Hupstoot of remskoen: kykNET se Storiefilms

  • 3
Die Afrikaanse TV-kanaal het 90 “storiefilms”, ’n narratiewe vorm tussen ’n kortprent en ’n vollengte-fliek, laat vervaardig. Kwantiteit, maar wat is die kwaliteit? Schalk Schoombie het ’n steekproef gedoen.

Daar is ’n nuwe Afrikaanse woord gemunt vir die plaaslike vermaaklikheidswese, danksy kykNET se inisiatief om die rolprentkuns ’n hupstoot te gee: storiefilms. Enersyds as ’n reddingsboei vir die bedryf in grendeltyd, andersyds ’n dryfveer om inhoud te genereer. Storiefilms is Afrikaanse kortformaatrolprente wat ’n storie in onder ’n uur – 50 minute – vertel.

“Die kykNET Storiefilms-projek is in die lewe geroep om nuwe en oorspronklike inhoud vir kykers te skep,” sê Nicola van Niekerk, senior bestuurder: Teksgedrewe produksies en aktualiteit.

Die kanaal definieer ’n storiefilm as “’n laekoste-film wat spesifiek vir televisie vervaardig word. Hierdie projek is geskoei op die Lokshin Bioscope films wat deur ons susterkanaal Mzansi Magic vervaardig word.

“Dit was ook belangrik vir ons ter wille van werkskepping. Die plaaslike vermaaklikheidsbedryf het, nes alle ander bedrywe, ’n uitdagende jaar gehad te midde van die pandemie en daarom het dit sin gemaak dat ons deur hierdie projek soveel moontlike kunstenaars, skrywers, akteurs en vervaardigers wou betrek om nuwe stories vir kykers te skep.

“Die projek is tydens die eerste pandemiejaar in die lewe geroep en die eerste films het in Desember 2020 begin uitsaai. Daar is sedertdien reeds 90 50-minuut-storiefilms geskep,” bevestig Van Niekerk.

“Produksiehuise ontvang ’n kontrak om tussen vyf en tien van die 50-minuut-films vir kykNET te vervaardig. Produksiehuise bestaan uit nuwe vervaardigers wat deur hierdie projek tot stand gekom het, soos The Third Law, vervaardigers wat vir die eerste keer ervaring in fiksie en drama opbou, asook gesoute teksgedrewe vervaardigers soos Westel (Molly en Wors, Poena is koning) en Overberg Produksies (Getroud met rugby, Hartklop). Buiten werkskepping is dit ’n geleentheid vir kykNET om met meer skryftalent te werk en nuwe talent te vind.”

Twee komediereekse is ook reeds vanuit die storiefilms ontwikkel: Poena, wat tot onlangs op Maandae op kykNET te sien was en weer later die jaar uitgesaai gaan word, asook ’n tweede reeks wat vroeg in 2023 op kykNET te sien sal wees.

Waldimar Pelser, M-Net se direkteur: kykNET-kanale, sê in 2023 sal die storiefilms aangevul word deur 90-minuut-films wat met effens groter produksiebegrotings werk. “Ons hoop en glo dat dit in die smaak van ons diverse kykersgemeenskap sal val.”

Maar wat is die gehalte van storiefilms? Ek het diep kant ingeduik en verskeie van die flieks deurgesit, ’n diverse steekproef waaruit sekere kenmerke van die nuwe medium opvallend raak.

Beperkte begrotings

In die eerste plaas blyk die impak van beperkte begrotings uit ’n tendens om die storie in en om ’n enkele lokaal, dalk twee, te laat afspeel (die ouetehuis in Altyd pa en ’n Snuf in die neus, die staatsgebou in Party kry ’n naweek, die ou huis in Fladder). Rolverdelings is klein, en die artistieke inkleding gebrekkig. Dit laat die indruk dat die produksiespan genoop was om kortpaaie te kies – selde ideaal vir die eindproduk. Dit maak in ’n mate sin dat die produksiehuise ’n saamgestelde begroting vir tot 10 produksies ontvang, want dit stel hulle in staat om die fondse toe te wys volgens behoefte. Maar iewers word daar tog afgeskeep.

kykNET wou nie verklap wat die begrotings behels nie, maar ontken nie dat dit “lae begrotings” is nie. Van ’n betrokkene verneem ek dat dit sowat R50 000 per projek is, dus R1 000 per minuut. (Aanvanklik wou kykNET ook nie op dié bedrag kommentaar lewer nie, maar met die verskyning van dié artikel het die kanaal uiteindelik bevestig die begrotings per fliek is R500 000, dus R10 000 per minuut – dit kwalifiseer steeds as ’n lae begroting.) Hieruit moet die draaiboekskrywer, regisseur, akteurs en tegnici betaal word, asook ander uitgawes gedek word – inkleding, reiskoste, kameras, beligting, klank, die klankbaanmusiek, redigering, grimering, spyseniering en dies meer. Dit is seker onafwendbaar dat talle deelnemers vir ’n appel en ’n ei werk, sommige vir niks. ’n Veteraanspeler wat dekades in die bedryf is, vertel dat hy R2 000 vir sy aandeel betaal is. Een ervare deelnemer draai nie doekies om nie: “Die begrotings is belaglik. Bekende akteurs word uitgebuit. Alles word afgeskeep. Daar is geen teken van mentorskap nie.”

