Huiskos deur Herman Lensing hoort in elke kombuis

  • 0

Titel: Huiskos
Skrywer: Herman Lensing
ISBN: 9781485900894
Uitgewer: Penguin

Title: Home Cooking
Author: Herman Lensing
ISBN: 9781485900887
Publisher: Penguin

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

As jy voel jy wil ná hierdie vakansieseisoen niks meer met kos te doen hê nie, wil ek sterk aanbeveel dat jy nie naby Herman Lensing se nuwe boek, Huiskos (en die Engelse Home cooking), moet kom nie. My mond water elke keer wat ek na hierdie boeke kyk. Dit is verskriklik mooi! Herman maak van elke kombuis, hoe beskeie of modern ook al, ’n paleis van luukse geure en smake. Die resepte het elkeen ’n agtergrondstorie, wat hierdie kookboek ’n outobiografie van Herman Lensing maak. Dit is beslis nie jou tipiese kookboek nie. Die bladsye is goud, soortgelyk aan my Bybel, en die nederige eetgerei word as kunswerke geïllustreer. Doodgewone Franse braaibrood was nog nóóit so deftig nie. Tussen “Anna se kerriepastaslaai” en “Zola se kerrie” in die inhoudsopgawe lê daar vele eetbare en eerbare skatte. Huiskos gaan jou aanspoor om brood te bak en om die konfyt wat jy daarop smeer, ook self te maak. En dit is alles wraggies makliker en vinniger as wat jy gedink het.

Ek het ’n foutlose melktert uit hierdie prentjiemooi boek gemaak. Met die klem op “foutloos”! Een, twee, drie, en almal kon weglê. Ek kan nie onthou of ek al ooit ’n resep die eerste keer suksesvol gemaak het nie. Ek het al begin dink my oond is ’n krematorium. Ek kan selfs roosterbrood in ’n toaster steenkoolswart verbrand.

As gewigverlies jou nuwejaarsvoorneme is, gaan Herman se boek jou beslis forseer om te begin oefen. Geen mens kan hierdie resepte weerstaan nie, en ek salueer jou as jy soveel selfbeheersing het.

Hierdie boek hoort in elke kombuis, en dit is ook ’n pragtige geskenk. Veral vir familie wat in die buiteland is. Miskien kry ek my dogter in Kanada teruggelok met Herman se Huiskos.

As jy nie nostalgies raak oor hierdie boek, kos en resepte nie, is jy heel moontlik bitter siek en beveel ek ’n dringende besoek aan jou dokter aan. Maar op pad daarheen kan jy gerus by jou naaste boekhandelaar inval en hierdie boek self onder oë kry. Kyk, ruik en lees hierdie boek totdat die stories en kos daarin jou laat terugverlang na jou grootwordkombuis. Dit gaan jou gesond maak lank voor jy by die dokter instap. Dit is in ieder geval goedkoper as ’n besoek aan die dokter, en ’n klomp mense kan deel in jou genesing van ’n verpletterde, vuisvoosgestoeide hart van ons huidige vreemde en onbekende wêreld. Jy gaan dit geniet met al jou beskikbare sintuie; jy gaan spontaan glimlag, en ’n klomp harte warm maak. Soos die muis in die melkkan en die appel wat nie ver van die boom val nie, is Huiskos so Suid-Afrikaans as wat jy gaan kry. Jou kierangs gaan dalk braai as jy hierdie skat miskyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top