Hoop is ’n kers wat bly brand

  • 0

Foto: Canva

Hoop is ’n kers wat bly brand

Dit is nog somer, al is daar die venyn van ’n komende winter te bespeur in die asem van die wind wat dreig om hulle binne toe te waai. Hulle bly buite in stilte sit, hou die taai druppels wyntrane dop wat aan die lood van die wynglase kleef.

Haar selfoon lui. Op die skerm verskyn hulle seun se naam en “Frankryk”. Hulle kyk vir mekaar, wel wetend dat maande van onrus en onsekerheid eindig as sy antwoord. Haar hand is egter ’n lafaard; dit lui lank voordat sy gelate antwoord.

“Is Pa by Ma?” Sy ken dáárdie stem: Hy is skielik weer sestien en bel haar nadat hy met sy motorfiets reg van voor teen ’n motor vasgery het. Net soos jare gelede hoor sy hoe hy sy eie skok probeer beteuel – ter wille van haar. Sy haal nie asem nie. Soos blokkies ys val sy woorde in skerwe op die leiklipstene. Hy verbrokkel wanneer hy die finaliteit van die diagnose met hulle deel – dié diagnose wat alles verklaar en alles onklaar maak.

Sy klem haar man se pols in ’n ystergreep vas, dwing hom om sy snik te beheer voordat dit hoorbaar ontsnap. Met woorde sirkel sy al om haar seun; trek laer om hom met die enigste troos wat sy het: “Ons kom. Ons bly so lank as wat julle ons nodig het. Ek reël môre die vlugte. Ons sal daar wees vóór hulle opereer.”

Minute later hamer sy met gebalde vuiste op die graniettoonbank in die kombuis. Buite huil haar man hard. Sy kan haarself net nie sover kry om na hom toe te gaan nie, al weet sy dis wat hy nodig het, wat sy veronderstel is om te doen. Sy swik onder die gewig van hierdie verwagting – vanaand kan sy hulle nie al twee dra nie. In haar longe brand die witwarm vlam van onmag en verkool haar keel toe sy uiteindelik dierlik brul en die wynglas teen die muur slinger.

Haar man het die harde slag gehoor, kom aangehardloop. Die glasstukke girts-garts onder haar skoene toe sy ’n besem, skoppie en lap gaan haal. Hy kyk na haar asof sy ’n vreemdeling is wat skerwe in hulle kombuis bymekaar vee.

Daar is geen teken van ’n komende lente in Lyon nie Dis snerpend koud en bewolk. Sy stap oor die plein na die Cathédrale Saint-Jean-Baptiste. Sy móét, want sy kan nie meer die marteling van ure tussen die vier mure van hulle huurwoonstel verduur nie.

“Gaan steek vir hom ’n kersie op, my Sannie,” het haar vriendin op WhatsApp voorgestel. “Sit hom by een van die saints waar daar nie baie kerse is nie. Een waar die saint sy energy op hom kan focus.” Sy het onwillekeurig geglimlag. Onder die boodskap was ’n foto van ’n kers op die rak bokant die kaggel in haar vriendin se huis in San Francisco. Dit staan tussen ’n Boeddha-beeld en die Heilige Maagd van Guadalupe. Sy het dit aangesteek vir háár en haar kleinseun. Dit kan nie skade doen nie, het sy besluit. Dis beter om iéts te doen as om net te wag.

Die kersie kos twee euro. Die kerspit vlam, flikker en brand dan stil. Sy kyk op haar horlosie. Hulle opereer al ongeveer sewe uur lank op haar kleinseun. Sy gaan sit op ’n harde houtbankie, kyk elke vyf minute na haar foon. Dit bly stom. ’n Halfuur later stap sy uit. Toe vibreer die foon in haar hand.

Terwyl die trein deur Lyon kronkel, klou sy aan die staalpaal om staande te bly. Daar is nie plek om te sit nie. Hulle klim by die regte stasie af, vind die bus wat naby die hospitaal stilhou. Hulle loop haastig teen die wind in, probeer onderdak kom voor die reën uitsak.

