Huis, woning, tuiste: in die toemaarhuis

  • 0

in die toemaarhuis

’n man met ’n koevoet  - nee
dis net die skaduwee van ’n vink
wat uit die dak ’n riet kom pluk 
en nou daarmee rinkink

vandag knars die wind ook so wild
asof hy die deure
met ’n ystertand
oop wil ruk

die gevroetel in die blindings –
net ’n mot kan so ravot
môreoggend lê hy in die vensterbank
heeltemal kapot

dis Van Hunk wat daar kug
hy en sy maat sit weer dikwolk en rook
dis Klaasvakie se voetstap op die stoep
hy maak jou ogies tjoeftjaf toe

Ouma se oë is altyd so groot
ook snags bly haar ore gespits
vir ’n muis wat deur ’n ruit hol
en dit aan ’n duisend skerwe klits

slaap nou eers kleinste
fluit-fluit my storie is uit
more speel ons weer heeldag deur die huis
en ons bly veilig hierbinne
toegesluit


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top