Hoërskoolleerders: Lees hoe jy nou al 'n skrywer kan word!

  • 0

DF Malan Hoërskool se leerders vaar opmerklik goed in skryfkompetisies – soos ook vanjaar in die skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging).

Maar alle mense op aarde is tog nie talentvolle skrywers nie. Naomi Meyer het by Gert Visser, onderhoof en Afrikaansonderwyser van DF Malan, sy geheime gaan uitvind.

Hallo Gert, vertel asseblief vir my wie jy is. Wat is jou agtergrond en hoekom het jy 'n onderwyser geword?

Ek is die adjunkhoof en hoof van Afrikaans hier by DF Malan. Ek het ‘n briljante Afrikaansonderwyser gehad en sy voorbeeld het my laat besluit om ook Afrikaansonderwyser te word. Ek hou van die interaksie met kinders, want behalwe dat hulle jou help om jonk te bly, daag hulle jou elke dag uit om van nuuts af oor die lewe te besin.

Ek laai die uitslae van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se skryfkompetisie vanjaar en neem kennis van DF Malan se prestasies. Waarom laat jy jou leerders aan die kompetisie deelneem?

Elke kind moet homself kan meet om sy posisie teenoor sy eweknieë te bepaal. Hy moet ook nasionaal deelneem, want die skoolvisdammetjie is te klein vir werklik groot kompetisie. Die kinders moet ook leer dat hulle moet deelneem om te kan wen.

Wat is die belang van skryfkompetisies soos dié vir leerders?

Die kompetisie is baie belangrik vir die bevordering van Afrikaans in die algemeen. Tweedens leer die kinders dat hulle wel kan presteer as hulle net probeer. Dit moedig leerders aan om kreatief met die taal om te gaan. Dit kan uiteindelik daartoe lei dat hulle meer lees en meer bereid is om te skryf.

Almal is nie gebore skrywers nie. Hoe ontsluit jy jou leerders se potensiaal, dié van hulle wat dalk eerder op ander gebiede as skryf sou presteer?

Positiewe motivering is die kern van die sukses. En natuurlik: sukses lei tot sukses. Omdat ons leerders sien dat hulle maats wen, probeer hulle ook hul bes. En dan het DF Malan Afrikaansonderwysers wat baie hard werk en werklik die kinders tot hoër hoogtes motiveer.

Wenners van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se "Skrywers 2014"

SKOLE-AFDELING (A):

JUNIOR AFDELING (graad 8 en 9)

1ste (R1200) en trofee: Christi Barkema, graad 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.
2de (R700):                   Dominic Roux, graad 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.
3de (R400):                   Marize Meyer, graad 9, Oranje Meisieskool, Bloemfontein.
Eervol vermeld:             Izel van Zyl, graad 9, Oranje Meisieskool, Bloemfontein.

SENIOR AFDELING (graad 10 – 12)

1ste (R1 400) en trofee:  Carli Blignaut, graad 12, Hoërskool DF Malan, Bellville.
2de (R800):                    Zanré van Staden, graad 11, Hoërskool DF Malan, Bellville.
3de (R500):                    Simònn Meyer graad 11, Hoërskool DF Malan, Bellville.
Eervol vermeld:             Anneke Tucker, graad 10, Hoërskool DF Malan, Bellville.

ALGEHELE SKOLE-PROSAWENNER:

Carli Blignaut, graad 12, Hoërskool DF Malan, Bellville.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top