Huis van Brood
pluk vir my die wyse ster wat
oor die stalbed wei;
werp dit op my water
(soos uit die Huis van Brood)
dat’k óók rus kan kry
oor eersgeborenes se dood:
’n engel’t mos met oordeelsverf
my deurkosyn in bitterbloed uit
’n bevlekte lam laat sterf –
te laat besef dat net
edel offergoed ’n kaartehuis
van die tiende plaag
kan red
my huis is waar my hart is
my huis is ’n boek vol
biblioteekstiltes
leë donkerkamers waar asems spook maak
in gisters se
e g g o ’s;
gammas en lemmas uitgegrif in klip:
babelwoorde geïnkanteer
bybelwoorde geïnkarneer
my huis is ’n museum van
motgevrete mites
(kaias vir gaias)
’n meridiaan
vir god en onderdaan
’n kerker vir gevalle indoenas:
’n oop-en-blote beeldenis
’n uilhuis vir (eie)wyses
my huis is waar my hart is
herbarium van verbale mishandeling
die vrou wou dit nooit erken nie –
díé kavalkade afknouery;
ingekrink in sy besope woorde
het sy, boomvrou wat sy was,
haar krom dennerug
weer opgerig na ’n dounat lug;
kruidjie-roer-my-niete
uit haar verlepte oë uitgepluk
doringwoorde weggeruk
v e r p l a n t
vergifnis vergifnis vergifnis ingespit
tot haar baskloue oop wou kraak;
haar sat sooie dooie sade braak –
oor turksvytonge het sy stil gegryns:
elke huis het sy fokken kruis
(elke herbarium sy gekneusde mimosa)
sondaghuis
uit ’n vreemde voortuin
het hy met sy windhondlyf
en soutmynlag hul huis
i n g e d r a f –
sabbatsange in sy taal geneurie
sy bouershande twee betonblokke
wat ritmies graaf en spit en sooi;
die droogdooi phalaenopsis in die rooi Woolworths-bak
vlak verplant in arm grond
tot dit as wit wasdom blom
sy sir en ma’am het respek bely
laatmiddag sy skoffelkleed vir ZCC verruil;
die Spar-hoender met Sprite gesluk –
moeg gebuk,
sy slonsskoene uitgepluk
en weggevlug
uit Plasticville se konkalug
die sir en ma’am klink elk ’n kelk
teen sondagskemer, spogtrots op
hul ontwerperstuin, lig die glas dat die laaste lig
sjampanje vang,
terwyl sy klam
gehoes … hoes … hoes
nog dawerend teen die grasdak hang
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.



Kommentaar
Eersteklas digkuns soos net jy kan, Susanne!
Dankie, Francois!
Susanne se invalshoek vir 'n tema wat digters uitdaag om oorspronklik en vars te dig is uit die boks, onverwags 'n verrassing. Welgedaan.
Dankie, Linda!x
Pragtig Susanne.
Dankie, Jaco. Ek waardeer jou saamlees.
Puik digkuns.
Dankie, Nicky.
Dankie Susanne! Verfmerke ... baie.
Dankie, Erika!