Hokaai met jou barmhartigheidsprojek!

  • 0

Wees regseker ... maar hoe?

In hierdie dae is ons op ’n ongekende vlak aan mekaar se welwillendheid en barmhartige instinkte uitgelewer. In die atomistiese eietydse toestand, waar inpalm en selfverryking ten alle koste steeds aan die orde van die dag is, leer hierdie tye ons dalk om vir ’n slag die waarde van mededeelsaamheid en gasvryheid van voor af te besef. Ons sien dade van menslikheid in hoe mense wat skaars iets van hul spaargeldjies oor het, steeds volhou om hul werknemers en huishulpe te betaal. In die armste gemeenskappe staan oumense hul laaste snye brood aan kinders af, sodat die jonges hierdie ongekende nood kan oorleef. Vir baie mense is dit moeiliker as ooit om ’n waardige bestaan te voer.

Opvallend baie mense het ook die verdere myl geloop. Ek sien toenemende kennisgewings en advertensies van persone of organisasies wat die een oulike fondsinsamelingsinisiatief na die ander publiseer om sodoende met noodverligting te help. Dit is egter nie net goedgesetelde of welbekende noodlenigingsorganisasies wat help nie, maar ook gewone burgers, wat met alles van kreatiewe kompetisies tot vreemde uitdagings en veldtogte om skarebefondsing na vore kom. Al hierdie inisiatiewe wys Suid-Afrikaners is iets besonders. Ons is ’n tawwe klomp wat deurgaans planne maak.

Mense moet egter bedag wees op wat die reg van ons verwag wanneer ons die publiek vir geld vra. Ek het reeds met ’n paar kennisse en vriende gesels en namens hulle navorsing gedoen oor die regsimplikasies van fondsinsameling.

Dit help regtig nie om vervaard en passievol aan ’n projek te begin werk sonder dat jy die reg geraadpleeg het nie. Dit mag dalk so wees dat min gesagsfigure tans tyd het om na te gaan of elke geldinsamelaar die letter van die wet nakom, maar sê maar jy is die ongelukkige slagoffer van ’n magsbehepte burokraat? Daarby is dit ’n ou regsbeginsel dat jy nie, selfs al is jou motiewe hóé suiwer, jou tekort aan regskennis kan pleit as jy in die sop beland nie. Tree eerder so korrek op as wat die reg van jou verwag, dan is jou risiko minder en kan jy jou broodnodige barmhartigheidsplanne voluit uitvoer. Pak jy jou projek vol idealisme aan en vergeet jy van jou regspligte, is die gevolg dat skenkers, deelnemers en bestuurslede gou-gou in mekaar se hare is!

Ek stel dit egter onomwonde dat hoewel ek ’n regsnavorser en LLM-kandidaat is, ek met hierdie stuk geen professionele regsadvies gee nie. Ek bespreek bloot die toepaslike regsbronne, hul voordele en die probleme wat daaruit kan opduik na die beste van my eie navorsing. As jy twyfel oor jou projek se regsposisie, stel ek voor dat jy so gou doenlik ’n prokureur spreek.

Nou ja, kom ons begin. Ons het vir doeleindes van hierdie bespreking twee regsbronne wat barmhartigheidsprojekte betref. Die eerste is wetgewing, wat ons vernaamste bron van regsreëls is wat jou organisasie, span of inisiatief betref. Die ander is die gemenereg, wat al die regsreëls is wat nie in wetgewing vervat is nie, maar eerder in ons Romeins-Hollandse-reg-bronne en hul toepassing in regterlike bevindings (regspresedent soos in hofverslae vervat). Jy kan volgens die gemenereg óf staande wetgewing jou inisiatief van stapel stuur. Dit hang egter van jou kapasiteit en jou aptyt vir papierwerk af.

Wat die gemenereg betref, kan ’n minimum van drie mense besluit om ’n vrywillige vereniging te stig waarvan die oogmerk nie is om wins te genereer nie. Die gemeenregtelike posisie maak dit maklik om saam met jou buurman en sy vlytige vrou ’n gedugte span te vorm. Julle kan jul Push-ups vir Ponde-veldtog so stig, mits die vormende ooreenkoms mondeling of op skrif aangegaan is. Natuurlik is dit beter om die ooreenkoms skriftelik op te stel. Nie net sal dit vir skenkers makliker wees om die inisiatief te vertrou weens die duidelikheid en deursigtigheid wat skrif verleen nie, maar dit sal ook aansienlik makliker vir bestuurslede wees om mekaar verantwoordbaar te hou.

