Hommeltuie in die Vrystaat? Vyf vrae aan Christo Bisschoff

  • 0

............ 

“Die enigste oplossing is dat Afrika, veral suid van die Sahara, sy voedselproduksie dramaties sal moet verhoog. Die genade is wel dat 60% van die wêreld se onbewerkte vrugbare landbougrond in Afrika geleë is, so ons het wel die grond. Dit moet nou net ontwikkel en bewerk word.”

............ 

Christo, geluk met jou LitNet Akademies-artikel “’n Ondersoek na die hindernisse om presisieboerdery in die Oos-Vrystaat te implementeer”. Wat presies is presisieboerdery?

Presisieboerdery word informeel reeds jare deur boere toegepas. Histories het boere sekere landerye op hul plase as “goeie” of “swakker” landerye geklassifiseer en daarvolgens beplant en bemes. Sodoende is daar dus gedifferensieerde opbrengste verkry (waarvoor beplan is) op verskillende landerye.

Die probleem hiermee is egter dat die groter landery hiervolgens steeds as ’n “goeie” eenheid bestuur is, terwyl daar binne die landery ’n verdere verskil in grondpotensiaal voorkom en dat die kleiner lappies uitstekende, goeie of selfs swakker grond steeds dieselfde beplant en bemes word.

Presisieboerdery spruit voort uit die gebruik van akkurate tegnologie wat elke kleiner lappie grond in ’n landery kan karteer en posisioneel vaslê deur middel van ’n geografieseposisioneringstelsel. Tegnologie op trekkers en implemente het toegang tot hierdie grondposisioneringsdata en varieer outomaties die toedienings van saad, bemestingstowwe en ander produksiemiddele op die landery na gelang van die grondpotensiaal. Sodoende word landboutegnologie gebruik om kostes te bespaar en die opbrengste te maksimeer na gelang van grondpotensiaal.

Hoe sou jy jou bevindinge aan Jan Alleman verduidelik? 

Nie al die boere is positief oor presisieboerdery nie. Die algemene persepsie wat in die mark heers, is dat die toerusting te duur is vir die boere om daarin te belê. Hierdie persepsie is nie ongegrond nie; die toerusting is duur, maar die verskil in wins op die plaas regverdig egter die kapitale belegging. Presisieboerdery is ’n langtermynstelsel, en onmiddellike resultate is nie altyd noemenswaardig in die eerste jaar of twee van implementering nie. Boere begin gewoonlik ná drie jaar goeie winste behaal. Dit is dus ’n langtermynboerderystelsel wat ingestel moet word. Gevolglik moet die kapitale belegging oor ’n langer termyn (5 tot 10 jaar) gefinansier word om dit bekostigbaar te maak. 

’n Verdere bevinding is dat die ingewikkelde tegnologie nie maklik verstaan word of so maklik korrek ingestel kan word nie. Verskaffers van presisieboerderytegnologie en ook landboumaatskappye (die destydse landboukoöperasies) het veral op dié gebied boeredienste verbeter deur adviseurs aan te stel wat boere kan help om hul tegnologie optimaal te gebruik. Hoofsaaklik kapitale belegging is egter steeds ’n struikelblok in die implementering van presisieboerdery op plase.

Jy meld dat Suid-Afrika teen 2040 moontlik twee derdes van sy basiese voedselvoorrade gaan invoer. Vertel ons asseblief meer oor hierdie vooruitskouing. 

Die bevolking van Suider-Afrika (en ook Afrika) groei tans teen ’n baie hoër koers as die produksie van basiese voedselsoorte. Daar word verwag dat die hongersnood wat reeds in die streek heers, gaan verdubbel en dat teen 2040 daar reeds meer as 200 miljoen mense onder hongersnood gebuk gaan staan. Tans produseer die wêreld genoeg voedsel en kan van die oorskotte na Afrika uitgevoer word, maar hierdie prentjie is besig om te verander.

Soos mense begin om langer te lewe, eet hulle ook meer kos, en daar word voorspel dat mense in 2040 gemiddeld 35 000 meer etes in sy of haar leeftyd sal nuttig bloot omdat hy of sy langer leef. Hierdie verlengde leeftyd gaan voedselbeskikbaarheid negatief beïnvloed, en oorproduserende landerye gaan voorsiening maak vir hulle eie inwoners voordat hulle die oorskotte uitvoer. Dit is hoogs waarskynlik dat lande wat tans kos na Afrika uitvoer in die toekoms hierdie kos vir eie gebruik gaan behou. Dit sal ’n verswarende effek op hongersnood in Afrika hê.

Die enigste oplossing is dat Afrika, veral suid van die Sahara, sy voedselproduksie dramaties sal moet verhoog. Die genade is wel dat 60% van die wêreld se onbewerkte vrugbare landbougrond in Afrika geleë is, so ons het wel die grond. Dit moet nou net ontwikkel en bewerk word.

Het jy dalk raad vir skoliere wat dit oorweeg om jou navorsingsgebied in te slaan? Watter aanlegte of passies bevoordeel ’n mens in hierdie veld? 

Landbou is verseker ’n groeipunt in die wêreld as ’n mens die bevolkingsaanwas en aanvraag na voedselproduksie in ag neem. ’n Beroep in hierdie studieveld is uitdagend en opwindend. Geen landery is dieselfde nie, en elke plaas het unieke uitdagings wat in ag geneem moet word.

Baie van die navorsing is veldnavorsing, so landbou-adviseurs moet van die buitelewe hou en darem ook om ’n bietjie te reis, aangesien plase wat besoek moet word in landelike gebiede geleë is.

Verder is dit belangrik om met mense te kan werk en goed te kan kommunikeer. Presisieboerdery behels die analitiese en tegnologiese velde van landbou. Gevolglik word daar, benewens suiwer landboukennis, ook sterk analitiese vaardighede en ’n entrepreneurskap-oriëntasie vereis.

Waar kan ek nog inligting oor jou werk opspoor?

Ek doen heelwat navorsing oor landbou-vraagstukke wat ek dan in publikasies of by plaaslike en internasionale konferensies bekendstel. Die Internasionale Boerdery-bestuursvereniging (International Farm Management Association) se konferensiebundels in Skotland (2017) en Tasmanië (2019), byvoorbeeld, is twee bronne wat van my navorsing gepubliseer het. Hier het ek navorsing gepubliseer wat handel oor wildboerdery, trekkerverkoopsgedrag en boere se lojaliteit teenoor kunsmisverskaffers. Ek doen verder ook navorsing oor rooivleis. Die meeste van die landbou- (en ander) navorsing wat ek doen, is gepubliseer, so die internet vind die bronne maklik in ’n soektog onder my naam. 

 

Lees verder

’n Ondersoek na die hindernisse om presisieboerdery in die Oos-Vrystaat te implementeer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top