
Foto’s van boek en van Martie Preller: Izak de Vries
Balkie is ’n Balkie. Nie ’n donkie of ’n hond of ’n beer of enige ander dier waaraan Elizabeth Pulles se illustrasies jou moontlik mag herinner nie, ’n Balkie, en basta. En daardie geliefde pers dingetjie wat diep, diep in die donker bos bly, is nie ’n vreemde ruimtewesentjie of ’n oorgewig feetjie nie. Dis ’n Babalela. ’n Babalela wat jou vinnig met ’n kortaf “Los my uit!” op jou plek sal sit as jy onnodig wil torring. Martie Preller was Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur se Martie. Jy kon haar nie in ’n boks druk nie, sy was Martie.
..........
Toe Miemie du Plessis, destyds uitgewer by LAPA, die manuskrip vir Babalela die eerste keer onder oë gekry het, het sy dadelik geweet dat dit iets besonders was en het sy aanbeveel dat die boek onveranderd gepubliseer word.
............
Toe Miemie du Plessis, destyds uitgewer by LAPA, die manuskrip vir Babalela die eerste keer onder oë gekry het, het sy dadelik geweet dat dit iets besonders was en het sy aanbeveel dat die boek onveranderd gepubliseer word. Later jare het Martie vir haar die handgeskrewe manuskrip, die eerste vier bladsye van ’n doodgewone oefenboek, gewys. Sy was verstom om te sien dat die oorspronklike en die uiteindelike publikasie feitlik dieselfde was.
Dit was toe sy die boek begin bemark het dat sy besef het dat die storie nie slegs iets besonders was nie, maar ’n totale fenomeen. “As ’n jong, onervare uitgewer het ek nie werklik ’n benul gehad hoe boeke bemark moes word nie en het ek besluit dat die beste manier sekerlik sou wees om boeke direk na kinders te neem. Dit is met die opvoer en voorlees van Babalela aan kinders dat ek besef het dat ek hier met ’n storie te make het wat kinders raak, eintlik as’t ware opsweep, omdat dit tot iets in die kern van hulle menswees spreek. Ek kry nou nog hoendervleis as ek terugdink hoe sale vol kinders keer op keer die Babalela se mantra kliphard uitgeskreeu het: ‘Ek is ’n Babalela, los my uit!’ – met gesigsuitdrukkings en liggaamshoudings wat hulle passie weerspieël. Die boek het soos ’n golf oor die Afrikaanse kinderboeklandskap gespoel.” Konserte is gehou en poppe, vingerpoppe, T-hemde en ’n lewensgrootte kostuum het gevolg. Die Tienie Holloway-medalje is twee keer aan Martie toegeken vir Babalela. In 2003 vir Babalela en in 2006 vir die opvolg, Diep, diep in die donker bos. Oor Martie se reaksie hierop, sê Miemie: “My indruk was dat Martie enersyds die buitengewone sukses van die Babalela nie verwag het nie, en andersyds reeds met die skryf daarvan bewus was daarvan dat iets besonders hom aangemeld het.” Nadine Petrick, huidige bemarkingsbestuurder van LAPA en Penguin Random House se plaaslike kinder- en jeugboeke, voel, “Martie het gehelp om my eie leefwêreld helderder in te kleur; om vir Calvyn van die skouer af te klap en les bes, vir die wêreld te sê, ‘Los my uit!’as dinge te warm raak. Dankie dat ek mag help om jou stories te laat voortleef, Martie.”
..........
Sy het geglo dat jy jou skryf moet ken as jy kinders se aandag wil behou, en daarom het sy nooit vir die veiligste, en uit die aard van die saak soms vervelige, opsies gegaan nie.
...........
Sy het geglo dat jy jou skryf moet ken as jy kinders se aandag wil behou, en daarom het sy nooit vir die veiligste, en uit die aard van die saak soms vervelige, opsies gegaan nie. Sy het in ’n hele paar onderhoude vertel hoe haar karakters hulle by haar sou aanmeld en sy hulle dan maar moes volg om die storie te kan skryf. Soos sy so graag gesê het: “’n Haas moet doen wat ’n haas moet doen.”

Foto: Izak de Vries
Die bekende kinder- en jeugboekskrywer, Jaco Jacobs, onthou dat hy hom as nat-agter-die-ore-skrywer uit die staanspoor verwonder het aan haar “fantastiese dromerigheid; die manier hoe sy kon vertel hoe karakters doodluiters by haar skryfplek ingestap kom en hulleself aanmeld; haar gesprekke oor die krag en wonder van stories”. Soos Balkie voor in Die Balkieboek verklaar: “Ek het self al hierdie stories vir die tannie, wat dit ALLES neergeskryf het, vertel.”
