Hoe moet gelykheid lyk?

  • 0

Fotobron: Unsplash

Na aanleiding van die Menseregtekommissie (MRK) se uiteensetting (08/06 op Netwerk24) van hul argumente oor hoekom hulle die selektiewe heropening van skole teengestaan het, asook verskeie grendeltydregulasies, word dit vir my duidelik dat die MRK en ander hooggeplaastes regtig mooi sal moet begin dink oor wat ’n sinvolle begrip van ongelykheid en diskriminasie behels. In die eerste helfte van die MRK-skrywe word die belang van die stryd teen ongelykheid uiteengesit, asof hul kritici kwansuis pro-ongelykheid is en nie weet dis ’n grondwetlike waarde nie. Die probleem lê eerder by die gevolgtrekking wat hulle hiervandaan maak: "Die ongelyke heropening van sommige skole ... beperk egter ook die reg op basiese onderwys van leerlinge wie se grade of skole nie heropen nie, die grondliggende reg op gelykheid wat deur artikel 9 van die Grondwet verskans is."

Nou, hoewel gelykheid ’n grondwetlike waarde is, is dit verhelderend om na te dink oor hoekom gelykheid nagestreef moet word. Omdat die ongelykheid hier te sprake beskou word as die gevolg is van historiese onregverdigheid, moet gelykheid gesien word as ’n aanduider van ’n regverdige samelewing en word die strewe na gelykheid dienooreenkomstig, en regtens, as ’n waarde nagestreef. Hierteenoor pla dit ons nie as ons stadiger as Usain Bolt hardloop nie – dit is ’n ongelykheid wat hy dubbel en dwars verdien. Verder is dit tog voor die hand liggend dat die angel van onregverdige behandeling daarin lê dat iemand daardeur benadeel word. Die MRK verwys selfs in hul skrywe daarna dat leerlinge nie benadeel moet word nie. Kortom, die kwessie van ongelykheid maak slegs binne ’n konteks van onreg en swaarkry sin. Juis daarom is ’n gelykheid waarin álmal ly, werklik ’n leë oorwinning, en juis daarom maak die logika waarvolgens vooruitgang en bevoegdheid ingeperk word net ter wille van gelykheid, geen sin nie.

Verder het gelykheid ook instrumentele waarde. Dit dien solidariteit, ’n eenheidsgevoel wat baie belangrik is, veral in ’n multikulturele samelewing. Dit is om hierdie rede dat Michael lê Cordeur ook pleit (02/06, Netwerk24) dat skole eerder saam moet oopmaak. Die MRK verwys ook na sosiale samehang in hul skrywe. Maar net omdat gelykheid goed is vir solidariteit, beteken dit nie dat dit sonder ander oorwegings nagestreef moet word nie. ’n Samelewing wat in die geheel swaarkry, kan juis ook die teelaarde wees vir twis en verwyt, wat die solidariteit van gelyke swaarkry teenwerk.

Die MRK en ander se begrip van gelykheid-in-swaarkry, ’n gelykheid van die laagste gemene deler, ’n gelykheid wat vernietiging noodsaak, is ’n regressiewe strewe na gelykheid waar uit die oog verloor word dat gelykheid eintlik regverdigheid moet dien en mense moet ophef. Die MRK en die EFF se redenasie rondom die oopmaak van skole, soos Ebrahim Patel se aanvanklike redenasie oor e-handel, is soos om die hele provinsie se krag af te sit as een wyk se substasie buite werking is. Almal sukkel in die donker, maar gelukkig is ons in dieselfde donker bootjie. Is dit diskriminasie om die ander werkende substasies se krag aan te hou? En as iemand met ’n privaat inisiatief dalk vir homself ’n kragopwekker kry, is dit regtig diskriminasie teen diegene in die donker as mens hom sou toelaat om dit doen? Of, as mens na die Bybelse gelykenis van die verlore skaap kan verwys, is dit soos om aan te dring dat die goeie herder 99 veilige skape moet verwilder waar hulle veilig hul gang gaan sodat almal verlore kan wees. Waarom nie eerder met energie en dryfkrag dit wat gebreek is, of verlore is, weer regmaak nie? Waarom eerder afbreek om tot by gelykheid te kom? Tog is dit die logika waarvolgens die MRK, die EFF en ander hooggeplaastes skynbaar redeneer. Dit is kwansuis onbillike diskriminasie omdat dit ongelykheid meebring, maar die gelykheid wat hulle in die oog het, lei tot méér swaarkry, méér benadeling.

Kontrasteer hierdie regressiewe gelykheid met ’n gesonder tipe – kom ons noem dit progressiewes gelykheid. Progressiewe gelykheid is nie sonder koste nie. Om ekonomiese onregte van die verlede om te keer sal ’n verbintenis en ’n ekonomiese koste van bevoorregtes vereis, bevoorregtes wat tot nou toe merendeels histories bevoorreg is en wat dienooreenkomstig opheffingswerk moet finansier. Dit sou geld kos om skole en hospitale en ander infrastruktuur wat histories ongelyk en onregverdig versprei is, in armer gebiede op te rig en/of op standaard te bring. Meertaligheid en die gepaardgaande strewe om gelyke behandeling van moedertale, wat ongelukkig deur die regering afgeskeep word, sou vir die belastingbetaler, tipies ’n meer bevoorregte, meer geld kos. Dit is egter ’n wins nie net in terme van die regstel van vorige onreg nie, maar ook in terme van solidariteit. Die samelewing in sy geheel is opgehef; die opofferings wat gemaak word, is produktief.

Hierteenoor staan die MRK se benadering tot gelykheid en diskriminasie: Sodat daar nie teen leerders van onvoorbereide skole gediskrimineer word nie, word leerders van voorbereide skole se reg op onderrig weggevat (welke reg tog ook in die Grondwet verskans word). Dit is ’n opoffering wat niemand iets in die sak bring nie, behalwe die skrale, leë troos dat almal darem nou gelyk ontneem word. Waar so ’n gedagte dalk tot ’n eenheidsgevoel kon lei, word so ’n gevoel oorweldigend vernietig as jy mense van hul fundamentele regte moes vervreem om dit te verwesenlik.

Ons lewe in baie ongelyke land – volgens sekere maatstawwe die mees ongelyke land in die wêreld. Dat gelykheid ’n kernwaarde is om na te streef, is onteenseglik. Dat ons land ’n eenheidsgevoel broodnodig het, is ewe onkontroversieel. Maar hierdie strewe het werklike inhoud slegs as ons die regte tipe gelykheid op die regte manier nastreef. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top