Hoort daar ’n sunset clause op apartheidskuld te wees?

  • 2

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries); sonsondergang (foto-erkenning: https://pixabay.com/photos/ocean-sea-waves-dawn-dusk-1867285/)

...........
Wanneer is genoeg genoeg? vra ’n gereelde leser my in ’n brief. Wanneer het sy nou genoeg betaal aan die apartheidskuld van haar voorvaders?
.............

Wanneer is genoeg genoeg? vra ’n gereelde leser my in ’n brief. Wanneer het sy nou genoeg betaal aan die apartheidskuld van haar voorvaders?

Ek kry gereeld variasies van hierdie vraag, in verskillende vorme van beskuldiging (teenoor my) en verontskuldiging (van die briefskrywers). By hierdie persoon se skrywe moes ek stilstaan. Die pyn, die ontsteltenis en die opregte probeer verstaan spreek tot my.

Die feit dat die briefskrywer my vertrou om saam met haar te probeer sin maak van iets wat ons tog albei raak, maak my verklempt en laat my wonder of haar vertroue nie dalk heeltemal misplaas is nie.

..........
Ek dink nie sy gaan van my antwoord hou nie.
............

Ek dink nie sy gaan van my antwoord hou nie.

Wanneer is genoeg genoeg? Hoekom is sommige nou nog kwaad oor vergrype van die Anglo-Boereoorlog wat gebeur het voor hulle geboorte, maar hulle verwag mense wat die vergrype van apartheid aan eie bas gevoel het, moet gereed wees om te vergewe en aan te beweeg?

...........
Wanneer is genoeg genoeg? Hoekom is sommige nou nog kwaad oor vergrype van die Anglo-Boereoorlog wat gebeur het voor hulle geboorte, maar hulle verwag mense wat die vergrype van apartheid aan eie bas gevoel het, moet gereed wees om te vergewe en aan te beweeg?
...........

Dis ’n vraag waarmee ek nog die heeltyd sukkel. Empatie is baie keer maar skraps wanneer ons van iets beskuldig word. Maar wanneer ons iemand anders  beskuldig, dan moet ons toegelaat word om so lank as wat ons wil te kan griewe dra.

Aan die ander kant: Is die persoon wat net bevoordeel was deur ’n vergryp, ewe skuldig as die persoon wat die vergryp gepleeg het? Of is daar ’n glyskaal van skuld? Is die agtienjarige wat opgeroep word tot diensplig en gaan aanmeld, ewe aandadig as die generaals en politici wat in die eerste plek die besluit geneem het om oorlog te voer op landsburgers in ’n poging om die politieke oorhand te behou?

Die vraag wat ek my baie maal afvra: Kan ons as land vorentoe beweeg sonder dat daar een of ander vorm van nasionale skuldvereffening is? Soveel dinge word onder die mat gevee in ’n poging om ons reënboognasie mooier te laat vertoon. Elke tweede advertensie op televisie wys hoedat verskillende rasse in harmonie saamlewe.

Natuurlik gebeur dit wel so. Daar is groepe mense wat saam braai en vriende is en saamlewe.

Daar is egter ook ’n ander, donkerder kant. Ons lees van swart werkers wat doodgeslaan word, of met trekkers gesleep word, of kinders wat vermoor word omdat hulle ’n sonneblom gesteel het. Te veel lees ons nog van mense wat reken swart lewens is minder werd. Te veel hoor ons nog van mense wat reken hulle kan die reg maar in eie hande neem wanneer hulle met ’n swart persoon te doen het.

Wanneer is genoeg genoeg?

Ek glo die briefskrywer wanneer sy sê sy het haar volwasse lewe daaraan gewy om te probeer vergoed vir die vergrype wat selfs binne haar familie plaasgevind het. Sy probeer nie skoonpraat nie, sy probeer nie haar of haar familie verontskuldig nie. Sy probeer verstaan hoekom dit nog steeds na ’n kwarteeu voel asof sy aanhou betaal met geen einde in sig nie.

Sy sê dit nie direk nie, maar tussen die reëls lees ek: Hoekom moet sy aanhou betaal as ander net skouers optrek, bewerings van skuld soos water van ’n eend se rug rol en hulle ryker en ryker word.

Wanneer is genoeg genoeg? Behoort daar, soos met sommige stukke wetgewing, ’n sunset clause te wees waarna dit nie meer nodig is om skuldig te voel oor die vergrype van die vaders en moeders nie?

Dis nie regtig so eenvoudig nie. Apartheid het nie begin met Verwoerd nie, hy het net ’n sisteem wat lank reeds aan die gang was, gekodifiseer.

............
Wanneer is genoeg genoeg? Behoort daar, soos met sommige stukke wetgewing, ’n sunset clause te wees waarna dit nie meer nodig is om skuldig te voel oor die vergrype van die vaders en moeders nie?
Dis nie regtig so eenvoudig nie. Apartheid het nie begin met Verwoerd nie, hy het net ’n sisteem wat lank reeds aan die gang was, gekodifiseer.
...............