Hy lê op sy sy. Sy lyfie lyk verlore op die groot hospitaalbed tussen die steriele wit hospitaallinne. Die sny wat op sy rug gemaak is om sowat 70% van die gewas te verwyder, is toegeplak. Die pleister bedek die grootste deel van sy ruggie en strek van net bokant sy skouers tot in die middel van sy rug. Hy is onder verdowing – morfien. Elke nou en dan fladder sy ogies verwilderd oop.

Die volgende dag is die verdowing ligter. Hy hou die bottel waaruit die vloeistof in sy aar indrup, stip dop. “Fini, Mama?” vra hy hoopvol, maar die bottel is nog nie heeltemal leeg nie. “Fini, Mama!” dring hy aan. “Fini, fini,” hoor hulle hom kerm, al die pad in die lang gang af, tot by die hyser.

Hoe, wonder sy, hoe gaan ons elke drie maande die foltering van opvolgondersoeke deurleef? Hoe gaan daardie klein lyfie nóg ’n operasie verduur as die gewas weer groei? Hoe? Dit sit soos ’n dolk in haar hart wat sy nie kan uittrek nie. Haar selfoon vibreer. Sy maak die boodskap oop. Sy kyk na die tekening van ’n kleuter wat met sy hande na bo reik.

“Sometimes you just know there is a God,” lees die boodskap daarby. Die lem draai skuins in haar; sy proe bloed en gal in haar mond. Die hyser se deure gaan oop op die grondvloer. Sy volg haar man soos ’n blinde na buite.

In die ingangsportaal sit drie musikante en speel hulle instrumente met duidelike meesterlike beheer. Die onmiskenbare melodie van Debussy se “Clair de Lune” vloei deur haar. Sy haal diep asem: in en uit. Die skuifdeure gaan oop. Haar gehandskoende hand reik na haar man. Hy klem dit styf vas in sy groot hand. Saam trotseer hulle die ysreën wat buite val ...

***

’n Jaar later is hulle in La Ciotat. Sy klein handjie lê warm in hare. Hy het begin woelig raak waar hulle by die hawe gesit en eet het. Sy het aangebied om hom vir ’n rukkie besig te hou sodat ma en pa hulle kos kan klaar eet en ’n glasie wyn kan drink.

Sy laat hom kies waarheen hy wil gaan. Hy trek haar aan die hand in die rigting van die katedraal waar hulle vroeër verbygestap het toe hulle na die restaurant op pad was. Hulle klim die vele kliptrappies versigtig, sy met haar amper ouvroubene, hy met sy kleinseuntjiebeentjies. Hulle loop onder die koepel deur waar die massiewe houtdeure na weerskante oopswaai.

Binne gee ’n vrou vir haar kleinseun ’n kersie. Sy vroetel in haar handsak vir kleingeld. Die vrou beduie sy wil nie betaling hê nie. Sy sê iets in Frans wat sy met haar Duolingo-woordeskat half en half verstaan. “Merci,” bedank sy haar. “Merci Madame,” papegaai hy, en boots haar fluisterstem eerbiedig na. Sy laat hom kies waar hy die kersie wil neersit. Hy sit dit neer by die voete van die beeld van ’n vroulike heilige. Toe sy dit aansteek by die enigste ander kersie wat daar brand, bestudeer hy die vlammetjie met intense konsentrasie.

“Fini, Ouma?” vra hy na ’n ruk en trek effens aan haar hand. Sy kyk vir ’n oomblik na die kersie wat helder in die skemer van die katedraal flikker. “Fini,” beaam sy, want gelukkig weet sy nog nie van die oproep wat twee maande later gaan kom nie, die oproep wat haar verslae sal laat staan met die selfoon in haar hand nie.

Op hierdie dag is hoop nog ’n kers wat bly brand, is daar die genade dat sy saam met hom na buite kan loop en onder die milddadige Mediterreense son kan staan.

“Fini” – oor, verby, klaar, voltooi
“Merci” – dankie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top