
Fotobron: Pixabay
Ons samelewing aanbid graag by die altaar van jeug, maar ’n vervaldatum vir ouderdom hoort eintlik net op kos in die supermark, skryf Carla van der Spuy (69). Jy kan ’n jong genie of ’n ou meester wees.
Die lewe sou soveel makliker gewees het as ons op 80 gebore is en algaande 18 genader het, het Mark Twain meer as ’n eeu gelede gesê.
Famous last words?
Dis te betwyfel of dit vandag nog van toepassing is. Verby is die dae van op jou stoep na die Magaliesberge of die see sit en tuur of iewers in ’n hoekie hekel wanneer jy jou sesde dekade bereik het. Want te oordeel aan die wyse waarop talle seniors deesdae die lewe vreesloos aanpak, aanhou werk en selfs nuwe avonture of verandering van werk aandurf, is hulle ’n geslag om deeglik mee rekening te hou.
Party kenners meen selfs dat mens slimmer raak met die jare en dat jy jou beste werkprestasies in jou later jare lewer.
Natuurlik bring die ouderdom ook frustrasies. Dit gee jou grys hare. ’n “Betroubare” weegskaal is skaarser as ’n naald in ’n hooimied. Jou vel het sy blos verloor, die swaartekrag kom hang aan jou lyf en jou dye lyk soos maaskaas – nie die gladde soort nie. Jou spieël spel ontnugtering uit en jou badkamer is tot rampgebied verklaar.
Mense begin van jou in die verlede tyd te praat. (Dit is gewoonlik ’n aanduiding dat jy óf oud óf dood is.) Jy lyk deesdae in jou onderklere soos ’n model wat vir Mad Magazine kwalifiseer.
Maar ydelheid opsy geskuif, gaan jou brein werklik agteruit?
Nee wat, meen sommige kenners, jy is juis op jou beste gedurende jou goue jare. Talle skrywers meen dat die muse die jare goed behandel. Hulle skryf makliker as toe hulle nog gretige beginners was.
Daar word met reg baie oor gender-, rasse- en kultuurvooroordeel gepraat. Maar dalk is ouderdomsvooroordeel een van ons grootste probleme – een wat blitsig reggestel moet word. As jy ouer as 60 is, word aangeneem dat jy tegnologies onnosel is, nie nuwe kennis kan opdoen nie, vergeetagtig en stadiger van begrip raak. Jy word eenvoudig as onbekwamer beskou, traag om jou moue op te rol. Jy hoort mos in ’n ouetehuis, of hoe?
My oor-, neus- en keelspesialis, John Callaghan, is 94 jaar oud. Hy praktiseer nog en voer steeds klein operasies uit. Hy groet jou met ’n stewige handdruk en kom gou agter die kap van die byl wat jou mediese probleme betref. Baie ander spesialiste verwys hul pasiënte na hom toe as hulle raadop is.
Sy kennis is verstommend, sy brein glashelder, en hy stap elke dag lag-lag ’n paar verdiepings se trappe na sy spreekkamer op. Hy woon ook graag mediese kongresse oorsee by.
Hoekom sou ek ’n dokter in sy twintigs of dertigs gaan spreek as ek by een met 70 jaar se ervaring kan aanklop?
Ek het ook op die internet gelees oor ’n Russiese dokter wat op 100 nog geopereer het. Op Griekse eilande sien jy ou omies van by die 80 nog laatnag werk. Dit kan hoop bring vir diegene wat gebreinspoel is om te dink dat hulle op 60 te oud en oor die muur is om te werk.
Daar is skrywers wat tot in hul agtste of negende dekade nog die een blitsverkoper na die ander uitryg.
Die Bybel praat ook nie van aftrede nie en navorsing het boonop bevind dat mense wat later aftree, langer leef.
Daar is goeie redes waarom ouer mens moet aanhou werk. Volgens navorsing neem mense se lewensverwagting jaarliks met drie maande toe. Aan die begin van die 20ste eeu was die gemiddelde lewensverwagting in Amerika 47 jaar; dis nou 79 jaar en dit behoort teen die einde van hierdie eeu glo 100 te wees.
