Ek neem Izak kwalik omdat hy my gevra het om hierdie huldeblyk te skryf. Hoe skryf jy ’n huldeblyk oor iemand wat nog altyd vir almal daar buite ’n huldeblyk gedoen het? Wat nog altyd ’n goeie woord gedoen het vir almal by hul sterfte? Ek kan nie eens voorgee dat ek reg sal laat geskied aan hierdie merkwaardige mens nie.
Herman Bailey was ’n vriend, kollega, medeskrywer, kerkman, gemeenskapsleier, pa en gesinsmens. Soveel talente in een mens. Dit was altyd hy wat huldeblyke van mense gelewer het, daarom is dit vir my ’n voorreg om nou dieselfde vir hom te doen.
Ons verhouding kom reeds sedert ons kinderdae toe ons saam opgegroei het in die arm Wellingtonse woonbuurt Verlate Kloof (as bure). Die ou regering het ons ontwortel uit die bodorp en daar gegooi. In die hoop dat ons sou vergaan.
Maar ons het nie.
Inteendeel. Ons – Herman, Marlene le Roux, en vele ander – het juis ons ontworteling gebruik as motivering om uit die as op te staan, om onsself so goed te bekwaam dat ons ons eie mense kon lei. Hierin het Hermie, soos ek hom genoem het, die leiding geneem.
Hy was agt jaar ouer as ek. Toe ek nog op laerskool was, was dit ’n groot ding vir die bruin gemeenskap van Wellington toe Hermie matriek geslaag het aan Hoërskool Bergrivier in 1968, waar Hermie se pa, oom Jan, die opsigter was. Let wel: Hoërskool Bergrivier. Die apartheidswoord. “Sekondêr” het nog nie eens bestaan nie, en toe die skool in 1949 gestig is, was dit beslis nie as Bergrivier Sekondêr nie. Selfs toe ek daar skoolgegaan het, was dit “Hoërskool” – in ons leuse, in ons skoolwapen, op ons kleurbaadjie.
Hy was die eerste in ons gemeenskap om aan ’n tegniese kollege te studeer vir gesondheidsinspekteur, en ek onthou hoe ’n groot ding dit vir ons mense was toe die nuwe gesondheidsinspekteur van Wellington aangestel is: die eerste bruin man in so ’n pos!
Hierdie werk sou aan hom die geleentheid bied om die binnekant van die munisipaliteit te leer ken; later het hy ’n kenner van plaaslike regering geword. Dit sou die basis verskaf vir sy kandidatuur om homself beskikbaar te stel as burgemeester van Wellington, as ’n onafhanklike. Ek onthou sy plakkaat nog goed – dit was in die vorm van ’n huis, want om behuising vir sy mense te verskaf, was sy hooffokus. Die leuse op daardie plakkaat onthou ek selfs beter: Trek jou kruisie by die man van die huisie. Dit was Herman: Hy het die geskiedenis herskryf.
Ek onthou die dae as oom Jan en my pa (oom Mike het Hermie my pa genoem) saam gaan visvang het in Langebaan. Dan het ek en my ouer broer André, Hermie en Pollie (Hermie se jonger broer) saamgegaan. Almal agter op oom Jan se bruin Austin-bakkie. Ons het ook sommer op die bakkie oorgeslaap. As die groot manne visgevang het, het ons kleingoed krieket en rugby op die strand gespeel.
Herman se lewe is ’n dokument vir die stryd wat bruin mense gevoer het om selfbeskikking. Nadat Herman burgemeester geword het, het hy die leiding geneem om die Council-huise se kaart en transport in die mense se naam oor te dra, want, het hy gesê, van daai mense het die huise met hul maandelikse huur al twee keer afbetaal. Hy het eienaarskap aan sy mense gegee. Hy sou drie keer herkies word as burgemeester, weens sy uitnemende diens. Sy titel is toe verander van raadslid na raadsheer. Min politici kan dit vandag sê. As burgemeester het hy geveg vir sy mense se politieke beregtiging.
Ons het saam gedien in die direksie van die ATKV, waar ek kennis gemaak het met sy sakevernuf en sy liefde vir Afrikaans, sy moedertaal. Die huidige voorsitter, Marlene le Roux, is op sy aanbeveling as voorsitter verkies. Ek weet ook dat daar ’n proses aan die gang was om Herman as ’n lewenslange lid van die ATKV te benoem.
Soos ek, my pa en my broers sou Herman ook uitdraf vir Roslins, die kampioenrugbyspan van Wellington, waar hy in die voorry gesak het. Hy was ook ’n staatmaker en kollega by die Wellingtonse klopse en was die dryfkrag agter die jaarlikse Klopse Karnaval van Wellington op Nuwejaar. Hy het na my by die Wellingtonse Krisantevereniging aangesluit, maar het vinnig opgang gemaak. Nie net was hy ’n puik krisantkweker wat kampioenblomme gekweek het nie, hy was ook ’n goeie administrateur en voorsitter van die vereniging, wat die weg voorberei het vir mense soos ek wat by hom kon oorneem as voorsitter.
My en Herman se pa het baie lank as ouderlinge in die plaaslike kerkraad gedien, en dit was net logies dat ons in hul voetspore sou volg, ek as diaken en Herman as ouderling. Maar Herman het ’n stap verder gegaan: Hy het die hoofouderling geword en ’n ferm hand gehou op die kerk se geldsake sodat die kerk nooit in die moeilikheid was nie.
Ons vriendskap het verdiep toe ek vir twee van sy seuns, John en Heindri, skoolgehou het. Wees verseker, so lief soos hy hulle gehad het, net so streng was hy met hulle.
As krisantkwekers het ons ure saam in mekaar se tuine deurgebring en hy het altyd nuwe variante saamgebring vir ons as hy van sy oorsese reise terugkeer. Ons het nog so baie planne gehad vir die Krisantevereniging. Hy het maar onlangs eers 70 geword en was ook die ooglopende keuse om as spreker by my onlangse 60ste-verjaarsdag-viering op te tree. Want hy was ’n baie goeie spreker.
En nou het waarskynlik een van Wellington se grootste seuns se stem stil geword, ’n Seder het geval op Wellington. Die gaping wat Herman Bailey in die Wellingtonse gemeenskap laat, is so groot dat dit byna onmoontlik is om te vul.
Rus sag, my vriend. Carol sal bly wees om jou nou by haar te hê.
Michael le Cordeur
29 Julie 2021
Kommentaar
Ek sal altyd vir Hermie onthou as die man wat sy vrou Carol tot in die afgrond bederf het. Ek het die grootste respek vir hom gehad, veral tydens haar siekte. Die geduld wat hy gehad het. Prysenswaardig.
I just felt something was missing around me. Here in Cameroon, I started searching online for HERMAN BAILEY, wondering where he was and landed on this beautiful souvenir crafted in honour of this great entrepreneur and missionary. I still don't understand but it seems as though he is no longer with us. You still continue to live with us. I enjoyed all the moments we had at the Wittenberg Center for Global Ethics in Germany, while you presented a manifesto: "Entrepreneurial spirit as a crucial driver for development and cooperation". You requested the youths of Africa to be engaged in Entrepreneurial ventures. African Business Information Bank is our response. Stay well and blessed.