Hou op kwel en begin lewe

  • 1

Foto’s: Pixabay

Een van LitNet se fokuspunte is boeke. Boeke is my wêreld en ek word angstig soos ’n moeder wanneer ek gevra word om gunstelinge te kies. Die biblioteek in my kop is propvol en as ek mooi konsentreer, kan ek my hand op die gewenste boek sit, dit uithaal, oopmaak en daaruit lees.

Ek dink skielik terug aan ’n boek wat altyd op die rak was in my ouerhuis. Wel, ek noem dit ’n boek, want dit was min of meer in boekvorm, soos ’n dunnerige slapbandboek: The Reader’s Digest. In die dae voor TV, rekenaars, selfone en die internet het dit gesorg vir ure se vermaak en berge inligting.

Ons was intekenaars. As ’n mens eenmaal ingeteken het, was dit bykans onmoontlik om te kanselleer. Hulle het ook sommer vir jou boeke gestuur wat jy moes koop of terugstuur. Ek weet nie altyd of hul idee van “condensed” boeke so ’n slegte ingewing was nie. Daar is vele telefoongidse van romans wat met vrug deur die redakteur verkort kon gewees het.

Selfs as jy van adres verander, het hulle jou opgespoor. Ek onthou ’n grappie oor ’n “most wanted” misdadiger wat in die afgeleë dorpie waar hy geskuil het, vasgetrek is. Die uitklopreël was: Reader’s Digest will find you anywhere.

Ek onthou die dag toe ons gesinnetjie op die grasperk in ’n sirkel gedans het toe ons in kennis gestel is dat ons ’n karavaan in ’n Reader’s Digest-kompetisie gewen het. Later moes ons ongelukkig sien dit was ’n misverstand, of wanvoorstelling – hul nuusbriewe en kommunikasie was oordadig positief. Ons was wel in die finale ronde, maar moes uiteindelik volstaan met ’n koelsak vol versnaperings. Ek onthou dit soos gister: ’n wit-en-rooi Coca-Cola-koelsak.

Daar was wonderlike rubrieke, soos “Laughter, the best medicine”, “All in a day’s work” “Towards more picturesque speech” en “My most unforgettable character”. In daardie optimistiese dae (die sestigs en vroegsewentigs) was die gevoel goedvoel, ’n warm wollerigheid om die hart. Die tydskrif was dan ook in Pleasantville, New York, gebaseer.

Tot eer van hierdie boekvormige tydskrif wat my as kind geïnspireer het (Argosy was nog een, ’n klein tydskrif vol gruwelverhale, as ek reg onthou) wil ek graag in hierdie rubriek ’n “My mees onvergeetlike karakter”-reeks begin. My pad het dié van soveel frappante karakters gekruis, dikwels toe ek bitter jonk was.

Ek wil vertel van Marisa. Sy was besig met haar meestersgraad toe ek haar ontmoet. Toe het sy al ’n jaar skoolgehou en weer kom studeer. Sy het ’n kurkdroë, selfafmakende humorsin. Haar staaltjies en sêgoed het my binnelandskap gevorm.

Ek was vir die eerste keer ooit uit die huis, sosiaal ongemaklik en wêreldvreemd. Met absolute vermetelheid het ek dit reggekry om goeie vriende te word met Thea, prof TT Cloete se jongste. Op die kampus was sy ’n Nataniëlagtige verskynsel, met fluweelmantels en verstommende garderobe, altyd hoogs dramaties en in aangrypende misterie gehul. Sy is beeldskoon en briljant. Ek sal ’n volgende aflewering aan haar afstaan. Só het ek haar vriendekring, mense soos Marisa, haar broer Jasper en Attie Japp ontmoet. Hulle sal nog almal hier gesig wys.

Marisa. Haar ouers het een van die hotelle in Potchefstroom besit, die Impala. Hulle huis was agter die hotel, met dieselfde luukse binnenshuise versiering, soos houtpanele teen die mure. Eendag betrap Marisa twee studente op haar bed aan ’t vry. Hulle het van die hotelkroeg of -restaurant oorgevloei na wat hulle as ’n leë hotelkamer beskou het.

Marisa is, soos Attie, ’n raconteur. Ons het destyds ure en dae omgekuier en stories vertel. Toe ek ’n student was, was naweekaande meestal afspraakloos, want ek was mansku en verward. Die meeste van my vriende was in elk geval gewoonlik tussen verhoudings. Marisa het gesê toe ander mense begin uitgaan, het sy tuis gebly en Hou op kwel en begin lewe gelees.