’n Vervaardiger wat nie betrokke was nie, meen egter die knypbegrotings is ’n goeie ding: “Dit dwing die skeppers om kreatiewe oplossings te vind, om uit die boks te dink. Ek dink dis ’n goeie inisiatief van kykNET wat hulle verder kan tweak.”

Die kunstenaars wou anoniem aangehaal word, aangesien hulle steeds afhanklik is van instansies soos kykNET vir werk. In ’n plaaslike bedryf wat berug is vir die feit dat akteurs min of geen tantième ontvang vir heruitsendings van rolprente en reekse nie, is sulke haglike besoldiging ’n saak wat aandag verdien. Sekerlik kan die konsultante, spesialiste en bestuurders agter lessenaars en in raadsale elke maand op ruim vergoeding staatmaak.

Waar bykomende borge betrek is, styg die gehalte en omvang van ’n projek dienooreenkomstig, soos in Begrond, ’n oorlogverhaal wat op ’n boereplaas en in ’n konsentrasiekamp afspeel.

Die kanaal bevestig dat alle kykNET-projekte ’n toesighoudende vervaardiger het wat verantwoordelik is vir die inhoud wat uitgesaai word en uit die teksgedrewe spanlede bestaan. Die toesighoudende vervaardigers wissel van projek tot projek.

Nouliks uitdagend

Die temas is veilig en die inhoud kan nouliks as uitdagend of op die snykant van sosiale relevantheid beskryf word. Familievermaak geniet voorkeur, omdat dit tydens spitskyktyd om 20:00 uitgesaai word. Die teikengehoor word beskryf as “alle kykNET-kykers wat naweke wil afskakel en vermaak wil word in Afrikaans. Die storiefilms word om hierdie rede vir die wydste moontlike gehore gemaak en wissel van komedie tot drama en selfs wetenskapfiksie.”

’n Remskoen wat gereeld opduik, is uitgerekte dialoogtonele, soos in die biegtonele van Mal. Die storie word vertel eerder as in handeling uitgebeeld – die ou wanbalans tussen vertel en wys. In Party verdien ’n naweek, ’n misdaadkomedie wat belowend afskop, beraam twee skoonmakers in ’n regeringsgebou planne om wetgewing te wysig om die kunste te bevoordeel. Hulle babbel en skerts en lewer satiries kommentaar op die bedeling terwyl die handeling sloer. Selfs op skool word leerders geleer om te wys eerder as te vertel – wanneer leer ons filmmakers dit? Te veel woorde, te min aksie. Rolprenttaal moet visueel wees.

Daar is geen tekort aan intrige, konflik en kaperjolle in die krimikomedie Half ton dinamiet nie. ’n Plofstofspesialis (Deon Lotz) bou ’n bom om wraak te neem op ’n casinobaas wat hom verneuk het. Daar is familietwis en misverstande, ’n komiese stoeitoneel en selfs ’n jaagtog op fietse. (Alles behalwe die groot ontploffing!) Die dialoog is realisties en pittig, hoewel die ekstra klankbaankommentaar oorbodig raak. Die hinderlike oorbeligting laat binnetonele plat en ongefokus lyk. Dié bedenklike tegniese benadering doen visueel afbreuk aan ’n potensieel plofbare eindproduk.

Mike & Mavis, romanse vir die ouer garde, is vir ’n Safta benoem. Twee geliefde akteurs, Tobie Cronjé en Amanda Strydom, herontdek die liefde in hul rypwordjare. Die spelers is sjarmant, terwyl Wessel Pretorius se woordgebonde teks (gebaseer op ’n radiodrama) dalk beter op die planke sou deug. Regisseur Andre Velts doen sy bes om die muur-tot-muur statiese kletsontmoetings met liggies in mooi omgewings te tooi, maar ai, dit verloop slakkepas. Boonop skryf Mavis briewe aan haar dogter om die ontluikende liefde en haar motiewe te verduidelik.

Skitterproduksies

’n Skitterproduksie is die komiese whodunit ’n Snuf in die neus wat in die gegewe tydsbestek verskeie karakters bekendstel en ’n intrige ontplooi wat eindig met ’n knal van ’n verrassende slot. Ekonomiese dialoog, eksentrieke karakters en ongewone situasies hou jou aan die raai oor wie die boosdoener is. ’n Sterwende speurder wat nie oom genoem wil word nie – “Ooms is grys!” – probeer ’n moordenaar in ’n ouetehuis vastrek. Hy word bygestaan deur ’n ou boesemvriend wat dalk ook nie onskuldig is nie. By tye sloer die pas terwyl die protagonis se hoesbuie uitwoed en hy leidrade uitsnuffel. Die kranige ouer spelers skep kleurryke karakters sonder om spel te oordryf. Hier is heelwat vermag met ’n gestroopte, genuanseerde draaiboek.

