Hoekom ek nie meer koronagetalle volg nie

  • 4

Foto: Canva

Aanvanklik het ek die nuus slaafs gevolg. Soveel nuwe gevalle is aangeteken. Soveel nuwe gevalle is nou in my provinsie, soveel in my munisipale distrik.

Die getal grappies op WhatsApp, almal met ’n koronatema, het met omtrent 60 persent toegeneem. Dis onmoontlik om op sosiale media te gaan sonder om een of ander virusverwante status te sien. Daarmee saam het die fopnuus toegeneem. Sommiges is ooglopend vals. Ander is moeiliker om te onderskei.

Alles is ontstellend.

Skryf behoort mos nou makliker te wees, want daar is minder onderbrekings, nie waar nie? Inteendeel, ek het begin sukkel om te skryf en te konsentreer. Waar die ure vantevore omgevlieg het terwyl ek lees, kon geen boek my boei nie. Ek het gewissel tussen sleg slaap en ure omslaap.

Boonop is daar al die advies oor hoedat mens hierdie tyd van verpligte tuisbly kan gebruik om nuwe vaardighede aan te leer. Dit het my skuldig laat voel, want ek kon skaars dit wat ek reeds kan doen, volhou.

Ek het noodgedwonge geleer hoe om op Zoom vergaderings te hou, maar dis omtrent al.

Die belangrikste les wat ek in hierdie tyd geleer het, is dat daar dinge is wat heeltemal buite my beheer is. COVID-19 sal versprei, of dit sal betyds onder bedwang gebring word. Die lockdown-tydperk sal verleng word, of dit sal op 16 April tot ’n einde kom. Sommige mense sal gehoor gee aan die oproep om tuis te bly, ander sal rondloop asof hulle geen sorge in die wêreld het nie. Misdaad sal aangaan, of dit sal verminder. Die polisie en weermag sal magsvergrype pleeg, of hulle sal burgers se menseregte respekteer. Sommige mense sal stockpile, en ander sal sukkel om genoeg te kry om te eet. Die land se ekonomie sal heeltemal in die hek duik, of dit sal herstel.

Om rond te rol en my te bekommer oor goed waaraan ek niks kan doen nie, maak my siek en ongelukkig.

Beteken dit ek moet in sak en as gaan lê? Natuurlik nie. Aan die groot goed kan ek niks verander nie, maar ek is nie magteloos nie. Daar is dinge wat ek kan doen.

Ek kan tuisbly en so help om verspreiding van die virus te keer. Ek kan donasies gee aan organisasies wat die nood raaksien en aktief meewerk om honger mense te help. Ek kan kies om nie deel te wees van die groep wat fopnuus versprei nie. Ek kan kies om net positiewe materiaal op sosiale media te deel, en om my eie status updates positief te hou. Ek kan kies om positief te wees wanneer ek moet uitgaan en in ’n tou gaan staan. Ek kan kies om geduldig en vriendelik te wees met kassiere en ander mense wat dalk ook maar eerder by hul huis en hul mense wou bly, maar genoodsaak is om te werk.

Ek kan kies om te onthou dat nie almal dieselfde vlakke van geestesgesondheid handhaaf nie, en dat hierdie tydperk van stres moeiliker kan wees om te hanteer.

Ek kan kies om nie meer obsessief die getalle dop te hou nie.

My ma het aan die begin van lockdown ’n lysie gemaak van mense wat oud, alleen of siek is. Elke dag bel sy een persoon op daai lys, net om seker te maak hulle is oukei, dat hulle niks nodig het nie, en om hulle ’n bietjie op te beur. Ek het nou dieselfde begin doen. Soms het mense net nodig om te weet iemand dink aan hulle. Soms het ons nodig om te weet dat daar ander mense is vir wie ons tot hulp kan wees.

Ons is nie magteloos uitgelewer aan ’n virus, of aan regeringsaksie, of aan die lotery van ’n gesonde gestel nie. Ons kan iets doen, al is dit min. Ons kan kies om te onthou dat ons almal in uncharted territory is, en dat ons daarom soveel meer bedagsaam teenoor mekaar moet wees. Meer belangrik, ons het nodig om met meer kindness teenoor onsself op te tree.

Die oomblik toe ek dit besef het, het ek rustiger begin raak. So what as ek ligsinnighede kwytraak op Facebook? Dalk maak dit een persoon glimlag. Dis beter as om paniek te saai.

Ek het jare gelede ’n aanhaling gelees. Dit lui ongeveer so: “The rules for marriage and a lifeboat are the same. Make no sudden moves. Don’t crowd the other person. Keep all thoughts of disaster to yourself.”

Ons is in ’n reddingsboot die grootte van ons land. Miskien help dit om dieselfde reëls hier toe te pas.

Intussen, vasbyt.

#Stayhomestaysafe. #flattenthecurve

  • 4

Kommentaar

  • As ons nie langer die getalle volg nie, is ons nie langer bewus van die omvang van die siekte wat ons land en die wêreld getref het en kan dus nie oordeel of die inperkingsmaatreëls doeltreffend is waar dit gevolg en of die virus vinniger versprei in gebiede waar dit verontagsaam word.

  • Maryke Roberts

    Ek kan nie meer met jou saamstem nie! Vandat ek opgehou het met die sosiale media volg en elke nuusflits kyk, konsentreer en beter; kry werk gedoen en voel oor die algemeen minder ingehok. Stadig maar seker begin my chaotiese lessenaar weer normaal lyk.

  • Anthony Wilson

    As 'n mens daaraan dink dat ons 'n land is van meer as 50-miljoen burgers doen ons baie goed in vergeleke met lande soos ons s'n. Ek dink President CR en ons minister van Gesondheid hanteer die gewigtige saak tot die beste van hulle vermoeë en hulle luister ten minste na die kenners en wetenskaplikes. Maar ... ek wens regtig dat dit nou end kan kry! Jy kan regtig net soveel lees, televisie kyk of in die tuin werk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top