Paulus en Malta
Die verhaal van Paulus se stranding op Malta is in Handelinge 28:1–11 opgeteken: hoe die skipbreukelinge ontdek het dat hulle op Malta is, hoe die Maltese hulle vriendelik ontvang het en hoe Paulus ʼn giftige slangbyt oorleef het. Hy is daarna as ’n god beskou. Die baai waarin die skip gestrand het, staan vandag nog as St Paul’s Bay bekend. Hy is vir drie dae deur die hoof van die eiland, Publius, onthaal en het dié se pa van sy maagkoors genees. Daarna het hy ook ander siekes genees. Die gevolg daarvan was dat een van die heel vroegste Christelike gemeentes op Malta ontstaan het – en die eilanders is vandag nog, na byna 2 000 jaar, steeds oorheersend gelowige Katolieke. Weens die ligging van die eiland in die Middellandse See is die arme Maltese oor duisende jare deur talle nasies oorgeneem: die Fenisiërs, Romeine, Arabiere, Nore, Duitsers, Spanjaarde, Franse en uiteindelik die Britte, asook in ’n stadium die Ridders van die Orde van die Heilige Johannes die Doper (Knights of the Order of St John the Baptist). Nadat die eiland tydens die Tweede Wêreldoorlog vir oulaas woes gebombardeer is, is onafhanklikheid van Brittanje in 1964 verkry. Die beleg waaroor hierdie artikel gaan, het plaasgevind in 1565, toe die Ridders in beheer van die eiland was.
Geskiedenis van die Ridders van die Orde van die Heilige Johannes die Doper
Die Orde het sy oorsprong gehad in ʼn hospitaal vir Europese Christen-pelgrims wat in die 11de eeu in Jerusalem opgerig is. Die reis na Jerusalem was gevaarlik en pelgrims het dikwels gehawend in Jerusalem aangekom. Daar het die Orde se dokters na hulle omgesien. Later is herberge ook in ʼn aantal Europese stede op die pelgrims se roete na Palestina ingerig. Omdat onder andere Turkse aanvalle die reis bemoeilik het, is ʼn militêre been van die Orde gestig om die pelgrims daarteen te beskerm.
In 1291, na die val van die laaste Christelike vastrapplekke in Palestina, het die Ridders eers na Siprus en later, in 1310, na Rhodes emigreer. Omdat Turkye so naby aan Rhodes geleë is, het die primêre rede vir hul voortbestaan oor twee eeue verander deurdat hulle grotendeels soldate en seevaarders geword het. Oor twee eeue, totdat Suleiman die Manjifieke, heerser van Turkye, hulle in 1522 van Rhodes verdryf het, het hulle die beste seemanne in die geskiedenis van die Middellandse See geword. Geen Turkse skip was veilig nie.
Dis ook op Rhodes dat die Ridders die vorm van hulle Orde ontwikkel het. Hulle was ʼn bonte roesemoes van (hoogmoedige) edelmanne uit al die Europese nasies, ʼn vreemde legioen van militante Christene. Die agtpuntige kruis wat deesdae oral op Malta te koop en te sien is, was hulle kenteken. Die vier arms het die vier deugde verteenwoordig: wysheid, gematigdheid, vasberadenheid en geregtigheid. Die agt punte het die agt taalgroepe van hul samestellende Europese nasies voorgestel: Auvergne, Provence, Frankryk, Aragon, Castile, Engeland, Duitsland en Italië. Die behoud van die taalgroepe was ʼn belangrike rede vir die sukses van die Ridders tydens gevegte, aangesien die verskillende taalgroepe nie by mekaar wou afsteek nie.
Suleiman se Ottomaanse Turke het hulle nietemin van Rhodes af verdryf en hulle moes vir ʼn aantal jaar rondswerf voordat Charles V van Spanje Malta in 1530 aan hulle gegee het. Hieroor was die Ridders nie besonder opgewonde nie, want Malta was, in teenstelling met Rhodes, weinig meer as ʼn barre sandsteenrots suid van Sisilië en Italië. Die eilandgroep bestaan uit die hoofeilande (Malta, Gozo en Comino) en twee kleiner eilande (Cominotto en Fifla).

Kaart van die Maltese eilande. Die foto is vanuit die noordooste van die rooi vierkant geneem. (Foto: verskaf)
Wat die Ridders in hul lot laat berus het, was die drie veilige hawens aan die noordelike en suidoostelike kuslyn van die hoofeiland: Grand Harbour en Marsamuscetto (A en B op die foto) aan weerskante van die skiereiland waarop die hoofstad Valletta tans geleë (C) is in die noorde. Marsaxlokk is in die suidooste (sien kaart).
Die fortifikasie van Malta
Die eiland was egter van besondere strategiese betekenis, omdat dit aan die ekspansionistiese Turke ʼn vastrapplek na die res van Christelike Europa kon bied. Toe die Ridders dus daar aanland, het hulle dit dadelik begin fortifiseer. As blyplek het hulle die klein dorpie Birgu (D op foto) op een van die skiereilandjies in Grand Harbour gekies. Die fort op die punt van dié skiereiland, Fort St Angelo (E), is ook versterk. Twee ander forte is bykomend gebou: Fort St Elmo (G) op die punt van die grootste skiereiland en Fort St Michael (F) aan die landgrens van die Senglea-skiereiland. Kanonne in Fort St Elmo en Fort St Angelo het die Ridders in staat gestel om die ingange van beide Grand Harbour en Marsamuscetto-hawe te beheer.

