amper weer verkrag word, maar met behulp van haar vriendinne gebruik hulle die dwelms om hom te bedwelm. Sy ontbloot sy penis, want sy wil sien hoe hy lyk. Dan rand sy hom so erg aan dat dit onseker is of hy leef of sterf, en gaan versteek hom onder haar bed.

In elkeen van die ander weergawes het sy permutasies van seks met haar verkragter.

Die gedagte dat jy genesing van jou trauma kry deur seks met jou verkragter, is ’n ongelooflik gevaarlike, onsensitiewe, toondoof boodskap wat al die insig wat die vorige episodes uitbeeld, vernietig.

Wat het Coel probeer doen? Die mite van die magtige penis vernietig? Die vrou as seksuele agent met keuses van haar eie bevestig? Probeer uitbeeld dat die vrou haar mag herwin deur die toneel van die misdaad, haar eie liggaam, op haar eie voorwaardes te besoek?

Ek veronderstel sy het bedoel om dit in die lug te laat hang. Wat ek wegneem, is dat wat veronderstel was om ’n liefdesdaad te wees, nou die setel van ’n magstryd tussen die geslagte geword het.

Dalk is dit juis wat Coel wou sê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top