Hoekom sukkel liberal whiteys so om rassisme te veroordeel?

  • 24

Bettina Wyngaard

Hotnot. Kaffir. Houtkop. Dis maar enkele voorbeelde van woorde wat gebruik word om te sein dat bruin en swart mense as 'n groep minderwaardig is.

Dan is daar die stellings wat groepe reduseer tot enkele eienskappe. "Mens moet so jou suiker wegsteek, want hulle dra mos weg huis toe." "Hulle steel so." Daar is altyd die binnegroep, die "ons" wat teenoor die buitegroep, "hulle" gestel word, met die "ons" gewoonlik geskilder as beter, meer moreel, intelligenter, netjieser, meer beskaafd. Die "hulle", aan die ander kant, is moorddadige verkragters en diewe, te lui om te werk en daarom in armoede verval, wat daarop uit is om die "ons" van hul swaar verdiende geld te ontneem. Dan is daar verwysings na mense as verskillende dieregroepe.

Dis die kru vorm van rassisme, die maklik herkenbare vorm wat ook met gemak veroordeel kan word omdat dit so openlik op konfrontasie uit is.

Daar is egter 'n ander vorm van rassisme wat veel meer insidious is, en in sommige opsigte veel meer giftig. Dit sonder die enkel uit as meer spesiaal as die groep, maar dit maak ook die enkeling verantwoordelik om die hele groep te verteenwoordig. "Jy is nie soos hulle nie." "Oe, maar jy praat mooi Afrikaans" gesê omtrent 'n Afrikaanssprekende. Dis op die oog af 'n kompliment, maar die onderliggende aannames wat omtrent die groep gemaak word, is net so rassisties as die persoon wat "houtkop" sal sê.

Dis met hierdie groep dat liberal whiteys sukkel, want dis gewoonlik hulle vriende, deel van hul sosiale sirkel, of mense wie hulle nodig het om die sosiale leer te klim. Mense met status, of geld, of mag, gewoonlik. Opgevoede mense. Talentvolle mense. Mense wat in die meeste ander opsigte aanvaarbaar is.

Dat rassiste altyd onopgevoede, kru, barbaarse armblankes is, is die grootste straatlegende wat ons die afgelope tyd gevoer is. Soms is rassiste uitvoerende beamptes van groot korporasies, besigheidsmense, sangers, akteurs, skrywers.

Trump se "send them back" die afgelope week, en die Republikeinse gevoeteslepery daaroor die afgelope week, is sprekend hiervan. Selfs die Demokratiese Party het eers gekyk hoe die wind waai voor hulle tot hul lede se verdediging gekom het. Enige swart persoon sou die rassistiese sein-sending onderliggend aan "send them back" dadelik herken. Die wittes moes dit eers uitgespel kry. Wat is onderliggend daaraan? Daar is 'n aanname dat om 'n Amerikaner te wees, moet jy wit wees. Enigiets anders is spesiale toegewings wat vir jou gemaak word. Om in Amerika gebore te wees, tel nie. Net witheid maak jou verdienstelik.

Ek het twee weke gelede by vriende gekuier. Daar was ook twee ander persone wie ek daai aand vir die eerste keer ontmoet het. Op 'n stadium merk die een vreemde vrou, kom ons noem haar Ossewania want dis nie haar naam nie, op "Sjoe, maar jy praat mooi Afrikaans." Ek is seker daarvan Osseania het gedink sy komplimenteer my. Selfs nog voor ek kon reageer, het my twee vriende dadelik gesê "Moenie daai wit persoon wees wat dit doen nie." Hulle het nie vir een oomblik gedink daaraan dat die gekuier ongemaklik kon raak nie. Hulle het nie eens met mekaar gekonsulteer nie. Hulle het dadelik reageer. Dit was nie vir my nodig om te verduidelik hoekom die frase krap nie.

