Hoephoepieland – tien omgeestories met hart deur Ronél van der Watt: indrukke en ’n onderhoud

  • 5

 

Hoephoepieland – tien omgeestories met hart
Skrywer: Ronél van der Watt
Illustreerder: Mandé du Plessis

Naledi
2020
ISBN: 9781928518877

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.


“Elke kind het ’n uitdaging, is ’n ster met potensiaal, het ’n naam en ’n stem” ̶  Ronél van der Watt

Konteks

Die outeur, Ronél van der Watt, het die bundel stories binne die multikulturele Suid-Afrikaanse konteks saamgestel, gebaseer op 34 jaar praktykervaring as kliniese sielkundige.

Binne dié konteks is daar baie uitdagings wat aan volwassenes en kinders gestel word. Op alle terreine – polities, ekonomies, sosio-ekononomies, maatskaplik en psigologies, word veral die jonger ontwikkelde kind blootgestel aan vraagstukke wat in baie gevalle nie aangespreek word, of aangespreek kán word nie. 

Kan hierdie leemtes toegeskryf word aan vooropgestelde sienings, gebrekkige kennis en ook ’n veranderende samelewing wat as gevolg van stereotipes, die konteks van verandering nie maklik (wil) interpreteer of kan assimileer in ’n gevestigde verwysingsraamwerk nie?

Hoe dit aangespreek móét word om ’n gebroke samelewing te verbeeld waarin gedrag, houdings, tendense en diversiteit die hoof te bied, is nie in ’n A tot Z-handleiding vir kinders beskikbaar nie. Eerder dan die suggestie van die werklikheid as fiksie; in dié geval dan ’n fiktiewe verbeelding van ’n bundel fiktiewe kortverhale wat die kwessies direk en objektief aanspreek uit die oogpunt van ’n kenner. 

’n Kinderboek uit ’n vertellersperspektief wat kennis, substansie en objektiwiteit binne die Suid-Afrikaanse konteks weerspieël en sonder politiese korrektheid tot álmal spreek, was lankal nodig.

Voorblad

Die voorblad illustreer dan ook elf vrolike kinders verteenwoordigend van diverse groepe en verskillende afkomste. Dit wil voorkom asof elke kind vrolik en sorgvry is. Tog weerspieël die een karakter ’n jong glimlaggende kind in ’n rolstoel met beperkte fisiese mobiliteit, waarskynlik as gevolg van serebrale gestremdheid. Is sy werklik gelukkig? Hoe kan sy gelukkig wees ten spyte van haar omstandighede? Die voorblad en ook die subtiele inhoudelike illustrasies, een wat elke verhaal voorafgaan, is gedoen deur die grafiese kunstenaar, Mandré du Plessis. Du Plessis gebruik waterverf as medium om sagtheid te verleen aan die skreiende werklikheid.

Die simboliek rondom die Hoep-hoep en die titel

Die titel, Hoephoepieland. Tien omgeestories met ’n hart, fokus op vriendskap en empatie. Die eerste deel van die titel verwys na die hoep-hoep, lid van die voëlfamilie Upidae, ’n kleurryke kuifkopvoël wat dwarsoor die wêreld voorkom. In die Afrika-konteks is die hoep-hoep ’n simboliese boodskapper van vriendskap of ’n besoeker.

Volgens oorlewering, as jy die voël “hoep-hoep, hoep-hoep” hoor sing, gaan jy ’n belangrike kuiergas ontvang wat groot voorspoed vir jou familie gaan bring en jou nag en dag, deur swaarkry en vreugde, sal bystaan. In die Afrika-konteks word die koringbierkleur van die hoep-hoep met feesvieringe geassosieer, terwyl die wit en swart ’n suggestie van swaarkry is.

Die tweede deel van die titel, Tien omgeestories met hart, weerspieël die positiewe karakterisering en ontwikkeling waarin volharding, empatie, deernis, sensitiwiteit en veral hoop aan die leser gegee word. Van der Watt slaag ook uitstekend daarin om volwassenes deur die oë van ’n kind hul eie leefwêreld te herevalueer en te luister na hul belewenis daarvan.

