Hoe lyk jou stad-kompetisie: voorstedelike vrydag (1987)

  • 0

(Melville, Johannesburg)

"In the face of so much suffering, if art insists on being a luxury, it will also be a lie." (A Camus: Resistance, Rebellion and Death)

die babas slaap
ek struikel oor speelgoed wat die huis vol lê
duik onderdeur mufnat doeke
gryp (amper) angstig na potlood en papier
om die luukse van ’n oomblik se vrede
vinnig vas te pen:

vrydag hang soos wasgoed aan ’n waslyn
huisvrourustig neurie die voorstad
sy veraf kindergehuil, hondegeblaf, voëlgekwetter,
’n huishulp skel lustig in die straat
en iewers kap-kap-kap iemand sy reëlmatige ritme uit

vrydag se helderste lentegeure flap gul
’n oordadige blommeverskeidenheid
aan die melkman, die basterbrak, die meterleser
en die res van die lang, leë straat
wat stofgrys in die son lê en luier

vrydag is teen skemertyd uitgedroog en sonverbleik
opgevou binne-in ’n skaduvertrek
knus geborge teen die naderende grouheid buite
die geskree van wiele, die gerinkel van boeie
die gille van gewondes ...

vrydag bid vreesbevange moeders enkele kilometers verder
terwyl hulle angstig wag
vasgevang tussen klipgooiers, petrolbomme, rubberkoeëls,
vir die oomblik wat hulle eie jillende kroos
hulle jouend uitlewer

hulle halsmisdaad
die krummels waarvoor hulle in wit voorstede werk
wat gisteraand nog die einste kinders se honger mae moes voed
hul gekerm skeur vrydag aan flarde:
stukkies flenter woorde

húl dwingende poësie.

   
Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top