Titel: Hospitaal Weltevreden
Skrywer: Riaan Grobler
Uitgewer: LUCA
ISBN: 9781779880604
Dis vir my ’n groot voorreg om met Riaan Grobler te gesels (klik hier om direk na die onderhoud te gaan), veral omdat my eerste lesersindruk vir LitNet oor sy eerste boek, Geheime op Philadelphia, was. Ek het toe al reeds gevra wanneer die volgende boek gaan verskyn en nou is dit sulke tyd.
Riaan Grobler is ’n talentvolle en veelsydige kunstenaar wat mense se lewens verryk met sy musiek en sy skryfwerk. Hy is al van ’n jong ouderdom af ’n Ena Murray-aanhanger en wou, soos Ena, nog altyd ’n hospitaalstorie skryf. Hy het by ’n paar mense (kundiges en pasiënte) gaan kers opsteek en hier is Hospitaal Weltevreden nou, ’n lekkerleesverhaal wat jy nie gaan wil neersit tot dit klaar is nie, en wanneer dit klaar is, gaan jy spyt wees.
Hospitaal Weltevreden het interessante en uiteenlopende karakters wat almal geloofwaardig is. As daar dalk een of twee karakters is wat die leser nie as geloofwaardig beskou nie, is dit slegs omdat hulle nog nie so iemand in hulle eie lewe raakgeloop het nie.
’n Paar van die karakters het stewig nesgeskop in my hart.
Daar is Anna-Mart wat, ten spyte van moeilike omstandighede, tog uitgestyg het. Haar ma, Beatrice, wat alles gedoen het dat Anna-Mart haar drome kon bewaarheid, het my sommer laat verlang na my liewe Mamma – nou ook al 25 jaar nie meer met my nie.
Louise is ’n regte tawwe meisie wat net na die feite voor haar kyk en hard voorkom. Tog kry ek die indruk dat sy diep binne seergekry het. Die sielkundige, Rentia, laat mens wonder: Met wie praat ’n sielkundige wanneer hulle iemand nodig het?
Natuurlik moet elke storie ook ’n held hê. Getrou aan Riaan se vermoë om ’n verrassingselement in te gooi, het hierdie storie sommer twéé helde. Jacques Fourie herinner ons daaraan dat ou liefde soms nié roes nie. Marloux Pienaar is só onbewus van al die hartkloppings wat hy veroorsaak, want hy sien net een meisie raak. Die lewe gebeur egter en daar is geen sukses gewaarborg vir die liefde nie. ’n Mens kan net behaaglik sug en terugsit, terwyl ons wag om te sien presies hóé hulle stories uitspeel en of die liefde gaan seëvier.
Soos met Geheime op Philadelphia, verras Riaan my weer met ’n deurdagte storielyn. Hy skryf nie sommer net om die woordtelling te bereik nie. Daar is ’n rede agter alles, sodat alles op die ou end mooi inskakel by die hoofstorielyn. Hy raak aan verskillende temas: geweld teen vroue en kinders, manipulasie, geloof, moeilike omstandighede as gevolg van siekte, en meer. Die geloofpaadjie word gestap sonder om stroperig te wees.
Daar is wel een storielyn wat ek gedink het anders gaan verloop, maar hy het my heeltemal uitgeboul deur ’n ander roete vir die twee karakters te kies as wat ek verwag het. Verder boul hy my in dieselfde storielyn nog verder uit deur ’n twist daar in te voeg wat ek glad nie sien kom het nie.
Wees verseker – jy gaan net so lekker lees aan Hospitaal Weltevreden as aan Geheime op Philadelphia, indien nie lekkerder nie.
Albei titels is beskikbaar in alle boekwinkels en aanlyn by Graffiti Boeke.
Dis ook onlangs bekend gemaak dat Riaan en Jomarie se album, Moskonfyt, benoem is as die Beste Album 2024 vir die Afrikaanse Treffers Toekenning.
Hou hom dop: Ons gaan nog baie van hom hoor en ek sien alreeds uit na die derde boek!
Riaan, ek sien reeds uit na jou volgende boek. Ek is altyd nuuskierig oor waar en wanneer ’n skrywer skryf. Het jy ’n spesiale skryfplek?
Ek kan nie in die week skryf nie, want ek werk en naweke is dit ook radio. Sondae na kerk is my skryftyd van so elfuur tot vieruur in my gunstelingkoffiewinkel in Pretoria, wat toevallig by ’n boekwinkel is. Ek sit daar en skryf. Ek kan nie in stilte skryf nie. Ek moet skryf tussen mense. Ek hou daarvan om mense dop te hou. Dit kom maar van my dramaopleiding af. Ons word geleer om mense dop te hou. Mens luister nie af nie, maar hoor maar wanneer die mense langs jou praat. Ons kreatiwiteit kom soms uit ander mense se stories.