Ek het lank nagedink hieroor. Dit was verfrissend, omdat dit so selde gebeur. Dis beslis nie die eerste keer dat 'n wit persoon op my taalgebruik kommentaar lewer nie. Gewoonlik sal een van die liberale whiteys in die vertrek agterna na my toe kom en in privaat vir my vertel hoe ongemaklik hulle gevoel het. Dan word dit my plig om hulle te vertroos en te verduidelik dat hulle lafhartigheid eintlik oukei is. Dit word my plig om die emosionele arbeid van wit ego’s streel, te doen. Dis wat bedoel word met white fragility. White fragility is ook Osseania se reaksie van "maar ek het niks bedoel daarmee nie" en die seergemaakte uitdrukking wat daarmee saamgaan.

Hierdie slag het ek geweier om die emosionele arbeid te doen. Die volgende oggend toe ons mekaar weer sien, was die ontvangs wat ek van Ossewania gekry het, maar taamlik kil. Ek verwag nie om enige tyd binnekort van haar 'n uitnodiging vir tee te kry nie.

Maar ek het die grootste waardering vir my twee vriende wat, sonder om 'n oomblik te dink oor hul eie sosiale kring, stop gesit het aan iets wat my ongemaklik maak. Hulle kon stil gebly het. Hulle kon die oomblik laat verbygaan het, en agterna na my toe gekom het. Hulle het nie.

Maar soveel wit liberale konfronteer nie. Hulle probeer die vrede behou. Deur hulle stilte word hulle medepligtig aan die bevordering van rassistiese houdings en optrede.

Dalk doen hulle dit omdat hulle regtig net die vrede wil bewaar. 'n Wit vrede, want geen swart of bruin persoon word daardeur bevoordeel nie.

Maar veel eerder, vermoed ek, word dit gedoen omdat hulle niks verkeerd sien met die optrede nie, omdat hulle eintlik maar in hul diepste wese daarmee saamstem.

Dis moeilik om vooroordele in onsself te konfronteer. Dis moeilik om dit te konfronteer wanneer suksesvolle, gesofistikeerde mense rassisties is. Nie net moet die persoon se waardestelsel bevraagteken word nie, maar dit stel ook groter vrae oor die sisteem wat daai persoon opgelewer het. Rassevooroordeel groei nie in isolasie nie, dit word soos 'n kweekhuisplantjie vertroetel, bemes en beskerm.

Dis wat dit so giftig maak. En dis wat wit liberale wat stilbly, so giftig maak. Want as X, wie so 'n aktivis is, en soveel doen vir bruin of swart mense, nie 'n probleem daarmee het nie, dan is daar mos nie 'n probleem nie.

In gender praksis is daar die afgelope tyd die besef dat, ten einde geslagsgebaseerde geweld eens en vir altyd die nek in te slaan, is dit nodig dat mans ander mans se seksistiese gedrag moet veroordeel. Groepsdruk moet van binne die groep kom, dan is dit meer effektief.

Dit het tyd geword dat dieselfde met rassisme gebeur. Dit het tyd geword dat witmense mekaar begin verantwoordelik hou vir hul rassistiese gedrag. Dis die enigste manier om die gedrag hok te slaan.

"We must always take sides. Neutrality helps the oppressor, never the victim. Silence encourages the tormentor, never the tormented." – Elie Wiesel

  • 24

Kommentaar

  • Insiggewende mening. Dankie daarvoor. Ons is eintlik almal slagoffers van rassisme en ook neo-rassisme.
    Miskien moet dieper gekyk word na die ware oorsake vir voortslepende rassisme en nie net na dit wat die tradisionele slagoffers gereeld op die tafel sit nie. Voordat daar nie behoorlike introspeksie deur plegers en slagoffers gedoen word nie, sal rassisme voortstu met al die treurige nadele.

  • Bettina, ek het ook 'n hekel aan skynheilige "liberals". Maar dink jy werklik dat die woord "whitey" in orde is? Ek sien Pharos-woordeboek gee dit die etiket "neerhalend". 'n Geval van die pot wat die ketel verwyt dat hy swart (of wit) is?