Die leedwese van konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog is ’n groot onderwerp vir ’n klein fliek. In Begrond word dit met sensitiwiteit verbeeld, weliswaar gesteun deur bykomende borgskappe wat die epiese opset laat gedy. Begrond is ’n voorbeeld van sterk visuele storievertelling wat die medium voluit benut, met asemrowende kinematografie en konfliktonele wat die menslike lyding in ’n argetipiese landskap anker. Die poëtiese draaiboek verken verskeie dimensies van grond. Soms is die inkleding egter tog gebrekkig, soos die netjiese wit huisie wat blykbaar ongeskonde uit die oorlog kom. Maar dié is ’n spogproduksie wat pryse verdien.

(* Sedert die publikasie van hierdie artikel het dit bekend geword dat Begrond nie meer deur kykNET vervaardig word nie, maar deur Forum Films, nou bekend as AfriForumTV.)

Minder geslaag

Een van die mins geslaagde projekte is Dolla. ’n Ma wat terminaal siek is, weerhou die slegte nuus van haar dogter wat aan ’n skoonheidskompetisie deelneem. Dit verval in matelose melodrama wat oorkook met oordrewe, karikatuuragtige spel. Die soetsappige teks doen onbedoeld lagwekkend voor op tragiese momente. Dolla is in dieselfde liga as die berugte fliek The room – oordoen en smaakloos.

’n Lae begroting is ’n hindernis, maar dit kan nie as verskoning dien nie. Dink aan ’n debuutfliek soos Sex, lies and videotape wat die jong Steven Soderbergh met blote sente gemaak het. Daar is al bekroonde flieks met selfone geskiet. Enigiets is moontlik met ’n druppel vindingrykheid.

Tans lê storiefilms as TV-medium in woordrykheid en teksdigtheid nader aan radiodrama as aan rolprent, dalk ’n uitvloeisel van skrywers en tekskenners uit die sepiefabrieke, waar dialoog handeling dryf.

Baie van die storiefilms gaan mank aan ’n visuele woordeskat, vars kamerahoeke en ’n inspirerende visie. Eksposisie, aanhitsende voorvalle en verwikkelinge word in ’n vloed woorde uitgestort, terwyl die kamera in tweeskote vashaak of benouend deur ’n enkele lokaal dool. Die meeste filmmakers en toesighouers moet ernstig herbesin oor die medium (ja, rolprent sowel as TV) en die geheue verfris met hoe die meesters ’n storie vertel sonder ’n alewige gebabbel. Kyk gerus weer na ’n dramareeks soos Vince Gilligan se Breaking bad en die eerste kwartier van Paul Thomas Anderson se There will be blood, waar daar haas geen dialoog is nie, net kragtige narratiewe handeling.

In te veel van die prente hoor jy ’n lakoniese klaviertjie agterlangs tokkel, ’n ekonomiese klankbaanopsie wat egter ’n eendersheid aan die flieks verleen. Dis ’n verfrissende variasie om die polsende spanningsmusiek in Nuus om ses te hoor, ’n riller oor stedelike korrupsie en die media wat modern en stylvol uitgevoer is.

Hoe lank nog?

Daar is vermaaklike en pretensielose momente in talle van die flieks, dikwels dié wat ’n herkenbare genre ontgin. Hoewel steeds baie woordgebonde, boei Sak en pak, Altyd pa, Ken jy my nou en Kamer ses met natuurlike spel, en handhaaf hulle skaflike tegniese afronding. Helaas is daar ook vervelige produkte wat jou rondom die halfpadmerk op die horlosie laat loer: Hoe lank nog?

Die standaard van die storiefilms is nie verbysterend nie. Dit verken selde nuwe terrein vergeleke met mededingende en internasionale platforms, en dryf meestal gemaklik in die middelmoot, iewers tussen vrot en ampergoed. Hier sien jy nog nie tekens van die volgende Katinka Heyns, Jans Rautenbach of Manie van Rensburg met die passie en visie van ’n groot filmmaker nie.

Die hoop beskaam nie. Maar ’n ruimer begroting en skerper mentorskap sou die pad vir baanbrekers gelyker kon maak.

  • Die projek gaan steeds voort en kykNET het onlangs gevra vir 90-minuut-film-idees.
  • Storiefilms is Saterdae om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 te sien, en word ook op Showmax uitgesaai.

 

  • 3

Kommentaar

  • Lorinda Theart

    Schalk Schoombie se briljante dramateks Samurai verdien om vir 'n groter gehoor aangebied te word ... Asseblief, kykNET, verewig dit in 'n storiefilm!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top