In Geheime op Philadelphia het jy uit jou eie ervaringsveld getap omdat jou hoofkarakter ’n sanger is. Waar het die idee vir Hospitaal Weltevreden vandaan gekom? En jou navorsing – dis immers ’n veld buite jou verwysingsraamwerk?
Ek het grootgeword met die boeke van Ena Murray. My ma het Ena Murray gelees en dis die boeke waaraan ek blootgestel is. Ek het in Pietersburg grootgeword en ons biblioteek het nie ’n groot verskeidenheid van boeke gehad nie. Ek het maar Ena Murray aanhou lees omdat ek van haar skryfstyl gehou het. Toe ek begin skryf, het ek gedink ons skryfstyl stem ooreen. Sy het geskryf oor hospitale, oor plase en oor mense en eilande. Ek wou baie graag ’n hospitaalstorie skryf.
Ek het letterlik gaan sit en dink oor Hospitaal Weltevreden: Wat gaan gebeur, hoe gaan dit gebeur en hoe moet dit eindig. Ek was ook gelukkig om met mense te gesels om my te help met sekere dinge. Ek bedank hulle agter in my boek.
Jy het nou twee titels onder die LUCA-druknaam – sal jy iets in ’n ander genre oorweeg?
Ek is reeds besig met my derde boek wat al halfpad geskryf is, so 40 000 woorde. Die boek is komies. Ek sien uit daarna om te sien wat die eindproduk gaan wees.
Ek wil nie gestereotipeer word as ’n Christelike skrywer nie – ek het net ’n liefde daarvoor. Dit het per toeval gebeur dat Geheime op Philadelphia ’n inspirerende storie is wat by LUCA gepubliseer is. Hospitaal Weltevreden is doelbewus beplan vir LUCA met ’n Christelike aanslag. Ek wil graag dat mense met my derde boek ’n ander kant van my beleef en ervaar.
Ek sal LUCA en die span, Veronica en Amanda, ewig dankbaar wees dat hulle my daardie eerste en nou tweede geleentheid gee en ek hoop om nog baie boeke vir LUCA te skryf.
Ek het reeds die voorreg gehad om Hospitaal Weltevreden te lees en het elke oomblik van die boek geniet, asook die klompie interessante karakters daarin. Ek het die karakters geloofwaardig gevind en ek is veral baie nuuskierig oor Anna-Mart en haar ma, Beatrice. Hoe het jy op hulle twee besluit?
Ek het begin met Anna-Mart. Ek ken ’n Anna-Mart – sy het net ’n ander naam. Hierdie meisie is verskriklik slim. Sy het soveel potensiaal, ongelukkig kom sy net nie uit haar armoede nie. Sy kry net nie ’n geleentheid nie. Dit was my inspirasie vir Anna-Mart.
Ek het die idee gehad van die meisie wat ek ken van Danville af, wat een van die armste areas in Pretoria is, en Anna-Mart moes uit Danville kom. Ek wou dit gehad het. Ek wou Anna-Mart ’n verskriklike liefdevolle karakter gemaak het. Iemand wat baie slim is en wat haar uit haar armoede kry, wat haar drome nagejaag het en toe ’n dokter geword het. Ek wil hierdeur vir mense wys dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, dit is hoe jy ’n saak aanpak en hoe jy jouself posisioneer om uit ’n situasie te kom. Ek het ook anderkant die spoorlyn grootgeword. Ek het ook in die armste deel van my dorp grootgeword en ek het myself uit daai posisie gekry. Ek het bietjie getap uit my eie ervaring. Ek het ’n baie goeie ondersteuningsnetwerk gehad in my ouers en my sussies en my boetie wat gehelp het om ons daaruit te kry. Nie dat ek sê ons was arm nie, maar ons was ’n doodgewone plain Jane-gesin wat net die nodigste gehad het. Anna-Mart was regtig arm, hulle het ’n moeilike tyd gehad en ek wou vir die leser wys jy kan jouself uit daai situasie kry.
Beatrice, haar ma ... Ek wou nog altyd oor ’n sout-van-die-aarde-karakter skryf. ’n Rowwe diamant waarvoor jy ontsettend lief gaan raak. En ek dink dit is wie Beatrice is. Beatrice is verskriklik reguit. Sy het haar kinders vertel hoe moeilik dit was, hoe moeilik sy hulle grootgemaak het, maar sy is die rede dat Anna-Mart uit haar situasie gekom het. Alhoewel Anna-Mart nie graag sou wou hê haar ma moet onverwags by die hospitaal opdaag nie, is sy baie lief vir haar. Sy besef as dit nie vir haar ma was nie, sou sy nie gewees het waar sy vandag is nie. Ek wou ’n karakter skep wat plat op die aarde en ongeskik reguit is, vir wie jy lief kan word, maar wat ’n moederlike hart het en dis presies wié Beatrice is.