Ek het dikwels op ’n Vrydagaand by haar ouerhuis uitgeslaan. Dan sê sy: “Kom ons trek die elefantinas aan.” Die elefantinas was lang brushed nylon-nagrokke in pastelkleure wat haar pa vir haar gekoop het, waarin ’n mens enorm lyk. Was daar al ooit meer verwelkomende woorde? Sy was nie rietskraal nie en het graag met haar gewig gespot, soos om te sê dat sy en haar suster Gerda op iemand se troue eenderse pienk rokke aangehad het en dat hulle “soos die bulle van Basan” gelyk het. Kyk ons ’n video (destyds) van ’n romkom waar die held in die slottoneel die slanke heldin optel en oor sy skouer wegdra, sê sy droog: “Met my luck sal ek sy rug breek en hy die res van sy dae aan ’n rolstoel gekluister wees, impotent.”

Sy kon grootse, dramatiese uitsprake maak, soos oor hulle gastekamer: “Die pienk kamer is die spot van die dorp.”

Wat my ewig sal bybly, is haar staaltjies oor die jaar toe sy in Klerksdorp skoolgehou het.

Daar was ’n onderwyser, Faan, wat redelik ver op die outismegradeboog was. Hy het altyd gesê hy hou skool om sy broertjie wat boer in te stop. Daar was twee onderwyseresse, susters, wat mekaar se grootste aanhangers was. Een suster sou sê: “Hierdie rok lyk nou miskien na niks nie, maar as Elsie dit aan het ...” Daar was ’n ouer onderwyseres wat vir Marisa vertel het van ’n skooldogter wat heelmiddag voor haar huis verbyfiets, op en neer. Dan vertrek Marisa se gesig in ’n plooi van preutse verontwaardiging en die ouer onderwyseres praat deur haar mond: “Toe besef ek, daar moet ’n seun wees ...”

’n Ander kollega het vroeër vir ’n fotostaatmasjienmaatskappy, Gestetner, gewerk. Toe sy deur die Duitse base afgedank word, sê sy leedvermakerig oor haar skouer: “Ek wil net sê, ek het al van Xerox gehoor, maar voor ek hier kom werk het, nog nóóit van GestetNAH nie.”

’n Onderwyser is op haar eerste dag ingelig dat standerd 8C ’n probleemklas was, en dat daar veral een belhamel was wat die ander oprui. Sy is vertel hoe hy lyk en waar hy gewoonlik sit: heel agter in die klas. Toe sy instap, kyk sy hom reg in die oog en sê: “Michael, sal jy vir ons die bord skoonvee?” Sy oë was groot, waarop sy terloops opmerk: “Ja, ek is ’n siener.” Daarna het die probleemklas uit haar hand geëet.

Marisa praat ’n suiwer, beeldryke Afrikaans vol terloopse letterkundige verwysings, effe ironies-hoogdrawend. Sy, Thea en Attie het my rolmodelle geword. Ek het soos hulle begin praat. Sy sou byvoorbeeld sê: “Ek het jou herken as ’n sigeunerin uitgedos in burgerdrag.” Sy sou uitdrukkings soos “uit die aard van die saak”, “nodeloos om te sê”, “desnieteenstaande” “summier” en “signifikant” gebruik sonder om te blik of te bloos.

Sy is ’n uitstekende mimiekkunstenaar met ’n oog vir die kleinste koddigheid in haar medemens. Sy onthou van een van haar dosente dat dié gesê het die metafoor is haar stokperdjie.

Sy het ’n hart vir verskoptes en afvlerkduiwe en sal haar laaste trui weggee. Sy was daarna skoolhoof en het sekerlik vele harte ná myne aangeraak. Sy en Attie is later getroud en laat mekaar vandag nog lag.

Google lig my in dat Reader’s Digest in 1922 begin het, nog bestaan en in 2018 ’n sirkulasiesyfer van 3 025 518 gehad het.

 

  • 1

Kommentaar

  • Johan de Nysschen
    Johan de Nysschen

    Mooi lewendige skryfwerk. Ek glo vandag nog dat meneer van der Walt daai tyd op Tweespruit my condensed book in die studiesaal afgevat het omdat hy self niks gehad het om te lees nie. 'n Week later het hy dit teruggegee en al drie stories sterk aanbeveel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top