Huldeblyk: Rudolf Gouws (12 Desember 1947 – 20 November 2025)

  • 2

Foto van Rudolf Gouws: Izak de Vries

 

Wanneer Lorenzo aan Jessica in The merchant of Venice die kragtige invloed van musiek op die gees besing, kon hy net sowel Rudolf Gouws in gedagte gehad het.

Since naught so stockish, hard, and full of rage,
But music for the time doth change his nature.
The man that hath no music in himself,
Nor is not moved with concord of sweet sounds,
Is fit for treasons, stratagems, and spoils;
The motions of his spirit are dull as night,
And his affections dark as Erebus.
Let no such man be trusted. Mark the music. (5.1)

Ekonoom, beeldhouer, liefhebber en bevorderaar van die kunste, hetsy die woord- of musiekkuns, wetenskaplik gedrewe, kritiese denker met ’n skerp sin vir humor.

My eerste kennismaking met Rudolf was in 1968 toe ek as eerstejaar uit die destydse Transvaal in Dagbreek aankom; hy twee jaar my senior. Uit daardie jare onthou ek net hoe goed en grasieus Rudolf kon dans, waar ons as eerstejaars die seniors se huisdans op ’n afstand kon betrag. Ek dink nie ons het toe ooit ’n woord gewissel nie.

Eers in 2008 sou ons weer ontmoet toe my boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite by Protea Boekhuis op Stellenbosch bekend gestel is.

Die boekwinkel het byna meer mense as boeke daardie aand gehad, verrassend vir die Calvinisties-deurdrenkte studentedorp waar, tydens my studentejare, die invloed van Kosie Gericke vanuit die Kruiskerk oorweldigend op ons denke was.

Nadat paleontoloog en nemesis van kreasioniste Jurie van den Heever die gehoor gelei het deur die boek se hooftema – die stelselmatige aftakeling van geloof in ’n mitiese skeppergod deur wetenskaplike ontdekkings – het ’n vloedgolf vrae gevolg. Sommige was aanvallend – “Hoe durf jy ons God so gering skat?” – ander het die kritiese denke weerspieël wat in ’n universiteitsgemeenskap hoort: Hulle vrae en opmerkings het Afrikaners se slaafse juk van ’n skeppergod bevraagteken en die boek verwelkom as ’n bevrydingsdaad.

Louis Esterhuizen, Protea Boekhuis se digter-bestuurder op Stellenbosch, het aan die einde van die aand teenoor my opgemerk: “Wie sou nou dink dat ’n boek oor wetenskap soveel mense trek en soveel geesdrif ontlok?”

Een middag, sewe jaar later toe ons op die dorp eet, vertel Rudolf hoe ’n groot invloed die boek gehad het om sy lou geloof finaal te kelder. Soos met soveel van die mense in die gehoor daardie aand, en die honderde e-posse wat ek ontvang het van lesers van “Wetenskap vandag”, my weeklikse rubriek in Die Burger, het hy ook finaal afstand van sy geloof geneem.

Miskien het dié veranderende uitkyk geskied met die Britse ekonoom John Maynard Keynes (1883–1946) se woorde in gedagte: “Die moeilikheid lê nie in die nuwe idees nie, maar om aan die oues te ontsnap wat, vir dié wat soos die meeste van ons grootgemaak is, tot in elke hoekie van ons verstand vertak.”

Boeke het hy aanbeveel; spontaan gekoop as ons mekaar by ’n boekwinkel raakloop. “Lees hierdie. Ek betaal vir jou.”

So het Howard Bloom se The God problem op my boekrak beland, ook Alexander Waugh se God; AC Grayling se The God argument: the case against religion and for humanism; AN Wilson se God’s funeral; William Winwood Reade se vergete The martyrdom of man; en Yuval Noah Harari se Sapiens: a brief history of humankind.

Maar nooit was Rudolf se ongeloof venynig nie, want hy het deernis met sy medemens gehad. Gereeld het hy spotprente uit The New Yorker wat die irrasionele en onlogiese aard van godsdiens illustreer, na my per WhatsApp gestuur, gewoonlik sonder enige kommentaar.

Eendag, toe die Afrikaanse koerante weer die naïwiteit van ons gelowige samelewing in berig na berig illustreer – “Dis God se wil” en “God deel ons smart al moes soveel duisende sterf in die Turkse aardbewing”, of “Nou sit sy aan die voete van Jesus”, of “God sal voorsien” – haal hy as hoogs gerekende ekonoom die Sweedse skrywer Gustaf Lindborg aan: “Die seevaarder bid nie vir die wind om te waai nie; hy leer om te seil.”

Buite sy spesialisveld was sy kennis enorm en was sy belangstelling in en van alles-en-nog-wat verbluffend, van Peanuts en Calvin and Hobbes tot musiek, die letterkunde, beeldende kunste, sport, religie, die geskiedenis en wetenskap – ’n toonbeeld van die Renaissance-mens, die ontdekker, uitvinder, soeker.

Rudolf het sy stempel gelaat op die uitbou, standhoudendheid en profiel van die Woordfees en die jaarlikse internasionale Kamermusiekfees op Stellenbosch, ’n nederige en ruim filantroop.

Hy het sy lewensfilosofie eendag in die woorde van Epikuris aan my opgesom:

Omdat mense in mites glo, sal hulle altyd iets verskrikliks vrees, ewige straf as ’n sekerheid of moontlikheid [...]. Mense grond al hierdie vrese nie op volwasse menings nie, maar op irrasionale fantasieë, sodat hulle meer ontstel word deur vrees vir die onbekende as om die feite in die oë te staar. Gemoedsrus lê in die verlossing van al hierdie vrese.

*

(George Claassen is News24 se ombud en ’n voormalige hoof van die Departement Joernalistiek op Stellenbosch, asook wetenskapredakteur van Die Burger tussen 2001 en 2008.)

  • 2

Kommentaar

  • Francois Verster

    "... tot in elke hoekie van ons verstand vertak.” Inderdaad. En met stok en wortel in stand gehou. Ek wonder wat sy verklaring vir panteïsme sou wees.

  • Andreas van Wyk

    Baie dankie, George, vir jou gepaste woorde oor vriend Rudolf. Die mees veelseggende is jou samevatting: "Maar nooit was Rudolf se ongeloof venynig nie, want hy het deernis met sy medemens gehad". Ek het nooit 'n venynige woord uit Rudolf se mond gehoor nie. Ook by die huldigingskonsert ter ere van hom in die Endler-saal, ná sy dood, was die woorde oor hom vol deernis toe dié aspek van sy lewe ter sprake gekom het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top