Huldeblyk aan Danny Titus

  • 2

Foto's: Izak de Vries

Danfred James Titus, in lewe bekend aan almal as Danny, was klein van postuur maar ’n intellektuele reus wat ’n lang skaduwee en groot spore agtergelaat het.

Hy was ’n taalaktivis wat nooit geskroom het om die saak van Afrikaans te bevorder nie. Danny was ’n regsgeleerde, ’n menseregtekommissaris, ’n stryder vir die regte van vernalate Afrikaanssprekers om hul plek aan die Afrikaanse tafel as gelykes in te neem en saam as vennote die saak van Afrikaans te bevorder en te ondersteun. Hy was die inisieerder van die DAK Netwerk wat in 2016 gestig is. Hierdie burgerlike organisasie, waarvan die naam afgelei is van en wat erkenning gee aan drie Khoi-ikone, Doman, Autshumao en Krotoa, beywer hom vir die bewusmaking en koestering van bruin mense se identiteit en kultuur, asook die beywering van die ontwikkeling van voorheen benadeelde Afrikaanse gemeenskappe.

Onder sy leiding het die DAK Netwerk onder meer boeke uitgegee (soos Die Pesalms deur Willa Boezak), musiek-CD’s vervaardig (Albertus Davids) en eretoekennings aan verdienstelike kandidate uit die bruin gemeenskap gegee. Die direksie van die DAK Netwerk sal by die komende jaarvergadering op 10 Oktober besluit op ’n gepaste wyse om nie net vir die onmiddellike nie, maar ook in die toekoms hulde aan Danny Titus te bring deur onder meer ’n Danny Titus-gedenklesing.

Hy was ’n groot kultuurmens met ’n groot passie vir veral menseregte. Hy was deel van die gesprek om ’n boek te publiseer om die rol van bruin mense in Afrikaans te erken. Ek onthou nog duidelik toe ek, hy, Michael le Cordeur en Wannie Carstens in die kantoor van prof Le Cordeur vergader het en hoe die boek Ons kom van vêr sy beslag gekry het. Danny het ook ’n hoofstuk in die boek geskryf met verwysing na die identiteit van bruin mense. Sy titel was dus paslik: “Afrikaans van bruinkant – taal en identiteit op die Afrikaanse werf”. Hy skryf: “Die Afrikaanse taal is besig om sy veelvuldige identiteite te ontdek. Vir te lank is Afrikaans gesien as ’n taal van ’n homogene kultuur terwyl ander Afrikaanssprekendes moes toekyk hoe hulle bydraes en leefwêrelde in hul moedertaal ontken word.” Vir hom was dit van kernbelang om die groter prentjie van talle Suid-Afrikaners wat Afrikaans as moedertaal beskou, te sien.

Hy verwys ook na die gemengde kulture van bruin mense en hoe hulle ’n geankerheid as gevolg daarvan aan Suid-Afrika het. Danny het gereeld die Bybelteks in Psalm 16 vers 6 aangewend in gesprekke: “Die meetsnoere het vir my in liefelike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi.” Sy nalatenskap en erfenis sal altyd vir ons mooi bly.

In ’n breёr sin het Danny ook die belangrikheid van gesprekvoering tussen die Afrikaanse gemeenskappe bevorder, onder meer soos ’n waarheid-en-versoeningsberaad oor Afrikaans se verlede en ’n opvolggesprek hieroor by vanjaar se Woordfees. Hierdie idee het ontstaan na ’n paneelgesprek waarvan ek, dr Theuns Eloff en hy deel was tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn in 2017.

