
Platespeler deur Matthias Groeneveld van Pixabay
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: How to stop being a naai
Skrywer: Mia Arderne
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795711442
As ’n woord in die titel jou voor die bors stuit, lees dan maar liewer ’n ander stuk op LitNet. Jy is gewaarsku. Daar is ander interessante woorde wat ook voorkom in hierdie stuk.
*
Mia Arderne se eerste roman was ’n opwindende debuut. Mermaid fillet het alles gehad wat ’n droomloopbaan sou kon voorspel: magiese realisme, geweld, seks en ’n kykie na die wêreld van hulle-wat-nie-ryk-is-nie; daardie “kategorie”-mense wat nie sommer in die letterkunde betrek word nie, en tog so belangrik is om oor te skryf.
Had Arderne in Afrikaans geskryf, sou sy waarskynlik pryse gewen het met haar debuut. Sy het egter in Kaapse Engels geskryf; ek dink nie die werk is genoegsaam gelees nie.
Arderne se tweede roman A thousand eyes on you is ’n jeugverhaal en dit het ook nie die mas opgekom nie, hoewel dit ook ’n baie interessante blik gewerp het op die “tipe” kinders wat gewoonlik nie besing word in Suid-Afrikaanse jeugboeke nie. Soos in Arderne se debuut, word die magiese eenvoudig aanvaar as deel van die alledaagse, terwyl jongmense wat gebuk gaan onder armoede in ons land se townships, skouers geskuur het met skoolkinders wie se ouers BMW’s ry.
En toe land How to stop being a naai.
Wie of wat is ’n naai?
Ons almal is ’n naai, as jy Arderne sou glo.
Daar is vlakke van naai-wees, maar almal van ons pas iewers in op een van daardie vlakke.
Jy is ’n naai; ek is ’n naai. Jacob Zuma was ook ’n naai, as ons Jacques Pauw kan glo. In sy dikke boek The president’s keepers: those keeping Zuma in power and out of prison sê Pauw dat ’n groep skadukarakters van die Kaapse onderwêreld by geleentheid vir Jacob Zuma ontmoet het toe hy nog president was. Die leier van die afvaardiging was na bewering ene Lloyd Hill. Dié het na bewering, voor Zuma, in Afrikaans vir die res van die afvaardiging gesê: “OK, ouens, hier’s julle kans nou. Die ou ballie is ’n naai net soos ons.”
Oukei, maar wat beteken dit?
Ons is almal so
Ons kom binnekort by ’n (on)moontlike definisie van ’n naai, maar eers moet ons almal kan opstaan in ’n vergadering en sê: “Ek is [jou naam]. Ek is ’n naai.”
So, kom ons kry die speelveld gelyk: Ek is Izak. Ek is ’n naai.
Nou kan ons aangaan, as ons Mia Arderne se verteller sou wou glo.
Maar goed, wat is ’n naai?
Deels wil ek sê lees die boek en vind uit, maar daar is tog ’n mate van pret om uit te werk wat op die aarde hierdie woord beteken.
Jacques Pauw het Lloyd Hill se woorde oor Zuma aan ’n Engelse gehoor soos volg vertaal. “OK, guys, this is your opportunity. This old fossil is a fucker just like us.”
Ek het, effens tong in die kies, woordeboeke nader gesleep. Die HAT gee gewoon twee betekenisse: 1) om met naald en gare te werk, of 2) om geslagsgemeenskap te hê. Beide word as werkwoorde gebruik.
Die South African Concise Oxford Dictionary se samestellers het te veel gebloos en het dus besluit om hoegenaamd nie die woord te probeer verduidelik nie.
Gelukkig het ons mos nou deesdae die Kaaps Woriboek. Die samestellers daarvan gee vir ons vier definisies (hulle spel dit nai): 1) om nie saam te stem nie (nee), 2) om seks te hê, 3) iemand wat nie respek verdien nie en 4) om onbeskof te wees.
Van belang is dat die Kaaps Woriboek in definisie drie die woord fucker gebruik as ’n Engelse vertaling van naai – presies soos Pauw dit gebruik het in The president’s keepers.
Arderne se navorsing loop veel dieper. Sý gee 15 verskillende definisies van die selfstandige naamwoord naai. Haar tweede definisie is ook “A fucker”. Onder definisie nommer vyf staan daar een woord: “Men”. Dit is egter haar dertiende definisie wat absoluut alles sê: “Almost the opposite of a poes. A naai takes a poes for a poes.”
Sela. Nou weet ons almal.
Of nie.