Die vraag is nie regtig wanneer het ’n wit persoon genoeg betaal nie. Daai vraag impliseer immers dat die probleem, en daar is ’n probleem, opgelos kan word deur geld. AfriForum doen dit deur ’n bruin struktuur te stig en geld daarnatoe te gooi. Sommige ander doen dit deur beurse te stig, of skoolgelde te betaal, of skoolklere te koop. Dit als help, maar laat dit geregtigheid geskied?

Dit het eerder tyd geword dat ons die feit in die gesig staar dat die probleem nie net ekonomies is nie. Dis ook maatskaplik. Dit vra dat ons hele sosiale orde reboot moet word. Dit vra dat ons moet erken ons sit nie met ’n swart probleem of ’n wit probleem nie. Ons sit met ’n nasionale probleem, een wat net opgelos kan word as ons almal skouer aan die wiel sit.

............
Dit vra dat ons hele sosiale orde reboot moet word. Dit vra dat ons moet erken ons sit nie met ’n swart probleem of ’n wit probleem nie. Ons sit met ’n nasionale probleem, een wat net opgelos kan word as ons almal skouer aan die wiel sit.
................

Te veel mense reken dat noudat daar ’n swart regering aan bewind is, hoef hulle niks meer te doen nie. Die regering moet nou vir “hulle” eie mense sorg. As daar fout kom, is dit die swart regering se skuld, en wit mense kan soos Pilatus hul hande in onskuld was.

Politici, so word ons vertel, het ons in hierdie gemors gedompel. Nou moet ons glo politici gaan ons daar uitkry?

Aikôna.

Wanneer is genoeg genoeg?

Hoe lank is ’n stukkie tou? lui die bekende sêding.

Wanneer ons mense, almal in hierdie land, regtig gelyk is. Wanneer almal dieselfde lewenstandaard kan handhaaf. Wanneer niemand meer onder ’n brug of op ’n stoep hoef slaapplek te maak nie. Wanneer niemand meer bakhand hoef te staan vir ’n stukkie brood, of ’n werk nie.

..............
Wanneer mense mekaar as mense sien, en nie as wit of swart of bruin nie. Wanneer mense mekaar se menswaardigheid kan erken. Wanneer mense mekaar se verskille kan omarm en nie gebruik as redes om te oordeel nie. Wanneer ons al die gemors wat onder die metaforiese mat ingevee is, kan uitskud en nuut kan begin.
..............

Wanneer mense mekaar as mense sien, en nie as wit of swart of bruin nie. Wanneer mense mekaar se menswaardigheid kan erken. Wanneer mense mekaar se verskille kan omarm en nie gebruik as redes om te oordeel nie. Wanneer ons al die gemors wat onder die metaforiese mat ingevee is, kan uitskud en nuut kan begin.

Wanneer ons reënboognasie nie hoef staat te maak op TV-advertensies om te wys hoe goed ons oor die weg kom nie omdat dit die standaard eerder as die uitsondering is.

Dis die enigste sunset clause wat geregtigheid bring.

Dan is genoeg genoeg.

 

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Jy verwys skynbaar na die Coligny-hofsaak. Die twee mans wat in die saak beskuldig was, is deur die hof vrygespreek, sover ek weet. Dit is nie waar dat hulle moord gepleeg het nie. Mens kan seker redeneer oor of hulle reg of verkeerd opgetree het, maar sover ek weet die hof het bevind dat hulle nie moordenaars is nie. Help my reg as ek verkeerd is.
    Ek stem egter saam met baie van wat jy sê. Daar is nie maklike en kitsoplossings waar dit oor mense se emosies gaan nie. Die hele vraagstuk is ook gekoppel aan ons identiteit as ’n nasiestaat. Een van die probleme met die 1994-oorgang was dat die politici nie geboet het nie. Nie een politikus het pa gestaan nie. De Klerk en al die ander politici het grootliks hulle hande in onskuld gewas. Die enigste mense wat tronk toe is, was amptenare wat die poltici se opdragte uitgevoer het.
    Die mense wat begeer om ’n nuwe blaadjie om te slaan, moet maar oorweeg om te emigreer.
    ’n Ander tersaaklike probleem in ons land en van ons tyd, is materialisme en gierigheid. Dit is glad nie net ’n Suid-Afrikaanse probleem nie. Ons is as spesie so ’n gierige klomp dat ons nooit bevredig kan word nie. Pal is die mens besig om oor die muur te loer en die bure se goed te begeer. So sit ons mos met kommuniste wat die duurste blink motors ry. Dit is ook hoekom ons staatskaping het. Want mense kan eenvoudig nie bevredig word nie.
    Ons leef gevolglik in ’n wereld waar ryk mense se lewens belangriker is. En blankes is oor die algemeen beter daaraan toe. Ek hou van die punt wat jy maak oor die Boereoorlog. Dit is iets wat ek al voorheen gehoor het, en dit is so waar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top