Hongkong se gees trek saam

  • 3

“You are safe in Hong Kong now. After the amendment to the Fugitive Ordinance Bill is passed, you are no longer safe!” So sê die advokaat en voormalige wetgewende raadslid Margaret Ng Ngoi-yee. 

Dis Sondag 16 Junie. Vir die meeste werkende mense in Hongkong is Sondag hulle enigste rusdag. Ons gesin, met man en kinders, is in Wanchai, in die hart van Hongkong, om ’n familie-joga-werkswinkel by te woon. Ons is gewoond aan ’n besige Hongkong, maar vandag, op Vadersdag, is dit anders. Ons staan op die brug wat die Hongkong Internasionale Konferensiesentrum met die Wanchai-Immigrasietoring verbind en sien die mense in hul menigtes vanuit Wanchai-moltreinstasie die strate toesak. Almal gemoedelik met swart T-hemde en stapskoene. Mense wat hulle kosbare rusdag opoffer om in die bloedige, bedompige hitte te loop vir ’n veilige Hongkong. Teenwoordigheid, samehorigheid, solidariteit, samesyn vir vrees om veiligheid: “Skrap hierdie wetsontwerp,” is die boodskap aan die Hongkongse premier, Carrie Lam.

Protes is nie nuut in Hongkong nie. Wat wel nuut is, is dat die polisie ingryp met traangas en rubberkoeëls en dat daar beelde van onluste en onveiligheid versprei word. Die gees van dringendheid is duidelik in die aantal mense wat loop. Die vasbeslotenheid ter wille van geregtigheid en veiligheid is duidelik sigbaar. As die nuwe wet aanvaar word, verduidelik Ng Ngoi-yee, kan enigiemand wat in Hongkong woon, besoek, besigheid doen of op ’n aansluitingsvlug wag, aan die Chinese vasteland uitgelewer word.

Hoe sal dit Hongkong se reputasie as ’n veilige en belastingvoordelige finansiële wêreldstad beïnvloed? “It is in the interest of the US that Hong Kong continue to be prosperous and stable,”, verklaar China se adjunkminister van buitelandse sake (South China Morning Post (SCMP)) 14-06-2019). Die hoop op druk van die internasionale gemeenskap loop hoog. Twee miljoen mense gaan na die strate: “Do you hear the people sing?” lees ek op een van die plakkate.

“I have heard you loud and clear, and have reflected deeply on all that has transpired,” antwoord die Hongkong-premier, Carrie Lam. Sy vra om verskoning vir die angs en onenigheid wat ontstaan het as gevolg van haar veldtog om die uitleweringsbeleid via die wet aan te pas (SCMP 19-06-2019). Sy stel die voorstel uit, maar daar is geen sprake van afstel nie.

Volgens Liu Xiaoming, die Chinese ambassadeur in Brittanje, het Beijing geen opdrag aan Hongkong gegee vir die wetsaanpassingsvoorstel soos wat hy meen in die media uitgebeeld is nie (SCMP 13-06 2019). Die dringendheid in die stem van Ng maan Hongkong tot aksie: die beeld van ’n “hand in Mainland” wat die reg sal hê om na vrye wil mense uit Hongkong te “gryp” en tot uitlewering te maan, sonder die versekering van ’n regverdige verhoor, boesem vrees in. En hierdie toenemende gees van onrus in Hongkong loop parallel met die naderende 2047: die jaar wanneer Hongkong en China volgens besluit volledig sal integreer.

’n Onderwyser in ’n plaaslike skool wat ek op die bus ontmoet, vertel my dat protes nie soveel sin het nie. Haar broer is ’n polisieman en sy sien die ander kant. Dit raak steeds meer gevaarlik, volgens haar, om ’n polisieman te wees te midde van protes, en langer ure word steeds van die polisie verwag. Volgens haar word die polisie ook onnodig aan gevaar blootgestel – want, reken sy, wat is die nut van die protes as Hongkong tog uiteindelik gaan integreer met China?

