Hoekom afbrand tot jou eie nadeel?

  • 7

Foto van Bettina Wyngaard: verskaf

Die COVID-19-afdeling van die Desmond en Leah Tutu-kompleks in Khayelitsha word afgebrand nog voor dit in gebruik geneem kan word. Ambulanse word voorgekeer en die paramedici aangerand. Brandweervoertuie op pad om ’n brand te probeer blus word aangeval en die brandweermanne getraumatiseer. ’n Joernalis wat oor opstande berig wil lewer, word aangerand en beroof.

En dis maar die afgelope vyf dae, min of meer.

In elke geval lyk dit op die oog af asof die protesteerders tot hul eie nadeel en die van hul gemeenskap handel. Ons almal sou in ons eie gemeenskap, in ’n sentrale gedeelte, ’n splinternuwe COVID-19-fasiliteit waardeer. Wie wil weggaan om in isolasie te gaan as jy dit binne jou eie gemeenskap kan doen? Dink aan die geld wat hieraan spandeer is. En nou kan dit glad nie gebruik word nie.

Enigeen wat al die brandweer probeer ontbied het, weet watter rompslomp dit is om hulle sover te kry om ’n brand te blus. In ons area moet jy na-ure Bredasdorp toe bel en eers ’n verwysingsnommer kry voordat die brandweermanne opdrag kry om uit te kom. Voor jy daai verwysing kry, moet jy omtrent jou lewe wegteken. Teen die tyd dat die brandweerwa opdaag, is die huis afgebrand of die gemeenskap het dit self gered. Jy kon jouself netsowel die moeite van ’n oproep gespaar het. Waarom sal protesteerders dan ’n brandweerspan wat betyds opdaag om nog iets te red, verhinder om hul werk te doen? En in elke geval was dit by geboue wat die gemeenskap op een of ander wyse van diens is.

Ditto die paramedici. Ditto die joernalis, wat in alle waarskynlikheid die kwellinge van die protesteerders aan ’n veel wyer gehoor sou bekend maak. Dit sou heel moontlik simpatie vir die protesteerders se saak ontlok het. Mediadekking kan lei tot druk om kwessies vinniger op te los.

En natuurlik het die beskuldigings dat “hulle” net als vernietig, baie vinnig gekom. Die subteks is baie duidelik. “Hulle” is swartmense, wat niks waardeer en nie weet van goed oppas nie. “Hulle” is barbare. En die teenoorgestelde word ook stilswyend veronderstel. “Ons” is opgevoed en sal nie afbrand en vernietig nie.

Die “hulle” en “ons” retoriek het nog nooit gehelp nie, want onmiddellik word mense op grond van ras en (soms) klas in groepies verdeel. Die oomblik die groepies gemaak is, word daar laer getrek. “Ons” is reg, en “hulle” is verkeerd – van beide kante.

Riots are the protest of the unheard, het Martin Luther King jnr by geleentheid gesê. Dan moet die vraag gevra word: as hy reg is, en ek dink hy is, waarom voel mense hulle word nie gehoor nie? Waaroor word hulle nie gehoor nie?

Tot dusver was die beskadigings gemik teen werknemers en eiendom van die Stad Kaapstad. Die protesaksie gaan oor versuime van die stadsbestuur.

Het enigeen al gewonder hoe lank die gemeenskap met die stad probeer praat het voordat hulle tot gewelddadige aksie oorgegaan het? Onthou, dis dieselfde stad wat in weerwil met wetgewing in die winter en tydens ’n pandemie mense uit hul huise gesit en die huise laat platstoot het. En dis elke winter dieselfde storie. Sodra dit koud en nat begin word, sit hulle mense uit.

Vergeet wetgewing, waar is die medemenslikheid? Dit kos besondere hardvogtigheid om mense in die reën en snerpende koue sonder ’n dak te laat. 

’n Vriendin wat in een van die mees gegoede dele van Kaapstad bly, kla verlede week op Facebook dat sy vir vyf dae sonder elektrisiteit gesit het, en net geen reaksie van die munisipaliteit kon kry om die fout te kom opspoor en herstel nie. Hoeveel langer, wonder ek, sou ’n bewoner van een van Khayelitsha se buurte sukkel om diens te kry? 

En dan is daar COVID-19. Binne maande word daar fasiliteite daarvoor gebou, terwyl ander dienste wat hoër op die gemeenskap se lys prioriteite is, nie aandag geniet nie. Ons aanvaar dat Amerikaners met al die tegnologie tot hul beskikking, weier om Korona ernstig op te neem. Maar wanneer ons eie mense dit duidelik maak dat hulle ander prioriteite het, soos werk en eet, dan is dit die gevolg van onnoselheid? Is dit?

Sou die protes steeds gebeur het, en so ontwrigtend wees, as inwoners gevoel het daar word na hul besware geluister en hulle is vennote met die stad?

Sou hulle meer bereid wees om geduld te gebruik as in hul basiese behoeftes, aan kos en ’n inkomste, voorsien was?