Daar word dikwels aangevoer dat ouer mense na die arbeidsmark teruggebring moet word om belangrike en betekenisvolle werk te lewer. Goed, daar is diegene wat hul goue jare op weelderige passasierskepe verwyl, wêreldwyd reis, gholf speel of rondom swembaddens luier. Maar watter persentasie van die bevolking kan dit bekostig? Daar is al keer op keer berig oor mense wat kort na aftrede nutteloos en depressief voel omdat hulle nie ’n doelwit in die lewe het nie.
Stephen Hawking is al soos volg aangehaal: “Werk gee betekenis aan jou lewe. Sonder werk is jou lewe leeg.”
Dit geld natuurlik veral vir diegene wat van hul werk hou. So is baie mense tussen 60 en 70 nog flink besig om die pot aan die kook te hou.
Op 89 word Warren Buffet nog steeds as een van die briljantste finansiële breine beskou. Sy regterhand, Charlie Munger, is ’n hele 95. Jane Fonda is op 81 steeds indrukwekkend as aktrise en aktivis.
Amerikaanse presidente is allesbehalwe bogsnuiters. Slegs twee van hulle, van wie JF Kennedy een was, was jonger as 50. Altesame 43 was ouer as 50 en 22 ouer as 60 of selfs nog ouer.
Voordele van ouer werknemers
Maar watter voordele hou ouer werknemers vir maatskappye in?
’n Mens se fisieke krag kan dalk na 30 begin afneem, maar kennis en ervaring, wat die grootste aanduidings van werkprestasies is, kan tot selfs na 80 toeneem. Dit is eienskappe soos nuuskierigheid en die behoefte om nuwe dinge aan te leer waar daar geen ouderdomsperk is nie. Hoe meer jy intellektueel betrokke bly namate jy ouer word, hoe waardevoller is jy vir die arbeidsmark.
Met ouer mense in die werkplek is daar meer kognitiewe verskeidenheid. Ouderdom bring wysheid, jare lange ervaring en kritiese denke. Omgekeerde mentorskap, waardeur die jonges die oueres met byvoorbeeld tegnologie touwys maak, kan ook ’n positiewe bydrae lewer.
Daar is beroepe in sekere nywerhede, soos juwelier-, kabinet- en kaasmakery, waar die tegniese vaardighede oor ’n dekade of selfs langer verfyn word.
Ouer mense bly ook langer in een beroep en neem minder verlof, aldus die US Bureau of Labor Statistics.
Hulle beskik oor ’n streng werksetiek en talle werkgewers het gemeld dat seniors gewoonlik eerste op kantoor opdaag en heeldag gefokus bly.
Hulle beskik oor sakekennis en netwerke wat oor jare opgebou is. Die moontlikheid is ook sterk dat hulle buigsamer ure kan werk, omdat hulle nie jong gesinne tuis moet versorg nie.
Hulle is konsekwent en gee persoonlike aandag aan klante en kliënte. Dit mag sommige mense dalk verbaas, maar ouer werknemers genereer glo meer besigheid. Party klante dring daarop aan dat ouer mense in ’n restaurant hul geregte voorberei.
In ’n neutedop is bevind dat werknemers alle ouderdomsgroepe in ondernemings behoort te verteenwoordig. So het Sandra Robbins, die stigter van The Shadowbox Theatre in Brooklyn, waar 27 000 kinders jaarliks vertonings bywoon, besluit om mense van alle ouderdomme, tot in hul sewentigs, in diens te neem sodat kinders kan besef hoe belangriks dit is dat mense van verskillende ouderdomme en etniese agtergronde kan saamwerk.