Die vertroue in die polisie se menslike gedrag teenoor proteslede word egter tans meer bevraagteken. Proteslede word in die hospitaal gearresteer terwyl hulle onder behandeling is (SCMP 24-06). Die Hong Kong Academy of Performing Arts naby die regeringsgeboue moes die beplande musiekblyspel Titanic vir die naweek van die protes kanselleer. Selfs hier het die polisie ingegaan om jong protesteerders in hegtenis te neem. Ek weet van vriende en hulle kinders wat uit die gebou uit moes hardloop om nie deur die polisie getakel word nie. Jong protesteerders is kwaad dat die polisie die protes op 12 Junie onregverdig as ’n “riot” beskryf en eis dat die aanklag teen die protesteerders op hierdie dag teruggetrek word.

Ons sewejarige seun vra my hoekom daar meer as 20 polisiekarre in die straat naby die protes staan. Is dit veilig? My “ja”-antwoord is gebaseer op hierdie beeld van die gemoedelikheid direk buite die taxivenster soos ons verbyry.

Ons sien massas protesteerders in vrede op die sypaadjies waarskynlik huiswaarts loop. Ons glimlag vir hulle. Hulle waai en ons klap vir hulle hande vanuit die taxi.

My tweede “ja”-antwoord is gevoed deur ’n eerstehandse ervaring van Hongkong-polisie se logistieke effektiwiteit na afloop van ’n 20 000-man sterk internasionale buitelug-popkonsert, waar almal gelyk huiswaarts wou keer. Wat my meer beïndruk het as die polisie, was die mense se geduld, rustigheid en gemoedelikheid in die middel van ’n see van mense. Dit is prysenswaardig. In die middel van die massas mense het ek geleer: Ontspan en vertrou op die stroom se spoed. Almal het dieselfde doel: om veilig tuis te kom.

Hongkongers praat Kantonnees en identifiseer met Kantonnees-wees as ruimdenkend en vry te midde van die “een land, twee sisteme”-beleid. Die geliefde komplekse taal met sy nege stemtone word nie aktief aangemoedig in internasionale skole of skole waar Engels die belangrikste voertaal is nie. Mandaryns is makliker om aan te leer, met sy slegs vier stemtone, en is die toekoms. In Hongkong oefen my seun Mandaryns op skool en nie op straat nie, want op straat hoor mens meestal Kantonnees en dit is volstrek ’n ander taal. Ekspats kom in Hongkong oor die algemeen meestal reg met Engels. Die oorwegende konsensus van ekspats met wie ek praat, waardeer Hongkong vir wat dit bied en sal verkies om die land te verlaat eers wanneer hulle regtig moet, of sal vir seker vertrek voordat China in 2047 oorneem. Die gevoel dat menseregte en vryheid van spraak wel steeds meer in gedrang sal kom met verloop van tyd blyk in my gesprekke met bekommerde Hongkong-kollegas.

Op hierdie Sondag in Wanchai kom ons steun as gesin van binne. Saam neem ons deel aan die Asia Yoga Conference se familiejoga saam met 60 ander sorgelose jong kinders en sorgsame ouers van regoor Hongkong. Ons rol, klim en lag op Vadersdag en word stil en rustig na afloop van die werkswinkel. Ons voel herenig as ’n groter Hongkong-familie, en sien die son sak oor Hongkong se indrukwekkende wolkekrabbers. Ons stuur gebede van liefde vir Hongkong en die mense wat doer onder mars vir vrede en veiligheid: Mag veiligheid in die menigte heers, mag die leiers wysheid ontvang, mag mense oor die wêreld die mag van samesyn omarm en mekaar in gees en hart koester.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Pieter Conradie

    Lewendige en aktuele verslag! Verstommende detail, feite en aanhalings, harde navorsing!
    Mag verstandige insigte bo uitkom vir Hongkong en sy mense.

  • Avatar
    Maaike van Dijk

    Loved to read this article and my thoughts are with the people of Hong Kong and hope their voices will be heard.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top