  • Maryna Louw Volschenk

    Bettina, ek lees graag wat jy sê, maar soos gewoonlik is jou mening weer erg eensydig. Ek kan jou harerys-stories vertel van "omgekeerde" rassisme. Onthou die wittes is maar ongeveer 8% van die bevolking. Die kanse raak al hoe groter dat omgekeerde rassisme sewe keer meer gaan word as nou.
    Om te reageer soos jy doen in jou meegaande skrywe sal net rassisme aanhits. Ons sal ander versoenende metodes moet kry. Ná 25 jaar van demokrasie moet ons openbare "denkers" beter doen as dit.

  • Poppie van Pretoria

    So wanneer my moeder liries raak oor Chris Chameleon se "mooi Afrikaans" impliseer sy heimlik dat mans nie in staat is tot goeie taalgebruik nie? En dit op sigself maak dus van haar 'n seksis? Interessant.

  • Dan kan ‘n mens seker vra hoekom sukkel die swart regering , sal hulle nou maar nie name noem soos whiteys nie, wat ook ‘n rassistiese benaming is , om swart op wit rassisme te veroordeel. Die MRK het ook dubbele standaarde as hul na Julius Malema en die BLF kyk. Die raskaart word ook baie gou gespeel as daar kritiek op sekere lande is wat in gebreke bly om goed te regeer en waar diktators heers. Klem word gelê op Trump se rassisme terwyl die een lid van die “squad” openlik rassisties teenoor Israel is. Hierdie dames beskuldig Trump van opportunisme terwyl hul uitsprake en geskreeu In die parlement as hul wit mans as sondebokke voorhou dieselfde is.

  • Johannes Comestor

    "Dit het tyd geword dat witmense mekaar begin verantwoordelik hou vir hulle rassistiese gedrag." Die volgende kommentaar van Thomas Ernest Hulme (1883-1917) kan op hierdie artikel van toepassing gemaak word: "He likened him [her] in his [her] inability to see the larger picture to a dog out walking that smells only other dogs; or to the Red Indian visiting a large town for the first time who sees nothing but horses." (Robert Ferguson, The short sharp life of TE Hulme, London: Faber & Faber, 2012, Amazon Kindle 3514).

  • Ek lees gewoonlik nie artikels of beriggewings waar die woord rassisme of kleur in verskyn nie. Ek dink die oorgrote meerderheid "whiteys" is deesdae so bang om enige iemand of iets met 'n kleur te identifiseer. Hulle dra selfs deesdae net skoene. Die wat jy maklik sien en die wat jy nie maklik sien nie. Ek vra myself nog steeds die vraag af: Wat moet ons "whiteys" nog doen om vergifnis en kwytskelding te kry?
    Ek sal wat wil gee om net die geween, gekners van tanne, gesanik, geneul, getjank en verwyte dat ek 'n "whitey" is nie meer te hoor nie. Ek is redelik moeg om vir alles en almal se ongerymdhede pa te staan. Moet ons ons voorvaders en ouers vervloek omdat ons “whiteys” is? Moet ons moet God skel? Ongelukkig sal dit dan beteken die afsnydatum hopelik bereik is. Geen haan sal daarna ooit daaroor mag kraai nie. Wie gaan dan geteiken en verwyt word vir alles wat verkeerd loop?