Dis maklik om vanuit die gerief van ’n geboude huis, met genoeg spasie vir verskeie mense om in isolasie te gaan, kritiek te lewer. Dis ’n heeltemal ander saak wanneer jy in ’n plakkershut ingedruk sit met verskeie ander mense en ’n lewe probeer maak.

Dalk, voordat ons mense se optrede veroordeel, moet ons probeer verstaan wat hulle beweegredes is. Wie weet, dalk vind ons dat ons in dieselfde omstandighede presies dieselfde sou doen?  

  • 7

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Ek kom onlangs op die stuk hieronder af wat deur 'n Prof. Coetzee geskryf is en basies antwoorde verskaf op Bettina se stuk. Hier's wat hy sê en ek deel dit oorwegend:

    "Baie mense beskou blykbaar diefstal en roof, as heel aanvaarbaar; jy moet net beweer jy was daartoe gedryf deur honger, gebrek, apartheid, of die waan dat jou oer-voorouers onderdruk was.
    Laat ons dus maar vandag oor 'n paar sake reguit praat:

    'n Mens steel nie omdat jy honger of arm is nie - jy steel omdat jy skelm is. Niemand was nog ooit in hierdie land so volledig onderdruk, soos die Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog nie.

    Ons voorouers wat die oorlog en die konsentrasiekampe oorleef het, het na die doodse leegheid van vernietigde plase teruggekeer - uitgehonger, hartseer en verpletter. MAAR, hulle het nie geroof en gemoor en gesteel nie. Hulle het met harde werk, deursettingsvermoë en swaarkry so presteer, dat hulle weldra hulleself kon versorg.

    Toe hulle kinders in Engelse skole gestop is en gestraf is as hulle dit durf waag het om Afrikaans te praat, het hulle nie klippe gegooi en skole afgebrand en geweld gepleeg nie. Hulle het hard geleer, hulle eie CVO-skole gestig en uiteindelik bo uitgekom, sodat die Afrikaner vandag vir niemand op akademiese, tegnologiese of wetenskaplike gebied terug hoef te staan nie.

    'n Mens moor nie omdat jy voorheen benadeel is of omdat jou werkgewer jou nie tederlik genoeg behandel nie - 'n mens moor omdat jy 'n barbaar is, wat nie verdien om deel van die samelewing te wees nie.

    Na die Tweede Vryheidsoorlog het Afrikanermynwerkers absoluut geen regte gehad nie en moes hulle hulle gesinne met minder as 'n hongerloon probeer onderhou. MAAR hulle het nie bejaardes gaan doodmartel en gesinne uitgemoor nie.

    'n Mens word nie 'n agtergeblewene, omdat iemand anders nie genoeg vir jou doen nie. 'n Mens word 'n agterblyer, omdat jy nie presteer nie. Niemand het die Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog vooruit gehelp nie – ons het self gewerk en volhard om sukses te behaal. En élke ding wat ons het, het ons verwerf! Selfs in die nuwe Suid-Afrika is daar steeds geleenthede vir vindingryke, geesdriftige mense wat bereid is om hard te werk en vir hulleself 'n toekoms los te spook.

    Mag die Afrikaner nooit pateties raak nie."

  • Martin Lombaard

    Ja die eerste vraag is – hoekom die bietjie wat ons het verder verwoes. Ek verstaan daar is ’n gevoel van hopeloosheid en dat dit waarkynlik tot die gedrag bydrae, maar kyk ’n mens weier en jy sien hoe die armstes van armes deur hulle verkose verteenwoordiger besteel word dan wonder jy. Sien jy hoe biljoene rande deur ondeurdagte planne vermors word en die planne deur nog planne en nog planne opgevolg wat nooit tot uitvoer kom, dan wonder jy. Kyk jy na disfunksionele munisipaliteite, staatshospitale, Eskom, Denel ens ens ... dan wonder jy. Kyk jy na ’n Zimbabwe en jy sien die korrupsie en waarde vernietigende beleide (die selfde patroon) dan wonder jy.
    Miskien is deel van die antwoord wel in diepliggende kultuur verskille? Waardes, norme, gebruike wat oor ’n lang lang tyd ontwikkel is binne ’n gemeenskap. Miskien is daar ’n ons en hulle?

  • Henning Janse van Vuuren

    Betreklik onlangs lees ek Crime and Punishment. “Crime and Punishment is a novel by Russian author Fyodor Dostoevsky. It was the first great novel of his mature period. It was first published in the literary journal The Russian Messenger in 12 monthly series in 1866.” ‒ Wikipedia

    Geen teks as daar nie konteks is nie, sê hulle; maar darem ook: ʼn goeie begrip het ʼn halwe woord nodig. Hier volg ʼn paar interessante uittreksels in Engels soos deur CJ Hogarth vertaal.

    1.
    “It began with the socialist doctrine. You know their doctrine; crime is a protest against the abnormality of the social organisation and nothing more; and nothing more; no other causes admitted!”
    “You are wrong there,” cried Porfiry Petrovitch; he was noticeably animated and kept laughing as he looked at Razumihin, which made him more excited than ever.
    “Nothing is admitted,” Razumihin interrupted with heat.
    “I’m not wrong. I’ll show you their pamphlets. Everything with them is ‘the influence of environment,’ and nothing else. Their favourite phrase! From which it follows that, if society is normally organised, all crime will cease at once, since there will be nothing to protest against and all men will become righteous in the instant.”