Lugfoto vanaf die noordoostelike kant van die huidige Valletta (C). Let op die Middellandse See aan die verste kant van die eiland. (Foto: verskaf)
Oorlog op die horison
Die Ridders met hulle galeie (aangedryf deur ongeveer 300 galeislawe met roeispane) het voortgegaan om die Turkse handelskepe te terroriseer – tot so ʼn mate dat Suleiman in 1565 ʼn mag van ongeveer 48 000 Ottomaanse Turke met in die omgewing van 200 galeie en voorraadskepe na Malta gestuur het. Die doelwit was om Malta eers oor te neem en daarna na Sisilië en Italië te beweeg. Weens die ongelooflike wreedheid van die Turke het Europese Christene tot in Engeland hulle asems opgehou oor die uitslag van die geveg. Ongeveer 8 000 Christelike vegters het die Moslems ingewag: 540 Ridders, 4 000 Maltese vegters en 3 500 beroepsoldate uit Spanje en Italië. Die Ridders was dus by verre in die minderheid, maar hulle was toegewyde soldate onder aanvoering van die geharde Jean de Valette, ʼn Franse ridder.
Aanval op St Elmo
Die Turkse vloot het op 18 Mei 1565 sonder teenstand geland en hulle eerste doelwit was om ʼn veilige hawe vir hulle skepe te verseker. Met dit in gedagte het hulle Fort St Elmo aangeval, waarvan die verowering hulle in staat sou stel om Marsamuscetto se hawe te beset en dan van daar aanvalle op Fort St Angelo en Fort St Michael te loods. Na ʼn heroïese weerstand van 31 dae het Fort St Elmo geswig voor die massiewe bombardering en aanhoudende aanvalle van die Turke. Nadat die fort oorgeneem is, het die Turke hulle aanvalle op Birgu en Senglea en die forte daar begin rig.

'n Panoramiese uitsig vanaf die hoogtes van Valetta oor Grand Harbour op Fort St Angelo (1) en Senglea (2). (Foto: verskaf)
Turkse aftog en Paulus
Hoewel die stadjies vir meer as twee maande aan aanhoudende bombardering en tallose aanvalle onderwerp is en tot ruïnes geskiet is, moes die gedemoraliseerde Turke (van wie net 10 000 man oor was) op 18 September 1565 die aftog blaas nadat ʼn klein aflosmag van 8 000 troepe van Sisilië op die eiland geland het.
Maar hoekom beweer ek dan Paulus het die oorlog teen die Turke gewen?
Nadat Fort St Elmo verower is, het die Turke, met wie die Maltese baie gemeen het, besluit om die oorlog te probeer verkort deur die Maltese vegters uit te nooi om by hulle aan te sluit. Die Maltese se reaksie? Twee weergawes daarvan bestaan:
“Ons sal eerder die slawe van die Ridders wees as die bondgenote van die Turke.”
“Dié wat vyande van die Ridders van Rhodes is, is ook die vyande van die Maltese.”
Toe Paulus die Christelike geloof op die eiland bekendgestel het, is die grondslag van die samewerking tussen die Ridders en die Maltese gelê. Daarsonder sou die Ridders ongetwyfeld die oorlog verloor het.
Omdat die beleg na 455 jaar steeds so bekend is, dien die samewerking tussen die verskillende groepe Christene en hulle heldhaftige bereidwilligheid om in hulle duisende vir hulle geloof te sterf vandag nog as inspirasie vir Christene wêreldwyd.
|
Feite oor die Beleg van Malta
|
Bronne
Allen, Bruce Ware. 2015. The Great Siege of Malta. University Press of New England, VSA.
Bradford, Ernle. 1961. The Great Siege Malta 1565. Open Road Integrated Media, Inc. New York.
Malta and its islands. 2019. Miller Distributors Limited.





Kommentaar
Ek het die interessante artikel met belangstelling gelees. Ons was al op Rhodos en het die Ridders se nalatenskap gesien en het ook op Malta gereis. Malta is 'n interessante eiland met 'n interessante geskiedenis.
Ek het die volgende artikel in LitNet gepubliseer:
https://www.litnet.co.za/vyf-dae-in-malta-arena-van-die-geskiedenis/
Dankie vir die artikel!
Die agt punte van die Malteserkruis voorstel ook die agt Saligsprekinge.
Baie dankie vir die positiewe terugvoer en nuttige wenke, Koos en Andrew.