Haar oënskynlike vryheid en geloof daarin om te skryf hoe en wat jy wil, het sy in haar 40-dag-skryfkursus, wat in boekvorm by Tafelberg as Die land van stories – ’n praktiese storiemaakkursus uitgegee is, oorgedra. Ek onthou hoe sy in 2004 ’n storiemaakwerkswinkel vir laerskoolkinders by my en ’n vriendin se destydse kinderboekwinkel, Rapunzel Books, kom aanbied het. Die ontluikende skrywertjies wat ’n bietjie gesukkel het om iets kreatiefs uit te dink, is bloot aangemoedig om aan iets te dink wat hulle kwaad maak. Die idee was dat hierdie woede-energie hulle sou inspireer om daaroor te skryf. Ongelukkig het party van die outjies die uitdaging aanvaar om hierdie woede eerder uit te speel as om woorde daarvoor te vind en dit op papier te sit.
Martie het ook oor dialoog met die kinders gepraat by die werkswinkel. Sy het hulle aangemoedig om te luister na hoe mense praat en dit dan in hulle skryfwerk na te aap om sodoende natuurlike dialoog te skep. Hoewel sy woordeskat, uitdrukkings en verskillende ouderdomsgroepe wat nie dieselfde taal gebruik nie, bedoel het, was daar weer amper chaos toe die spulletjie mekaar begin namaak het.
En op die onderwerp … Miemie onthou hoe oordrewe of “over the top” Martie gepraat en geskryf het. “Stories was ‘sappig’, haar karakters ‘uitspattig’. ’n Karakter sou nie bloot ‘nee’ sê nie, eerder ‘neeeeeee!!!!’ Niemand kom tussen plante uitgeloop nie, hulle kom uitgebars. Die karakter is nie kwaad nie, hy is woedend – of rasend honger of manjifiek. Hulle sal gil en brul eerder as roep en praat; grynslag in plaas van glimlag. Hulle gluur, kerm en kreun. Sy was die koningin van die uitroepteken – as sy haar sin kon kry, sou elke sin met ’n uitroepteken eindig.” Martie se karakters het dus, oud of jonk, soos sy geklink. Miemie meen dat dit nêrens so duidelik soos in die uitbundige Jamie en Sebastiaan-stories is nie. Dié boeke lê haar, naas Babalela, die naaste aan die hart. Vir haar versinnebeeld die karakters en stories in hierdie boeke wie Martie was en hoe sy oor die mag van stories gevoel het. Jaco onthou weer hoe sy gereeld “nè?” aan die einde van ’n sin gesê het, “so asof sy ’n mens wou uitdaag om nie alles wat sy sê vir soetkoek op te eet nie”.
Balkie se ander ma, die illustreerder Elizabeth Pulles, se duidelikste herinnering sluit by hierdie oortreffende trap Martie aan. Sy onthou die opgewondenheid waarmee Martie haar gebel het of kom sien het. Groot nuus, altyd! Die een of ander openbaring of inspirasie, en die meeste van die tyd het dit oor Balkie gegaan. Sulke tye sou sy opmerk dat sy “nou so vol kreatiewe energie was dat sy haarself dalk aan die tafel moes vasbind om nie soos ’n heliumballon die lug op te vlieg nie”.
..........
Daar was nie grense tussen werklikheid en fantasie nie. Elizabeth het op ’n dag ’n wollerige diertjie onder ’n bos gesien, dit geteken en vir Martie gegee, en dis toe al die tyd ’n Balkie.
...........
Daar was nie grense tussen werklikheid en fantasie nie. Elizabeth het op ’n dag ’n wollerige diertjie onder ’n bos gesien, dit geteken en vir Martie gegee, en dis toe al die tyd ’n Balkie. Saam het hulle Balkie beplan soos ’n mens vir ’n kind beplan en later soos trotse ouers by ’n skoolkonsert oor Balkie se manewales gegiggel. Kinders het Balkie in Martie se Rooi Rose-rubriek ontmoet en goed geken teen die tyd dat Human & Rousseau Die Balkieboek in 2000 gepubliseer het. In 2001 is dit met die Alba Bouwer-prys vir kinderlektuur bekroon.
Elizabeth onthou sakke vol bewonderaarsbriewe van die poskantoor af. Sy en Martie het dit tussen hulle twee opgedeel en Balkie het elke liewe een beantwoord. Martie was diep geraak oor die kinders se entoesiasme en uitnodigings aan Balkie om by hulle te kom kuier. Party het fyn uitgewerkte reisplanne saamgestuur om seker te maak dat Balkie die uitstappie geniet.
Die prenteboek, Balkie en die kleurdief, is ook ’n paar jaar later by Rapunzel Books bekendgestel. In pas met die tema van die boek het kinders wat dit bygewoon het, aangetrek om verskillende lande voor te stel, en dit was ’n vrolike affêre. Martie en Elizabeth was albei daar en boeke is geteken en ons het kleurvolle kolwyntjies geëet – dit was goeie dae.
Aldré Lategan, Martie se Balkie-uitgewer by Human & Rousseau, beskou dit as ’n voorreg om saam met Martie te kon werk. Sy onthou dat Martie lekker kon lag, so uit haar maag uit, met oë wat skrefies trek. “Tussen al die Balkie-avonture en lawwighede deur, het Martie ook ’n baie ernstige kant gehad. Sy het diepgaande kennis en ervaring van die psige van die kind (en die mens in die algemeen) gehad, wat nie net in die Balkie-boeke nie, maar in die meeste van haar skryfwerk vir kinders en tieners gemanifesteer het. Ek sal haar onthou vir haar kleurvolle, warm persoonlikheid, intelligensie en liefde vir kinders – vir wie sy met oorgawe en passie geskryf het, met die hoop om ’n leeslus te kweek.”
