Hoe lyk Ramadaan in 2026?

  • 0

Hoe lyk Ramadaan in 2026?

1. AI-generated advertising

Tamaaf virrie community members, maa ek moet hierie een uit point. My WhatsApp groups is vol mense wat ChatGPT-generated Mass Street Boeka advertising uit sit, posters wat vi ôs oenang (nooi) na ’n straat-picnic event virrie hele Kaapstad om bymekaa te kô om hulle pwaasa (vas; iftar in Arabies) te briek. Of course issie street boekas, soes Boeka innie Bo-Kaap, oek ’n belangrike opportunity om teen gentrification en unfair urban development te baklei, of soesie enes in Manenberg en Bonteheuwel om space te claim teen gangsterism, drugs en crime. Toe was hierie WhatsApp-uitnodigings tog’ie soe shocking nie tot ek in Gatesville beland om ’n pie te koep vi boekatyd byrie masiet, toe sien ekkie restaurant wat ammal’ie boeka treats ve’koep – hulle het selfs ’n AI-generated advertisement met hulle boeka specials oppie venster!

Ek wiet dat mense vattie easy way out om geld te bespaa vi hierie tipe advertising. Maa jong, ek kannie’rt oo my ha’t kry om nie ’n WhatsApp broadcast te stuur om hulle te remind dat ôse Indonesian ancestors, dié wat met geweld vanaf 1652 hier’een gebring is, hulle was ammal artisans wat dinge met hulle hanne maak – carpenters wat furniture maak, tailors wat klere maak (onthou Hajji Tailor in Ashraf Johaardien se Salaam Stories?). Represent ôs ôse culture behoo’lik wanner ôsie human-generated creative skills van ôse local graphic designers, illustrators en visual artists ignore as ôsie baton heeltemal oo na AI gie?

2. Die commercial value vannie Kaapse Muslim culture

Djy hoef net ’n Woolworths of ’n Vida e Caffé customer te wies om te sien hoe profit hulle uit ôse culture tydens Ramadaan en Eid met falooda, koesister en Cape Malay spices on sale wat vi niks skrik! Enige iemand wat wil ôs remind dat ôs ’n minority is, moet wiet dat ôs ’n baie commercially profitable minority is. Ek sal graag daai sales nommers wil sien by eira van daai companies. Al hoe moet ôs nooit ’n opportunity mis om ôse culture te represent, moet ek nog altyd vra, dié wat uit ôse culture profit, deel julle julle profits saam mettie Muslim community of ten koste vannie community? 

3. Daltjies en kapparangs

Dié’s nou vi jou ’n post-Trawee treat narat djy vannie masiet kô innie aane. Daltjies en kapparangs is ’n kôt Suid-Afrikaanse web series op YouTube, geskep dee Malick Abader, wat puppets gebruik en satire om gat te maak oorie daily goings-on vannie Kaapse Meleyu Muslim community tydens Ramadaan. Elke episode is ’n sketch oo familiar situations in Muslim households innie huis, kombuis ennie Muslim radio stations. Hulle het evens een in Three Anchor Bay gedoen in Greenpoint, Kaapstad, waa ôsie maan kyk om te sien wanner begin’ie maand van Ramadaan en die maand van Shawaal vi Labarang (Eid in Arabies, om die einde van Ramadaan te vier). Ek stuur ’n virtual fist-bump vi Malick, want laughter is mossie beste medicine, ennie beste antidote tydens ’n maand wat in een of anner manier met baie challenges kô.

4. Unofficial Boeber Aand anthems

Iewers is daa oek ’n Boeta innie mix – sy TikTok-naam is “slyhelluvaguy” – wat vi Daltjies en kapparangs ’n run vi hulle geld gie. Die Boeber Aand parodies is mos sy speciality, djy weet mos daai’s mossie aand op 15de Ramadaan wanner ôs halfde vannie maand klaa ge’pwaasa’rt, dan celebrate ôs met ’n koppie boeber innie aande. Innie 2026 instalment van sy Boeber Aand parodies vra hy virrie aunties hoekô maak hulle nie mee boeber die original way nie in plaas van boeber mix byrie winkels te koep. (Sing hy: “Hulle koep net Spice Mecca, without karamonk! Ôs is oppie bêg en ôs kom nou leqqa af!) met ’n leqqa Bee Gees backtrack en ’n stem van leqqa kan pwaasa karaoke!”

5. Kaapstad se “heat wave”

As djy innie ’90’s grootgemaak was, sal djy onthou jou ee’ste pwaasa-dae wat innie ha’t van somer plaasvind – die hele Desember-Januarie-skoolvakansie – was aan Ramadaan dedicated, en djy moet amper 17 ure pe dag pwaasa! Same WhatsApp group in 2026, except hierie kee binne-innie heat wave, ’n 14-tot-15-uur-dag wat 05h00 begin en 19h00 eindig. Die twiede laaste Woensdag in Ramadaan was soe vêr’ie mees challenging, met ’n temperature van 44,8 grade Celcius. Tottie einde van Woensdag onthou ek ee’s wat my vriendin in Saudi vi my gesêrit om klapperwater (“air kelapa” in Bahasa Indonesia) te drink wanne’rt soe warm is want dit hou vi jou hydrated vi ’n langerer tyd. Die Profeet Muhammad (vrede met hom) se Prophetic Foods model, ’n lysie van wat, wannee en hoe gereeld hy sou iet of vas, met baie treats recommended wat albei goed is vi jou liggaam, en vi jou mashallah sôg wanner djy innie warmte pwaasa – waatlemoen, dadels en melk (lactose-free melk as djy lactose intolerant soes ek is!). Die laaste open-air moonsighting aand in Ramadaan vind plaas by Three Anchor Bay in Greenpoint, en unfortunately is daai water nie ’n goeie plek om af te cool tydens’ie warme weer’ie want ôse beaches is currently ’n dumping plek virrie hele Kaapstad se sewerage!     

6. Eid/Labarang

Although is Labarang ’n family affair, sien ek uit om my eie personal festivities in te sit ommie dag niewe betekenis te gie. Hierie Labarang sien ek uit om Labarang salaah (gebede) te maak byrie Al-Jaamia Masjid, die masiet in Stegmanweg in Claremont, want hulle het ’n cool vrouensgroep wat financial planning courses aanbied, soes estate planning. Dié issie masiet en spiritual home van Imam Abdullah Haron (1924–1969), ’n Islamatiese godsdienstige figuur wat ’n anti-apartheid activist was en Islam gebruik’t om uit te praat oo racial injustice en oppression. Ek gloe rat sy gesig moet oppie niewe MyCiti bus terminal art mural in Claremont gesit wôd (daa’s ’n call-out vi contributions!) en ek hoop dattie Muslim community in Claremont dit opniem Insha’Allah! Sal daai nie cool wies om ôse culture te artistically represent in plaas van ommit heeltemal aan AI oo te gie nie?  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top