Die Afrika hoep-hoep word sterk verteenwoordig in elk van die tien stories.

Die agterblad

Op die agterblad word aangedui dat die boek geskik is vir voor- en selflees, 5 tot 9 jaar. As leser glo ek dat wie ook al die agterplatteks geskryf het, die omvang van die boek en die lesersmark met die stelling beperk en onderskat. Dié boek het ’n sterk sosiale gewete en die kwessie wat aangespreek word, kan uiters relevant wees vir wyer ouderdomsgroepe. Kinders by wie ’n sosiale gewete gekweek is, sal die boek individueel en selfstandig kan lees en sonder moeite van toepassing kan maak op uitdagings en hindernisse in die daaglikse lewe.

Die inhoud: Deel 1

Die boek bestaan uit twee dele waarvan die die eerste deel, bladsy 7–128, verteenwoordigend is van die tien verhale wat elk ’n bewussyn kweek ten opsigte van die lewe self en hoe ’n kind emosioneel moet en kan oorleef, ten spyte van tekortkominge en hindernisse.

Van der Watt spreek in dié verhale situasies aan soos trauma, vreemdelingehaat, geweld in gesinsverband, mediese toestande, serebrale gestremdheid, kinders met kardiovaskulêre defekte, longsiektes en ook gesinsamestellingskwessies — kwessies wat ’n inklusiewe benadering vereis, maar nie altyd na wense hanteer word nie. Hierdie insig is nodig om stereotipes te sloop en ook om diegene wat wél empatie en begrip het vir andersheid, diversiteit in totaliteit te integreer uit ’n meer ingeligte raamwerk. Soos in die voorwoord vermeld, maak die boek kinders bewus van ander se lewensomstandighede en help sodoende om ’n kapasiteit vir empatie te ontwikkel.

In die eerste van die tien verhale “Die nuwe juffrou en die hoep-hoep”, is dit juffrou Ansie se eerste werksdag by Hoephoepieland. Juffrou Ansie voel self onseker; dit is immers haar eerste werksdag by die skooltjie (7).

Van der Watt maak seker dat sy soveel elemente as moontlik in die eerste verhaal integreer, nie net om die ruimte en plek geloofwaardig te skets nie, maar ook om hierdie literêre boustene te inkorporeer in die res van die boek: die skewe, groen hekkie, die Kareeboom, die klaskamer se groen deur wat afdop en sukkel om oop te maak, die stowwerige reuk van die klaskamer … dié elemente skets aanvanklik ’n gevoel van somberheid, tot sy die karakters ontmoet – Samuel, Joshua, Tom, Nina, Fatima, Sebete, Rachel, Rachel se sussie, Tumelo —elk met ’n unieke karakter. Elke kind ontvang ’n naamkaartjie en die dag word met oefeninge begin “om ons kriewels uit te kry” (9). Vryheid van beperking word deur die oefeninge gesimboliseer: “Flap julle hande. Julle is voëltjies wat vlieg.” Die kinders giggel. Hulle maak asof hulle in die lug sweef. (10). Nina vlieg na ouma Beatrice en Joshua vlieg oor die berge. ‘n Hoep-hoep met ’n reguit kuif maak sy opwagting en word as “honger en alleen” beskryf.

Twee van die kinders, Tumelo en Sebete hardloop uit die klas in ’n poging om die voëltjie te vang en juffrou Ansie gryp Tumelo net betyds aan die kraag om ’n tref-en-trap-ongeluk voor ’n verbygaande taxi te verhoed (11). Die eerste reaksie van Tumelo was ’n gevoel van vrees, vrees vir geweld: “Gaan Juffrou ons nou pakgee?” (12). Die reaksie van Juffrou Ansie is egter anders as verwag, “Nee, Tumelo. Voëltjies wat skrik, vlieg weg” (12).