Mede-skrywer Leon de Villiers sal vir Martie om ’n paar redes vir altyd onthou. Eerstens dat sy ’n kleurvolle, driedimensionele mens was. Die oud-Latyn-onnie met haar liefde en ratsheid vir woorde. Die sielkunde-gegradueerde met haar begrip vir ander se mensheid. Die kettingroker van ouds wat kettings verstaan het. “Maar ek sal haar veral onthou vir haar verbeelding, haar speelse humor en bo alles haar liefde vir haar familie, haar diere en dan ook kinders en diere in die algemeen. Sy kon mense vir enige iets vergewe, maar kinders en diere het jy uitgelos.”
Vir Miemie was sy ’n unieke skrywer. “Ek werk al die afgelope drie dekades met kinderboeke, en nêrens, plaaslik of internasionaal, het ek nog ooit iets teëgekom wat soortgelyk aan Martie se karakters en verhale is nie.
“Dis daai ding van kinders wat nie kan stilsit of -lê wanneer party stories aan hulle voorgelees word nie. Dit het niks met aandag wat afgelei word te doen nie, dis eerder asof haar energie uit die storie loskom en deur die kinderlyfies absorbeer word. Hulle geniet dit so, hulle word deel van die storie. Voete skop, hande waai of klap, daar word getrippel, in die rondte gedraai of gespring en uiteindelik word ‘Weer! Lees dit weer!’ versoek. Selfs wanneer kinders die stories self lees, sal hulle soms uitbars van die lag en spontaan paragrawe vir almal binne hoorafstand begin voorlees.”
Met haar jeug- en tienerboeke, wat in die negentigs verskyn het, glo ek was sy haar tyd vooruit. Waar daar destyds dikwels suutjies aan jeugboekdeure geklop is voor kwessies oopgeskryf of karakters ontwikkel of storielyne uitgebrei is, het sy by daardie deure ingestorm. Sy het realiteit en fantasie gemeng, met woorde gespeel en divers genoeg in verskillende genres en vir verskillende ouderdomsgroepe geskryf, sodat ook hierdie boeke nie in een boks kan pas nie. Met In die tyd van die Esob het sy die Sanlam-prys: goud vir jeuglektuur gewen.
Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur se Martie se stem is stil, maar haar stories en karakters leef voort. Party waarskynlik en hopelik nog in biblioteke en tweedehandse boekwinkels en ander in lesers se harte, en vir nou het ons darem binnekort weer vir Babalela op die rakke. Nadine Petrick vertel: “Toe ons laasjaar hoor dat die uitgewers besluit om die Babalela uit die donkerbos te gaan haal en weer in die boekwinkels (en kinderharte) staan te maak, het my eie hart ’n paar maal van pure opwinding, wild aan die klop gegaan. Die geleentheid om ’n geliefde, klassieke kinderreeks te bemark, word jou nie elke dag gegun nie. Die boekmerke en vlaggies en bewertjies (mobiles) wat spesiaal vir die heruitgee laat maak is, het vir ’n knop in die keel gesorg. Wat ’n vreugde om dié klein pers gediertetjie aan nog ’n generasie te skenk. Wat ’n hartseer dag dat Martie nie die herlewing van die Babalela kan beleef nie.”
“Dis wonderlik dat Martie, wat soms swaar gedra het aan die intensiteit van haar eie emosies, soveel lig en vreugde vir ander nagelaat het. Soos haar geliefde pronkertjies het sy kleur en liefde in duisende harte geplant. ‘Welgedaan, Martie. Welgedaan,’” groet Leon.
Martie se stories het telkens soos ’n groot bol Martie-energie op Miemie afgepyl gekom en dit was dan haar taak om dit te brei tot iets wat in reguit lyne binne die bladsye van ’n boek vervat kon word. “Sy was die dromer en ek die doener. Sy was egter veel meer as net ’n skrywer wie se werk ek gepubliseer het. Sy was ook raadgewer, vertroueling, vertrooster – ’n ma-figuur – wat my sonder oordeel en met sagte oë deur uitgewer-wees en mens-wees begelei het. Dan sou sy weer afsluit met ‘’n haas moet doen wat ’n haas moet doen’. En die haas (of die hase) het. Totdat een van die twee nie meer kon nie. Maar die stories bly – en DIT was uiteindelik die dromer EN die doener se droom.”
“Daar is mos baie storietonnels,” sê Sebastiaan. “Ek het net ’n ander een gevat.” [Jamie en Sebastiaan en die storiemol]
Magdel Vorster
Bydraes deur:
Miemie du Plessis
Elizabeth Pulles
Leon de Villiers
Jaco Jacobs
Nadine Petrick
Aldré Lategan