Hoekom ry kerke met Jan Tuisbly se karretjie?

  • 1

Foto van Bettina Wyngaard: verskaf

Sitting in church doesn’t make you a Christian any more than standing
in a garage make you a car.

Feitlik sedert die begin van die lockdown was daar klagtes vanuit kerkgeledere omdat kerke gesluit is. Van die belangrikste dae in die kerkkalendar, soos Goeie Vrydag en Paasfees, het binne die grendeltyd geval. Kerke het gedreig om die reëls te ignoreer en steeds kerk te hou. Die argument? God, en dus by extension gemeentes, is nie onderworpe aan die wêreldse owerhede nie.

Dit moes intense diplomasie agter die skerms gekos het, want die grootste kerke wat die Paasnaweek bymekaar sou kom, het hul byeenkomste gekanselleer. Vir die eerste keer is Paasfees nie net sonder kerrievis gevier nie, maar ook sonder die gebruiklike Vrydag- en Sondag-dienste.

Die volgende klagte was die formaat van die dienste.

Gemeentes was ontevrede omdat dienste nou deur middel van die internet, op Facebook en op Youtube gehou moet word. Predikante moes nou nuwe media baasraak. Dit het gesorg vir meer as een ongemaklike preek, waar predikante gevries het wanneer hulle in die selfoon of rekenaarkamera vaskyk in plaas van die gesigte van gemeentelede.

Die boodskappe wat herinner dat gemeentelede tog asseblief hulle kerkgeld moet betaal selfs (of dalk veral) wanneer hulle nie kerk bywoon nie, het selfs meer gereeld deurgekom. My plaaslike gemeente is selfs gevra om die kollekte wat hulle elke Sondag in die kollektebord sou gooi, by die bank in te betaal.

Meer as een siniese, gewoonlik ongekerkte, kommentator het gewonder of die predikante die kerke so graag wil heropen omdat hulle bekommerd is oor die siele, en of dit eerder die sakke is wat hulle mis.

Hoe dit ook al sy, mens sou verwag het dat die aankondiging verlede week dat kerke in vlak 3 van die grendelstaat sal heropen, met ope arms verwelkom sou word.

Toe nie.

Feitlik dadelik nadat die aankondiging gemaak is, en selfs nog voor die regulasies gepubliseer is, het die gemor onder herders begin. Een besonder intense Facebook-debat onder senior leiers in die Anglikaanse kerk was veral insiggewend.

Ouderdom is as problematies uitgelig. Dis algemene kennis dat die gemiddelde en getroue lidmaat van die meeste tradisionele kerke ouer as sestig is. In die Anglikaanse kerk, en ’n selfs groter probleem in die Rooms-Katolieke Kerk, is die gemiddelde ouderdom van die priester. Binne die Bisdom van Valsbaai in die Anglikaanse kerk is ongeveer 90% van die priesters ouer as sestig. Van die oorblywende 10% is ongeveer 1% jonger as vyftig.

Charismatiese kerke slaag daarin om jonger lidmate en predikers te trek. Tradisionele kerke is stadig maar seker besig om al ouer te word.

Heelparty priesters wat aan die debat deelgeneem het, was eerder ten gunste van alternatiewe aanlyn dienste as gewone dienste.

Die ondersteuning vir die persverklaring deur die Jesuïete, waarin hulle die besluit om te heropen as onverantwoordelik en liefdeloos bestempel, was besonder wyd onder predikante en priesters dwarsoor denominasies.

Dit kon dan seker nie ’n verrassing wees dat lidmate oor die naweek meegedeel is dat Anglikaanse kerke nie gaan heropen nie. Die VGK het tot dieselfde besluit gekom. Die NGK het verkies om dit aan gemeentes oor te laat of hulle wil heropen of nie.

Heelparty charismatiese kerke het ook besluit om nie te heropen nie. Die Zionist Christelike kerk, die grootste kerk in Suid-Afrika, bly geslote.

Sover lyk dit asof die enigste kerk wat ten gunste van die heropening van kerke praat, die omstrede Suid-Afrikaanse Sionskerk is. Dis ook die kerk wat gedreig het om voort te gaan met hul Paasvieringe in weerwil van die inperking.

Die ondervinding oorsee, en ook hier by ons, is dat kerkbyeenkomste sg superspreader events kan wees. Een kerk in Duitsland het na die heropening van hulle dienste tot minstens 107 nuwe infeksies gelei. Hier by ons is daar verskeie nuwe uitbrake gerapporteer nadat mense begrafnisse bygewoon het – met die toegelate 50 persone teenwoordig.

Dit maak dus sin dat kerke versigtig is om te heropen, en met reg. Veel beter om met Jan Tuisbly se karretjie te ry as om jou lidmate, van wie jy weet dat groot getalle in die weerlose kategorie val, aan gevaar bloot te stel.

Die vraag is egter nou, na wie het die regering geluister in hul besluit om kerke toe te laat om te heropen? As die grootste en mees gevestigde kerke nie ten gunste van heropening is nie, wie het die besluit beïnvloed? Wie word bevoordeel deur die heropening van kerke, en wie het die invloed om die regering in ’n blik te druk?

Maar veel meer as dit, hoeveel ander besluite word voorgehou as ná konsultasie met alle rolspelers, terwyl ’n beperkte, waarskynlik vooraf afgespreekte agenda deurgedruk word?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top