Juffrou Ansie skets dan die gedrag van die hoep-hoep en vergelyk dit met die behoeftes van die mens “Net soos mense wil hoep-hoepe ook maatjies hê. Hoep-hoepe sing as hulle alleen voel. Juffrou begin saggies sing” (13).

Dit is juis hierdie fyn metaforiese woordspeling wat die leser tot stilstand bring omdat die menslike faktor in elke lewende of nie-lewende objek élke verhaal in die boek substantiveer en motiveer, hetsy as persoon, emosie, gedrag of die modifikasie daarvan. En is dit nie juis hierdie behoeftes ten opsigte van die self en ook ander wat die sinvolheid van groei, gedrag en uiteindelik aanvaarding bepaal nie?

Die eerste verhaal kompromiseer geensins die motief soos aanvanklik geantisipeer (mag) word deur die leser nie nie; dit is eerder aanvullend en dien as stimulus vir ’n wêreld, ’n verwysingsraamwerk bekend aan baie, maar nog nooit so ontbloot nie.

Van der Watt teiken in die tweede verhaal die weerloosheid van kinders wat geboelie word, die psigologiese impak daarvan en ook die uitkoms deur ’n benadering van positiewe versterking.

In die derde verhaal word vreemdelingehaat (xenofobie) aangespreek en met fyn humor benader. In “Sebete en die taxi-ongeluk”, die vierde verhaal, word die kwessie van vervoer van en na skole aangespreek. Die taxi wat Sebete en Lerato as vervoermiddel gebruik, ontaard in ’n nagmerrie —’n taxi-ongeluk.

Materiële verlies, ’n huis wat afbrand, die konteks waarin die verwoesting plaasvind en gesinsgeweld is die motief vir die vyfde en sesde verhaal.

“Samuel se mammas”, die sewende verhaal, skets die verwysingsraamwerk asook die emotiewe invloed wat ’n aangenome kind ervaar.

Dat aanneemkinders verwerping, selfwaarde, identiteitsvorming en verlies daaraan ervaar, word soms oorvereenvoudig. In sekere gesinstrukture waar die aangenome kind van geboorte as ’n eie kind binne ’n familieopset grootgemaak word, met kennis van sy/haar herkoms op die regte en gegewe tyd, bestaan die waarskynlikheid dat geen of min stoornisse sal voorkom. Trauma onstaan wel wanneer ’n lid binne die gesin, soms met opset, die aangenome broer/suster (wat die beweegrede ook al wees), uitsonder op grond van herkoms. Indien inligting omtrent die biologiese herkoms weerhou word en die kind eers op ’n latere ouderdom daarvan te hore kom, kan die gevolge verwoestend wees.

In hierdie verhaal neem Van der Watt as kindersielkundige en outeur die leidende rol as ’n verskuilde eksterne fokalisator. Haar kennis en hantering van die situasie en ook verloop, klimaks en ontknoping van die verhaal, dui op haar kennis van gedragswetenskappe en die toepassing daarvan.

In “Tom wil ook ‘n pa hê”, die agste verhaal, lees ons nie net van die vaderfiguur wat afwesig is nie, maar die status en impak van ’n kind wat sonder ’n pa grootword, hoe dit aangespreek (moet) word en die afleibare impak wat so ’n situasie op adolessente kan hê.

In die voorlaaste verhaal, “Rachel se sussie word siek”, word die verhaal vertel van Rachel se sussie wat ’n bakteriële longinfeksie opdoen. Haar naamlose identiteit word dan ook na die ontknoping van die verhaal deur haarself bekend gemaak.

In die laaste van die tien verhale, “Joshua, sy sussie en die konsert” (119) word daar terugverwys na die elemente wat tydens die eerste verhaal (en ook deurgaans) geskets word, maar in dié verhaal word die leitmotiv ontknoop en al die betonmure van eksklusiwiteit word afgebreek. Die mens word in wese gestroop van alle vooroordeel en die wêreld, soos wat dit is, word ervaar deur die oë van ’n kind.