As jy nou nog nie jou naaiskap verstaan nie, blameer ek jou nie. Koop dan maar How to stop being a naai en ondergaan verheldering.
Die storie
Hoewel How to stop being naai bewustelik opgestel is soos ’n selfhelpgids, is daar ’n verhaallyn wat elkeen van die nege selfhelpstappe op die leser se pad onderlê.
Lucian, ons verteller, is ’n DJ wat meestal gratis by sy plaaslike kroeg die musiek maak. Sy verhoognaam is DJ Leeg, want die kroegman het opgelet sy glas is altyd leeg.
Lucian is ook die pa van ’n bloedjong kind. Hy bly saam met die ma van sy kind. Sy het ook ’n ouer kind by ’n ander man en het eens drome gehad om ’n mode-ontwerper te wees.
Ons leer haar ken op die punt waar sy moeg is vir Lucian wat alewig harde musiek speel, niks in die huis doen nie en ... wel, sommer net ’n naai is (kies enige van Arderne se 15 definisies vir hom, dit sal pas).
Lucian, wat sy betaalde werk haat (met rede), beland dan boonop in die moeilikheid daar – sy baas is immers ook ’n naai. Dié verlies van vastigheid maak van Lucian nog ’n groter naai as ooit tevore en sy kind se ma sê uiteindelik dat hy en sy nie meer ’n item kan wees nie.
Lees maar self verder.
Hoe kan jy ophou om ’n naai te wees? Lees Lucian se raad.
Teen die einde van die roman probeer Lucian baie hard om nie meer ’n naai te wees nie. Hy help ook die leser deur nege stappe – van selferkenning tot heel aan die einde waar elkeen van ons, ons eie demone in die gesig moet kan kyk en ’n poging kan aanwend om minder van ’n naai te wees.
Stap 1 is erkenning. Lucian stel ’n lieflike voorbeeld:
Step 1: Accept the reality that you are a naai
Sometimes you are the vark innie verhaal. If you’ve done harm to enough people, you probably know you’re a naai.
Maybe it was a once-off. Maybe it’s a pattern. Maybe it’s just in your nature.
My name is Lucian, and I am a naai. I’d like to invite you to take a moment and bathe in your naaiery. Breathe it in. This is who you are. Accept the reality that you are a naai.
The first step is simple: Don’t lie about being kak. Perhaps you’re working at it, perhaps not. The degree of naaiery is not important for the moment. You’re a naai.
Say it out loud or in your head. If you can’t be honest with yourself about something this foundational, you’re fucked and should put this book down.
So begin die boek, met Lucian as die begeleidende naai wat ons almal sal vergesel tot by stap 9 – die punt waar ons kan ophou om ’n naai te wees – of waar ons ten minste kan probeer.
Probeer gerus die nege stappe. Ek het baie by Lucian geleer. Kon ek al ophou? Wel, die boek sê dit neem ’n tydjie; ek moet my dus berus daarin dat ek nog ’n paar keer deur die stappe sal moet werk.
Elke stap op ons reis word ook toegelig deur ’n lied wat Lucian spesiaal vir ons uitgesoek het. Koop die boek om die volledige speellys onder oë te kry.
Taalgebruik
As jy tot hier gelees het, sou enkele kras woorde jou dalk al opgeval het. Lucian praat immers soos hy gebek is.
Vir my is Arderne se vermoë om Kaapse Engels neer te pen ’n enorme deel van haar letterkundige waarde. Soos julle sien, is daar ook baie Afrikaans tussenin die Engels. Ek beskou haar boek dus ook as ’n eretoevoeging tot die Afrikaanse letterkunde, net soos ek ook opgewonde was oor Zubayr Charles se Haram wat Bo-Kaapse Moslemengels vir ons gegee het.
Charles het toe wel ’n verhoogstuk in Moslemafrikaans geskryf. Dit was baie goed om daardie dialoog te hoor in Ek en jy, tot laat toe, wat ook opgevoer is onder ’n ander titel: Brasse, tot laat toe.
Gaan Arderne romans in Afrikaans skryf? Sy het al (goeie) kortverhale in Afrikaans gepubliseer, so sy kán Afrikaans skryf.
Dalk is ek nou net weer ’n naai oor die taal. Sorry. Ek is Izak. Ek is ’n naai.
Ek weet nie wat Mia Arderne volgende gaan doen nie, maar ek weet ek geniet haar aweregse boeke baie. How to stop being a naai is ’n flippen weird boek, maar kaklekker as jy bereid is om sterk taal te lees.
Luister ook:
How to stop being a naai: Mphuthumi Ntabeni interviews Mia Arderne