Ek onthou die lang gesprekke met hom wanneer ons mekaar gesien het tydens verskeie ontmoetings, vergaderings en kultuurbyeenkomste. Die Rieldanskompetisie wat jaarliks by die Afrikaanse Taalmonument plaasvind, is deur Danny tot ’n wenresep ontwikkel en gaan jaarliks van krag tot krag. Hy het gereeld by my in Kuilsrivier oornag, waar ons kopstukke en tot laat in die nag gesels het. Danny kon onderhoudend oor enige onderwerp gesels en het so nou en dan ’n Nederlandse woord ingegooi. Hy kon Nederlands vlot praat. Ek onthou ’n geleentheid waar die Nederlandse konsul in Kaapstad ’n byeenkoms by die Sasnev-gebou in Pinelands gehou het ter viering van die Nederlandse koningin. Hy het in perfekte Nederlands gepraat , met ’n sterk Nederlandse aksent, en ’n verjaarsdagwens namens die teenwoordiges aan die Nederlands koningin oorgedra. Dit was moontlik omdat hy vir ses jaar daar studeer het vir sy doktorsgraad in regte, aan die Universiteit van Leiden.

Sy voormalige onderwyseres aan Hoёrskool Esselen Park in Worcester, Ria Olivier, het altyd met trots getuig van hierdie skrander seun van Worcester en hoe hy nie net akademies gevorder het nie, maar altyd ’n diep sin vir godsdiens gehad het. Hy het verlede jaar ’n toekenning van die Worcester Munisipaliteit ontvang waarin hulle erkenning aan verskeie prominente figure van die dorp gegee het. Hy was baie trots op hierdie erkenning aan hom as ’n seun van die dorp.

Danny kon baie verhale van sy grootwordjare vertel. ’n Vriend van hom, Claude Schroeder, ook van Worcester, noem op ’n Facebook-inskrywing dat nie slegs Worcester nie, maar die totale Afrikaans-Nederlands-Belgiese gemeenskap in Danny ’n groot seder sien val het. Hy was inderdaad ’n globale kritiese denker, wie se voete altyd op die grond was.

Danny Titus was nooit ’n politieke aktivis wat in protesoptogte voor geloop het nie. Hy het platforms soos die ATKV en die Afrikaanse Taalraad aangewend om ’n politieke bewuswording by veral Afrikaners in te skerp oor die onregverdige verlede van apartheid. Sy fokus was altyd toekomsgerig, en daardeur, gepaardgaande met sy vergewensgesindheid, het Danny wye respek afgedwing. Hy was iemand wat nooit van kontroversie weggeskram het as hy dit as ’n beginselsaak gesien het nie. Hy het ’n groot hart vir taal, kultuur en tradisies gehad. Hy was altyd eerlik in alles wat hy gedoen het, en was ’n joviale persoon op wie jy altyd kon staat maak.

Die bekende rubriekskrywer en politieke kommentator Heindrich Wyngaard beskryf Danny as volg in ’n artikel in ’n bekende Afrikaanse Sondagblad: “Noudat die kultuurman dr Danny Titus dood is, is hierdie drie passies wat sy nalatenskap sal kenmerk: erfenis (én geskiedenis), taal (én kultuur) en menseregte (én menswaardigheid), maar die grootste daarvan was die liefde vir sy mense.” Die land is beslis baie armer en het ’n groot verlies in die dood van Danny Titus. Hy was ’n merkwaardige mens en een van die mees innemende mense wat ek al ontmoet het. Hy laat my dink aan die gedig “Trou” van Jan FE Celliers: “Ek hou van ’n man wat sy man kan staan; Ek hou van ’n arm wat ’n slag kan slaan; / ’n oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk; en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan ...”

Ek betuig my innige meegevoel aan sy dogters Daléne en Neriska, wat ’n vader verloor het. Ek en ander het ’n vriend, ’n kollega, ’n mentor, ’n kameraad en ’n medestryder verloor.

Rus sag, my vriend, tot wedersiens.

  • 2

Kommentaar

  • Danie, baie dankie vir hierdie eerlike en duidelike onopgesmukte huldeblyk aan Danny Titus!! Ek vereenselwig my graag daarmee. Ek treur saam oor sy ontydige heengaan!

  • Dr. Titus se heengaan is geweldige verlies vir ons Suid-Afrikaners maar in die besonder vir ons bruin gemeenskap. Ek is diep hartseer oor Danny. Hy het inderdaad die goeie stryd gestry. My innige meegevoel aan sy dogters en die breë famlie en vriende.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top