
Wat 'n plesier - ons het boekeblaaie in Huisgenoot!
Soveel nuwe boeke verskyn elke jaar dat selfs mense wat dan en wan by 'n groot stadsboekwinkel gaan inloer, nie meer kan tred hou nie. Daarom maak ons in die tweede Huisgenoot van elke maand vir ons lesers 'n venster oop op die reuse boekewêreld daar buite.
In ons eerste boekeseksie - 11 bladsye op 11 Junie - gesels ons met vyf skrywers, 17 boeke word bespreek en talle boeke plus twee reuse Otto's word weggegee. Daar is iets vir boekwurms van elke oortuiging: swaarkry, ligte liefde, nostalgie, selfhelp, slaaptydstories en vele meer.
'n Groot bonus vir leerders en onderwysers is dat ons elke maand drie bladsye afstaan aan gr. 10, 11 en 12 se Afrikaanse voorgeskrewe boeke. Leerders en onderwysers kan ook vrae instuur - dié laat ons deur kenners beantwoord en staan 'n hele blad hieraan af.
"By Huisgenoot is dit ons taak om mense te laat lees, dus lê enigiets wat lees bevorder ons na aan die hart," sê die redakteur, Esmaré Weideman.
"Dit is hoekom dit so 'n voorreg is om van nou af gereelde boekeblaaie in Huisgenoot te hê. Ons wil werklik 'n bydrae tot die boekebedryf maak en ons byna 2 miljoen lesers nuwe toegang gee tot die wye, wonderlike wêreld van boeke. Die een ding wat ons boekeblaaie onderskei - en vir my nog opwindender maak - is die spesiale fokus op voorgeskrewe skoolboeke. Ons hoop dit gaan 'n groot gunsteling by leerders en onderwysers word."
Navrae: Kontak ons boekeredakteur, Elna van der Merwe, by 021-406-2277 of elna@huisgenoot.com.
Huisgenoot word uitgegee deur Media24-gesinstydskrifte, uitgewers van YOU, DRUM, Huisgenoot-Tempo, Huisgenoot-Pols, YOU Pulse en tvplus.