  • Ek het maar 'n redelik simplistiese siening oor die saak. Die woord 'kaffir' het sy betekenis verloor,so ook die woord rassisme. Die woord 'kaffir' is afgelei van die Arabiese woord 'käfir' wat die betekenis van ongelowige of 'infidel' gedra het.
    Almal wat dus nie bv die Moslemgeloof onderskryf het is dus 'n 'käfir' en dit is seker wat die eerste setlaars in gedagte gehad het toe hul die swart mense van Suid Afrika aangetref het, hulle was ongelowig in die Christelike godsdiens. Daarin het ook die oorsprong van die sendelinge na Suid-Afrika gelê. Die mense moes bekeer word.
    Dat die woord naderhand beledigende en rassistiese ondertone gekry het is seker. Rassisme wat ontstaan het uit die woord ras en sou nooit inslag gekry het as dit nie vir die woord 'ras' was nie. In Frans 'race' en in Italiaans 'razza' van onbekende oorsprong so teen die 1500 was oorspronklik bedoel om 'n groep mense, diere, plante van oorspronklike oorsprong of afstamming te identifiseer.
    Dit het in rassisme ontaard omdat een groep se kenmerke as verhewe bo ander beskou is en dus hul meerderwaardig gemaak het. Nou is dit opmerklik dat rassisme beperk word tot net een spesie nl die mens. Die mens is in die opsig uniek en beskou bv honde van gemengde rasse as brakke. En die duiwel is los as my brak by jou opregte teef kom kuier, want sien, rasegte honde word vir duisende verkoop en brakke kan jy amper verniet by die Dierebeskerming optel.
    Nou is dit waar dat honde almal 'n oorspronklike oorsprong het en dat dit die mens is wat deur telery verskillende rasse laat ontstaan het. Maar wat die mens gedoen het, het ook op 'n natuurlike wyse in die natuur plaasgevind en was daar dikwels 'n geografiese skeiding tussen mense.
    Nou vra ek my die vraag af hoekom is die mens rasbehep as dit by diererasse kom en selfs beskermde gebiede daarstel maar graag een globale mens daar wil stel en dan in waansin alle swart mense in Suid-Afrika as homogeen beskou asof daar nooit verskillende volke/groepe in die natuur ontstaan het nie?
    Was dit nou werklik nodig om spesiale wetgewing daar te stel om rassisme te beskryf en is dit maar nie net beledigend en lasterlik en karakterskendend om mense oor hul taal, kultuur, gewoontes, geloofbeskouing ens af te kraak en hul dan daarna volgens bestaande wetgewing voor die gereg te daag?

  • Vlakvark van toekomstige rooskleurige SA

    Geagte Bettina
    Wie of wat is die meerderheid Suid-Afrikaners as nasie se grootste vyande?
    1) Die “liberal whiteys”, wat dit ook al beteken?
    2) Die ANC se sosialisties-kommunistiese ideologie?
    3) Die grootskaalse ongeletterdheid onder ‘n groot deel van die bevolking?
    4) Die ongebreidelde bevolkingsaanwas?
    5) Suid-Afrika se gebrek aan ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid?
    Groetnis en mag ons almal strewe na groter geregtigheid, vrede en ‘n rooskleurige toekoms vir ons nageslagte.