Ingevolge wetgewing kon jy tot 1997 ’n “fondsinsamelingsorganisasie” (voorts FIO) ingevolge artikel 4 van die Wet op Fondsinsameling 107 van 1978 stig. Hierdie tipe organisasie het toestemming gehad om “bydraes” van die publiek te vra. ’n Bydrae word in die 1978-wet gedefinieer as enige bedrag geld of item wat in geld omgeskakel kan word en wat nié ter voldoening aan regsplig oorgedra word nie. Die oordrag van ’n “bydrae” gee ook nie die reg om teenprestasie (enigiets in ruil vir die bydrae) te eis nie, behalwe as die bydrae jou die geleentheid bied om ’n prys te wen ingevolge ’n verwante kompetisie, skema of speletjie. Die definisie van bydrae sluit donasies en geskenke in.

In 1997 is die Wet op Nie-Winsgewende Organisasies gepromulgeer. Dié wet, afgekort op Engels as die NPOA (Nonprofit Organisations Act), skep die geleentheid vir organisasies wat binne die definisie van ’n niewinsgewende organisasie (NWO) val om vrywillig te registreer. Geregistreerde NWO’s kan makliker aansoek doen om bankrekeninge te open, kan belastingvoordele aan skenkers bied, en weens die wet se publikasievereistes is hulle deursigtig en verifieerbaar. Natuurlik is die burokratiese rompslomp en papierwerk onnodig as jou projek net vir ’n kort tydperk noodleniging wil bied. Jy kan natuurlik ook ingevolge die Maatskappyewet ’n niewinsgewende maatskappy op die been bring, maar dit is gans te veel moeite vir gewone burgers wat net vir ’n beperkte tydjie hul paar druppels in ’n emmer wil stort .

’n Interessante kwessie duik op indien ons oorweeg tot watter mate die 1978-wet deur die NPOA herroep is. In artikel 33 van die NPOA word bepaal dat hoofstukke I en III van die Wet op Fondsinsameling herroep word tot die mate waarin daardie hoofstukke van toepassing is op FIO’s en ander organisasies wat in daardie hoofstukke bespreek word. Hoofstuk II van die Wet op Fondsinsameling beheers ’n bepaalde groep noodlenigingsfondse, soos die Disaster Relief Fund en die South African Defence Force Fund, alles fondse wat deur die staat vir spesiale doeleindes beheer word. Hoofstukke I en III beslaan die res van die Wet op Fondsinsameling, en daarom lyk dit of die wet sover dit openbare fondsinsameling raak, heeltemal tot niet is. Die NPOA bevat ook in artikel 34 ’n stel oorgangsprosedures vir FIO’s se omskakeling tot NWO’s. ’n Onsekerheid duik op wanneer artikel 2 van die Wet op Fondsinsameling bekyk word. Dit lui as volg:

Ongeoorloofde insameling van bydraes verbode: Geen persoon mag bydraes insamel tensy hy volgens die Wet toestemming verkry het nie, en slegs mits die insameling kragtens die Wet uitgevoer word.

Die oogmerk van die artikel, en die wet in sy geheel, is volgens die lang titel (’n paragrafie met doelstellings van ’n stuk wetgewing, net onder die hoofopskrif van ’n wet) om beheer uit te oefen oor die insameling van bydraes van die publiek. ’n Mens kan jou indink dat beheer waarskynlik nodig was, en steeds is, om swendelary en bedrog te voorkom. Terselfdertyd moet fondsinsameling nie so streng gereguleer wees dat mense dit onmoontlik en lastig vind om barmhartigheidsprojekte te loods nie. Die NPOA maak hierdie proses juis makliker deur nie voor te skryf hoe fondsinsameling moet werk nie, maar bloot ’n vrywillige-registrasie-bedeling vir NWO’s te skep. Dit sê weer niks oor hoe ongeregistreerde NWO’s te werk moet gaan om  fondse wettig in te samel nie.

Tot watter mate is die bogenoemde artikel 2 nog steeds van toepassing? Met die eerste oogopslag lyk dit na ’n probleem, omdat die NPOA die 1978-wet herroep het slegs tot die mate waarin dit FIO’s en verwante organisasies behels. Artikel 2 blyk egter enige persoon te behels, ook regspersone, wat met die publiek skakel en vir bydraes vir ’n barmhartigheids- of ander doel vra. Volgens die definisie van bydrae sluit dit ook in om  persone om donasies te vra. Persone wat bydraes wil vra, sou dit slegs ingevolge die Wet op Fondsinsameling se voorgeskrewe magtigingsprosedures kon doen, wat insluit dat insamelaars die direkteur van fondsinsameling om toestemming moet vra, of indien hul namens ’n FIO insamel, daardie FIO se toestemming verkry tesame met ’n kennisgewing van die ooreenkoms aan die direkteur.

