In die nuwe BBC TV-reeks Noughts and crosses is daar een toneel waar die karakter Callum sy vinger sny. Sephy gaan haal ’n pleister om die wond te bedek. Dis waarskynlik een van die mees potent tonele in die eerste episode, want die pleister is donkerbruin, en Callum is wit.
Die meeste wit lesers sou waarskynlik nog nooit agtergekom het dat vleeskleurige pleisters altyd wit vlees verteenwoordig nie. Hoekom sou hulle? Wit is hulle normaal. Ten spyte van die feit dat wit mense verreweg die minderheid in Suid-Afrika is, is pleisters vir wit velle steeds die norm. Wat Callum op die skerm ondervind, en wat blykbaar ’n geweldige skok vir wit kykers was, is normaal vir die meeste swart kykers (en pleistergebruikers). Selfs vandag, in 2020, moet ek moeite doen as ek pleisters wil kry wat by my vlees pas. Stap in by Clicks of Dis-Chem en enige ander winkel wat pleisters verkoop. Die kanse dat daar pleisters vir donkerder velle is, is bitter skraal.
Maak dit regtig saak watter kleur die pleister om jou vinger is? Vir doeleindes van ’n wond skoon, droog en higiënies hou, seker nie. Maar daar is ’n subtiele, dieper boodskap daaragter, van wie as die norm beskou word, wie se behoeftes en belange voorop gestel word. Sou die verbeelde wêreld van Noughts and crosses, waar swart mense se behoeftes vooropgestel word en wittes onderdruk word, regtig bestaan het, sou die wit opstand teen donker pleisters vinnig kom.
In Australiese televisie, op die sepie Home and away, word daar op die oomblik ’n selfdegeslagpaartjie uitgebeeld. Willow en Alex word deur hul ondersteuners as #Willex beskryf.Die reeks word in onder andere Australië, Nieu-Seeland en die Verenigde Koninkryk uitgesaai. Dit is algemeen beskou as ’n positiewe uitbeelding van ’n selfdegeslagverhouding totdat toegewyde kykers agtergekom het dat sekere tonele nie sin maak nie. Dit blyk toe dat stukkies dialoog en intieme oomblikke uit die Australiese weergawe gesny is, maar behoue gebly het in die Nieu-Seelandse en VK-uitsendings. Dis ’n sepie, so daar is in elk geval geen stomende tonele nie, maar selfs gewone intieme oomblikke soos ’n ligte soen op die mond is gesny. Dialoog waar die karakters vir mekaar sê hoe hulle oor mekaar voel, is gesny. Terselfdertyd word bedtonele tussen straight paartjies as roetine gewys.
Wat doen dit aan gay persone as enige verwysing na ’n emosionele komponent aan hul verhoudings net eenvoudig uitgesny word? Meer as dit, watter boodskap stuur dit aan heteroseksuele persone wat dalk nie andersins aan gay persone blootgestel word nie? Dit versterk bloot stereotipes dat gayverhoudings net oor seks gaan.
In The bold type, ’n Amerikaanse TV-reeks wat drie vriendinne by ’n glanstydskrif volg, ontgin die een karakter, Kat, haar biseksualiteit. Sy word deur haar vorige selfdegeslag partner gewaarsku dat die lesbiese gemeenskap haar nie sal aanvaar nie. “Really, bi erasure is still a thing?” vra haar kollega Oliver. The bold type word as revolusionêr beskou, omdat hulle biseksualiteit en ook die uitvee daarvan bespreek.
Op subtiele en minder subtiele maniere word daar steeds die boodskap uitgestuur dat queer mense abnormaal is, dat hulle nie geregtig is op dieselfde behandeling as ander nie. Is dit dan verrassend dat geweld teen queer mense aan die toeneem is?
Die laaste paar jaar het flieks soos Black panther en Hidden figures groot opslae gemaak, omdat dit die swart ervaring normaliseer. In hierdie flieks, en in TV-reekse soos Noughts and crosses, is swart karakters sentraal tot die storie. Hulle is nie net tokens, die hulpvaardige bediende of oppasser wat altyd beskikbaar is om die wit agenda te dien nie.
Sulke uitbeeldings maak saak. In ’n wêreld wat toenemend meer regs beweeg, waar daar al sterker beweging is om swart mense van hul regte te ontneem, is dit nodig dat positiewe swart beelde uitgesend word. Kyk maar na Amerika. Waar stemregte onderdruk word, is dit nege uit die tien keer swart kiesers wie se stemreg onderdruk word. Waar polisiebrutaliteit uitgeoefen word, is dit meesal teen swart burgers. Waar howe beskuldigdes in die steek laat, is dit meestal swart beskuldigdes wat in die steek gelaat word.
Net verlede week is daar ’n persoon tereggestel in Alabama. Nathaniel Woods was skuldig bevind aan die moord op ’n polisiebeampte, ten spyte van die feit dat daar geen direkte getuienis teen hom was nie. Iemand anders het vorendag gekom en skuld beken aan die moord. Verdere ondersoek het bevestig dat die ander persoon wel die skuldige was. Die vermoorde polisiebeampte se familie het gesmeek dat Woods se lewe gespaar moes word, omdat hy onskuldig was. Nogtans het die howe, en die goewerneur van Alabama, wat by magte was om die teregstelling te stop, besluit om voort te gaan. ’n Onskuldige man is deur die staat vermoor vir ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie.
Terselfdertyd, in Dallas, was ’n seun met die naam JT Hollis in aanhouding vir moord. Hy is gearresteer toe hy 14 was. Twee en ’n half jaar later, verlede week, is hy onskuldig bevind aan die moord. Die polisie het steeds geweier om hom vry te laat.
Woods en Hollis is albei swart. Sou hulle anders hanteer gewees het as die uitbeelding van swart mense nie konstant negatief was nie? Ek dink tog so.
Dit mag dalk lyk soos ’n soen hier en ’n pleister daar, maar wanneer mense se ervarings uitgevee word, het dit gevolge in die regtige lewe. Dis waarom representation saak maak. Dis hoekom ’n reeks soos Noughts and crosses so revolusionêr is.
Dis hoekom kuns saak maak.


Kommentaar
Gister luister ek na die bespreking by die Woordfees or Bruinidentiteit. Daar kla spreker oor bruin akteurs altyd randspelers in sepies is. Duidelik kyk daardie spreker nie Suidooster nie wat 'n baie goeie sepie is. Een vrou Fatiema het egter het iets gesê wat my getref het dat ons moet wegbreek van identiteite en mekaar net as mense beskou. Ek mag verkeerd wees , maar al hierdie dae wat gender en raskwessies aanspreek rig niks uit nie. Alles bly dieselfde. Ons hoor altyd Afrika is vir die Afrikane en Asië vir die Asiate, maar nooit Europa vir Europeërs nie en in my boekie is die Europese lande die mees verdraagsaamste teen minderheidsgroepe - kan dit nie van Afrika sê nie. Ek dink niemand sal omgee as pleisters deurskynend gemaak word nie - veral nie die wittes nie.