In dié verhaal kom die leser in kontak met Katryn, ’n serebraal gestremde kind. Selfpersepsies wat waarskynlik deel kan wees van die individu se leef- en dinkwêreld, die wyse waarop die individu die samelewing ervaar, die fisiese impak op die individu, persepsies, familieverhoudings, funksionering  binne ’n skoolsisteem wat voorsiening maak vir leerders met spesiale behoeftes, waarskynlike subjektiewe belewing en dan die realiteit wat kundig en met omsigtigheid as ’n fiktiewe verhaal aangebied word, word die monument van selfoorlewing, aanvaarding, vryheid, selfverwesenliking en die vryheid “om te kan wees”, sonder voorbehoud.

Dit laat my onwillekeurig dink aan die woorde van Lloyd De Mause: “The evolution of culture is ultimately determined by the amount of love, understanding and freedom experienced by children … every abandonment, every betrayal, every hateful act towards children returns tenfold a few decades later upon the historical stage, while empathic act that helps a child become what he or she wants to become, every expression of love toward children heals society and moves in unexpected, wondrous new directions.”

Elke storie is selfstandig, maar integreer in geheel met mekaar. Die herhaling van die skewe groen hekkie, houtbankie, kareeboom, kriewels en hoep-hoep gee vastigheid en ritme. Die fokus bly gevestig op hoop, deernis en empatie deur die herhaaldelike verwysings na die wit en swart vere van die hoep-hoep.

Die bundel begin met “Die hoep-hoep pik-pik vir kos … hy lyk honger en alleen en vlieg weg. Dit eindig met die hoep-hoep wat na hulle toe vlieg. “Daar is ’n ster in my bek.” Dis asof die leser wil vra, “En toe?”

Die groen skewe hekkie staan oop …

Deel 2

Die tweede deel van die boek, bladsy 129-146, bevat agtergrondinligting oor die verhale. Dit dien as ’n uitsekende gids met vrae om oor die temas te gesels en gevolgtrekkings te maak. Die tema sal baie nuttig gebruik kan word deur terapeute, opvoeders, ouers en ook kinders in ’n veranderende samelewing met uitdagende lewensomstandighede. Die boek van 146 bladsye is geset in 15 op 15pt Poppins en sal maklik leesbaar wees vir alle lesers.

Meer oor die skrywer

Die outeur, Ronél van der Watt, is ’n kliniese sielkundige.  Sy het haar PhD (met spesialisasie in kindersielkunde en aanverwante terreine) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf. Die bundel stories is gebaseer op haar praktykervaring van bykans 34 jaar waarvan sewe jaar as dosent aan UV. Haar vorige publikasies was akademies van aard en hou verband met die opleiding van kindersielkundiges, ’n lewensvaardigheidsprogram vir die puberteitsjare, ouer,-kind-en portuurgroepverhoudinge, kongenitale hartdefekte, boelie-gedrag (primêre skool) en die aanpassing van eerstejaar studente op universiteit. Sy en haar man, Gideon, is afgetree en woon in Bloemfontein.  

Hieronder vra Berdéhan Brand vir Ronél van der Watt ’n paar vrae oor die boek:

Ronél, kenmerkend van die boek is die karakters wat uiters lewensgetrou geskets word. Die leser wonder of die karakters fiktief is en/of verhale geskryf is rondom gebeure waar dié karaters geskep is om ’n waardetoevoeging te maak tot die motief van die boek?

Die karakters is fiktief, die gebeure is elke dag ’n werklikheid in ons land. Daar is kinderboeke oor byvoorbeeld egskeiding, maar ek dink daar is ’n groot behoefte aan kinderlektuur oor die soort trauma wat eie aan ons gebroke gemeenskappe is: gesinsgeweld, vreemdelinge haat, ’n taxi-ongeluk, ’n aansteeklike siekte, afwesige vaders. Maar dan nie as abstrakte verskynsels nie-—.die stemme van hoe kinders dit beleef moet gehoor word, hulle broosheid, maar ook hulle humor en hoop.

