Huppelkind, gister en vandag: ’n onderhoud

  • 1

Die nuwe Huppelkind-omslag is links, in kleur

Huppelkind
Skrywer: WO Kühne 
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624085485

Michelle Cooper, een van die uitgewers by NB-Uitgewers se afdeling kinder- en jeugboeke, gesels met Naomi Meyer oor Huppelkind, wat nou onlangs weer deur NB uitgegee is.

Tye verander, lesers verander (want hul verwysingsraamwerke verander). Wat dink jy veroorsaak dat Huppel steeds ’n karakter is by wie vandag se leser of luisteraar-as-die-ouer-voorlees kan aanklank vind? 

Huppel is die universele kind. Hy is sorgvry en nuuskierig oor die mense, diere en dinge om hom. Ander kinders verstaan hom, want hulle herken iets van hulleself in hom en volwassenes vind aanklank by hulle kinderlike self.

Raakpunte tussen Afrikaanse kinderletterkunde, toe en nou: Langenhoven se stories met die magiese elemente (byvoorbeeld Brolloks en Bittergal en Kootjie Totjie), en Huppelkind, met die maats wat hy langs die pad teëkom wat glad nie almal soos aardse karakters voel nie. Wil jy iets sê oor destydse kinderletterkunde en hoe dit vergelyk met magiese elemente in vandag se kinderletterkunde? Wat is eenders, wat is anders?

Sjoe, dis omtrent ’n onderwerp vir ’n magisterverhandeling! As ek ’n bietjie daaroor dink, sou ek sê dalk is daar vandag meer wat eenders is as anders. In die fantastiese wêrelde wat skrywers vandag optower, is tegnologie dalk net meer geïntegreer met fantasie, soos karakters wat die internet gebruik om ’n raaisel op te los, of vervoermiddels wat gevorderd is. Die magiese elemente, die goeie wat die slegte oorwin, die lewenslesse wat subtiel geleer kan word: ek sien dit steeds in moderne fantasie.

Wie is Huppelkind, en hoe kan mens hom beskryf as mens nog nooit van hom gehoor het nie?

Huppelkind is ’n seuntjie van so vyf, ses jaar oud, nuuskierig oor die wêreld en met ’n versugting om dit te verken, en ’n liefde vir die natuur.

Huppelkind is stories, maar dis ook as ’t ware klankryke rympies. Dis vir voorlees, maar ook vir beginners wat leer lees. Wat dalk minder bekend is, is dat die skrywer en die illustreerder man en vrou was. Wat is die agtergrond en oorsprong van hierdie boek?

Wilhelm Kühne het reeds in die jare toe hy skoolgehou het besef dat daar baie min oorspronklike Afrikaanse boeke vir laerskoolkinders is. Nadat hy as joernalis begin werk het, het hy die destydse hoof van Tafelberg-Uitgewers oorreed om dit te waag met ’n nuwe genre – ’n reeks geïllustreerde kinderboeke. Wilhelm en sy vrou Dorothy was in daardie jare jonkgetroud en hulle seuntjie, Klaus, was so vyf jaar oud. Dorothy het die karakter van Huppel op hom gebaseer.

Is hierdie boek vandag weer uitgegee presies soos wat dit was, of is daar aan die taalgebruik verander? Wat het dieselfde gebly, wat is verander (en hoekom)?

Ons het dit presies soos dit was heruitgegee – nie ’n komma of punt is verander nie. Die verhale is so bekoorlik, en die lees daarvan gee ’n besonderse terugblik op die eerste kinderboeke in Afrikaans. Ek kon nie dink om enigiets te verander nie.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Annemie Bosch

    Ek dink dis wonderlik dat hierdie stories nou weer uitgegee word. Dankie daarvoor! Dit kan maar net vandag se kinders verryk.

    Tog vind ek dit bitter jammer dat ouer boeke wat 'n onuitwisbare indruk op my as kind gemaak het, aan die vergetelheid oorgelaat word. Ek hoop van harte dat sulke boeke ook nuut uitgegee kan word. Daar is veral twee van hulle wat my lewe lank by my gebly het en my nou nog fassineer. Ek twyfel vir geen oomblik daaraan dat altwee hierdie boeke deel is van ons ryk literêre erfenis. Die boeke is Elsie die Veldkindjie en Kirsie Bosch. Albei boeke is besonder goed geskryf en ek en my kinders het dit boeiend en interessant gevind. Hulke is ook lieflik geïllustreer. 'n Groot rykdom spreekwoorde en metafore word gebruik. Die taal is egter nog daardie ou-ou Afrikaans met baie sinswendings wat meer Nederlands klink as Afrikaans. Desnieteenstaande is die verhale 100% Afrikaans en sal kinders van vandag sonder enige twyfel bekend stel aan die kosbaarhede van ons natuur en leer oor omgee vir ander. Hul sal egter beslis vir die hedendaagse kind in moderne Afrikaans "vertaal" moet word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top