  • Gustaf Claassens

    Rassisme neem verskillende vorme aan. Dit is dikwels blatant (die moedswillige opset om te krenk of te na kom), in ander gevalle is dit subtiel (wanneer dit 'suiker' om het maar die innuendo is dieselfde, naamlik om te na te kom of om 'n soort meerderwaardigheid te demonstreer. Dit is in die meeste gevalle 'n bewustelike aksie of handeling en word oorwegend so gesien wanneer daar mense van verskillende rasse of kleur betrokke is.
    Daar is wel die vraag: Is dit nie dalk moontlik dat 'n 'kompliment' wat opreg bedoel word, deur die ander party soms verkeerdelik as 'rassisties' gesien (kan) word maar in ander gevalle weer, glad nie so ervaar word nie? 'n Voorbeeld: Refentse is 'n jong swart persoon wat die mooiste Afrikaans denkbaar praat. Daar is 'n rede hoekom dit so is. Hy was in 'n Afrikaanse skool en sy omstandighede was/is dus anders as sy mede-tydgenote. Die 'gewone man' verwag nie noodwendig so iets van hom nie bloot omdat dit nie die reël is nie. Wanneer iemand hom komplimenteer (en dit gebeur steeds) het dit geensins iets met rassisme te doen nie en ek glo, Refentse sal dit ook nie so ervaar nie. Die rede? Refentse se huistaal is nie Afrikaans nie, maar omdat hy Afrikaans bemeester het, kom dit onverwags en lok erkenning uit. Vandaar die kompliment waarvan die bedoeling eerlik/opreg is, en met trots ook so (gewoonlik) ervaar en aanvaar word.
    Maar, daar is ook 'n ander werklikheid en hier word nie verwys na Betinna se persoonlike geval nie. Een waar 'n persoon se voorkoms min of meer dieselfde as Refentse s’n is, maar waar daardie persoon se huistaal Afrikaans en selfs veel meer as gevorderde Afrikaans is. Wanneer dieselfde 'kompliment' gemaak word, kan (selfs gaan/sal) dit heeltemal anders vertolk word as in Refentse se geval. Dit word dan bloot as rassisme gesien (of dit nou naakte of verskuilde rassisme is, is nie ter sprake nie) terwyl die bedoeling dalk opreg, eerlik en onskuldig bedoel is. Hoekom die verskil? Wel, bloot vanweë omstandighede, 'n verkeerde (maar bona fide) aanname dat die persoon van 'n ander ras (en dus taalgroep) is en dat sy/haar gebruik van Afrikaans inderdaad prysenswaardig was/is. Wanneer die ‘fout’ agtergekom word is die 'skade' reeds gedoen en is verleentheid die uitkoms/gevolg ... vir almal!
    Die vraag nou: Is dit nie dalk moontlik dat oordrewe fyngevoeligheid soms/dikwels met rassisme verwar word nie? Ons leef in 'n Suid-Afrika waar alles verpolitiseer word en die woord rassisme die gerieflike kapstok vir alle probleme geword het. Veralgemening is aan die orde van die dag, ook in die stuk hier waar na 'whiteys' en nie na 'whitey' verwys word nie. Dit help nie juis nie. Om rassisties te wees sê meer van die persoon wat dit 'pleeg' as andersom. Party mense se velle is dikker as ander s’n en mense ervaar die soort van (on)ding verskillend. Rassisme is egter bloot slegte maniere wat nie goed gepraat kan word nie.
    Maar, daar is nog ’n kant, 'n ander soort waarheid. Dit is waar witmense as 'n minderheidsgroep moeg raak om die blaam te dra vir alles wat sleg is en verkeerd gaan in die land. Hulle is moeg om, ongeag goeie pogings op 'n veelheid van terreine, voortdurend as die sondebok uitgemaak te word. Hulle ervaar moorde op 'n groot skaal, iets waaraan hulle nie gewoond is nie, sien toenemende en onophoudelike korrupsie, ervaar diskriminasie met 'n beleid van sogenaamde (oneindige!) regstellende aksie, word uitgesluit in sportspanne waar kwotas (teikens die mooi woord) geld, sien daagliks hoe dienste inmekaar stort en waar die land al hoe meer soos 'n ashoop lyk. Wanneer hulle, hul hieroor uitspreek (en in baie gevalle selfs hulp en bydraes aanbied) word dit afgemaak as 'n soort meerderwaardigheid en/of rassisme. 'n Gevoel van hulpeloosheid tree in en dit word ervaar as 'n aanslag op hul menswees, vir wie en wat hulle is.
    Dit wil dus voorkom of daar inderdaad twee kante van die munt is. Om te praat wanneer sulke gevalle hulle voordoen klink en lyk na die regte oplossing maar selfs daarvoor begin mense nie meer kans sien sien nie. Hulle (beide kante) voel dat dit nie help nie en in sommige gevalle voel groepe dat ‘om te praat’ dinge dikwels vererger. Die probleem is selde of ooit op individuele vlak of in gevalle waar mense in dieselfde genres werk en deel, of in klein groepe (vrywillige assosiasie) verkeer. Waar dinge ontspoor, is wanneer die massas se ons/julle benadering in 'n vyandige sin ter sprake kom en waar veral politici 'n groot rol speel. Ons het nog steeds 'n pad om te loop en daar kan alleen 'n verskil kom wanneer die individu by homself begin. As ons dit doen in 'n gesindheid van ‘leef en laat leef' en verskeidenheid in die eenheid aanvaar en respekteer, is daar wel hoop.

  • Geagte Gustaf,

    Na my beskeie mening sal die 1994-geslag asook ‘n verdere twee geslagte Suid-Afrkaners moet uitsterf. Hier dink ek aan die Anglo-Boereoorlog as analoog. Feit is dat geen volk of nasie heilger as heilig is nie en derhalwe met klippe kan gooi nie. Kyk net hoe is die San en Khoikhoi al honderde jare gelede uit hul tradisionele gebiede verdryf.

