Hoener met die rooi skoene
Regie: Koos Roets
Draaiboek: Koos Roets
Spelers: Lida Botha, Deon Lotz, Lizz Meiring, Dorette Potgieter, Louw Venter, Andre Weideman
As resensent word mens onderwerp aan ’n spektrum van films. Van goed tot sleg. Meestal kyk ek die films klaar oor ek verantwoordelikheid voel teenoor die regisseur, die akteurs en die produksiespan wat soveel tyd en moeite ingesit het. Ek wou na 20 minute van Hoener met die rooi skoene uitstap. Ek het na 40 minute uitgestap.
Ek het niks positief om te sê oor die film nie.
Dit voel of dit oor ’n naweek in ’n vriend se huis geskiet is. Die kamerawerk is swak. Die kunsdireksie is vaal. Die toneelspel is stokkerig. (Lizz Meiring het my nog nooit soveel geïrriteer nie.) Die draaiboek is belaglik. Die kamees deur bekende sangers is afgesaag en oortollig. Die film is nie snaaks nie. Daar is geen spanningslyn nie. Die kyker gee nie om vir die karakters nie.
Die lys gaan aan.
Hoener met die rooi skoene dra ongelukkig niks by tot die groeiende, opwindende Suid-Afrikaanse filmbedryf nie.


Kommentaar
Ek stem dawerend saam. Het na 20 minute die rooi skoene aangetrek en hakskene gewys.
Goed om te weet ek was nie alleen nie, Deborah.
Jy maak my dag met hou eerlikheid. Min mense is bereid om dit só reguit te stel. Ons industrie het meer van jou soort nodig.
Dit is nie maklik nie. Mense werk hard, die films kos geld en die industrie is piepklein. So, dankie.
Dankie Charl. Ek hou van eerlik en ek dink iemand moet dit sê. So laat dit dan maar ek wees.
Ek voel keer op keer as ek na Suid-Afrikaanse films kyk of dit 'n absolute mors van geld en tyd was.
Swak storielyne. Akteurs wat voorkom asof hulle geforseerd of eerder geforseerd snaaks probeer wees en die afwesigheid van vermoë daartoe die hele toneel verkrag.
'n Paw-paw vir my darling kan hier as voorbeeld gebruik word. Die storie was veronderstel om die doen en late van 'n gesin of mense in 'n arm woonbuurt in Pretoria uit te beeld maar faal skandelik. Weereens, swak storielyn, of was daar een? Swak humor en 'n totale veralgemening van hoe mense in daardie buurt praat en doen.
Ek voel deurgaans dat vervaardigers te min navorsing doen voordat hulle vervaardig.
Eintlik bietjie baie was nog so teleurstelling. 'n Storie wat so holrug gery is soos "apartheid" en net so effe ge-copy by Die pad na jou hart en 'n aktrise wat die hoofrol speel met min oortuiging van spontane vermoë om werklik sielvol toneel te speel.
Afrikaanse films druip die toets op talle gebiede en sal vir eers nog vele ure voor die tekenbord moet deurbring. Eerstens sal hulle goeie stories moet vind en werklik moeite doen om die kyker te vermaak sonder om gebruik te wil maak van swak humor en lae intelligensie tipe karakters. Dis net nie meer snaaks of vermaaklik nie en iemand moet tog asb vir hulle laat weet dat die ou afgesaagde tipe verhaal van die arm ou wat die ryk meisie ontmoet en nie goedgekeur word deur haar ouers nie, lankal verby is.