Husse

  • 0

“Husse” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Husse

Jy is weer vier, amper vyf. Vyf-en-sestig jaar gelede. Nee, meer.

Dis wat herinneringe doen; flits jou onverwags terug na ’n grootliks vergete verlede. ’n Klank wat na jare weer eggo, ’n reuk wat plotseling nostalgies kleef, ’n tafereel uit die mis van onthou. Jy lê in jou bed, kortasem-wakker. Eers dan hoor jy die telefoon lui: ’n stormvol rivier wat die gang af klots, beurend vir ’n oop deur. Die skril gesuis spoel oor jou, slaan jou teen die slape, sleep jou uit die slaap uit. Brander tot in jou ouers se kamer.

Jou pa pruttel; jy hoor jou ma iets vra. Ontsteld. Jou pa staan op, beur teen die stroom in, tel die gehoorstuk op. “Ja?” Bruusk. Dan bly hy stil, luister. “Ek kom. Springs s’n?” Hy stap droogvoets terug oor die blokkiesvloer, kort treetjies. Haastig. “Dis Sus.” Hy praat met jou ma wanneer hy die kamer in swiep. Jy hoor nie die woorde verder nie, net ’n geheimsinnige gebrom.

’n Kasdeur gaan oop, jou pa steun terwyl hy aantrek. Gang-af, voordeur oop en toe. Jy hoor die motorhuisdeur raas in die stilte van die nanag, die kar wat sukkelend vat, terugstoot, luier terwyl die garagedeur toegeslaan word. Eers wanneer die motorklank uit jou oorholte verdwyn, staan jy op, sluip na jou ma toe. Sy ruik na slaap, haar hare aan die een kant platgelê. Haar slaapklere skeef getrek, gekreukel. Bekend. Jy klim in, lê met jou arm oor haar. “Het hy haar weer geslaan?” Jy hoor haar hart skielik vinniger klop, dalk ook die bloed wat deur haar are druis.

“Hoe weet jy?” Haar asem is warm, bedompig, haar stem skerper as gewoonlik.

“Ek hoor mos. Dis Vrydag, dis mos altyd op Vrydag.”

“Jirre, my kind.” Jou ma vloek nooit. Nooit word die Here se naam ydellik gebruik nie. Jy ken die ydellike name van die Here: jirre, jissis, got. Jy hoor dit by tannie Sus en oom Mannie se kinders. Jy kry slae as jý dit gebruik. Tannie Sus kry ook slae, party Vrydae. As die slae te erg word, bel sy jou pa. Dan ry hy om te gaan praat met oom Mannie. Meesal slaap oom Mannie al wanneer jou pa op die plot kom. Jou pa sê ’n dronkmanssnork laat hoor en sien vergaan. Hy sê dit nie vir jou nie, maar vir jou ma. Hulle praat nooit voor jou oor tannie Sus se slae nie, want husse het lang ore. Jy het nog nooit ’n hus gesien nie, al staan hy blykbaar naby jou, want hulle kyk vir jou wanneer hulle dit sê.

“Jy moet Mamma belowe jy sal dit nooit doen nie, nooit nie.”

“Wat, Mamma?”

“Aan ’n vrou slaan nie.” Jou ma se stem klink soos glas wat breek.

“Slaan Pappa jou ooit?”

“Jou pa is ’n goeie man. Hy is in beheer van sy emosies. Nee, Pappa het nog nooit aan my geslaan nie. Kom, ek gaan maak vir ons tee.” Sy trek haar japon aan, trek die belt styf om haar lyf vas.

Die kombuis is koel, al is dit reeds lente. Jou ma maak rooibostee met stokkies, laat die teepot lank op die stoof prut. Julle sit woordloos vir mekaar en kyk. Jy snuif die bekende geur van die kokende tee wat julle omvou soos ’n warm kombers. Jou ma gooi ekstra heuning in julle bekers. Dis amper oggend as jou pa se kar voor die motorhuis stop. Dis nie net hy nie. Jy hoor al vier deure oopgaan en toeklap. Dit klink soos soldate wat oor die klippaadjie huis toe stap, maar hulle voete sleep, soos na ’n uitgerekte oorlog. Hy sluit die voordeur oop, laat tannie Sus en Lucy en Veronica en Poppie voor hom instap. Hulle koers sitkamer toe. Jou ma sug, staan op. “Bly hier,” sê sy.

Jy neem nog ’n slukkie van jou koue tee, besluit om eetkamer toe te stap. Jy maak die skuifdeur tussen die eet- en sitkamer effens oop, niemand hoor jou nie. Jy staan met jou kaalvoete op die pienk eetkamermat, net jou tone raak aan die sitkamer se blokkiesvloer. Tannie Sus en haar drie kinders is vuil, asof hulle in modder gespeel het. Hulle ruik na die plot: grond, hoendermis, die suur-vrank reuk van die varke, modderwater, ou vuur in die koolstoof, sweet. Iets anders ook, maar jy weet nie wat nie. Tannie Sus se een oog is geswel, haar neus lyk skeef en daar is ’n vlek op haar bolip, ’n kors harde modder. Haar rok is geskeur, wys haar een bors halfpad. Jy wonder waar Antoon is, die enigste seun, die oudste kind, die een in standerd agt.

