Hoe meet mens ’n jaar?

  • 1

In sy liedjie “Seasons of love” tel Jonathan Larson die minute af, en sê dan: “525 600 minutes, 525 600 moments so dear ... How do you measure, measure a year ... In truths that she learned, or in times that she cried, In bridges he burned or the way that she dies.”

Dis nou die middel van Maart. ’n Jaar gelede hierdie tyd was die eerste COVID-19 gevalle al aangeteken in Suid-Afrika. Die Woordfees was pas klaar. Elke ander jaar bly ek aan nadat my eie gesprekke klaar is, woon vertonings by, kuier by mense wat ek nie andersins sien nie en spons net die atmosfeer op. Nie verlede jaar nie. Ek het my gesprek afgehandel, gesig gewys by die skrywersete wat my uitgewers gereël het, en toe is ek huis toe.

Ek het dit nie toe besef nie, maar daai skrywersete sou die laaste keer in ’n jaar wees dat ek saam met meer as twee mense aan ’n tafel sit.

Ons het almal naïewelik geglo dat hierdie beker ligweg by ons sou verbygaan.

Op hierdie dag in 2020 het ons nog nie geweet ons gaan in algehele grendeltyd in waar ekonomiese aktiwiteite vir maande gestaak word nie. ’n Week van nou af sou ons hoor dat ’n 21 dae grendeltyd aangekondig word.

Ons het geglo drie weke van opoffering, en die lewe gaan terug na normaal.

Waar ek hierdie bydrae skryf, is ons nou op dag 355 van een of ander vorm van inperking. Sommige lande in Europa rapporteer die begin van ’n derde vlaag van infeksies. Winter, en als wat daarmee saamgaan, lê vir ons voor.

Kan ons ’n derde vlaag vermy? My hart wil hoop, maar my verstand sê nee. Mense is nog te besig om te baklei daaroor of hulle maskers moet dra, en of die vaksiene die merk van die bees dra (of dalk klein senders wat vir die regering sê waar ons is). Boonop gaan ons nou ’n tyd van studenteproteste binne, waar masker dra en afstand hou seker nie die hoogste prioriteit is terwyl die polisie op mens skiet nie.

Maar dis toekomsmusiek.

Vir die eerste keer in my skrywerslewe het ek nie ’n manuskrip betyds ingelewer nie. Wat is die sin daarin om te probeer skep terwyl mense rondom my veg vir elke asemteug, en dan baie keer daai geveg verloor? Ek het dit uiteindelik voltooi, maande later as wat beplan was.

Ek weet nie hoeveel mense in my lewe hierdie jaar gesterf het nie. In die donkerste tyd was daar elke week ’n paar begrafnisse. Nie almal het Covid gehad nie, maar elke enkele sterfte kan aan die pandemie toegeskryf word. Die sterftes van mense vir wie daar nie hospitaalbeddens was vir hul siektes nie, die sterftes van mense wat aan depressie gely het en besluit het om eerder ’n einde aan alles te maak. My oom. My buurman. ’n Antie wat altyd geselsies aangeknoop het en eendag net nie weer verbygeloop het nie. ’n Vriendin se man, terwyl sy haar twee maande oue babatjie moet versorg. Predikante, gemeenskapsleiers, ma’s, pa’s, hele gesinne wat op een slag uitgewis word.

Die verliese hou nie op nie, maar die lewe staan ook nie stil nie. Diewe steel nog. Korruptes korrupteer lustig (of is dit listig) voort. Die rykes raak ryker, en die armes bly arm.

’n Vreemde ding het ook begin gebeur. Mense met wie ek in jare nie kontak gehad het nie, wil kom kuier. In sommige gevalle het ek meer as dertig jaar laas met die persone enigiets te doen gehad. ’n Reaksie op die onvermydelike aanmars van tyd? ’n Besef dat ons toegelaat het dat kosbare vriendskappe deur nalatigheid vervaag? In elke geval moes ek maar uitstel vra tot wanneer ons almal gevaksineer is. Die dag wanneer ons kan kuier sal wel kom. Net nie nou nie.

Maar was dit als sleg? Natuurlik nie. Ek het teen wil en dank nuwe vaardighede geleer. Zoom het my vriend geword. Klasgee, vergaderings, selfs partytjies oor ’n afstand het ’n ding geword. Ek het meer webinare bygewoon as wat ek ooit gedink het moontlik is. Vir die eerste keer begin ek joga doen, en geniet dit eintlik nogal. Ek en ’n vriendin binge saam televisiereekse, al is ons in verskillende provinsies. ’n Duitse vriendin leer my haar huistaal praat.

So het elkeen van ons iets positief wat ons van hierdie jaar wegneem.

Hierdie jaar, met al sy inherente verskriklikhede, is ligter gemaak deur vriende en familie, al is baie daarvan op ’n afstand. Maar die hart meet nie afstand nie. Al is ons fisies nie naby mekaar nie, keer niks ons om emosionele nabyheid te koester nie.

Larson eindig sy lied so: “It’s time now to sing out, though the story never ends, Let’s celebrate, remember a year in a life of friends, Remember the love (oh you gotta remember the love), remember the love (oh yeah, love’s a gift from above), remember the love (sing out, give out, measure your life in love), seasons of love.”

Dis wat ek van hierdie jaar wil onthou. Die liefde. Die vreugde te midde van hartseer. Die vriendskappe. Die samesyn, al is dit oor afstand.

Dis die nuwe normaal wat ek hoop sal bly lank nadat die pandemie vergete is. En dit sál oorgaan, een of ander tyd, as ons met dissipline saamwerk.

Tot dan, kom ons wys dat ons omgee deur weg te bly van mekaar af.

  • Fokusprenterkennings: viruspartikel (Pixabay); Bettina Wyngaard (foto deur Naomi Bruwer)
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Dit was inderdaad op-en-af jaar vir meeste van ons. Waarskynlik meer af as op vanweë familielede en/of vriende wat aan die dood afgestaan is. Tog pas die mens aan en kompenseer op ander maniere soos om weer kontak te bewerkstellig met hulle van wie jy lanklaas gehoor het. Of om te kon leer "Zoom" met ander soos Bettina hierbo na verwys. Die lewe het 'n manier om homself te kalibreer...

    Bettina sal naas haar liedjie hierbo ook die een "Season in the Sun" onthou. "We have joy, we have fun. We have seasons in the sun..." Hopelik breek die seisoen van geluk en plesier weer vir ons almal aan; gouer eerder as later.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top