Hoewel jy die outeur van die boek is en elke verhaal/situasie met deernis hanteer, ervaar ek tog jou teenwoordigheid in die boek; byna asof jy die alomteenwoordige onsigbare eksterne fokalisator is. Waar/hoe sien jy jouself in die boek, die boek wat ek byna as ’n ervaringsjoernaal wil beskryf? 

As skrywer sien ek myself as die skewe groen hekkie, waar kinders verbykom en waardeur hulle hopelik ’n weg na ’n veiliger ruimte vind. Ek het my egter in verskillende vertelposisies bevind, naamlik as skrywer, sielkundige, dosent, self kind ... Die vraag oor wat is die behoefte van hierdie spesifieke kind in hierdie spesifieke storie is, het dan rigting gegee. Daarom en in aansluiting by die tema van die boek – om deur die oë van ’n kind na die realiteit te kyk, het ek elke storie vanuit die oogpunt van die kind probeer vertel. As die storie geskuif het na die tema, naamlik vriendskap en daadwerklike omgee met hart, het ek en juffrou Ansie onder die kareeboom op die houtbankie sit en gesels. Met verwysing na ’n ervaringsjoernaal; die weerloosheid wat ek in kinders se lyftaal, tekeninge en gesinsinteraksie beleef het asook tydens supervisiesessies (insluitend studente) het die temas van Hoephoepieland motiveer.

As sielkundige en kenner van gedragswetenskappe, glo ek dat deel van jou motief, die gevolge van onsimpatieke oningeligte wêreld in gedagte gehad het toe jy die boek geskryf het. Die boek is ook meer as ’n bundel verhale vir kinders. Wie almal wil jy met die boek bereik en wat is jou motief daarvoor?

Eerstens, dit is ’n storieboek vir kinders en volwassenes wat in uitdagende lewensomstandighede leef en werk. Storievertel is ’n praktiese, meer bekostigbare hulpmiddel met terapeutiese waarde. In die stories kan karakters, ’n situasie of gebeure geskep word waarmee kinders kan identifiseer. Stories kan kinders se emosies reflekteer, woorde gee vir dit wat hul ervaar en hulle ondersteun om hul gedagtes en gevoelens aktief te deel. Die karakters kan oplossings bied vir die situasie waarin kinders hulself bevind.

Tweedens, dis ook bedoel om kinders wat nie direk dié lewensomstandighede beleef nie, daaroor in te lig en hul kapasiteit vir empatie te ontwikkel. Stories kan kinders se kennis van en respek vir verskillende kulture en lewensomstandighede bevorder. Só kan ons mekaar leer ken, vertrou en verhoudinge bou.

Derdens, die stories is terselfdertyd gerig op volwassenes, naamlik om hulle bewus te maak van hoe belangrik dit is om deur die oë van kinders na hul leefwêreld te kyk en na hul belewenis daarvan te luister. Kinders het ’n behoefte dat daar na hulle geluister word.

Ek wil graag die stelling maak dat die boek relevante leesstof is en ek glo jy sal daarmee saamstem. Met relevansie in gedagte; hoe sien jy jouself in die toekoms as skrywer? 

Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor kinders wat in uitdagende lewensomstandighede grootword en leef. Veral in hierdie mooi, maar gebroke land van ons. Hoephoepieland is my eerste boek om in hierdie verband ’n bydrae te lewer. Ek sal graag daarmee wil voortgaan, as ek kan. Maar nou lê die Engelse vertaling eers voor.

Hoephoepieland Tien omgeestories met hart, kan bestel word by www.naledi.online

Die boek is ook landswyd beskikbaar in toonaangewende boekwinkels.

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Elsabe Ferreira

    Met 'n kleindogter wat eersdaags na 'n speelskool / creche gaan, is dit 'n moet-hê-boek. Sal beslis dit aanskaf. Dit klink na die perfekte 'tool' om haar voor te berei vir wat kom, ook in die lewe, nie net by die groep nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top