Ek meen dat selfs al is artikel 2 van die 1978-wet tegnies steeds staande, dit slegs indien aan die res van die 1978-wet gehoor gegee word, gehoorsaam word, maar die res van die wet is herroep en met niks vervang nie! Die NPOA het al die rompslomp uit die weg geruim en vervang met ’n vrywillige registrasieproses vir NWO’s, wat wel nie juis besonderhede oor fondsinsameling onder die nuwe wetsbedeling bevat nie. Hieruit kan ons aflei dat die nuwe wetsbedeling bloot die 1978-wet se streng reëls oor fondsinsameling uit die weg geruim het sonder om dit te vervang. Wat oorbly, is die doodgewone gemeenregtelike reëls oor die gee van geskenke of donasies, wat vrywillige en eensydige regshandelinge is en nie deur ’n wet beheer word nie, maar deur die gemenereg.

’n Ander verklaring lui soos volg: Omdat die NPOA nie enige reëls oor fondsinsameling voorskryf nie, maar wel reëls vir die beheer van geregistreerde NWO’s voorskryf, is die bedoeling van die wetgewer om die 1978-wet te onttrek sover dit die onderwerp van die NPOA behels. Daarom sal die bepaling in artikel 2 steeds van krag wees wat ongeregistreerde NWO’s betref.

So ’n konstruksie is verkeerd. Die NPOA onttrek in artikel 33 die 1978-wet sover dit FIO’s betref uitdruklik. Artikel 2 as verbiedende bepaling kan nie funksioneer indien die res van die 1978-wet – naamlik die registrasie- en fondsinsamelingsreëls vir FIO’s – nie meer in ons staande wetgewing bestaan nie. Daar is ook niks in die NPOA wat gelees kan word om ongeregistreerde NWO’s as steeds onderhewig aan die 1978-wet te beskou nie. Inteendeel, kragtens artikel 34(2)(a) van die NPOA word alle voormalige FIO’s met inwerkingtreding van die NPOA as geregistreerde NWO’s geag. Indien hulle dan nie die NPOA se verdere registrasievereistes nakom nie, verval hul registrasie en is hulle bloot ongeregistreerde NWO’s. Waarom sou die wetgewer beoog om alle FIO’s outomaties as nuwe NWO’s te ag, wat dan weens versuim om verdere registrasiebepalings na te kom weer terugval tot FIO-status, ’n status wat in elk geval deur die NPOA herroep is? Dit is heeltemal strydig met die hervormingsoogmerk van die wetgewer en is sinloos, omdat daar geen bepalings in die NPOA is wat die “opgrawing” van die 1978-wet magtig nie.

Kortom, die 1978-wet is omtrent heeltemal herroep en kan nie meer gevolg word om fondsinsamelings van stapel te stuur of te polisieer nie. Fondsinsameling in Suid-Afrika is bevry van wetlike rompslomp. ’n Donateur kan bloot geld aan ’n insamelaar skenk sonder dat die insamelaar aan wetsbepalings moet voldoen. Daar is ’n donasiesbelasting, maar hieroor sal ek ’n opvolgartikel kan skryf. Dit beïnvloed nie die regshandeling om donasies aan te vra, te mag ontvang of te skenk nie. Indien ’n insamelaar die geld verduister of so bestuur dat dit teen die voorwaardes van die donasie indruis, sal die donateur wel die insamelaar kan dagvaar omdat die insamelaar nie die voorwaardes van die donasie nakom nie. Hierdie aanspreeklikheid word egter deur die gemenereg gereël, en nie deur wetgewing nie.

Indien jy jou Lunges for Ladies- of Commandos for Cash-inisiatief wil loods met ’n advertensie vir skenkings, rekeningnommer en al, is daar nie tans ’n stel ingewikkelde wetlike vereistes nie. Dit sal wel beter wees om die gemeenregtelike vereniging sonder winsoogmerk op skrif aanmekaar te sit. En as jy onseker is oor die formaliteite is die goue reël: Raadpleeg jou prokureur of belastingkenner!

Andersins, hou aan gee – jou sente, jou rande, en jou klere sonder te veel gate.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top