Onder die soort werk wat as geskik vir ouer mense aangedui word, is beroepe as eiendomswaardeerders, tegniese skrywers, belastingkenners, eiendomsagente en predikante. ’n Studie in 2013 het bevind dat werknemers tussen die ouderdomme van 60 en 74 selfs 10% tot 20% meer as hul jonger kollegas verdien.
Laat loopbaanskuif
Wat van ’n loopbaanskuif na 60? Sou dit ’n wyse besluit wees?
Die goeie nuus is dat as jy jou lewe lank aktief was, jou spiere en gewrigte gedurende jou sestigerjare nog in ’n taamlik goeie toestand sal wees, al bring die jare en ’n passiewe leefwyse pynlike gewrigte as gevolg van die verlies van kraakbeen en gewrigsvog en swakker spiere mee.
Die gemiddelde ouderdom van mense in die arbeidsmag word, aldus Fullerton en Johnston en Packer, toenemend hoër. Die vraag is dus of ouer mense se werksverrigting beter as jonger mense s’n is.
Die goeie nuus is dat empiriese navorsing oor die onderwerp getoon het dat daar so te sê geen verband tussen ouderdom en jou werksvermoë is nie. Jy mag dalk fisiek tot minder in staat wees, maar jy vergoed dubbel en dwars daarvoor met ervaring en kennis.
Tegnologiese agterstand
Seniors is dikwels so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen vir enige nuwe vorm van tegnologie, terwyl tweejariges handig oor hul ouers se slimfone vee.
Hulle kan egter tegnologie bemeester as hulle wil. Dis ’n mite dat ouer mense tegnologies gestrem is. So het Barbara Liskov (76) die Association for Computing Machinery’s AM Turing-toekenning gekry vir haar pionierswerk in die ontwerp van ’n rekenaarprogrammeringsprogram. Dit word as een van die grootste pluimpies in wetenskap en ingenieurswese beskou.
Die aanname dat slegs jongmense in hul twintigs maatskappye ter waarde van miljarde rande in hul koshuiskamers en motorhuise begin, dus daargelaat.
Produktiewer
Een studie het bevind dat ouer werknemers se produktiwiteit meer konsekwent as dié van jonger werkers was. Die studie het 101 jong volwassenes (20 tot 31) en 103 ouer volwassenes (65 tot 80) ten opsigte van 12 verskillende take oor 100 dae getoets. Die take het kognitiewe vermoëns, spoed, episodiese en werksgeheue ingesluit. Die navorsers het verwag dat die jonger geslag beter sou vaar, maar die ouer mense se resultate het veel stabieler vertoon.
Skeptici wou egter nie hieraan byt nie.
Dit mag alles waar wees, het hulle gesê, maar ouer mense leer en onthou dalk minder en dit duur langer om iets onder die knie te kry as wat die geval met die jongklomp is, het hulle aangevoer.
Weer eens was dit nie die geval nie. Die rede is waarskynlik dat hulle oor ’n goudmyn van kennis beskik wat hulle daartoe in staat stel om strategieë vir probleemoplossing te skep. Daar is ook bevind dat hulle meer gemotiveerd, stabieler en minder wisselvallig as die jonges was.
Ervaring vergoed dus vir die fisieke en verstandelike veranderings wat met veroudering gepaardgaan.
Ouer mens kán tegniese vaardighede aanleer indien hulle die geleentheid gegun word om dit te doen. Die menslike brein is immers aanpasbaar en ons kan nuwe kennis bemeester en gebruik solank ons redelik gesond en oopkop vir nuwe ervarings is.
Vooroordeel lei tot misverstande. Ons samelewing aanbid mos by die altaar van jeug. En ouderdomsdiskriminasie fokus op die jeug en nie op ouer mense nie.
Natuurlik is dit nie almal beskore om in hul later jare te werk nie. Maar vir ander is ouderdom nie ’n chronologiese proses nie maar eerder ’n individuele proses. Dit is natuurlik ’n gegewe dat party mense gouer as ander verouder. Kyk maar net na jou klasmaats van dekades gelede by matriekreünies. En baie daag nie eers op nie, want hulle is lankal nie meer met ons nie.