    2.
    “Strength, strength is what one wants, you can get nothing without it, and strength must be won by strength – that’s what they don’t know.”

    3.
    “Man is a vile creature! And vile is he who calls him vile for that.”

    4.
    “Is it possible that he has nothing but cowardice and fear of death to make him live?” she thought.

    5.
    “Look at these suicides, too, how common they are, you can’t fancy! People spend their last halfpenny and kill themselves, boys and girls and old people.”

    6.
    “Oh, sceptics and halfpenny philosophers, why do you halt half-way?”

    7.
    “He dreamt that the whole world was condemned to a terrible new strange plague that had come to Europe from the depths of Asia. All were to be destroyed except a very few chosen.”

    8.
    “I like them to talk nonsense. That’s man’s one privilege over all creation.”

    Verseker ’n lees werd.

  • Korrek. As jy nie selfrespek het nie, kan jy nie vir iets of iemand anders respek betoon nie. As jy aan 'n minderwaardigheidskompleks lei, gaan jy almal en alles om joueslf blameer in plaas daarvan om die fout by joueself te soek.

  • Johann Basson

    Geagte Bettina,

    Publiseer asseblief in Litnet eenduidig, bondig en puntsgewys u mening wat gedoen moet word om die utopiese Suid-Afrikaanse nasie te verwesenlik.

    Mooi week vir u.

  • Martin Lombaard

    Die skryfster verwys in haar artikel “Hoekom afbrand tot jou eie nadeel?” na die retoriek van “hulle” en “ons”.
    ’n “Hulle en ons” is verseker relevant. Ons kan ons nie blind hou vir groeperinge in die samelewing nie. Nog minder kan ons blind wees dat een groep toegelaat word om ’n ander uit te wys, maar in die ander rigting word dit nie toegelaat nie. Ek as blanke ervaar dit toenemend dat politieke korrektheid en die gewilligheid om daaraan mee te doen as ’n wapen teen my gebruik word.
    Groepe is natuurlike verskynsels. Groepering vorm ook die basis van van verskeie indien nie alle wetenskappe nie. Me Wyngaard haarself verwys immers hier na ’n sekere groeperings mense, hulle situasie en hulle reaksie daarop.
    Ek stem wel saam ’n mens nie moet vashaak by die definisie van die groep nie. ’n Mens kan egter ook nie blind wees vir ’n groep se gedrag en reaksie op ’n situasie nie.
    Groepsgedrag is ’n dinamise proses waar ’n groep se kultuur, waardes en norme gevorm word en wat uiteindelik vir die waarnemers die groep definieer. Daarom is die woorde Chinese, Amerikaners ens. konsepte van groepe wat veel meer betekenis dra as net die plek op aarde waar hulle bly.
    Die verdere punt wat ek gemaak het was dat ons enorme verliese aan hulpbronne lei omdat sekere groepe in die hartseer land van ons voorgee dat hulle in belang van “die mense” optree. As ’n mens nie blind of onnosel is nie kan jy mos sien dat hulle net een ding in gedagte het en dit is om te steel en te plunder. Ja, hulle vorm inderdaad ’n groep by wyse van hulle gedrag. Dit is ongelukkig ook so dat hierdie gedrag die kenmerk van baie Afrika-regerings is.
    Ek maak ook die stelling dat sekere groepe vernietig en verwoes eerder as om self ’n plan te maak. Sommige maak ’n plan en bou ’n klaskamer self ander brand eerder die tien wat hulle het af en dan kla hulle dat hulle niks het nie. ’n Mens moet inderdaad realiteit ontken om dit nie te sien nie en nie sekere groepé daaraan te koppel nie. As jy ’n trop geelbruin diere sien wat ’n bok vang sien jy leeus, of hoe?

  • Berdéhan Brand

    Die meegaande kommentare (buite) kwalifiseer die stelling wat die skrywer maak ten opsigte van die beweegredes wat lei tot vernietiging en vandalisme – “hulle vernietig alles”, “hulle is so gemaak”, “ons is so geleer” – die hulle-ons- sindroom wat die “ons” verhef tot ’n status van waansin- superioriteit en ’n uitverkore onaantasbaarheid, eie aan ’n ideologie van “óns ís, julle nie” en die onteiening van ’n ander se reg om te “is”.
    Die vraag of vandalisme aanvaarbaar is, is nie ter sprake nie, wél in watter mate dit wat aanleiding gegee het tot aksie, aangespreek is en wat die oorsprong is. Die oorsprong is vir seker, soos beweer, nie aangebore nie. En vernietiging is ook nie ’n oplossing nie.
    ’n Psigologiese analise oor die beweegredes wat tot optredes soos die lei, is van toepassing en ondersteun die skrywer se retoriek. Dan kan mens vra wát die ontkenning van die werklikheid is – “hulle” of “ons”, en of daar ’n gemene deler is wat die balansstaat sal kan laat klop in die verbrande land, indien ooit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top