Jou pa sien jou, kyk met ’n streng trek om sy mond na jou, sy lippe dun. “Seuna, gaan kook vir ons die ketel, maak dit vol sodat ons almal iets kan drink.” Sy oë is rooi, soos die ander s’n, maar die uitdrukking daarin is anders. Tannie Sus en jou niggies se oë lyk verwilderd soos mense wat vir ’n spook geskrik het. Jou pa s’n lyk ... Jy weet nie, want jy het nog nooit sy oë só gesien nie. Jy luister gehoorsaam na sy opdrag, trek die skuifdeur toe, gaan sit die ketel aan, maak die agterdeur oop en gaan sit by jou hond. Vlekkie is bly om jou te sien. Hy gee klein blaffies en lek jou in die gesig. Jou ma is nie hier nie en sy kan nie sê jy moet oppas want hondespoeg gee omlope nie. Jy wonder of die husse in die eetkamer agtergebly het.

Jy kan nie onthou wanneer Veronica jou vertel nie. Sy hurk by jou onder die groot verstrengelde vyeboom waar jy en Vlekkie speel. Jou moet belowe dat jy dit geheim sal hou: Familiedinge bly in families. Tannie Sus en die drie meisies trek by julle in. Tannie Sus in die spaarkamer, jou drie niggies in jou kamer. Vir jou word daar elke aand ’n bed op die pienk mat in die eetkamer gemaak. Vir lank. As mens klein is, is weke en maande dieselfde lank. Jy kan nie meer jou pa en ma se kamerbrom hoor nie, want die eetkamer is te ver. Huise waar kinders bly is groot soos kastele.

Terugflitse: jou ma se stem, met ’n duidelike dringendheid op die agterstoep. “Jy moet plan maak, kyk die impak op hom, dis elke aand se ding die afgelope paar weke. En ek moet die bepiede laken was, die matras daagliks in die son sit. Ons sal ’n plastiekomhulsel moet koop, voordat die spons begin vrot.”

Pleitend: “Ek weet familie is belangrik, maar dit kan nie so aangaan nie. Ek voel soos ’n gas in my eie huis. ’n Onwelkome een wat heeltyd op haar tande moet byt en op haar tone moet loop.”

Sissend: “As ek met jou familie getroud wou wees, sou ek op die plot in die Welgedacht-gopse gaan bly het. Tussen hoenders en varke.”

Na sulke eensydige gesprekke ry jou pa sonder om te groet werk toe of gaan werk in die tuin. Altyd dieselfde tuinwerk. Hy kry die graaf, spit die beddingrante af in ewe groot mootjies. Dit laat hom sweet. Die beddings word al hoe groter, die gras duim vir duim minder.

“Pappa?”

Hy hou op om die graaf driftig in die grond in te druk, staan op, kyk na jou.

“Gaan Antoon tronk toe?”

Jou pa skrik. “Hoekom vra jy dit?”

“Veronica het my vertel. Van daai aand. Oom Mannie was weer kwaad en dronk en het hulle tot in die groentetuin gejaag, toe slaan hy tannie Sus en toe gryp Antoon die graaf en toe ...”

“Dis genoeg. Ons wou die detail van jou weghou.” Hy stamp die graaf in die beddinggrond in, kom staan op sy knieë by jou. “Ons dink nie hy sal tronk toe gaan nie. Die magistraat het hom Groendakkies toe verwys vir ’n verslag.”

“Wat is Groendakkies?”

“’n Plek in Pretoria waar mense ...” Jou pa se woorde raak op.

“Mal mense? Lucy sê ...”

“Jy moenie jou ore uitleen nie. Daar ...” jou pa kyk rond. Oor jou kop, na die bure se erf, huis toe, straataf. Orals behalwe na jou. “Jou oupa, my pa, is lankal dood. Hy was, nes sy pa, kort van draad, ongedurig, altyd aan’t veg.” Jy weet nie wat jou pa bedoel nie, maar jy bêre die woorde sorgvuldig in jou kop. Jy sal in die jare wat kom nog sulke woorde liasseer: woedend, briesend, alles word swart voor hom, die duiwel neem beheer, hy sien rooi, angswekkend, boos. “Dis in ons bloed, ’n vlek op die derde en vierde geslag.” Jou pa se stem klink verlore, of hy ver weg is. “Ons, ek en jy, moet ons emosies beheer, want as ons toelaat dat dit uitbars ... as ons toelaat dat ons kwaad word, word ons vulkane. Ons kan moord pleeg sonder dat ons weet. Dis die vloek van ons DNS.”

“Is DNS amper soos husse?”

Jou pa kyk vraend na jou. “Husse?”