Ja, party mense verloor hul liggaamlike funksies en breinselle gouer as ander. Maar sou jy een van die gelukkiges wees wat nie in hierdie groep val nie, het jy hoegenaamd geen rede om te dink dat ouderdom ’n afskrikfaktor moet wees nie.
Oud en “tech” kan pasmaats wees.
Dit is so dat die jong akteurs dikwels die Oscars wen, maar is die regisseurs en die ander spanlede nie dikwels veel ouer nie?
Hoewel talle mense hul beste werk op ’n jonger ouderdom lewer, beskik hulle oor die vermoë om op enige ouderdom uit te blink. Jy kan ’n jong geniė of ’n ou meester wees. Dit is veral die geval as die twee partye bereid is om na mekaar te luister.
Dis belangrik om mites rondom ouer werknemers nek om te draai. Stereotipes kan hulle van geleenthede ontneem.
Vervaldatums hoort eintlik net op kos in ’n supermark.
Natuurlik is party beroepe meer ouderdomsvriendelik as ander. Dis seker nie raadsaam om op jou oudag ’n waagarties in ’n sirkus of ’n uitsmyter te word nie, maar skrywers kan werk solank as wat hul koppe werk.
Raad as jy wil aanhou werk
Wat kan bejaardes doen om te keer dat hulle weens ouderdomsdiskriminasie, vooroordeel en stereotipering afgedank word?
- As jy tot in jou aftrede wil aanhou werk, moenie aftree nie. Dis makliker om 'n ou werk te behou as om na 'n nuwe werk te soek.
- Sorg dat jy op hoogte van die jongste tegnologie bly.
- Onthou dat die onderhoudvoeringsproses ook verander het. Ander vrae gaan gevra word en jy sal heel waarskynlik met iemand praat wat baie jonger as jy is.
Skrywers
Dis interessant hoeveel ouer skrywers die kortlys vir die Afrikaanse letterkundepryse wat pas aangekondig is, gehaal het. Onder hulle is wyle Elsa Joubert, Dan Sleigh en Lodewyk G du Plessis wat almal rondom tagtig en ouer was toe hul boeke verskyn het.
Onder ander ouer skrywers wat nog bedrywig is:
Malene Breytenbach: Sy het haar DPhil op 49 gekry, is nou 72 en skryf en publiseer steeds.
“Werk hou die gees jonk,” sê sy.

Leon Nell (foto verskaf)
Leon Nell: Hy het sy sesde reisboek op 64 voltooi en het reeds weer 'n idee vir ’n nuwe een!

Simon Bruinders (foto verskaf)
Simon Bruinders: Hy het pas sy jeugroman, Die DJ, wat in 2017 verskyn het, op amper 72 in Engels vertaal. Hul onderneming Sound Headquarters Solutions het saam met die vermaaklikheidsbedryf tot stilstand gekom en hulle moes van koers verander. Hy kon die grendeltyd daarvoor gebruik. Hy het ook ’n suksesvolle boekbespreking oor sy boek Die sideboard op Zoom gehou.
Dan het hy ook onder meer ’n filmteks geskryf vir die opname van Industriële Teater op video. Hulle het dit op 10 USB’s vir die myn gestuur wat dit in hul eie tyd vir groepe vertoon waarvan hulle self die grootte kon bepaal. Sy talle bedrywighede sluit ’n digitale eenmansvertoning by Innibos in, asook die skryf van Die Rainbow Nation, ’n eenmansvertoning wat op komiese wyse na swaarkry in ons land kyk.
Renée Rautenbach Conradie: Sy het haar M in kreatiewe skryfkuns op 60 gaan doen en op 71 haar eerste boek gepubliseer wat deel van haar MA-verhandeling was.
“Ek was my lewe lank ’n joernalis en dis seker hoekom ek ’n historiese roman geskryf het. Dis moeilik om van die feite af weg te kom.”
