Hel, president Zuma, ek het die nuwe jaar met pure “slegte” hond se gedagtes binnegehardloop en dit is alles u skuld.
Hoe kan u so maak en boonop nog my nuwe jaar se planne lelik deurmekaar krap? My maag is skoon ordeloos. Nee, dit is glad nie van die lekker Krismis-kos nie, dit is as gevolg van u “gevleuelde woorde”.
Kyk, ek is nie geheg aan nuwejaar-voornemens nie. Dit laat my gril, want die mens hou nie altyd by die self-opgelegde-lysie-van-dinge-doen nie. As hulle die helfte van dié “selfbeloftes” nakom, dan is dit ’n uitsonderlike prestasie. Aan Madiba kan uitsonderlike prestasies amper alleenlik toegedig word. In dié land is dit, soos die renoster, ’n bedreigde spesie.
Ek het nog nooit ’n lysie van nuwejaar-voornemens gehad nie. Net “goeie” hond se gedagtes gehad. Ek het met honde grootgeword, maar nog nooit my eie besit nie. Dit was altyd “ons se hond of honde”, nooit “my (eie) hond of honde” nie. So het ek dus beplan om in 2013 my “eie hond” te koop.
Nou het u my planne geholderstebolder.
U uitlatings dat diegene wat hul honde liewer het as mense, aan ’n “gebrek aan menslikheid” ly, sit nie so lekker by my nie. In watter konteks het u dit gesê? Of is u buite konteks aangehaal – die gewone en vervelige verdedigingsmeganisme deur politici as hulle iets gesê het waaroor hulle nie gedink het nie? Iets waaroor hulle spyt is, maar nie mans genoeg is om voor verskoning aan te bied nie. Nou word “buite konteks” pimpel en pers verkrag. Dis dié dat dié woorde geen geloofwaardigheid meer oor het nie.
Het u miskien van u voorbereide toespraak afgewyk, of het die toespraakskrywer die “gevleuelde woorde” laat inglip in die toespraak wat eintlik bedoel was vir die jaarlikse herdenking van die inhuldiging van inkosi Sibongiseni Zuma?
U drink mos nie, sodat drank nie geblameer kan word nie. U het ook nie gesing nie, want dan het u lofliedere in plaas van kritiek uitgelok. Dus, hoe dan nou?
U woordvoerder het wel vergeefs skadebeheer probeer toepas deur te sê u het verwys na die bekende Suid-Afrikaanse “apartheidsbeeld” waar “mense saam met hul honde in voertuie sit, terwyl werkers agterop ’n oop bakkie moet sit, dikwels in die reën en koue”.
Ek glo u wou iets sinvols sê, maar u het die “gevleuelde woorde” met die “apartheidsbeeld” op ’n ongenuanseerde manier onsuksesvol verweef. U as president moet uitpraat teen dié “apartheidsbeeld”, maar skep of wag vir ’n genuanseerde konteks. In hierdie geval was u poging meer twistend as veelseggend.
Die goeie gevolg van u “gevleuelde woorde” is dat baie mense oor etniese en kleurgrense heen hul liefde en waardering vir hul honde uitgespreek het. Ek het nou weer “goeie” hond se gedagtes.
Lees ook Henry Cloete se ope blaf aan president Jacob Zuma.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