  • Ek wil met F C Boot saamstem dat "rassistiese" woorde nie noodwendig 'n rassistiese betekenis of oorsprong het nie. Om te keer dat enige woord rassisties word is onmoontlik solank daar verskillende groepe op aarde is. (Want almal veralgemeen maar graag.) Ek wil 'n voorbeeld noem. In 1994 het die nuwe regering alle rassistiese woorde verbied. Behalwe die wat deur blankes gebruik word, ook die woord Boer. Hoekom Boer? Want die ANC weet dat as swartes die woord gebruik word dit meesal rassisties bedoel.

  • Ou Bosvark van die SA Soogdiergenootskap

    Vanoggend lees ek Bybel en kyk in die inleiding waar dit gedruk is. Natuurlik in Sjina! So, terwyl SA-ners vir 13 dekades van die vet van minerale verkope geleef het, het Sjina geleer om drukwerk op DUN ryspapier te maak. Vandag is hulle die wêreld se drukkersfabriek ! En die SA drukkersbedryf is geskiedenis.
    Intussen hou menige Suid-Afrikaners hulself besig met die verlede en verwyte en gierigheid en terwyl ons die ekonomiese wêreldkompetisie-trein verpas het en nou op godverlate droogtevlakte se spoorwegstasie genaamd “Werkloosheid en Armoede” sit. En nie eens die vakbonde en opportunistiese politici kan ons help nie.
    Wens Bettina wil vorendag kom met ‘n Suid-Afrikaanse nasie-visie wat alle Suid-Afrikaners kan opgewonde maak om deel te wees van ‘n nasie bekend as ‘n wêreldleier op die gebiede van byvoorbeeld toerisme of wat ook al.
    Die alternatief? ‘n Godverlate droogtevlakte se spoorwegstasie genaamd “Werkloosheid en Armoede”.

  • Is dit nog dieselfde as 'n swart persoon teenoor 'n wit persoon opmerk dat laasgenoemde die betrokke Bantoetaal so suiwer en sonder aksent praat? Vra maar net.

  • Goeiedag Bettina. Wat jy hier as rassisme ervaar, is nie altyd as rassisme bedoel nie. Ek dink die vrou van wie jy praat is meer seergemaak deur die implikasie dat sy rassisties is as enigiets anders. Ek het ook al op 'n punt vir 'n swart meisie gesê dat sy baie mooi Afrikaans praat en ek het dit opreg uit my hart bedoel. Die rede waarom dit vir my so mooi was, is nie oor haar velkleur nie, maar wel omdat sy dit so suiwer praat tussen 'n klomp van haar tydgenote wat gemengde Afrikaans praat. Ek dink die rede waarom die vrou jou gekomplimenteer het oor jou taalgebruik, het dalk veel meer met haar bewondering daarmee uit te waai as met jou velkleur.

  • Gaan kyk in die spieël en sien die gootste rassis. Ek het nog nie 'n stuk van jou gelees wat nie dieselfde trant het as die skrywe van jou nie. Die "whiteys" het jou jou vryheid gegee in 1991 met die "Ja" stem, hulle is die mense wat uitreik na die "non-whiteys" om te help. Wat het die "non-whiteys" al ooit gedoen vir die "whiteys", behalwe om rassistiese wetgewing in stand te hou soos regstellende aksie en al daai "nice" goedjies om die "whiteys" te probeer bykom? Ek is 'n trotse Boerseun. En skuld niemand niks. Jou vriende het duidelik vir jou ingetree omdat hulle weet jy is so oorsensitief dat jy alles verdraai in die rigting van "rassisme". Dit word genoem 'n swak selfbeeld. Ai.

  • Arnold van Zyl

    Elke mens het seker die reg wie hy in sy lewenskring gaan toelaat. Baie mense handhaaf hulleself sonder enige wette. Diegene wat hulleself nie kan handhaaf nie is diegene wat agter die wet skuil.