Ina Cantoni: Sy het op 66 jaar haar eerste bundel geskryf, is nou 71, het tans 13 boeke op haar kerfstok en is steeds daagliks aan die skryf.

Helene de Kock (foto verskaf)
Helene de Kock: Sy het ses jaar gelede haar PhD op 70 gekry en sy publiseer nog steeds.
“Die samelewing se begrip van ouderdom moet hersien word. Gesondheid is vanselfsprekend belangrik, maar ingesteldheid ook.”

Hans du Plessis (foto verskaf)
Hans du Plessis: Op 75 skryf hy nog elke dag soos altyd, en volgens hom kom dit amper makliker.
“Ek hou by my eie kantoorure, maar die baas raas nie te veel as ek partykeer ’n bietjie laat is nie. Dit voel ook asof die kreatiwiteit makliker kom, miskien omdat ’n mens se aandag nie meer deur onsinnighede soos vergaderings afgetrek word nie.”
60-plussers in ander beroepe
Hier is ’n paar seniors met wie ek gesels het wat uiteenlopende beroepe beklee en nog glad nie wil halt roep nie:

Wannie Carstens (foto verskaf)
Wannie Carstens: Hy meen dis jammer dat gewone mense op 65 moet aftree, juis wanneer hulle ’n hoogtepunt rakende hul kundigheid bereik het.
“Ek het geen werk na aftrede nie; ek werk op my eie. Ek is wel steeds in 'n navorsingshoedanigheid by die NWU betrokke. My hele gedagte met my skrywe is dat mense soos ek wel steeds ’n nuttige rol kan vertolk sonder om jonger mense se plekke in te neem. Gee ons 'n sitplekkie op die kampus en 'n toelaag en laat ons steeds ons kundigheid oordra aan die volgende geslag.
“Nou wonder ek wat regverdig dat politici langer kan aangaan? Sommige mense is meer gelyk as ander, lyk dit my.”
Arien van der Merwe: Sy wil beslis aanhou werk en vertel dat sy op 61 ’n nuwe praktyk, Ariani Health Solutions, in Hermanus begin het, steeds gereeld by haar mediese praktyk in Pretoria is en nou op 63 nuwe aanlyn kursusse ontwikkel.
“Ek sal nooit ophou werk nie ... dit hou ons brein en neuronetwerke jonk en aktief! Dis die beste resep vir langlewendheid.”
Ben le Roux, wat 78 is en nog in sy ingenieurswerkswinkel werk.
“Dit hou my aan die lewe. My broer wat 18 maande ouer as ek is, werk ook nog.”
Mariandl Pelser: Sy het op 45 ’n kans gewaag en ’n ander loopbaan gekies deur eiendomme te bemark.
Sy is nou 65, geniet dit steeds en is van plan om voort te gaan daarmee omdat daar geen ouderdomsbeperking in hierdie beroep is nie.
Johan Symington: Hy is al aan die “verkeerde” kant van 70, maar werk nog met ’n lied in sy hart op ’n deeltydse basis as ’n dominee in ’n gemeente. Hy preek ook elke tweede Sondag en ’n derde van die gemeente is sy verantwoordelikheid vir versorging.
Anton Olivier: Hy is ook ’n predikant wat op 65 afgetree het, maar die kerk het hom gevra om aan te bly en twee jaar later is hy nog volstoom aan die gang en geniet sy werk gate uit.

Marinda Engelbrecht (foto verskaf)
Marinda Engelbrecht, ’n bekende TV-sjef wat nie haar ouderdom wil verklap nie, maar sy is al ’n ouma.
“My ouderdom is in my kop en my kop lyk soos ’n Swarovski-kristalwinkel van binne. Ek lê snags en dink goedjies uit.”
Sy is onder meer betrokke by die TV-program Maklik met Marinda en is ’n beoordelaar by Laat die potte prut.
Die Maklik met Marinda-kooktydskrif het van die begin van die jaar tot nou 11 000 eksemplare verkoop en Marinda se kinderboek Lekka lekka nr 1 het al 30 000 eksemplare in Afrikaans en Engels verkoop.
