Huis, woning, tuiste: Wildepiesangblomme

  • 0

Wildepiesangblomme

(My ma bring vir my
wildepiesangblomme
uit hul rosestadtuin.

En die tyd gaan verby.)

Daar was ’n huis en ’n tuin
’n tuin van duisend ruigtes
bosse en bosse azaleas
pienkwit-gestrik
paradysblomme, vurige voëls
gevang in ’n struik
’n pers boom met melk
in sy blare, ’n bougainvillea
en geraamteplant –
Enakiete bo die aarde,
sprinkane helder
soos nuwe gras
duisendpote heuningblink
en slakke wat in ’n man
se hand kan pas,
tamaties tot barstens
toe rooi, trosse en trosse
piesangs genoeg
vir blouaap en mens
en nog en nog
koejawels, lemoene
met grysgroen wange
op die grond

en dan reën
vir dae aaneen
                     reën
sidderende silwer
motvlerke
oor die huis
                 altyd daardie huis.

(My ma bring bleek paradysblomme.

Ék het die tyd laat verbygaan.)


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top