“Partykeer praat jy en Mamma van husse met lang ore en dan kyk julle vir my en ek het nog nooit die husse gesien nie en ek wonder is dit soos ’n skaduwee of is dit dalk die DN-ding waarvan Pappa nou praat, dalk is dit ’n soort vulkaan; is dít husse, Pappa?” Jy is uitasem na die lang sin sonder pouses. Jou pa lag. Hy lag amper nooit vandat tannie Sus en jou niggies by julle bly nie. Husse kan ook goed wees, dink jy, want dit laat jou pa lag.

Jou pa is byna dadelik weer ernstig. “Seuna, wat jy vir die res van jou lewe moet onthou, is dat ons husse, myne en joune, anders is as ander mense s’n. Óns en ons kinders moet altyd in beheer wees van ons husse; ons gedagtes, ons doene en ons late.” Jou pa druk jou styf teen sy bors vas, hou jou langer vas as ooit tevore in jou hele lewe en vryf saggies oor jou rug en hare. Jy vergeet die gevoel van veiligheid, die geborgenheid in sy omhelsing nooit nie. Ook nie die trane wat op jou kop drup nie.

Die tyd binne onthou is relatief. Vyftig jaar verskraal gedagteloos na vyftig dae. Vyftig minute word ’n ewigheid. Of ’n oogwink, verby in sekondes.

Jy raak aan die toe kamerdeur se handvatsel, haar beker vol vars koffie in jou hand. Haar stem het die geforseerde bonhomie van mense wat daarvan hou om op ’n selfoon te praat, om gehóór te word. Dis hoekom jy opgestaan het, koffie gaan maak het. “En die nuutste, hy pis bykans elke aand sy slaapbroek kol-kol nat, nou al weke.” Stilte. “Nee, dis beslis pis, hy is al lank impotent, selfs voor sy aftrede. Ek sal seker binnekort ’n plastic matras-cover moet gaan koop. Of die armsalige bliksem gastekamer toe verban.” Haar nuwe smalende laggie.

Jy staan vasgenael. Verlang na julle dogter Susan en haar Sondag-Skype-gesin in die koue noorde van Kanada. Hulle rekenaargesigte omvorm stadig tot Lucy en Veronica en Poppie. Veronica se stem eggo in jou ore terwyl sy jou onder die knoetserige vyeboom aanpraat oor familiedinge.

Die woordrivier in die kamer spoel en spat meedoënloos teen die deur. “God weet, veertig jaar gelede het ek gedink hy is ’n ridder op ’n wit perd. Só ordentlik, goeie maniere, ambisieus. Weet jy hoe irriterend is dit as jy dae beplan aan ’n argument en hy stap stil weg met sy ewig verdoemende hangskouers ... Toe hy nog gewerk het, kon ek dit hanteer, want hy was skaars hier.”

Jy wonder oor Gideon, jou seun, en sy mense geberg in die malsheid van die Suid-Eiland aan die anderkant van die wêreld, in hulle knus huis met die groen dak. Jy wonder oor hom en Joyce en jou kleinseun wat jy voor Covid laas in die vlees gesien het. Jy wonder of Gideon en Dean die husse-gesprek het, soos julle destyds, ’n pa wat sy seun vir die lewe voorberei. Haar stem spoel jou mymering weg. “Lovers, ja, hulle het gehelp. Hy het nooit eers uitgevind nie ... nee, blerrie clueless, nog altyd. En selfs al sou hy weet, sy default-opsie bly om sy skitterskoon graaf te gaan haal om die gras uit die beddings te hou. Dis ’n godswonder daar is nog grasperk op die erf oor.”

Jy draai om, loop die trappe af, sit haar beker koffie op die kombuistafel neer, stap buitekamer toe. Jou skouers reguit en fier, jou tred só lig soos toe jy nog gereeld na podiums gestap het om beleggers in verwondering mee te voer met jou insigte en idees. Jou hand vou om jou skitterskoon graaf se steel. Die graaf wat jy getrou na gebruik met seep en water was. Die snykant wat gereeld skerp gemaak word om eweredige stukkies gras te kan afsteek. ’n Liefdestaak. Jy koester hom soos ’n kleinood in jou arms, ’n saligmakende septer. Jy is nie kwaad nie. Sien nie rooi of swart of blou of enige ander kleur nie. Daar is geen lawa in jou are nie, geen geklop teen jou slape nie, jy is nie ongedurig of briesend of boos nie, die duiwel is nie êrens in die omtrek nie. Sewentig maal sewentig keer, dis hoeveel keer jy vergewe het. Ontelbare kere, onvertelbare kere. Jy het só ver gekom, jou pa se opdrag só goed volvoer. Vergifnis en vrede was jou daaglikse mantra, bykans ’n lewe lank.

Sy sit voor die spieëlkas as jy die kamer instap, haar rug na jou toe. Die selfoon met die outydse luitoon lê dood op die bedkassie.

Pa het gelieg. Destyds. Mens weet.

Jy kon nie eweredige mootjies uit haar spit nie, al is jou graaf hoe skerp. Jy tel haar kop op jou skoot, jou trane druppend soos jou pa s’n toentertyd. Jy prewel ’n singende inkantasie, oor en oor en oor: Husse met lang ore is husse wat als onthou.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top