Sy speel saam met Herman Lensing in die toneelstuk Crimplene cuisine. Sy is ook die vervaardiger van ’n mediese program vir Via: Gesondheid prontuit en vervaardig Vlooi/Kipper by Artscape, wat in 21 dae deur 20 000 leerders bygewoon is. Sy neem vier produksies per jaar Doha toe vir Kinderteater. Marinda het ook drie souse ontwikkel wat in November op kettingwinkels se rakke gaan wees.
Annie Simpson: Sy word in November 74 en werk al sedert 1990 in die korttermynversekeringsbedryf as ’n makelaarsassistent waarvoor sy al die nodige eksamens volgens FICA-wetgewing afgelê het nadat sy reeds 60 jaar oud was en waarvoor sy alle voorgeskrewe krediete verwerf. Sy beklee ’n voldagpos, werk vyf dae per week en is nie van plan om voor 75 af te tree nie.
Louise Nel, wat 62 is, het 14 maande gelede op 61 haar eie begrafnisonderneming in Bloemfontein begin nadat sy voorheen as ’n ontvangsdame by ’n begrafnisondernemer begin werk het waarna sy tot bestuurder gevorder het en geleer het hoe om begrafnisse uit te voer.
“Ek beskou my werk as ’n roeping, omdat mens ander help. Die Here het vir my deure oopgemaak om my eie onderneming te kan bekostig, wat ek in daardie stadium van my lewe as ’n uitdaging beskou het.”
Ja, sy was beslis skrikkerig, omdat sy ’n geweldig mededingende mark betree het, en dit was ’n uitdaging, maar sy was nog nooit spyt nie.
”Ek het tot dusver al 240 families deur moeilike tye gehelp.”
Sy sal ’n loopbaanswaai ná 60 aanbeveel, afhangend van mens se gesondheid.

Trisa Hugo (foto verskaf)
Trisa Hugo: Trisa bedryf ’n gastehuis by die see, is gek oor lees, skryf en tegnologie, waarvan die aanlyn boekprogram Boekemakranka ’n natuurlike uitvloeisel was.
“Die inperking wat saam met die koronavirus gekom het, het vir ons ’n geleentheid gebied om nuwe geleenthede aan te gryp en ons passie vir boeke en tegnologie te kombineer in die vorm van aanlyn gesprekke met skrywers, virtuele boekbekendstellings en potsendings. Met Analize Viljoen as medeskrywer, verskyn ons roman Oor en weer in November. Dit word deur LAPA uitgegee.
“Ek is fluks aan die skryf aan nog twee verhale. Ek bou en onderhou ook webwerwe.
“Dan is ek ook nou, na drie jaar, amper klaar met my hipnoterapiestudies by die International College of Clinical Hypnotherapy Practitioners, om my as hipnoterapeut te bekwaam.”
Trisa het twee jaar gelede op 62 met paalfiksheid begin.
“Dis ’n heerlike sport wat baie konsentrasie, krag en koördinasie verg.”
Amanda Meyer De Meillon: Sy vertel van haar skoonpa (82) wat nog steeds by Caxton werk en tot onlangs 100 km per dag na sy werk toe gery het voordat hy nader getrek het.
“Hy is al vieruur in die oggend besig om die koerante uit te stuur. Hy sorg dat die koerante al die nodige ekstras het en dat dit op die regte trokke gelaai word.”
SB Jansen van Vuuren (84), wat tot onlangs toe nog heeltyds geboer en het nou eers begin afskaal. Hy versorg steeds hoenders en volstruise. Boere boer dus ook nie graag agteruit as Vader Tyd genadeloos voorttik nie!
Aanvullende bronne
www.public medicine.jrank.org
health.columbia.edu
psychnet.apa.org


Kommentaar
Prettig, plesierig en baie leersaam. Dankie Carla.