  • Chris Marnewick SC

    Ek het Bettina se mening met aandag gelees want ek stem nogal saam met haar. Die gebruik van die etiket "Ossewania" oënskynlik om die "whitey" se identiteit te beskerm het my egter opgeval as 'n voorbeeld van presies die soort verbloemde subliminale stereotipering en rassisme waarvan Bettine "whiteys" beskuldig.

  • Barend van der Merwe

    As daar vir my gese word ek skryf of praat mooit Afrikaans, dan beskou ek dit as 'n kompliment.

  • Ek weet nie of ek nou buite orde gaan wees nie, maar dan is dit maar so. Ek het regtig nie verwag dat daar, tot op hierdie webblad, praatjies oor die ellendige rassisme sal wees nie. Miskien kan iemand my reghelp, ek het gedink dit is suiwer literêr. Dit kom vir my voor dat enige platvorm geïnfiltreer word deur mense wat net nie genoeg van hul eie opinies kan kry nie. Ek vra maar net. Is daar nie nog items wat ons as interessante mense kan behandel en debatteer nie? Skep vir die lesers op hierdie platvorm bietjie meer verskeidenheid, sodat ons mekaar kan prikkel met die debatte. Indien julle sukkel, vra net vir idees. Die idees groei wild, maar niemand pluk die vrugte nie. Baie groete vir algar.

  • Rusty van Druten

    "We must always take sides. Neutrality helps the oppressor, never the victim. Silence encourages the tormentor, never the tormented." – Elie Wiesel

    Its all gone full circle, hasn't it?. Yesteryear's oppressors are now the victims, in many different ways.
    Makes me think of Jansen's 'Kennis in die bloed". He caused quite some controversy among white Afrikaners with his book, and the realities of his mindset could be described by some readers as having been a one sided attempt, albeit perhaps quite unintentional, to lay blame squarely on Afrikaner shoulders for ongoing racial discord in post Apartheid South Africa.

    In fact though, a perfectly good counter argument could well be that the outpourings and actions of Nelson Mandela played a very significant role in fomenting much racial unrest. Lets examine that statement. When Mandela started his career in politics he hoped to achieve freedom for black South Africans by calling for a national convention to debate black aspirations for their future role in our society. This was rejected by Afrikaner nationalist leadership, and the rest is history. Mandela turned to violence as a means of achieving his goals, and perhaps his motivation could be excused by many based on the fact that when a law is patently unjust, it is the duty of all decent folk to subvert that law.

    But, laws as imposed in SA at the time were clear on matters of subversion in society and it was clearly a catch 22 situation with ultimately no winners. Mandela was thrown in prison for almost two decades before being offered release by renouncing violence, but he refused and languished on for a total of twenty seven years behind bars before coming out. He soon become SA's next president, and is today considered an icon bearing a Nobel peace prize etc for his efforts.

    It needs to be remembered that just as much vitriolic discussion regrading racist attitudes that took place at Afrikaner dinner tables in the presence of children for decades leading to what Prof Jansen refers to as bringing 'Kennis in die bloed' is perfectly counterbalanced by black rhetoric stemming directly from Mandela's decision to bring violence into the equation all those years ago aimed at solving the problem as he perceived it to be.

    Both black and white children, by that clear reality brought upon their lives led to entrenched feelings of disdain and discord in SA society courtesy of 'kennis in die bloed' as described by Jansen. Yet many prefer to paint the Afrikaner into a convenient corner.

    Mandela can thus very accurately be said to have fomented much of the violence that has beset our new democracy, such as the farm murders leading to untold personal anguish and social destruction of the country's essential farming community. This process continues unabated. Mandela essentially said it was OK to turn to violence in solving problems, and that became directly etched into the psyche of generations of black South Africans.

    Plain fact, violence begets violence, which is no way to go through life eventually walking away with across the board international praise. You reap what you sow. Jansen missed the plot entirely, or not?.

  • Desere Barnard

    Hi Bettina, jy is heeltemal reg dat ons liberale whiteys maar min doen deesdae. Die ding is, ons is nogal moeg. Dis al.

  • Bettina, jou volgende artikel gaan jy seker die swart rassiste aanvat ne (swart op wit jy weet), net vir bietjie balans sien ...? Dalk kan jy 'n boek skryf?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top