Ek stem heelhartig met jou saam. Wanneer iemand my vra hoe oud is ek, is ek 47 plus VAT. Ek en my vennoot het sowat drie jaar gelede 'n ondernemimg begin en dit bestaan nog en gaan van krag tot krag.Ons het 'n ruk terug 'n bemarkingsagenskap gaan spreek vir raad en daad. Die dame wat ons besoek het het vir ons nuus gegee waaraan ons nou nog herkou.Sy is nie 'n dag ouer as 35 gewees nie. Haar woorde was as volg, "Die publiek is geneig om eerder na 'n ouer persoon te luister wat ondervinding het as 'n voortvarende vinnig pratende verkoopsmannetjie" Ek kan daarvan getuig. My liasseringstelsel is stadig maar doeltreffend. Dit vat miskien bietjie tyd om op te roep maar dit is daar. Ek is baie bevoorreg om 'n senior burger van 92 te ken. Hy dra nie 'n bril of gehoorapperaat nie. Hy loop nie, hy draf soos 'n tarentaal wat iemand in die land met 'n haelgeweer gesien het, ek huldig die opinie ons het dit alles in "black & white" gedoen. Deesdae doen almal goed mos in Techni-colour. Ons is hier om te bly.
Ek kry nie gelees nie, my oë dwaal aangedaan in die gang op en af. Mir ist ganz schwindlig. 👀
Tanatofobie is meestal te blameer vir hierdie faux-filosofie. Sodra ek president is, sal elke vyftigjarige outomaties kwalifiseer om bloot haar ID by sy naaste Dis-Chem te toon om moeitevry op staatskoste te metamorfoseer. In samewerking met AVBOB sal die burger bygestaan word om waardig ʼn pynlose sterfbed tegemoet te gaan.
Gisteraand kyk ons 'The Name of the Rose' en ek waardeer natuurlik die rol wat ʼn ou meester kan vervul ‒ wysheid het ietsie met aardse ouderdom te doen, maar meer met die volwassenheid van gees. Ongelukkig is die meeste kleefgeeste oppervlakkig, vol botox (Botox is a protein made from Botulinum toxin, which the bacterium Clostridium botulinum produces. ‒ Google gerus.) met sakke vol geld in die bank ‒ ʼn stelsel wat lynreg met die natuur se idees bots.
Iemand wat nie kan laat los nie (detach) het ʼn helse probleem: Die man wat tussen seuntjies kolf en hulle nie toelaat om hom uit te boul nie, die vrou wie se broek stywer as haar tienerdogter s’n kleef, die oudpresident wat enigiets doen om in die kollig te bly. Die lys is lank en die redes hoofsaaklik egosentries. ʼn Afgetrede bankbestuurder daag by 'n partytjie op, sit terug en sê iets soos: “My glas is leeg.” Hy wou eintlik gewerk het tot hy dood neerslaan, want die stelsel gee hom gewaande status. Óf soos die professor wat nie kan glo nét haar studente hoef haar so aan te spreek nie. Net soos ek nimmer as te nooit ʼn staatsamptenaar ‘honourable’ sal noem nie. As jy in ʼn koninging wil glo, by all means.
Sommige jong Afrikanermans probeer om so gou as moontlik so dik en oud as moontlik te lyk omdat hierdie kultuur ouderdom verkeerdelik beloon. ʼn Baard is ʼn moet. "Jy is die jongste, jy braai." Wil jy nie vir die oom ... onderdanigheid aan die tannie en oom is blykbaar gegewe; waar respek vir almal eintlik die norm behoort te wees.
Dit is ʼn argaïese stelsel wat ʼn mens op die baadjie takseer. Nee wat, hang jou stewels betyds op, jy het jou beurt gehad. Staan opsy, gee die volgende outjie 'n kans in die lewe.
https://www.youtube.com/watch?v=90WD_ats6eE
Interessante kommentaar van almal. Baie dankie hiervoor.
Baie dankie vir almal se interessante kommentaar!